100 dae van fietsry – in Johannesburg

  • 5

Ek het uit pure frustrasie begin fietsry. Dit sou seker, veral in die begin, ’n goeie opsomming van my fietsryverhaal gewees het. Ek het regtig uit pure frustrasie op my fiets geklim en dit as my vervoer werk toe begin gebruik. Maar daar gebeur iets met ’n mens op daardie ysterperd. Jy leer jouself beter ken (ek kan nou vir jou vertel waar al my spiere is en ek het net standerd 7-biologie!) en jy ontdek nuwe lae van jou samelewing. Dit is een ongelooflike avontuur – en dit is moontlik! Ek kan dit na 100 dae darem met ’n redelike mate van gesag sê.

Wie is bang vir die reën?

Kom ons begin maar by die begin. Ek het op 7 Julie 2019 (in die middel van die winter!) by my vriende gekuier en my lot bekla oor my Jeep wat aanhou breek het (dit is ’n Jeep en nie ’n Cheap nie ...). Die Jeep was net nie meer betroubaar nie. Ek kondig toe daar vir my vriende aan dat ek die volgende dag met my fiets werk toe gaan ry. Ek dreig al vir ses jaar om fiets te ry, maar toe is ek deur my omstandighede half gedwing om nie meer net te dreig nie maar ook te doen.

My fiets se naam is Staal Burger.

Nie almal was so entoesiasties oor my fietsryplanne nie. Daar is verskeie redes daarvoor. Sommiges was bekommerd oor my veiligheid en ander het nie gehou van die maatskaplike protes wat ek aanteken nie.

Iemand het my op dag 35 gevra wanneer ek gaan ophou fietsry (ek dink nie daardie persoon het gedink ek gaan eens ’n week haal nie!). My antwoord aan hom: Ek wens ek het vroeër begin. Aan die ander kant neem ek hulle nie te veel kwalik nie. ’n Mens moet seker liggies van jou lotjie getik wees om in ’n stad in Afrika fiets te ry.

(Ek het wel ongelooflike ondersteuning by my kollegas en vriende gekry. Ek wil hierdie verhaal aan hulle opdra. Dankie dat ek op julle skouers kon huil en dat julle my aangemoedig het!)

Links: Ek het ondersteuning van my kollega Nita Cronjé gehad. Regs: Ek en my kollega Suzie Matlhola het gestap en trein gery.

Is dit regtig só vreemd om fiets te ry werk toe? Dit hang van jou perspektief en verwysingsraamwerk af, want dit is eintlik nie so vreemd nie. Ek is hoegenaamd nie die enigste mens wat werk toe ry met my fiets nie. Om die waarheid te sê is ek eintlik baie bevoorreg, omdat ek ’n redelik goeie bergfiets het.

Miskien lê die ongewone daarin dat my verhaal in Johannesburg afspeel. Dit is nou nie juis ’n stad wat bekend is vir veiligheid en goeie fietspaaie nie (watse fietspaaie?!). En ek is ’n veertigjarige vrou. My verhaal gaan dus ’n bietjie teen die norm in die Suid-Afrikaanse konteks in.

Veiligheid – die dapper muis (soort van)

Byna almal het gevra of dit veilig is. Mense vra my nog steeds. Een oggend toe ek so teen die een opdraande uitbeur, draai ’n vrou haar ruit af en vra vir my of dit veilig is om fiets te ry. Dit was nog so aan die begin en ek was baie uitasem op daardie deel van die pad. Ek weet nie of sy mooi kon hoor wat ek sê nie. Ek sê dit dus weer. Nee, natuurlik is dit is nie heeltemal veilig nie, maar so is dit oor die algemeen nie heeltemal veilig in Johannesburg of in Suid-Afrika nie. Dit is nêrens veilig nie. Om te leef is ’n risiko en ’n risikovrye bestaan is nie ’n lewe nie.

Die berugte Gandhiplein in Johannesburg.

Niemand het ooit gevra of ek bang is nie. Ek kan op dag 100 sê ja en nee. Ek is nie bang in die oggende nie, maar ek is altyd ’n bietjie bang in die middae. ’n Baie eenvoudige rede: Ek is bang vir afdraandes – dit is nogal angswekkend om teen 40 km/h op ’n fiets te ry. Dit is meestal afdraande terug huis toe. Jip, ek is ’n bangbroek.

