14 Augustus 2017: Gelyke kanse vs die Universiteit Stellenbosch

  • 31

Glo jy in die voorsienigheid? Dink jy dit is bloot wrang ironie? Hoekom sou hierdie saak juis op 14 Augustus op die hofrol geplaas word?

Is dit dalk die wispelturige wil van Alice in Wonderland? Sy word later aangehaal.

Op 14 Augustus 1875 is die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) gestig. Een van hulle bekommernisse was dat die werkersklas nie meer die formele Nederlands van die Bybel kon verstaan nie. Hoekom nie liewer oorskakel na die nuwer omgangstaal Afrikaans, nie?

 

10:00 Hof 11

Op 14 Augustus 2017 in Hof 11 staan die bokse hoog gepak. Die saak is geskeduleer vir drie dae, maar die leeswerk gaan baie weke neem om deur te werk.

In die regterkantste hoek staan Jan Heunis. Sy golwende wit hare bo die swart toga en wit beffie laat ’n mens dink aan die dae toe advokate pruike gedra het om te lyk soos hy.

Jan Heunis (regs)

Links sit twee advokate en twee prokureurs vir die universiteit.

Die deur gaan oop en die hofordonnans fluister iets. “Half an hour” is hoorbaar.

Ons wag.

Van naaste aan die kamera tot die verste: Philip Spies, Ebbe Dommisse, Hermann en Annette Giliomee, Pienkes du Plessis, François Henning en Bernard Pieters.

’n PEN-selfie. Van links na regs: Kerneels Breytenbach, voorsitter van PEN Afrikaans, Danie Marais, bestuurder van PEN Afrikaans, en Izak de Vries, bestuurslid.

Die Burger (naaste aan die kamera) en kykNET het mediaverteenwoordigers gestuur.

 

10:30 Hof 11

Die hofordonnans vra almal om af te beweeg na Hof 6.

Die bokse word op trollies gepak. Die spanne kom in beweging.

Die een trollie se bokse kom in Hof 6 aan.

Die bokse word vir die twee regters gepak.

 

10:45 Hof 6

Alles is in posisie. Die bokse staan hoog gestapel.

Die ordonnans kom in. “All rise!”

Almal staan op.

Regters Savage en Dlodlo stap in. Hulle knik. Almal gaan sit.

Die saak word in Afrikaans deur die ordonnans aan die hof voorgehou.

Regter Dlodlo maak verskoning vir die oponthoud, maar sê hierdie saak was té belangrik om in die kleiner hofsaal aangehoor te word. Aangesien daar ’n vertraging was, sal hulle nie teetyd neem nie, sê hy.

Jan Heunis gaan staan op agter die klein kateder wat sy junior neergesit het.

“Wag!” sê regter Dlodlo. “Ek kan jou nie sien nie.”

Die bokse word geskuif. Hulle val af. Hulle word opgetel.

Toe is die hof reg.

Jan Heunis begin sy betoog. Regter Dlodlo is steeds byna onsigbaar agter die bokse.

Jan Heunis staan op en dadelik haal hy ’n artikel uit LitNet aan:

The question I want to put to the people who conceived of the current language policy at SU is this: Why would one purposefully close off the avenue for the creative correction of past crimes in our language and culture? Why would one ever again want to punish the tongue that has already once been partly cut off? Why not create, right in the heart of the place where the apartheid masters cooked up their exclusivist racist agenda, a specific space for the exact opposite agenda, for the chance to retake the cultural project of Afrikaans, but this time on an entirely new politically progressive, ethical and inclusive basis? 

Dit is die woorde van Marlene van Niekerk.

Heunis het direk daarna vir Sonja Loots aangehaal, toe ook Breyten Breytenbach en Marié Heese. Ook Mercy Kannemeyer se video word betrek. Dit is prominente mense in die Afrikaanse letterkunde wat vra dat na veeltaligheid gekyk moet word.

