In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Vandeesweek se storie handel oor poppe, na aanleiding van regter Leo van den Heever1 se uitspraak op 15 Januarie 1981 in Rovex Beperk v Prima Toys.2
Rovex was die eienaar van die geregistreerde handelsmerk First Love – die naam van ’n bekende pop vir jong dogtertjies.
Prima Toys, weer, was die vervaardigers van ’n pop met die naam Baby Love.
Rovex en Prima Toys was mededingers om die harte van jong dogtertjies – klaarblyklik ’n winsgewende mark.
In hierdie saak het Rovex aansoek gedoen om ’n hofbevel om Prima Toys te verbied om die naam Baby Love, of enige ander naam wat soos “First Love” klink, te gebruik. Rovex het ook gevra dat die hof Prima Toys moet beveel om alle advertensiemateriaal, pamflette, verpakkingsmateriaal, ensovoorts waarop die naam Baby Love verskyn het, aan Rovex te oorhandig om vernietig te word.
As iemand anders op die rug van jou handelsmerk of handelsnaam ry om daardeur die verkope van sy eie produk onder die publiek te bevorder, maak hy hom aan sogenaamde aanklamping skuldig. Die Engelse noem dit passing-off. Jy kan die hof om ’n bevel nader om die aanklamper te verbied om jou handelsnaam of handelsmerk, of iets wat daarna klink of lyk, te gebruik.3 Dit is wat Rovex met sy aansoek teen Prima Toys beoog het.
Regter Van den Heever het beslis dat om die aansoek behoorlik te bereg, die betrokke mark deeglik ondersoek moes word. Poppe word normaalweg nie op dieselfde wyse as byvoorbeeld bier, sigarette of kosmetiekware verkoop nie. Bowendien, beslis die regter, is dit onwaarskynlik dat First Love- en Baby Love-poppe deur mense wat net-net op die broodlyn leef, gekoop sal word. Die waarskynlike kopers sal ook nie ongeletterd wees nie, en sal gewoonlik eers goed besin voordat ’n bepaalde pop gekoop word. Kortom, hulle sal nie maklik met ’n slap riem gevang word nie.
Die hof het daarna die woorde "First" en "Baby" ontleed en op die opvallende verskille tussen hulle gewys. Nóg groter is die verskille tussen "First Love" en "Baby Love". Die eerste het twee lettergrepe, albei lank en beklemtoon: "First Love". Die tweede bestaan uit drie lettergrepe, waarvan slegs die eerste beklemtoon word: "Baby Love".
Regter Van den Heever het ook die betekenis van die twee handelsname ondersoek. Die naam Baby Love het alles te make met babatjies. “First Love”, sê sy, is minder beskrywend van die voorwerp wat verkoop word (speelpoppe) as "Baby Love". "First Love" laat ’n mens aan ’n eerste kalwerliefde dink. Sy haal George Bernard Shaw aan: "First love is only a little foolishness and a lot of curiosity." Ook Benjamin Disraeli maak ’n buiging in die uitspraak. Hy het gesê: "The magic of first love is our ignorance that it can ever end."
Mooi, nè – so ’n bietjie letterkundige sjarme te midde van al die gewigtighede. En na só ’n skerpsinnige ontleding van die feite is jy seker nie verbaas nie dat regter Van den Heever téén First Love se eienaars, Rovex, beslis het. Baby Love kon voortgaan om klein hartjies bly te maak.
Ek wonder of dit toevallig was dat juis ’n vroueregter hierdie saak verhoor het. Per slot van rekening: Wat weet ons mans nou van (speelgoed-) poppe en popname af?
1 Die eerste vroulike Suid-Afrikaanse regter wat permanent – en wel in 1991 – as ’n appèlregter aangestel is. Sy het in dié hoedanigheid in haar vader, appèlregter Toon van den Heever, se spore gevolg.
2 Rovex Ltd v Prima Toys (Pty) Ltd 1981(2) SA 447(KPA).
3 ’n Goeie voorbeeld is die interdik wat die uitgewers van Getaway-tydskrif in 2005 bekom het om die uitgewers van Wegbreek te verbied om dié naam vir ’n nuwe Afrikaanse buitelewe-tydskrif te gebruik. Wegbreek is daarna gewoon na Weg verkort.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

