107 kaalkoppe: Nataniël lê op sy maag op Planeet Kaalkop en kyk na die chaos op aarde

  • 0

Titel: 107 Kaalkoppe
Skrywer: Nataniël
ISBN: 9780798182461
Epub ISBN: 9780798182478
Uitgewer: Human & Rousseau

Nataniël. ’n Versamelnaam vir kreatiwiteit, storieverteller, drama, niks-uit-iets-maak en onthou. En met sy nuutste boek, 107 Kaalkoppe, bied dit jou die geleentheid om die boek in een sitting deur te lees of 107 keer jou glas óf koffiebeker vol te maak, die wêreld uit te sluit en een verhaal op ’n slag in te drink.

Die klein bekendstelling van NB Uitgewers lui as volg: “Nataniël vier 20 jaar as Kaalkop-rubriekskrywer met hierdie nuwe versameling van sy gewilde Sarie-rubrieke: 107 Kaalkoppe geskryf vanaf 2012 tot 2021. Eerlik, persoonlik, nugter, inspirerend, melankolies, hartseer, opgewonde, driftig, simpatiek, verbaas, dwars, reguit en vasbeslote mik hy na elke moontlike emosie. Met die wêreld op sy kop was daar nog nooit ’n beter tyd vir ’n boek soos dié nie.”

..........
Die tyd vir ’n boek uit Nataniël se pen is vir my altyd reg. Altyd nou. Daar is geen ander storieverteller in Afrikaans soos hy nie. Of dit op die verhoog of tussen die bladsye van jou boek is: Nataniël mag maar.
............

Die tyd vir ’n boek uit Nataniël se pen is vir my altyd reg. Altyd nou. Daar is geen ander storieverteller in Afrikaans soos hy nie. Of dit op die verhoog of tussen die bladsye van jou boek is: Nataniël mag maar.

Met my navorsing aanlyn oor die boek kom ek op Exclusive Books se webwerf af waar die boek geadverteer word. “You could earn 318 points.” Ja, jy kan, maar jy ook minstens 107 keer uit jou maag lag; of trane afvee; of vir ’n oomblik of wat teruggaan in jou eie lewe as jy iets raaklees wat jou so diep raak soos wat net Nataniël kan raak skryf. Dis amper drie punte per lag of traan!

Vir Phyllis Green vertel hy op die Graffiti Books & Stationery-bekendstelling toe sy vra of hy die oproep vir rubriekskryf van Sarie se redakteur verwag het: “Daai tyd toe Michèlle van Breda my gevra het om die rubriek te skryf, het ek nog in fishnets en g-strings op ’n  verhoog rondgetrippel en ek was vir baie mense die boosheid self. Ek is dorpe verbied. Ek was rof; die tyd was rof en my loopbaan was maar tien jaar oud. Mense was nog in skok. Ek het nie gedink ek gaan ooit iets so ‘normaal’ gevra word nie. Maar net voor dit, het iets verander: ek het drie seisoene ’n televisiereeks, Another life with Nataniël, aangebied waar mense gesien het ek gaan nie ’n bok slag, gas aanrand of kaal oor die skerm hardloop nie. Ek is nie so erg soos hulle gedink het nie.

“Ek dink ek is die enigste rubriekskrywer in die heelal wat vir elke rubriek ’n nuwe outfit afneem!”

Hy het 12 jaar gewag vir die oproep waarin Michèlle dié rubriek staak. Maar hier is ons in jaar 21 en hy staan sterk.

En hoekom 107? Dit was bloot vir hom visueel mooi. Daar is 105 rubrieke wat verskyn het en twee ekstras bygeskryf wat “nie in Sarie se woordtellings ingepas het nie ...”

Op Woordfees TV in Oktober verlede jaar gesels hy met Michèlle en Diane de Beer, vriendin en kunsjoernalis. Ek berig daaroor vir hierdie webwerf: “Michèlle sê dat toe sy 20 jaar gelede as Sarie se redakteur oorgeneem het, was die land aan die verander: Nelson Mandela was president en die tydskrif moes verander, maar nie heeltemal onherkenbaar word en lojale lesers vervreem nie. Sy wou rubriekskrywers gebruik wat die Sarie-wêreld kon inkleur – ander idees en taalgebruik en ander style as die huidige tydskrif s’n. Nataniël se rubriek was deel van daardie verandering.

