Vuurvas deur Carel Anthonissen: ’n resensie

  • 2

Vuurvas
Carel Anthonissen

Uitgewer: Naledi
ISBN: 9780928316971

In Vuurvas kom talle ervarings en gewaarwordings van menswees ter sprake. Dit strek van die onskuldige aankoms tot die sterwensuitvaart. Alles gebeur in gedigte wat deur ’n gevoelige en taalvaardige hand gemaak is.

Carel Anthonissen het reeds enkele Engelse gedigte in ’n reeks van drie bloemlesings (oor Afrika, oorlog en liefde) gepubliseer. In 2015 is een van sy gedigte in The Sol Plaatje, European Union Poetry Anthology, Vol V opgeneem. In 2016 is twee van sy Afrikaanse gedigte ook in Stanzas nommer 6 opgeneem. En nou verskyn sy debuutbundel.

Die voorblad van hierdie bundel bied ’n visuele blik op die huis waar talle gedigte woon. Ná die aanslag van vuur bloei die brandlelie en groei dit daar waar byna alles verskroei is.

Die titel van die bundel is ’n sleutel wat toegang bied tot die huis waar die gedigte woon. Die begrip vuur wat in die bundeltitel voorkom, is metafories ryk. Vuurvas ontgin die vuurmetafoor positief. By die Grieke is Helios die songod. Die god gee lig en lewe en beskyn die werklikheid. Vuur roep ook sy teenpool op: skemer, donker, die dood (ewige donker). Metafories verwys donker en sy sinonieme na bedreiginge, gevare, teenslae en ondergang. Alles verduister (dood). Die titelwoord, vuurvas, dui onder andere op bestand, opgewasse teen vuur en brandvry wees. Dit beteken egter nie dat die mens teen al die bedreiginge staande kan bly nie. Die mens is immers bestem tot sterflikheid.

Die titel laat my dink aan Ernst van Heerden se bundel Amulet teen die vuur. By van Heerden is amulet ’n afweer- en beskermingsmiddel. In die titel Amulet teen die vuur is vuur ’n negatiewe (donker) metafoor om siektes, bedreiginge, weerloosheid, ondergang, vernietiging en die dood aan te dui. Dit dien ook as versteuring van lig. In Van Heerden se slotgedig, “The truth of masks”, val die maskers die een na die ander af. En dan volg die ligpunt:

Maar
Daar was ook die kersemaker,
uitdager van die donkertes,
wat van ’n vlam ’n lied wou maak –
om die ligtende lewe lief te hê,
dit deur alle brand steeds te verduur.

’n Klein ligmaker het die taak om die vuurbedreiging aan te durf. Die kersemaker is die digter, die gedig, wat die donkertes aandurf om die lewe met lig te deurstraal, ondanks die woedende brand. ’n Kersemaker het die taak om die vuurbedreiging, die negatiewe mag, aan te durf. Dit herinner aan Hooglied 8, waar die liefde as ’n gloed van vuur beskryf word. Groot waters kan die liefde nie blus nie.

In Carel Anthonissen se bundel staan vuurvas ook teen die negatiewe momente wat die bestandwees ondermyn. Hierdie bestaan van die mens word deur “onttowering” gekenmerk (Max Weber). Onttowering is ’n wesenskenmerk van die moderne kultuur (Koo van der Wal). Dit is binne hierdie kultuur dat die leser Vuurvas moet lees.

Søren Kierkegaard se filosofie word in die wending na die subjek voltrek. Sy filosofie draai om die mens en sy ervaringe. Dit is ook die aksent van die eksistensialisme. Die filosofie peil die deurleefde ervaringe, byvoorbeeld in die rykgeskakeerde wêreld van stemminge soos angs, walging, verveling, pyn, hoop en die konfrontasie met die einde, die dood. Kierkegaard praat van die “grenservaringe”.

Die grenservaringe kom in Vuurvas duidelik aan die lig. Die gedigte gaan oor die onskuld, drome en hoop van ’n kind in haar “maneskynbed” en die “ligvoets soos voëls oor grense gewip ...” Met verloop van tyd verander die polsende lewe in ontnugtering, kwellinge, angs en ’n laaste asemtog wat die grootmenslewe afsluit. En te midde van hierdie ervaringe handel die bundel ook oor die uiteindelike aanvaarding van en saam-lewe met pyn, siekte, ouderdom en die dood.

Vuurvas is knap gekomponeer. Dit bestaan uit vier afdelings: “Bont krale en ’n rok wat sing”, “Om die binneluike oop te stoot”, “Die verskriklike tamboeryn” en “Kordaat met vuur”.

Die openingsgedig in die eerste afdeling gee ’n aanduiding van die eindtye waarheen reisigers op pad is: “die ouderdom kom met sy/ geel tande en pietsende stert.”

Dit is opvallend hoeveel keer daar na ’n vrou in die gedigte verwys word (kyk byvoorbeeld “Samaritaanse vrou”, “Kriptogravin”, “Koket”, “Luminitsa”, “Dulcinea”, “Slapendes”, “By Vergelegen”, en nog meer gedigte). Die eerste afdeling word afgesluit met “Afskeid”, ’n ontroerende gedig vir die digter se ma.

Die tweede afdeling gaan oor die geboorte van die digter (“Jeug”), sy digterskap (“Geboorte van ’n digter”), sy geestelike vader (Beyers Naudé) en geesgenoot (Dietrich Bonhoeffer). In hierdie afdeling kom daar ook knap gedigte oor die natuur voor. In “Lente” sing ’n voël die laudamus te, ’n bekende en geliefde Latynse himne in die Middeleeue. Die reeks “Gesprekke met Pa” vorm ’n boeiende oorsig oor herinneringe van ’n verbygegane verhouding. Eenselwigheid, onreg, humor en ironie. Die kinkels en kabels van ’n verhouding.

