Posankka, pienk vark-eend
gebore karikatuur
wat kultuurdons groei op krop
Windmakerduim doelgerig in lug
ryloop-reisiger wat sê as jy haastig is, loop stadiger
deur stromende reën van opaakblou lug
Irarrázabel se woestyn-vingers, kaal gestroop van enige venyn
die afdruk van onreg en eensaamheid; hartseer en hulpeloosheid
kunstaal elke korreltjie sand die hand as gebaremaker
Baaiplek van Guadalquivir
dromer wat teen water se bodem leunstut
die vlietende paring tussen stad en rivier fynkam
met oë geblikker, teen die son in volle vlam
Ek bedissel vir ons land
geestigheid van hart
sodat elke Nabot-standbeeld
soos Charles La Trobe onderstebo kan staan
’n skeidsman: wat wêreldwyd ń boodskap uitbeitel
Perspektief.


Kommentaar
Pienk vark-eend? Wat 'n uitnodiging om verder te lees! Nee, eerder 'n reis wat jy stadig en aandagtig moet aanpak. Die balans van die gedig roep beelde op wat eers vir jou sê "asseblief" (reikend) en dan nog boonop oop (teken van ontvanklikheid en nie-aggressief). Die dromer wat teen die magtige stroming van die rivier tog na bo kyk met amper 'n "waar sal hulp vandaan kom" en dan die klimaks waartydens jy geroep word om jou betragting van beelde heeltemaal om te keer en vanuit 'n totaal ander hoek te kyk met oop gemoed en emosie. Die afsluiting is baie sterk, nie voorskriftelik en eerder 'n versugting om "perspektief" toe te laat om te regeer. Die lewensles van minder haas, terugstaan, eers betrag en verteer voor gereageer word, is 'n basiese waarheid. Welgedaan.
Unieke diep gedig
Baie interessant
Weer eens reis ek ook in jou vers saam. Goed gedoen, Wilna!
Voorwaar 'n kragtige boodskap uitgebeeld met 'n sagte aanslag. Baie goed geskryf. Die fynere nuanses spreek boekdele.