“Ons het verlede jaar die slagspreuk ‘Jy is genoeg’ aangeneem en die land se vroue het so positief reageer. Vroue wil hul grense verskuif en staan hul plek vol. Maar hulle wil ook herinner word dat hulle genoeg is.”

Nataniël sê die rubriekskrywery het ook sy grense verskuif: “Dit het my die kans gegee om vir mense te sê al dra ek lipstiek en hoë hakke, het ek familiewaardes. Ek glo in die Kinderbybel en ek verstaan wat in jou huis aangaan, want ek kom ook uit een.”

Nataniël sê hy het die rubriek destyds begin skryf en homself gesien hoe hy plat op sy maag lê op Planeet Kaalkop en afkyk na die chaos op aarde. Hy het besluit hy gaan sy rubriek altyd afsluit met ’n preek - “Paolo Coelho preek en kyk hoe famous is hy en ek is mal oor preek.”

Dis egter sy kommentaar aan Phyllis wat vir my die boek die beste opsom: “Ek wou gehad het dat dit, hierdie boek vir dié een wat nog nooit ’n rubriek gelees het nie, kan die boek optel en net begin lees en dit geniet, en dié wat al almal gelees het deur die jare, dit ook net so kan weer kan geniet in ’n vars verpakking.”

Ek haal hom woordeliks aan, want dis vir my Nataniël – as hy uit die vuis praat, haak sy sinne se begin en einde nie altyd taalkundig goed by mekaar aan nie, maar daar is nooit enige twyfel dat die kreatiwiteit net wil uittuimel op sy unieke manier nie.

Ek is een van die mense wat nie elke rubriek gelees het nie. Maar soos ek met die boek begin, sit ek weer in ’n skemer Kunstekaap-teater, die fluweel onder my boude sag en vertroostend. Die lugversorging is net reg. Dis 2016. Net ses vertonings van sy Mannequin met Charl du Plessis op klavier, Werner Spies op baskitaar en Hugo Radyn op tromme. Nataniël se uitrustings laat die gehoor na hul asems snak. Ek is skoon moeg vir sy part vir al die uit- en aantrek op hoë hakke, pofmoue en meters materiaal. Die gehoor is deftig, want skaars ’n jaar tevore het hy in ’n onderhoud met Mariana Malan gedreig dat hy nie kortbroeke en sandale in sy gehoor sal duld nie en as jy met Crocs opdaag, hy “jou plastiekskoene en al by die deur sal uitgooi”.

Sy stem en ongewone verposings in sinne waar ander mense nie sou asemskep nie, het sy eie unieke karakter. Die punchline soms só afgemete en onverwags gelewer dat die boodskap jou eers ’n sin of twee later met volle impak tref.

Soms volg die storie ook nie heeltemal kronologies nie, maar dit maak nie saak nie, want die boodskap gaan jou wind uitslaan.

Ek begin lees ook nie kronologies by die eerste rubriek nie. Dis “Vrotknoppie” in die indeks wat my oog vang. Die storie van die goedversorgde oom met die aaklike skoene; die elegante vrou met die pap velle vir onderarms. Die klein boodskap aan die einde, dat ons almal ’n vrotknoppie het – “dit herinner ons dat ons menslik is, dat die werk nooit ophou nie, dat ons moet luister en ewig vooruit beur.”

Toe lees ek “Oumens” en hoe mense vra hy moet vrolike goed skryf, want hulle wil lag, maar hy kan net skryf wat hy sien. En wat hy sien is heel dikwels hartseer, want dis die lewe.

Dis ’n verjaardagkaartjie van ’n vriendin wat as boekmerk ingespan word wat my in die komende weke laat onthou waar ek laas gelees het. Ek herkou dae lank aan Nataniël se woorde, want sy waarnemingsvermoë oor die alledaagse is ongeëwenaar.

En as ek oor ’n paar maande weer een van sy rubrieke lees wat ek nou gelees het, sal dit ander betekenis inhou, want ek wil glo die lewe gaan dan minder “rof” wees as nou tydens die pandemie en alles wat daarmee saamkom. En dat ek dan weer in die donkerte van ’n lugversorgde teater na hom op die verhoog kan staar.

Hier is jou naaste tak van Bargain Books

As jy nie die boek sien nie, vra gerus die personeel om dit te bestel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top