In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Dit is maar vir ons almal moeilik om te erken as jy ’n fout gemaak het. Nog moeiliker is dit om ’n verkeerde ding te los as jy alreeds daarmee besig is. Langenhoven het nie verniet gesê nie: "Die kortste draai is die omdraai. Só kort dat hy swaar is."
Maar dat daar waarde in omdraai is, het die wyse Langenhoven ook raakgesien toe hy gesê het: "Jy hoef nie die see leeg te drink om jou te oortuig dat hy sout is nie."
’n Sekere mnr George het vir ’n bekende handelsbank in Randburg gewerk. ’n Ouer werknemer van die bank, ene mnr Singh, het met die heelwat jonger George bevriend geraak en het gaandeweg sy vertroue gewen. Nadat George die diens van die bank verlaat het, is hy deur Singh genader om hom te help om geld van die bank te steel. Die plan was verbluffend eenvoudig. Singh was die bestuurder van een van die bank se pantsermotors wat geld wat aan die bank behoort het, vervoer het. Hy was gewapen met ’n haelgeweer en al wat George moes doen, was om op ’n sekere oggend vir Singh te nader wat op sy beurt die haelgeweer en die sleutels van die pantserwa aan hom sou oorhandig. George moes Singh dan agterin die pantserwa toesluit en alles moes na ’n bloedlose rooftog lyk. George moes dan ’n entjie met die voertuig ry, waarna hy die sleutels aan Singh sou oorhandig en hom met die geld uit die voete sou maak. George sou die buit later aan Singh oorhandig en dié sou hom ’n paar rand in die hand stop as beloning vir sy deelname aan die "rooftog". Dus g’n 50/50-verdeling nie.
Die afgesproke datum was 1 Augustus 1990. Die plan het presies uitgewerk soos wat Singh en George afgespreek het. Met Singh agterin die pantserwa toegesluit het George ’n entjie met die voertuig gery. Maar toe het sy gewete hom begin pla. Hy het besef dat hy met ’n verkeerde ding besig is en het besluit om kop uit te trek. Hy het van die pad afgetrek en was net besig om die voertuig agter oop te sluit sodat hy Singh van sy veranderde voorneme kon verwittig toe die polisie daar aankom. George het hom onmiddellik oorgegee en het sy volle samewerking aan die polisie verleen in die ondersoek. Onder meer is vasgestel dat daar R248 000 se kontant agterin die pantserwa was.
George is in die landdroshof van Randburg aangekla van motordiefstal, asook diefstal van R248 000. Hy het op al die aanklagte skuldig gepleit en is deur die landdros tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan drie jaar voorwaardelik opgeskort is. Teen dié swaar vonnis het George na die hooggeregshof in Johannesburg geappelleer. Regter Ismail Mahomed - wat later Suid-Afrika se hoofregter geword het - het die appèl aangehoor.1
Die feit dat George se gewete hom gepla het en hy vrywillig ’n einde aan die rooftog gemaak het, het in sy guns getel - so ook die feit dat hy jeugdig en ’n eerste oortreder was en onder die invloed van die ouer Singh opgetree het. Die besondere handelsbank het ook geen skade gely nie, omdat al die geld teruggevind is. Die hof het George begenadig en sy straf verander na ’n boete van R5 000 of twee jaar gevangenisstraf. Verdere gevangenisstraf van drie jaar is voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort.
Die genade wat die hof aan George betoon het, bevredig nogal ’n mens se regsgevoel. Regter Mahomed was straks nie ’n ywerige leser van Langenhoven nie, maar as hy Langenhoven se spreuke geken het, sou hy seker die volgende een in sy uitspraak kon aangehaal het: “Om te sondig is dierlik, om te veroordeel menslik, om te vergewe goddelik.”
Nou ja, George is darem nie hééltemal vergewe nie. Nogtans. Ook vir hóm had Langenhoven ’n spreuk om oor na te dink - veral ná die klomp regskoste wat sy daad hom op die hals gehaal het: "Die goedkoopste manier om aan jou lewensmiddel te kom is om daarvoor te werk. Die duurste is om dit te steel."
Wat was die ou rakker, Singh, se lot, vra jy? Die hofverslag – wat slegs oor George se appèl handel – vermeld niks van dié amateuragtige verleier van die jonge George-met-’n-gewete nie. Maar vir hom had Christus in Matteus 18:8 ’n waarskuwende woord: "Elkeen wat een van hierdie kleintjies, wat in My glo, van My afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met ’n groot meulsteen om sy nek in die diep see verdrink."
Pappa het seker vir hom gewag ...
En vir dié van julle wat wonder hoekom ek vandeesweek so kwistig uit Langenhoven se werke aanhaal: Augustus-maand is mos sy verjaardagmaand. "Sagmoedige Neelsie", soos hy homself graag genoem het, is op 8 Augustus 1873 te Hoeko in die distrik Ladismith in die wonderskone Klein-Karoo gebore. Hy was self ’n regsgeleerde wat eers as ’n advokaat in die Kaap gepraktiseer het, waarna hy as prokureur op sy geliefde Oudtshoorn in veral die waterreg naam gemaak het.