Xhosa word aangeraak. Waarom word daar nie saamgewerk met ander universiteite nie? Waarom word nie verseker dat ook Xhosa ’n volle, akademiese taal by die US word nie?

Daarna beweeg Heunis deur verskeie artikels in die Grondwet en die Wet op Hoër Onderwys. Hy laat die hof verstaan dat Afrikaans en alle ander inheemse tale die reg het om op tersiêre vlak te blom.

“Words have meaning!” sê Heunis na aanleiding van die kinderboek Alice in Wonderland.

As dit waar is wat Alice sê, dan moet ons die mooi ideale van die Grondwet lees teen die universitêre landskap soos dit tans daar uitsien, verklaar hy. Daar is 24 universiteite in die land. Nie een is meer Afrikaans nie. Op die Potchefstroom-kampus word Afrikaans nog parallel met Engels gebruik. Elders is Afrikaans glad nie meer ’n voertaal nie.

In die Wes-Kaap is daar vier universiteite. Drie is reeds Engels. Nou het ook Stellenbosch Engels geword. Meer as 49% van die Wes-Kaap se inwoners is Afrikaans-moedertaalsprekers.

Heunis verander taktiek. Die statute van die US sê dat net die Raad ’n taalbeleid kan verander. Daar was geen versoek van die Raad om ’n nuwe taalbeleid op te stel nie, sê hy.

Toe klim hy in stellings in wat deur die bestuur van die universiteit gemaak is. Vir Heunis is dit duidelik dat die nuwe beleid, wat Engels onomwonde as die voertaal van die universiteit stel, daargestel is om Open Stellenbosch te plesier.

Stap vir stap ontleed hy uitsprake van die rektor en sy bestuur. In openbare forums word veeltaligheid bespreek, maar terwyl daar vir die groter gehoor gespeel word, werk die bestuur na Engels. Heunis haal selfs verklarings aan waar ’n lid van die bestuur toegee dat die taalbeleid met Open Stellenbosch bespreek is en dat hulle konsensus daaroor bereik het.

Wat van die ander groepe? vra Heunis. Hy haal oproepe aan van die verkose studenteraad vir ’n veeltalige universiteit waar Engels en Afrikaans parallel gebruik word.

Dit is hoekom hy hier is, sê Heunis, wat pro amico optree. Waar is die navorsing wat gedoen is oor hierdie taalbeleid? Om so ’n ingrypende verandering te weeg te bring, sou hy verskeie navorsingsartikels verwag het van ’n universiteit.

Heunis haal toe ook Nelson Mandela aan wat ’n eredoktorsgraad van die US ontvang het. Volgens Mandela sou daar plek moes wees vir minstens een Afrikaanse universiteit in die land. “Dit is nie eens wat ons vra nie,” verklaar Heunis. “Ons vra bloot dat Afrikaans en Engels gelyke regte het aan die US!”

*

Die saak is op die hofrol van 14–16 Augustus 2017.

Volg die Universiteitseminaar op LitNet:

 Hierdie seminaar vorm deel van 'n LitNet Akademies (Opvoedkunde)-gesprek.

Lees ook:

Wat Engels vir Afrikaanse mense beteken

Hans Pienaar
Universiteitseminaar | University Seminar

"Die storie oor Afrikaans by Maties gaan darem al lank aan. En dis kompleks. Die Open Stellenbosch- (OS-) veldtog het dit skouspelagtig gemaak, gemoedere gaande gehad en mense gedwing om op hul voete te dink. Dis nou alles weg."

  • 31

Kommentaar

  • My hartlike ondersteuning aan die paneel van pleitbesorgers vir Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch! Mag hulle moeite ryklik beloon word!

  • Waarom moet ons ons taal voortdurend inboet om almal te akkommodeer? Die wat ons taal NIE magtig is nie, kan mos maar anders gaan studeer - is dit dan so ingewikkeld - of is dit ’n kwessie van moedswilligheid om in te dring en oor te vat!