Ek het so ’n paar benoude oomblikke beleef. Daai een oggend toe die ou sy deur oopmaak toe ek vir hom wys dat hy te min spasie vir die fietsryers gee. Hy het my darem nie geslaan nie, hy het net sy deur oopgemaak omdat sy ruit nie gewerk het nie en hy nie mooi kon hoor nie. Hy het gelukkig om verskoning gevra; en nee, ek het nooit weer vir mense gewys dat daar te min spasie is nie – ek klim nou gewoon op die sypaadjie. Konflikvermyding kan lewens red.

Dit is mooi in Randburg.

Ek weet ook nou dat ek nie die veg- óf vlugtipe is nie. Op dag 23 was ek so amper hondekos. Die hond wat elke dag vir my blaf (nie van blydskap nie), was aan die verkeerde kant van die heining. Sy eienaar het die vullisdrom uitgevat. In plaas van veg of vlug het ek my oë net gelate gesluit en toe roep die eienaar gelukkig die hond terug. Ek was buitendien nog te onfiks om teen die opdraande te probeer wegry. Ons het ook nou al vasgestel dat ek konflik vermy.

Medemenslikheid

Nie almal wat op straat loop, is skarminkels nie. Om die waarheid te sê, ek het baie vriende in dié tyd gemaak. Die mense groet my langs die pad – Afrikaans, Zoeloe, Tswana en Engels. So elke nou en dan kry ek so ’n aanmoedigende “trap hom” van die kant af. Op pad na die werk stop ek soms by die een ouma om magwinya (vetkoekies) te koop; sy groet my altyd met ’n “Dumela, ngwana wa ka” – “Goeiedag, my kind.” As ek vir ’n tyd lank nie ry nie, vra mense my waar ek was.

My tyd

Jy kan aan die plek waar jy by mense verby ry, agterkom of jy laat is. Regtig. Die een oggend ry ek by ’n ou verby wat uitroep: “Jy is laat vanoggend!”

Die wonder van openbare vervoer – vóór die koronavirus

Uit die aard van my werk is ek nie kantoorgebonde nie. Ek moes dus planne beraam om by my afsprake uit te kom. Openbare vervoer was my antwoord. Ek is nou die trotse eienaar van ’n Metrobus-, ReaVaya- en natuurlik Gautrein-kaart. Taxi-lingo is nou ook deel van my repertoire (en ek leer nog!).

Ek en Suzie in ’n ReaVaya-bus.

Dit is moontlik om met openbare vervoer oor die weg te kom. Dit verg net beplanning en ’n bietjie geduld. Tot my eie skaamte moes ek besef dat ek die openbare vervoer toe-oë in Europa kan gebruik (en ek was al op baie plekke in Europa), maar dat ek nie ’n cooking clue in my eie land gehad het nie! Dit is nie net moontlik om met openbare vervoer oor die weg te kom nie – dit is ook lekkerder as die Europese openbare vervoer, want die mense praat met mekaar. Ek het al soveel wonderlike gesprekke in die busse en taxi’s gehad. Suid-Afrikaners is darem nie bang om in die busse te glimlag nie.

Ek het taxi gery. Regtig. Links onder: Ek en Thulani die taxibestuurder

As iemand weer kla oor openbare vervoer in Suid-Afrika en hoe dit soveel beter in Europa is, gaan ek die piep kry – jy mag dit net sê as jy wel al van openbare vervoer in Suid-Afrika gebruik gemaak het.

Red ons aarde en planeet – kom terug aarde toe

Met my fietsry wou ek ook bewusmaking vir natuurbewaring skep. Kyk, fietsry bring jou vinnig terug aarde toe. Ek praat nie van die twee keer wat ek geval het nie, maar eerder in die sin dat jy nader aan die gemeenskap op grondvlak kom. Dit is een ding om te weet dat daar mense is wat op sypaadjies slaap en dit is heeltemal ’n ander ding om by hulle verby te ry.

Eina! Met ’n harde slag aarde toe.

