Verruklike teater tans te sien

  • 0

Van my beste oomblikke van vermaak het ek al op die planke van die Kleinteater by die Universiteit van Kaapstad teëgekom. It’s a Boy van Robert Kirby was so ’n besonderse ervaring. Ek onthou nou nog Maureen England se ou “common” alkoholis-rassis in die rolstoel, met die fluitende “s”. En Charles Comyn.

Jare lank het ek daar studente-oudisies bygewoon wat so indrukwekkend was dat mens dit kon saamgooi, kaartjies verkoop en wag dat die gehore instroom na die beste vermaak in die Kaap.

Die afgelope paar jaar het ’n groepie, The Mechanicals, begin om hulle gewig gratis in van die beste plaaslike vermaak in te gooi. Van die room van ons land se kunstenaars is daar betrokke, en elke nou en dan kry ’n paar redelik onervare akteurs die geleentheid om die verhoog met hulle te deel. Die gehalte van hulle werk is so hoog dat hulle al ’n kultusgevolg opgebou het, en vol sale na hulle optredes lok.

Dieselfde planke lewer op die oomblik ’n teaterhoogtepunt op soos min. Woza Andries en Art speel “repertory” vir ’n wyle nog. Al die info is beskikbaar op die webwerf van Teaterteater – die toneelgeselskap van Marthinus Basson en Hugo Theart.

Beide stukke is die produk van die spelers se jare lange studie aan die Universiteit Stellenbosch. Basson is ’n dosent daar. As mens kyk na die gehalte van beide produksies, is studies onder die ou meester duidelik ’n baie goeie fondament. Onmiddellik duik stukke soos Lysistrata, Bloeiende lente en Cabaret uit die geheuebank op. Elke stuk was briljante studenteteater. Elke stuk was vol sterre, soos die meesleurende, vreeslose Christiaan Olwagen as MC in Cabaret.

Soos die werk van The Mechanicals begin ensembles soos dié van Art en Woza Andries as kultusgroep al “groupies” ontwikkel, en vernuftig gooi die Kleinteater ook vir hulle die deure oop. Op keurige openingsaande, met stylvolle peuselhappies en wyn na die tyd, was dit asof hier ’n brokkie van die sukses, flair en pizzazz van ouds teenwoordig is.

Beide stukke is ondernemend, met uitdagende, ekspressiewe beligting, unieke stelle, werk wat talle dimensies deurdring – in gevoelslae, en ruimtelike lae, in die verhoogspasie self, sowel as prikkelende ontwerp, kleur en ekstreme spel. Beide se tekste is beeldskoon.

As ek moes kies, sou Woza Andries met ’n kortkop voorloop as my mees meesleurende teaterervaring van die jaar.

Die tikkie nostalgie (omdat ek en oorle Andrew nog Woza Albert saam gesien het, eers in die Baxter-teater, en weer in die HB Thom op Stellenbosch, in die vroeë ’80’s) help. Maar die ongelooflike kuns-uitmuntendheid van veral Woza Andries, die uitdagende teks, en die impak op Jan Publiek, gepaard met briljante spel deur die Marthinus Basson-produkte, maak van hierdie produksie my voorbeeld van wat teater moet kan bereik in samewerking met die gemeenskap/gehoor.

Die toneel waarin Wessel Pretorius as die boer die geïsoleerde verskyning maak, priem die atmosfeer en ruk die ironieë, vooraf en daarna, op hemelse wyse in perspektief.

Hierdie werk is nie vir sissies nie, en sommige gehore sal dele as godslasterlik beskou. Maar dit is nie. Dis juis die spieël waarin jy kan sien hoe sommige van ons die aardbol besmet. En bespreek vinnig vir hierdie vervullende ervaring. In ’n land met ’n kultuurlandskap wat so op sy knieë is soos ons, is dit net logies dat hierdie twee stukke se kaartjies so skaars soos Springbok-rugbykaartjies behoort te wees.

Op hierdie verhoog vergelyk ons met enige land ter wêreld.

Woza Andries
Deur Robert Volker en geselskap
Regie en ontwerp: Christiaan Olwagen

Met:
De Klerk Oelofse
Johan Botha
Kelly-Eve Koopman
Wessel Pretorius

Beligting: Jaco van Wyk / Christiaan Olwagen
AV/Klankbaan: Christiaan Olwagen / Brechmari van Wyk
Produksie oorsien deur Johan Esterhuizen en Marthinus Basson

Tans te sien! Klik hier vir die programskedule.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top