  • Liewe genade! Dit is jammer dat die "superieure" Afrikaanse opvoeding wat ons onder Apartheid ten koste van ander mense ontvang het, so misbruik word deur kastig geleerde mense.

    Afrikaans is nie 'n gewone taal nie - dit is 'n taal wat gebruik is om onderdrukking te bewerkstellig en daarom moet dit uit enige staatsinstellings verwyder word - totaal - insluitende universiteite.

    Geleerde advokate kan dan hulle tyd en geld gebruik om die taal en kultuur te bewaar soos wat talle ander tale en kulture in hierdie land gedoen het gedurende "die goeie ou dae". Gaan maak 'n privaat universiteit in Orania oop. Dan is soort by soort.

    • Avatar
      De Villiers Hauptfleisch

      Van watter soort is jy Maria? Hoekom skryf jy nog hoegenaamd in Afrikaans? Jou kommentaar moet mos in Engels gewees het, dan nie?

      • Ek is 'n direkte afstammeling van 'n stoere boere-generaal. Ek voel nie bedreig deur die feit dat my kinders in Engels opvoeding ontvang nie. Dit is nie prakties haalbaar om in 11 (12 as jy gebaretaal insluit) te onderrig nie en Engels is die lingua franca. So in Engels moet dit wees - dit is die realiteit.

        Onder al die protestering en gearbei vir Afrikaans loop 'n bloedrivier van rassisme. Dit is tyd om onsself hard en eerlik in die oë te kyk.

        • Avatar
          De Villiers Hauptfleisch

          Ja, Maria ek weet ook van `n stoere boere-generaal wat teen sy eie mense gedraai het en op hulle in 1922 losgebrand het met kanonne en bomme uit die lug en dit net om die ENGELSE mynbase ter wille te wees. Op die politieke terrein het hy ook uiteindelik geval. Genade, Maria vanwaar al die aggressie teen jou eie taal. Is dit nie bietjie selfsugtig om Afrikaans totaal weg te wens by alle Universiteite nie? Soos JC sê jy kan mos nog altyd jou kinders in Engels grootmaak en op Universiteit in Engels laat studeer. Jou keuse is wyd, maar ongelukkig nie vir diegene wat vir goeie redes in Afrikaans wil studeer nie!