Ek dink ook nie ons motorbesittende Suid-Afrikaners besef watter afstande werkers te voet aflê nie. Dubbele standaarde geld nog steeds en ek moet my eie kop ook maar in skaamte laat sak. Hoekom was mense so besorg oor my, maar nie oor my ander kollegas wat elke dag van die bushalte af werk toe moet stap nie?

Gesonde balans

Fietsry het ’n helende en kalmerende effek. Daar was iemand wat my in die eerste helfte van 2019 aangeraai het om ’n sielkundige te gaan spreek – selfs gesê ek moet sommer pille kry. Hierdie fietsry was net die regte medisyne. Dit is nie net die oefening wat goed was nie, maar ek het ook my lewenswyse verander. Ek het nie meer tot laat gesit en werk nie en ek het ook my rekenaar by die werk gelos, want dit is mos te gevaarlik om met die rekenaar te ry.

Daar is net een klein probleempie. Ek moes nuwe klere aanskaf. My ou klere hang soos sakke aan my, want ek het van ’n 18 tot ’n 14 gekrimp.

Jy ontdek wie jy is

Die een middag toe ek terugry huis toe, hoor ek net iemand roep: “Marelize!” Ek wonder toe of die mense ’n Marelize ken wat ook fietsry en ek wou nog vir hulle sê dat my naam Karien is. En toe tref dit my, soos ’n rugbypaal, na wie hulle verwys.

Noudat ek die waarde van fietsry herontdek het, is daar geen keer aan my nie. My boodskap op sosiale media op dag een was dat ek dit om drie redes doen: omgewingsbewaring, om geld te bespaar en vir my gesondheid. Ek het soveel meer gekry en geleer uit hierdie proses as wat ek ooit kon gedink het. Nou is my boodskap: Klim op jou fiets en kom uit jou gemaksone!

Interessante parkerings

Op dag vyf.

Links: In die bus. Regs: ReaVaya se bushalte.

In die begin moes ek nog ’n asmapompie gebruik.

Sigbaarheid en veiligheid eerste.

’n Mens loop soms op vreemde plekke.

Links: Avontuurroete, regs: Vreemde hindernisse langs die pad.

In die winter moet ’n mens warm aantrek.

Links: By die Gautreinstasie. Regs: Dapper stapper.

Dit is cool om fiets te ry.

  • Foto’s: verskaf
  • 5

Kommentaar

  • Geluk Karien, jy het daardie besondere liefde vir jou fiets ontdek - met al die wonderlike voordele wat dit inhou... Iets wat vir almal beskore is, maar sal dit nooit weet alvorens hulle probeer nie. Mag honderde mense jou na-aap. Glo my - ek ken die gevoel. Welgedaan.

  • Avatar
    Jana von Backstrom

    Karientjie, jy is 'n ware inspirasie!
    Knap gedaan oulike mens!
    Jy het baie mense verkeerd bewys!

  • Dis die beste fietsrygetuienis wat ek nog in Suid-Afrika gelees het. Baie dankie! Ek en my vrou ry nou so vier jaar oral waar ons kan op ons dorp fiets. Ek het ook begin fietse renoveer. En ek het so baie nuwe vriende gemaak. En ja, jy word deel van n gemeenskap as jy daardeur fietsry. En jy kan altyd stilhou om met iemand te praat, vir iets interessants wat jy raaksien of om n foto te neem, en les bes, as jy gou iets wil koop. Mense bewonder jou en sê dis so gesond en jy spaar soveel brandstof. Ja, fietsry is al daai goeie dinge, maar ek vind dit gewoon lekkerder en soveel minder spanning. Fietsryers hou van die groot G:
    Gouer
    Groener
    Gesonder
    Goedkoper
    Gemakliker
    Geselliger
    Ek hou van 'n kkww-fiets....koffiekerkwerkenwinkelfiets!
    Google Stellenbosch fietsry
    Sterkte en groete! Dawid Botha

  • Baie dankie vir die mooi boodskap. Ek hoop regtig my storie inspireer mense om te begin ry - wanneer die inperking verby is. Jy hoef nie die sportiefste te wees of die duurste fiets te hê om te begin nie.

    Ag, dit is so lekker om te weet dat daar mense is wat hierdie liefde vir fietsry deel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top