Life

  • 2

Brandweerwa rooi pakkie. Tabakblaartjie op die voorkant (as ek reg onthou) met 'n sterretjie of iets. Life.

Ek onthou nie enige advertensies van die spesifieke sigaret nie want alles was tog Stuyvesant en Chesterfield en Winston en as jy my ouderdom is sal jy met groot heimwee terugdink aan die Camel dude en jy het hom en die Marlboro man nooit werklik saam gesien met die sawwe mannetjies wat Mainstay gedrink hettie want die Mainstay-mannetjies het mossie innie diep bos gewaag nie, hulle het hul pappie se jag gevat en al die girls gekry en wel ... Hoor jare terug dat die rede waarom Lexington uiteindelik sy gat gesien het wat verkope betref juis sy gewildheid was want die gesegde was mos "'n Miljoen myners kan mossie verkeerd wees nie" en jy kry steeds Lexington al is hy ook nou sawwer om aan die wette te voldoen (12 mg is mos tans die wettige limiet en binnekort nog minder) want dit smaak my vandag se manne kannie meer die sterk goete hanteer nie.

Life was die heel eerste sigaret wat ek ingeadem het. Amper 14 jaar oud. Life was nie die keuse oor die advertensie nie, geen subtiele indoktrinasies en twak nie. Life was al wat beskikbaar was toe ek en Andries as jong kakmakers die pad gevat het met 'n bottel sterkwater op pad die bosse in. Toe mens nog in Botswana die bosse kon invaar voor die japies die plek loop koloniseer het. Die eenvertrek "winkel" innie bos met sy warm Coke en pakke King Korn oppie rakke had net Boxer, BB, en Life.

En vir jare was dit Life.

En later Texan en Chesterfield en die bekendes se name klink soos ou familie ... Staan en kwyl toe Peter my vissermanvriend by Wild Oats staan en dampie maak en Peter beduie my 'n snaakse ding: Die chemiese verslawing duur letterlik net drie dae en dan is dit oor. Wat mense verslaaf hou aan hul ou vrinne is die omgewing. En die assosiasies.

Vreemd genoeg is dit nogal dieselle ding met meeste dinge om ons: Is ons nie maar net verknog aan die Chesterfields en John Rolfes en Cecil John Rhodes en al die ander krukke omdat dit ons herinner aan iets nie? Daar is mos geen manier om jou weermag of SAPD dae te kan herleef sonder een of ander sigaret innie hand nie? Die een het die ander soort van behels, reg?

Dit vat baie om te breek met dit wat was.

oester

  • 2

Kommentaar

  • George Bekker

    'Life' laat my dadelik aan die spreuk “Life is great” dink. As dit so is, is dit absoluut gek om die blerrie goed te rook!

  • Ai George
    Nie as jy Rembrandt van Rijn (de Luxe) gerook het nie, dan was elke hoesie 'n meesterstuk.
    Dit laat my dink aan die dae toe ons (dit is nou my oorlede neef Frans, ek en my kleinboet) skelmpies agter die stoor op die plot gerook het. Dit was vir my altyd so mooi as my pa en ander ambagsmanne meet, pas en skaaf in die stoor en die sigarette so skuins uit die mondhoeke hang, die ogies op skrefies getrek, want alles, moes anders as vandag, water- en nommerpas wees.
    Afskeepwerk is nie geduld nie - selfs die duiwehokke wat met afvalmateriaal gebou is
    is aan deeglike inspeksie onderwerp en het tot groot verligting die toets van die meester vakmanne geslaag.
    Om 'n lang storie kort te maak. Die manne het Springbok 30 gerook - sulke lekker dik sigarette. Ons het dan in etenstyd vinnig die stoor ingeglip, 'n klompie sigarette onder die onderste verpakkingspapier weggesteek en geduldig gewag dat die 'leë' pakkies in die asdrom beland.
    Dan rook ons sulke lang suie en blaas die mooiste ringetjies. Toe kom my pa-hulle agter dat die sigarette vinniger verdwyn as wat hul kon rook en is die rookplesier ook daarmee heen.
    So sit die drie van ons dan in die son agter die stoor en bepeins ons lot. Toe kom die voorstel: Wat van gedroogde kannablare? Die goed lyk mos soos tabakblare.
    So rol ons dan 'n lekker vet 'zol' en paas hom aan - so in die ry af - en toe hardloop die plot by my verby en ek dink by die ander ook en kom die eksperiment - bleek om die kiewe, vinnig en naar tot 'n einde.
    Mag dit met jou goed gaan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top