    • So in jou opinie is 'n nuwe "ek is 'n donkie", of "gaan staan in die hoek want jy praat die minderwaardige kombuistaal Afrikaans" en 'n nuwe 1976 in goeie orde?
      Afrikaanse studente verwag nie dat jy of enigiemand anders in Afrikaans onderrig moet ontvang nie, maar dat hulle daarop geregtig is om onderrig in hul moedertaal te ontvang. Niemand dwing jou in die minste nie. Wil jy hulle wragtig daarvan ontneem, in daardie geval onderdruk jy MY en my mede-Afrikaanstaliges deur jou polities korrekte diktatuur (van die liberalis).
      Wat verstaan jy nie? Waar is jou passie vir jou moedertaal? Is jy ooit Afrikaans? Het jy al ooit Eugene Marais se gedigte gelees? Ken jy die ware geskiedenis van Afrikaans? Ken jy die bloed en trane en vernedering waarmee die stryd vir erkenning daarvan gepaard gegaan het? In die verband, ken jy DIE WARE GESKIEDENIS, en NIE die "hersiene" weergawe - ala historiese revisionisme - daarvan nie?
      Erken jy nie die reg op kulturele selfbehoudenheid en kulturele self-assosiasie nie?
      Erken jy nie die reg van persone, om in hul studente-vormingsjare eksklusief te verkeer binne hul kulturele en taalgroep nie en so hul studente lewe uit te leef nie?
      Daar is selfs 'n internasionale moedertaal-onderrigdag (21 Februarie) omdat studente (in die destydse Wes-Bengaal) al gesterf het vir die REG!
      Moet die diktatuur van die liberalis (jy is eker een van hulle) nou die reg ook vernietig?
      Wat van die prysenswaardige geval waar Xhosa-sprekende studente by Fort Hare nou begin klasse ontvang in hul moedertaal, Xhosa? Moet ons ook nou die klasse binneval en sê hulle mag nie in hul moedertaal onderrig ontvang nie EN NET IN ENGELS?
      Dit is histeriese kognitiewe dissonansie om Afrikaanse onderrig (AAN AFRIKAANSE STUDENTE, niemand word gedwing nie) te wil benadeel as gevolg van SA se apartheidsgeskiedenis. Wat op aarde het Afrikaans met apartheid te doen; behalwe dat die maghebbers gedurende die apartheidsjare ook toevallig Afrikaanssprekend was? Watter allerverskriklikste vergrype het die Engelse (ABO-konsentrasiekampe, KINDERSTERFTES, imperialisme), Portugese, Franse (o aarde, van die Duitsers praat ek nie eers nie, moet Duits nou ook verban word?) en ja, ons eie nasie-genote, die Zoeloes (moorde op Voortrekkerkinders, Mfecane) Xhosa's (Oos-Kaapse grensoorloë, bomaanvalle op onskuldige mense tydens die apartheidsdae) en Sotho's al gepleeg?
      Elke volk se geskiedenis is nie vlekvry nie, maar om die bestaan en bestaansreg van hul taal die skuld toe te pak vir gesegde geskiedenis is doodeenvoudig onlogiese (daar is geen logiese kousale verband tussen DIE TAAL en ons verlede nie, jy kan nie skuld toepak op ons taal nie, anders, by ontstentenis van enige logiese argumente word dit niks anders as 'n vergeldingsaanval nie) en deurspek van ongeruimdhede.
      Moet ons die dade (wat 'n GEDEELDE geskiedenis is en verteenwoordig) ook toeskryf aan hulle tale en die tale verban op universiteit?
      Regtig, gaan dink bietjie weer voordat jy kommentaar lewer.

    • Ek wil nie kommentaar lewer teenoor jou opmerking nie, maar tog enkele regstellings wat in hierdie debat verkeerdelik gebruik word. Afrikaans was nie die taal van die onderdrukker nie, maar wel Engels wat die sg amptelike taal in die Unie van SA was terwyl Afrikaans as die kombuistaal in SA gedien het. Met Republiekwording het die twee tale gelyke status gekry (ten onregte van die ander). Tog interessant dat jy in Afr reageer, veral as dit so ‘n 'verdrukkende' taal is. Sou dink dat dit benede jou stand is as dit is wat jy van Afrikaans dink. Wonder hoe oud is jy?

      • Ek was op skool toe die geskiedenishandboeke deur dominees en Verwoerds geskryf is. Ek moes baie lees om 12 jaar se waninligting uit te was.