In die derde afdeling word die eggo’s van die verskriklike tamboeryn gehoor. In “Dood in die huis” is die dood die ontydige indringer. Ironie en verrassende woordwendinge kom in die gedig voor. Gedigte oor wroeging, waarskuwing, vermetelheid, verleiding, roof, herinnering aan die plaas, vervreemding, kollegas in die jong Suid-Afrika, die afsku van die dood kom hier voor. Die afdeling eindig met gedigte oor die ouderdom. Hierdie reeks gedigte word oorskadu deur donkerheid, ironie en galgehumor. Alles is verskriklik en afskriklik. Die digter span digterlike gereedskap soos metafore verbeeldingryk en vernuftig in om die poëtiese wa deur die drif te kry. Die geheim van die deurtog bly bewaar. Die laaste reëls van “Sewentig”, waarin daar oor die nadood gewonder word, lui:

sal daar helderte en lig, selfs ’n
tonnel wees

of net ’n donkerte,
’n nag, oneindig soos sterre.

’n dood sonder angel

Hierdie laaste reël laat my aan Stephen Hawking se opmerking oor die nadood dink. “Wanneer ’n mens sterf, is sy bewussyn baie soos ’n rekenaar wat afgeskakel word.” Skielik is alles donker. Skielik is daar niks.

Die bundel eindig egter nie op só ’n noot nie. Daarom heet die laaste afdeling “Kordaat met vuur”. Vuurvas, dapper en moedig teen aanslae op die lewe. “Vuurvas” is ’n uitstekende openingsgedig van dié afdeling. Hiermee word die gang van die slotafdeling bepaal. Selfs die mens se sterflikheid is ’n “tweede slaap” wat ons “in haar warmer kombers” toevou.

Dit is opvallend dat Bybelse intertekste telkens in die bundel voorkom (byvoorbeeld Spreuke 1:20–23, Johannes 4:1–42 en Rigters 11:30-40). Voorts is dit ook die geval in die slotafdeling. “Terugkeer” put uit die gelykenis van die verlore seun. Die Bybelse stof word egter vernuftig, eietyds en eiewys in digvorm aangebied. “Noag”, “Vergifnis” en “Salwing” is ook hiervan voorbeelde.

”Naggesprek” is ’n waardige slot vir hierdie voortreflike bundel. In die gedig staan die twee adjektiewe vir my voor die eienaam God in ’n ondraaglike spanning. Die woordveld van “slu” (geslepe, slu, vals, bedrieglik, verraderlik) staan onvredig langs die “geheimsinnige God”. Selfs as ironie deug die byvoeglike naamwoord nie. Die slot van die gedig is, soos talle ander gedigte, sterk en vindingryk.

Poëtiese tegnieke soos die gebruik van enjambemente en rykvars metafore word betekenisgewend deur die digter gebruik. Die aanwending van enjambemente laat die digreëls soos water van ’n bergfontein vloei.

Van Wyk Louw het gedig: “slotreëls is altyd sleutels meer as slotte”.

Hierdie woorde geld ook ten opsigte van byna alle gevalle van Anthonissen se slotreëls. In “Herbesoek” (31) vra die digter dat hy ’n tweede kans sal kry, ’n herbesoek. Dan sal hy, as hy die kans kry om weer lief te hê, dié slag wilder wees en meer spontaan en roekeloos: “met sagte woorde in jou nek en/ ’n tong vol pruimedante”.

“Bergpredikasie” is nog ’n voorbeeld van ’n gedig met ’n treffende slot: “’n duif uit die pers lug verskyn/ met ’n rooidag in haar krop.” Dié slotreëls is vol simboliek (’n duif) en diepgang.

Ek het hoë waardering vir die gedigte oor eietydse martelaars – Dietrich Bonhoeffer, Beyers Naudé en Madiba.

In “Bonhoeffer” kom daar ’n vernuftige intertekstuele verwysing na Paul Celan se “Todesfuge” voor. Die lotgebondenheid van Celan en Bonhoeffer is treffend. Ek sou in strofe twee, waar daar na diegene wat Bonhoeffer op sy naam, Dietrich, noem, verwys word, ook die naam van of verwysing na sy verloofde, Renate, wou sien. Juis in die aangesig van die dood is die liefde die sterkste en die grootste.

Net die “liewe dubbele nie” moet in Afrikaans behou word. Selfs al het Van Wyk Louw dit op ’n plek in Germanicus vermy. Die uitkoms wat digtervryheid bied, is nie opgewasse teen dié taalvereistes nie. In “Dood in die huis” word die gebruik van die dubbele nie nagelaat. Maar in “Oor ironie” kom dit tot sy reg. In “Naggesprek” kom vreemde en botsende betekenisse naas mekaar voor: “slinkse en geheimsinnige God”. Die verdere verloop van die gedig maak die invoeging van “slinkse” onnodig en oorbodig. Daar is ander adjektiewe wat naas “geheimsinnige’ kan staan om spanning te skep.

Hierdie bundel is ’n knap en vuurvaste debuut. In die bundel vlam lig in en teen die donker. Wie aandagtig lees, sal ryklik beloon word.

Die bundel is keurig deur Naledi uitgegee.

  • 2

Kommentaar

  • Gelukkig mag 'n mens 'n skryffout regstel.Van Wyk Louw se reël lui inderdaad soos Joan Hambidge skryf:
    slotreëls is altyd sleutels meer as slotte:
    Mooi so.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top