Titel: 1
Met: Cindy Swanepoel en Zak Hendrikz
Teks: Henriëtta Gryffenberg
Regie: Alby Michaels
Choreograaf: Craig Morris
“Eendag was daar twee mense wat so lief vir mekaar was dat hulle oornag aan mekaar vasgegroei het.” So lees die beskrywing van hierdie teaterstuk in die Momentum Beleggings Aardklop 2023-feesgids.
Henriëtta Gryffenberg se 1 debuteer op 4 Oktober tydens Aardklop in die Elgro Hotelsaal. Hierdie stuk ondersoek die dinamika tussen ’n egpaar en die emosionele en fisieke vassit aan jou naaste.
Cindy Swanepoel en Zak Hendrikz speel twee teenpole van mekaar wat ná ’n tyd se saamleef fisies aanmekaar geheg geword het. Swanepoel is beroemd vir haar rol in Binnelanders, waarvoor sy onlangs ’n SAFTA-toekenning ontvang het, en Hendrikz word meestal geken aan sy rol in 7de Laan. Hierdie twee speel in 1 onderskeidelik die rolle van Hirr en Hiss. Terwyl die gehoor hulle sitplekke inneem, lê Swanepoel en Hendrikz reeds op ’n bed op die verhoog. Wanneer die eerste toneel begin, voel dit of jy ’n inkyker is op die verhouding van ’n regte getroude paartjie en dit dra soveel geloofwaardigheid tot die stuk by.
Tydens die opvoering word ’n tipiese verhouding tussen twee mense uitgebeeld, van die uitspeel van daaglikse roetines tot die algemene gesprekke van ou getroudes. Hirr en Hiss besin deurlopend oor die liefde en geluk en of dit werklik nimmereindigend is.
Hirr, wat deur Swanepoel gespeel word, is ’n intelligente en diepsinnige mens wat die “saamgefoeterde gemoedigheid” van haar verhouding bevraagteken. Sy is emosioneel sterk en streef na haar individualisme en na die vryheid om apart, maar saam te kan wees. Swanepoel se monoloë, wat poëties op die oor val, trek die gehoor in en sit die tragi in tragikomedie. Hirr ondersoek die sin en die onsin van die liefde en wat dit beteken om dinge wat buite die verhouding lê, te begeer. Hierdie konsepte probeer sy gereeld uitpluis deur komplekse wiskundige vergelykings op te trek, maar kom nooit tot ’n definitiewe antwoord nie.
Hiss, ’n komiese karakter wat deur Hendrikz gespeel word, is byna die teenoorgestelde van sy vrou. Gryffenberg plaas hierdie twee mense in ’n verhouding soos die twee pole van ’n magneet teenoor mekaar. Hiss kom nie as ’n diepsinnige karakter voor nie en vind nie aanklank by Hirr se vlak van intelligensie nie. Hiss is eerder besig met die minder belangrike dele van ’n verhouding. Hy is ook die een van die twee wat ’n vrees het vir alleen wees en die seer wat daarmee saamkom. Wanneer die twee se huwelik na skei toe staan, merk hy op dat hy die “alleenheid proe”.
Die verhaal wat in 1 vertel word, is gebaseer op ’n antieke Griekse verhaal waarin mense met twee koppe en vier arms en bene geskape is – die “wieletjie mense”. Hierdie mense het teen die gode gerebelleer en is almal in twee verdeel. Die gode se straf was dat mense vir ewig op soek sal wees na hulle ander helfte. In 1 sê Hiss dat ons almal net een van hierdie “twee-oog-monsters is”, altyd op soek en altyd alleen.
Vir die grootste gedeelte van die toneelstuk speel Swanepoel en Hendrikz met hulle koppe teen mekaar gedruk soos dié van ’n Siamese tweeling. Die stille kommunikasie en choreografie tussen dié twee is indrukwekkend. Wanneer Hirr en Hiss van mekaar “losgemaak” word, prosesseer hulle dit op uiteenlopende maniere. Hirr bedink die verganklikheid en terugkeer van liefde ná ’n egskeiding en die seer wat daarmee saamgaan. Hiss voel weer agtergelaat en verbaas om vir die eerste keer sy eie gedagtes te hoor en nie dié van Hirr nie. Die stuk beeld ook die komplekse proses van ’n egskeiding uit en die dinamika wat tussen twee mense tot stand kom wanneer die begeerte om te skei slegs van een pool af kom.
Alhoewel die toneelstuk hierdie onderwerp van skeiding en alleen wees op ’n komiese manier ondersoek, vat dit nie weg van die erns en hartseer van die verhaal nie. Die subtiele, suggestiewe humor tree op as aanknopingspunt by die gehoor wanneer daaglikse, universele omstandighede uitgespeel word. Swanepoel en Hendrikz se toneelspel is indrukwekkend en balanseer die ander mooi uit.
Die einde van die verhaal staan meer na tragedie as komedie toe en laat gedagtes van verlange en verlatenheid by die gehoor. Dit vertel van seer wat altyd by die liefde ingebed sal wees en bevraagteken die cliché van “opposites attract” en jou “ware ander helfte”.
Swanepoel en Hendrikz se ongelooflike toneelspel is met ’n staande applous deur die gehoor beloon.