        • Wat op dees aarde?
          Maria, maar sulke swak omlynde, swak gedefinieerde, vaag, dubbelsinnige en buitensporige aantygings sal moes nou glad nie deug nie.
          Wat op dees aarde het "geskiedenishandboeke deur dominees en Verwoerds", met ons stryd om ons reg (internasionaal erkende) om onderrig in ons moedertaal te ontvang, te maak?
          Vir jou kennisname; Dr. Verwoerd was 'n visioenêre leier, en indien sy visie vir die vreedsame naasbestaan en ontwikkeling van alle Suid-Afrikaners nie gekaap was deur onbeholpenes nie, hy nie vermoor was nie, en sy visie vir vreedsame, onafhanklike en parallelle ontwikkeling tot sy logiese en rasionele gevolgtrekking gevoer was; SOU SA NIE NOU IN DIE GEMORS GEWEES HET WAARIN DIT ONGETWYFELD IS NIE.
          Ek daag jou derhalwe uit om wyer te lees as slegs die liberale dampkring waarvan jy seker ongetwyfeld van gebruik maak, en ander vars insigte te verkry.
          Afrikaans se bestaan en ontwikkeling is 'n wonder wat op akademiese vlak gekoester behoort te word, en om eintlik Afrikaans te kan wees, is ook 'n wonder en iets om na te streef! Die wonder van die enigste blanke stam van Afrika, die enigste blanke stam wat nog ooit vir hulle 'n volhoubare toekoms en bestaan op hierdie geliefde, maar belemmerde kontinent van ons kon uitkerf.
          Dit kon dalk nie net altyd mooi gewees het nie, nie altyd net prysens- of lofwaardig nie, maar heng, dis opwindend, vol verassings en vol intrige; en voeg dan nog daarby die wonderwerk van 'n taal, amper kreools van aard, wat ons deel met ons bruin broers en susters, en jy het INDERDAAD IETS BESONDERS OM OP TROTS TE WEES; EN IETS WAAROP JY ONDUBBELSINNIG KAN WEIER OM 'N TREE VOOR TE MOET TERUGSTAAN!
          SA se toekoms is in die weegskaal; jy lees die nuus; maar daar is 'n oorywerigheid om persone se taalregte te ontneem, te verdoesel en te ontneem?
          Is daar nie VEEL belangriker maatskaplike kwessies en ander kwessies as hierdie belaglike "gedwonge eenvormigheidsmissie" nie?
          Indien jy nie 'n kultuur en erfenis het nie, EN DAARDIE GEHELE ERFENIS, kwaad en goed, KEN NIE, en respek vir jou erfenis het nie, beide goed en die sleg; IS JY ANKERLOOS, EN DOBBER JY DOELLOOS ROND OP DIE SEE SOOS 'N STUK OPDRIFSEL.
          Voorsien my asseblief van jou lys van gesiene en hoogs aangeskrewe boeke wat jy gelees het, ek sal graag wil verneem WAT DAARIN staan; anders as 'n liberale gefomfaaiery en ideologiese indoktrinasie. Wat is fout met ons kultuur?
          Wat is fout met 'n patriargale siening/samelewing in die huidige milieu, indien DIE einste patriarge hul medemens met respek behandel, en indien almal; en vrouens spesifiek ook, vrye teuels het om hul volste potensiaal te bereik? Moet dit nou terstond vernietig word, gemeet aan vandag se nuwe (belaglike, self-ontkennende, oikofobetiese en "liberale" norme), terwyl daar probeer word (NATUURLIK!) om goed te doen en geregtigheid ook te laat geskied? Is Afrikaans se gebruikers se geskiedenis patriargaal van aard? Verseker, maar moet die Taal nou daaroor gestraf word, terwyl die onlangse geskiedenis patriargaal van aard was? Wat moet Afrikaans doen om jou goedkeuring weg te dra? Moes dit ontwikkel het in 'n ander era? Moet dit om verskoning vra vir die era waarin dit sy bestaan gekry het en ontwikkel, het?
          Moet dit daarom selfdood pleeg? Kon dit verhelp gewees het, beslis nie, want dan was Afrikaans nie vandag met ons nie. Die kwessie is glad nie sou eenvoudig as wat jy dit voorgee om te wees nie, en verteenwoordig Afrikaans ook (seker die swakste verweer van almal, maar nog steeds bitter sterk een) 'n gedeelde geskiedenis!
          As jy meer wil weet oor die geskiedenis, en oor die Afrikaner-geskiedenis, lees gerus ook "DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme" deur Lindie Koorts as jy enigsins bietjie meer wil weet oor Afrikaners, asook JC Steyn se baanbrekerswerk "Ons gaan ʼn taal maak: Afrikaans sedert die Patriot-jare" as jy enigsins belangstel en dit nie te realisties, konserwatief en feitelik vir jou is nie.
          En net vir interessantheid 'n vraag: Wie is vandag die nuwe verkramptes/bekrompenes?

        • Avatar
          Hans Richardt

          Wonder ek nou wat doen jy deesdae om stront wat nou as geskiedenis voorgehou word, uit te was?

