Waar is die “magic” heen?

  • 0

Koos Roets (Foto: Schalk Engelbrecht)

Die legendariese rolprentmaker Koos Roets se lewe toon verskeie raakpunte met dié van die magiese verhaal van die hoofkarakter van Cinema Paradiso.

“Abracadabra … and when the light hits the screen … magic! In Guiseppe Tornatore se 1988-fliek Cinema Paradiso leer Toto van kleins af by die plaaslike bioskoop se projektor-operateur, Alfredo, hoe ’n rolprentprojektor werk. Die rolprente wat hy by die bioskoop sien, kweek só ’n liefde by Toto dat hy later self ’n bekende Italiaanse regisseur word. Ons eie Koos Roets, bekend as ’n regisseur, kinematograaf en draaiboekskrywer, het ’n soortgelyke “magiese” verhaal.

“I’ll tell you a story, just for you, Toto.” Vir Koos Roets het sy magic ook begin toe hy nog ’n jong seun was. Toe hy sowat tien jaar oud was het sy pa koshuisvader geword by die CTK Kinderhuis in Bethlehem. Koos vertel dat dit hier was waar hy die akteur Frank Opperman se pa ontmoet het. Opperman was sowat ses jaar ouer as Roets. “Eendag het hy ’n gloeilamp geneem en die gloeilamp se binnegoed uitgebreek. Hy het dit vol water gemaak en ’n kers opgesteek. En toe het hy dit voor die kers gehou, en die patrone wat dit oor die muur gegooi het, het my so aangegryp, ek het besluit om my eie projektor te bou.”

Al het hulle ’n karige bestaan gevoer, het hy dit wat tot sy beskikking was, gebruik om dié projektor te bou – uit ’n ontbytpapboks. “Toe het ek begin om projektors uit Post Toasties-bokse te bou. Daar was natuurlik baie daarvan in die eetsaal gewees. En dan het ek met deurslagpapier die prentjies afgetrek van comics af – en dan soos ’n skyfie vir die ouens in die koshuis geprojekteer.”

In Cinema Paradiso vertoon die jong Toto en sy mentor Alfredo ’n rolprent aan ’n groot skare teen een van die mure van die dorpsplein. Ongelukkig het die lig te warm geword en die filmrol aan die brand laat slaan. ’n Soortgelyke insident het ook met Roets gebeur.

“Die lig van my projektor het natuurlik baie warm geword en een aand het die projektorboks aan die brand geslaan. Die gordyne het ook begin brand en só het die studiesaal amper afgebrand. Dit was regtig ’n hengse storie gewees.” Maar dié insident het Roets nie gekeer om sy vaardighede te gebruik om verdere amateurprojektors te bou nie – die een beter as die vorige een.

Koos agter die kamera (Foto: verskaf)

Roets se pa was later ook in Kestell ’n onderwyser, wat beteken het dat hulle betreklik naby die Lesotho-grens gebly het. “Ek het toe ’n vriend gehad met die naam Douglas Hitchcock. Hy’t ongelukkig geen verwantskap gehad met Alfred Hitchcock nie,” skerts Roets met verwysing na die bekende Britse regisseur uit die vyftigerjare.

“Nou ek en Douglas het dan met ons bicycles gery, seker so tussen 25 en 30 myl, na Qwa Qwa toe, om die mense dáár te gaan afneem. Dan sit hulle so op ’n stoeltjie agter die boeke en neem ons hulle af, teen vyf sjiellings elk. Dan ontwikkel ons dit by die huis en neem dit weer die volgende week vir hulle.” Volgens Roets het hulle soveel geld daarmee verdien dat dit hulle in staat gestel het om ’n 8 mm-kamera te koop. “Toe begin ons al die troues, begrafnisse en die ouens se stoetramme wat pryse wen af te neem. Ons het soveel geld dáármee gemaak dat ons ’n 16 mm-projektor kon koop. En daarmee het ons elke Vrydagaand vir die mense ’n bioskoopvertoning in die stadsaal gelewer.” Nes Toto ook vir gehore in Cinema Paradiso die dokumentêre beeldmateriaal gewys het wat hy in en rondom die dorp verfilm het. Tornatore het ook later in ’n onderhoud gesê dat die fliek outobiografies was, en dat sy eerste rolprente bestaan het uit filmmateriaal wat hy rondom hom in Sisilië verfilm het.