    • Ek sukkel om my in te hou; maar nou ja, hier gaan dit:
      Het Andre P Brink nie in Afrikaans geskryf en baklei; teen die regering se apartheidsbeleid nie?
      Het Breyten Breytenbach nie dieselfde gedoen IN AFRIKAANS nie?
      Of wat van Adam Small?
      Het die Sestigers as groep nie in swierige, aanvallende, breedsprakerige en lieflike Afrikaans die ou regering al sy dae gegee nie?
      Wat van Elsa Joubert se roman Die Swerfjare van Poppie Nongena wat die benoudende en betreurenswaardige posisie van swart persone presies verwoord het en pragtig uiteengesit het IN AFRIKAANS?
      Wat van Ingrid Jonker?
      Het Etienne le Roux as Afrikaner nie sy plig gedoen nie?

    • Genade Maria - dan moet jy seker Duits , Engels en Spaans asook Frans hiermee insluit - dit was immers die tale van die grootste koloniale onderdrukkers!
      Gaan lees bietjie die wêreldgeskiedenis alvorens jy so maklik in die 'zeitgeist' van die ANC-kaders opgeslurp word.

    • Maw die doelwit is neo-segregasie. Taal en die moontlikheid om onderrig daarin te ontvang, en daarin te leer, is deel van 'n persoon se menswaardigheid, en is nouliks verweef met die persoon se kulturele identiteit, en sy/haar plek in die wêreld ook mbt sy/haar kultuurgroep.
      Die vrae wat derhalwe gevra moet word is die volgende: hoe gou gaan daar GEEN meer Afrikanerstudente en Afrikaanse studente op staatskampusse wees nie?
      Sal persone wat jou menings deel dan uiteindelik gelukkig wees?
      Moet Afrikaanse studente hul taal opgee om deel te kan voel en wees van 'n geïntegreerde kampus? Indien dit die geval is, is SA se brose demokrasie in grootse gevaar.
      Sal dit dan deug, om die gevorderde versoening en samesyn wat daar reeds op kampusse was, AF TE BREEK deur mense te verhoed om in hul taal onderrig te ontvang, en so hernieude segregasie aan die hand te werk op indirekte wyse?
      Verduidelik asseblief vir my hoe ek op 'n kampus, wat geïntegreer en getransformeer is, afbreuk doen OP ENIGE DENKBARE wyse aan ANDER persone, deur onderrig te ontvang in my moedertaal?
      Asseblief, ek en andere sal 'n verduideliking hoog op prys stel.

      • Dit is eenvoudig. Daar sal Afrikaanse studente op alle kampusse (tot in Australië) wees solank Afrikaans deur gesinne aan hulle kinders geleer word en in huise gepraat word. Ons taal is ons verantwoordelikheid.

        Die taal is nie onder bedreiging nie. Woorde soos "neo-segregasie" word gebruik om "ons is beter as almal anders en is derhalwe geregtig op meer" te verdoesel. Deesdae is segregasie 'n keuse, nie wet nie.

        • Ons is nie geregtig op "meer" nie, maar ons is wel geregtig op onderrig in ons moedertaal soos in enige demokrasie; wat veronderstel is om normaal te funksioneer, en sonder hierdie allerverskriklikste onverdraagsaamheid.
          Afrikaans is 'n goed ontwikkelde wetenskaps- en universitêre taal en dus maak dit onderrig daarin pedagogies verantwoordbaar en bygevolg kan dit tale soos Xhosa en andere help om dieselfde groeipad te volg. Nietemin word daar skynbaar verkies om die OËNSKYNLIK maklike opsie te volg, (Nie soos vereis word deur die Grondwet; die ander inheemse tale te bevorder nie, ook op universitêre vlak), en word 'n vervelige en sieldodende proses van Engels-oorheersing van stapel gestuur, die taal van die Kolonialis, wat niemand by gaan baat op lange duur nie, en enige inheemse taal- en kultuur-ntwikkeling gaan smoor.
          Enige ander oorwegings soos politiek ens, moet dus by die deur uit, want universiteite is nie veronderstel om "politieke indoktrinasie-sentrums" te wees nie. In die verband is Moedertaal-onderrig die bewese beste model vir akademiese prestasie.
          Maar, gaan maar aan ... jy meen segregasie is 'n keuse? Ongelukkig maak persone met menings soos joune ook 'n keuse deur te hammer op 'n valse stigma wat aan ons tongval kleef. Indien jy al ooit 'n goeie skoot van die pragtige Kaaps deur het, en dit al probeer praat en lees het, sal jy saamstem.
          Daar is ook gevalle waar persone met geen keuse gelaat word as om te segregeer soos jy sê nie, want hulle moet kies (hoe belaglik dit ook mag klink dat dié keuse gemaak moet word; en hulle nie as Afrikaners en Afrikaanses hul volwaardige plek mag inneem in die "demokratiese" SA-staatsuniversiteitsomgewing nie!) tussen 'n geïntegreerde kampus waar swart en wit vryelik meng, presies net soos voorheen, voordat hulle verbied was om Afrikaanse onderrig te ontvang; en die universiteite waar hulle wel onderrig in hul moedertaal kan ontvang.
          Omdat Afrikaans nouliks gekoppel is aan die Afrikaner en die Afrikaanses, sal dit daartoe ly dat die nuwe universiteite slegs blank of meestal blank is (behalwe in die Kaap) met minimum kontak op kampus tussen rasse, vernaam swart en wit.
          Die punt is dat die bietjie kohesie, ware transformasie, en samesyn wat daar wel was tussen studentegroepe op kampus, nou nie meer bevorder word nie, maar by die deur uitwaai; deur onnadenkende keuses en diskriminasie daarby.
          Nou daar is nou vir jou neo-segregasie. Wonderlik man, bou nou 'n nasie op die wyse!
          Net vir interessantheid, ek dink die aksies en indien nie aksies nie, dan minstens die stilswyende goedkeuring van hierdie grootse diskriminasie deur persone soos jy, is net die nodige "skop in die agterent" en hernieude stukrag wat Afrikaans nodig gehad het sodat die sprekers daarvan weer met erns die groei daarvan kan aanpor en bewerkstellig en dit met nuwe energie tot nuwe hoogtes neem, ook ivm die logiese uitbreiding van die Afrikaanse privaat universiteitsektor wat deur hierdie diskriminasie net kan baat op alle vlakke, soos reeds bewys word deur die sukses van Aros, die APA en Akademia.

        • @Maria: "Woorde soos 'neo-segregasie' word gebruik om 'ons is beter as almal anders en is derhalwe geregtig op meer'te verdoesel."

          Regtig? Gee asseblief konkrete bewyse om jou stelling te staaf.

          Terloops, antwoord maar gerus in Ingels as jy 'n bietjie sukkel met die Afrikaans.

        • Avatar
          Hans Richardt

          Daar is Afrikaanse studente by Lomonov universiteit in Moskou en hul ouers leer hul variante van Russies as moedertaal.
          Jou ou galbraak is uit pas deesdae. Jy is retro in denke, politieke korrektheid is van vorige eeu ...

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Dit gaan waarskynlik meer as een dosis gebottelde redelikheids-argumente verg om die kulturele akker en taallandskap te skoffel wat oortrek is met 'politieke onkruid.'
    Hierdie is 'n reis wat bloot begin het en dis 'n pad wat waarskynlik (baie) stamperig gaan raak. So, sit maar SABS-gordels aan en haal diep asem.
    Wat ook al die uitkoms, niks behalwe die dood is finaal nie ... Afrikaans is topfiks, gesond en het geen begeerte om uit asem te hardloop nie. Dankie aan die here Heunis, Giliomee, Breytenbach en almal wat bereid is om hulle rue styf te maak en 'n kulturele kleinood, naamlik Afrikaans as taal aan die juridiese bewakers van ons Grondwet voor te lê.
    Die sukses van 'n reënboognasie lê in sy ryke verskeidenheid. Die stryd duur voort.