Koos se kameras

Al het hy tóé reeds geweet dat hy die res van sy lewe stories deur prentjies wou vertel, het Roets op sy pa se aandrang onderwys by die Goudstadse Onderwyskollege gaan studeer. Maar hy het geen belangstelling daarin gehad nie, en weggeloop na Jamie Uys Film-ateljees wat daarnaby was. Daar het hy na etlike probeerslae werk gekry as ’n “haai jy” – die term wat hy gebruik om te verwys na iemand wat los werkies op die filmstel doen. In vandag se rolprentbedryf sal dié persoon as ’n runner bekendstaan.

In ’n 2016-onderhoud het Jans Rautenbach vir my vertel dat dit juis dáár is dat hy vir Roets ontmoet het. “Hy’t begin as ’n jong kamera-assistent vir Judex Viljoen. En hy’t van daar af net geblom. En ek was baie bevoorreg dat hy die eerste vollengte-rolprent wat hy ooit as volwaardige kinematograaf verfilm het, een van my flieks was. Dit was Jannie Totsiens – vandag nog een van die mylpaal Afrikaanse rolprente. En die eer was grootliks te danke aan die kamerawerk van Koos Roets.” Roets gee self gereeld vir Rautenbach die eer, tesame met mense soos Emil Nofal en Judex Viljoen, dat hy onder hulle mentorskap sy tande geslyp het.

Al het Roets in ’n onderhoud vir my gesê dat hy nie soveel by Jamie Uys geleer het as by Rautenbach, Viljoen en Nofal nie, wil ek graag met hom verskil. Uit verskeie stories wat hy vir my oor sy jare by Uys vertel het, kon ek duidelik agtergekom het dat Uys op instink gewerk het. En Roets het geleer om op ’n baie soortgelyke manier die elemente tot sy beskikking te gebruik om ’n storie te vertel.

“Die meeste regisseurs beplan lank voor die tyd wat hulle op ’n spesifieke dag gaan afneem en hoe hulle dit gaan verfilm. Maar ek glo nie daaraan nie,” sê Roets. “As ek op die stel kom en die wind waai, of dit reën, gaan ek nie om dit skiet nie, ek gaan dit juis by my skote inwerk.” Só het hy ook van ’n reënsekwens in Paw Paw vir my Darling gebruik gemaak. “En ek dink op die uiteinde was dit eintlik een van die mooiste tonele – al het ons glad nie vooraf beplan om dit in die reën te verfilm nie.”

Met meer as 60 jaar in die rolprentbedryf het Roets al die tegnologiese ontwikkelinge waargeneem wat plaaslik en internasionaal plaasgevind het. En met die koms van digitaal kon Roets sien hoe regisseurs en tegniesespanlede nie skroom om skoot ná skoot te neem en dít wat hulle nie op stel regkry nie, na die tyd in die redigeerkamer reg te maak nie. Dus kan hy nie anders as om te mymer nie: “Waar is die magic van movie maak heen?”

Tog is Roets een van die mees pragmatiese rolprentmakers in die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf. Indien ’n mens sy naam op die International Movie Database opsoek, kom daar 195 krediete op – dit beteken hy het oor die afgelope dekades amper 200 keer as regisseur, kinematograaf, draaiboekskrywer en vervaardiger gewerk.

Dus kan ons nou, op sy 75ste verjaardag, ’n glasie klink op Roets en sy bydrae tot die magiese towerkrag van rolprentwese. Salut!

Anna-Marie Jansen van Vuuren werk tans aan Koos Roets se biografie. Enigeen wat al saam met Koos Roets gewerk het en wil bydra tot die projek, kan haar gerus kontak by ajansenvanvuuren@uj.ac.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top