    • Dankie Gustaf:) Afrikaans is inderdaad topfiks, en gedy wêreldwyd, behalwe op plekke waar haatgevulde sosialisties marxisme geïnspireerde ideologieë regeer, d i nou, op die meeste staatskampusse.
      Wil graag binnekort die nuwe AWS kry!
      Akademia groei buitensporig, Afrikaanse skole, alhoewel minder, is sterker en is toppresteerders, die FAK bars uit sy nate, ensovoorts.

  • Avatar
    Wollie Burger

    Daar het 'n doringboompie
    vlak by die pad gestaan,
    waar lange ossespanne
    met sware vragte gaan.
    ~ Totius

  • Avatar
    Hans Richardt

    US was tot in 1900's Victoria-kollege.
    Tydens die hofsaak, was die bruin gesigte opvallend afwesig ... Sou hulle nie persoonlik baat nie?
    Daar is niks wrang aan sg "leiers" wat niemand het om te lei nie.
    Solank regstel-aksie en kwotas op wetboeke bly, sal howe neuter bly oor Afrikaans.
    Laat Stellenbosch se "leiers" nou lei ... was daar nie vele wat in Dakar was nie? Piet Retief was nooit die Geknelde Land in nie ... ten spyte dat die vroue kaalvoet oor berge wou loop na Britse Kaapkolonie toe.😂

    • Avatar
      Hans Richardt

      Ons gewone ouens met skurwe hande en voete sal Afrikaans laat lewe vir nog eeue as Maria se geslag vergete regstel-aksiekinders is. Ons vra Maria's niks, maar sal ook niks gee vir al die Timmokrate nie ...

      • Avatar
        Hans Richardt

        Ek gaan NIKS doen aan Victoria College se regressie terug na Engelse wortels nie. Die eerste uitgawe van die Die Patriot het dit al in 1880's duidelik gepubliseer dat Engels meer gewild was toe by jong Bolandse Afrikaanders.
        Ek is van opinie dat Engels gaan bly by Victoria College ...

  • Avatar
    Jurie [de Kock}

    Afrikaanssprekendes se denkproses is anders as bv die Engelssprekend-opgevoede brein; Dit is die taal waarin ons dink en bid! Dit is deel van ons kultuur, ons menswees, deel van ons gene!
    My ouers was op laerskool verplig om slegs Engels op die skoolterrein te praat terwyl daar nie eens Engelsmagtige leerlinge was nie!
    Ek het met eie ondervinding dit moeilik gevind om na skoolopleiding party vakke in Engels te moes leer; daar was nie handboeke in Afrikaans nie! Sommige leerkragte wat die vakke in Engels moes aanbied kon byna nie eens Engels praat nie!
    As oud-onderwyser mag ek sê dat Stellenbosch nou 'n geweldige onreg pleeg en blykbaar min van ware onderrig verstaan.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Toe Jan Marais in 1915 sy £100 000 erflating gegee het om Victoria College in universiteit te verander, was dit met voorwaarde dat Engels en destydse Afrikaans gelyke status as onderrigtaal moet geniet, het hy nie voorsien dat dit 100 jaar later ignoreer sal word nie.
    'n Munt het drie kante. Dus, die dosente moet onderrig. Deesdae is daar regstelaksie-kwotas by staatsdiens en dus, die taalkwessie gaan nie werklik oor wit of Afrikaanse studente nie, maar die voordeel van die regstelaksie-kwotas se personeelbeleid.
    Die dosente moet alle etniese groepe en ook van buiteland wees, vir internasionale aanvaarding.
    Die oplossing is om 'n Afrikaanse virtuele privaat universiteit soos Akademia meer te ondersteun. Hiermee word geweld op kampusse vermei, asook geforseerde etniese amalgamasie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top