Spertyd deur Elsa Joubert: bekendstellingstoespraak

  • 3

Foto: Madelein Venter

Spertyd deur Elsa Joubert is op 21 November 2017 in Berghof bekendgestel. Etienne Bloemhof, hoof van Fiksie by NB-Uitgewers, deel sy bekendstellingstoespraak by die geleentheid met LitNet.

Dames en here, dit is besonder gepas dat ons Elsa Joubert se Spertyd vanaand hier in Berghof bekendstel, want hierdie gebou is eintlik ’n hoofrolspeler in die boek.

Ek het Elsa Joubert, oftewel mevrou Elsa Steytler, ontmoet toe ek doer in 1995 haar man Klaas se satiriese roman Die goue kalf, die vervolg op sy kultusboek Zapzap, in Seepunt gaan dit pienk en plesierig (verskyn onder die skuilnaam: Jan Harmse), uitgegee het. Ek het so nou en dan in Belvederestraat besoek afgelê vir werksessies met Klaas en dit was vir my ’n ongelooflike voorreg om Elsa Joubert ’n bietjie te leer ken, want sy was iemand vir wie ek van my studentejare af al ’n heldeverering had. Ek onthou nog goed hoedat Klaas,  toe ek hom gekomplimenteer het op ’n oulike, effens skunnige versie in dié boek, sameswerend in my oor gefluister het dat dit eintlik Elsa se pennevrug was!

Dit is helaas die naaste wat ek daaraan gekom het om self iets van mevrou Steytler uit te gee. 1995 was natuurlik ook die jaar waarin haar formidabele Die reise van Isobel verskyn het, en vier jaar daarna het ek darem die voorreg gehad om ’n hele middag neffens Elsa Joubert deur te bring, dít terwyl ons ’n vertaling deurgewerk het van ’n uittreksel uit Die reise van Isobel wat in die versamelbundel A century of Anglo-Boer War stories opgeneem is. En wat ’n ervaring was dié nie. Ek kon eerstehands sien watter hiperfyn woordkunstenaar sy is, hoe elke woord op sy regte plek moet tuiskom ... en ek dink nie ek doen die destydse vertaler enige onguns aan nie as ek sê daar was letterlik nie een sin wat nié reggeskaaf is deur die Joubert-skalpel nie. Ek het daardie dag ’n vertalingsles ontvang wat my lewenslank sal bybly.

Vir die volgende klompie jaar was dit egter met taamlike afguns dat ek gesien het hoedat Elsa Joubert se werk by my destydse NB-kollega, Tafelberg se fiksie-uitgewer Riana Barnard, verskyn het. Ek het bloot as dankbare leser die publikasies verslind wat in daardie jare verskyn het, onder meer die twee uitmuntende outobiografiese tekste, ’n Wonderlike geweld (2005) en Reisiger (2009).

Agt jaar ná Reisiger se verskyning – ek dink iewers in Maart vanjaar – ontvang ek en uitgewershoof Marga Stoffer die opwindende boodskap: Elsa se seun, Nico, sê daar is moontlik ’n nuwe boek op pad ... Ja, dit is in ’n sekere sin die derde outobiografie, en dus eintlik die afsluiting van ’n drieluik egodokumente ... maar tog is dit iets heeltemal anders, iets wat verkieslik op s’n eie terme beskou moet word. Die voorlopige titel is Doodloopstraat, en die eerste paar hoofstukke wat ons te siene kry, maak ons so opgewonde dat ons begin hoop (hoe onrealisties ook al) dié boek kan vanjaar nog sy opwagting maak. Solette Swanepoel sluit in die loop van die jaar by ons aan as Tafelberg se fiksie-uitgewer en sy word ’n belangrike verdere rat in die uitgeeproses. En teen alle waarskynlikheid in het ons ’n boek wat ons kan uitgee om net mooi saam te val met die herdenking, op 19 Oktober, van Elsa Joubert se 95ste lewensjaar.

Elsa Joubert, Etienne Bloemhof en Solette Swanepoel (foto: Madelein Venter)

Langs die pad is daar een of twee klein hobbels, soos die uwe wat dink die teks is bestem om (soos enige ander) deur die normale redigeringsprosesse te gaan ... totdat mevrou Steytler my gedurende die eerste informele werksessie vriendelik dog ferm daarop wys dat die struktuur van die boek, met sy lange paragrawe, min interpunksie, die aaneenloop van gedagtes, ens, baie doelbewus beplan was om te illustreer “hoe deurmekaar ’n ou mens se gedagtes raak”. Die bewussynstroomtegniek, oftewel dit wat my vriend die joernalis Erns Grundling noem “die amperse James Joyce wat Elsa gedoen het”, en wat nogal groot uitdagings aan die uitlegkunstenaar, die proeflesers én redakteur Bloemhof gestel het, werk egter soos ’n absolute bom, en dit beklemtoon hoe interafhanklik, hoe onlosmaaklik, hede en verlede is, hoe assosiatief ’n mens se gedagtes.

En met watter verstommende intellek het ons nie hier te make nie! Nie alleen sê Spertyd meer as byna enige ander boek wat ek ken oor die oudwordproses nie, maar – en dit sê die skrywer self – “Dis eintlik ’n boek oor die menslike bestaan.” Om die flapteks aan te haal (want ek reken dis een van my beter oomblikke): “Dit bied nie alleen helder insig in die skrywer se lewensbeskouing nie, maar nooi ten slotte elke leser uit om diep na te dink oor sy of haar eie bestaan.” En dít sonder enige sweempie van sentimentaliteit; trouens, mevrou Steytler het dit – vriendelik dog ferm – geveto toe ek een van my gunstelingwoorde, “deernis”, in die blakerteks wou inspan.

In ’n jaar wat gekenmerk word deur groot boeke uit NB-Uitgewers se stal – ek dink aan dié van Etienne van Heerden, Eben Venter, Karel Schoeman, Marlene van Niekerk, en ja, ook Jacques Pauw – is Spertyd ’n publikasie waarop ons geweldig trots is. Dit is ’n belangrike boek wat een van Afrikaans se gróót geeste se reputasie opnuut bevestig. Klokhelder. Dit is ook ’n boek wat vir my en Solette Swanepoel die bevrediging bied – so hoop en vertrou ons – dat ons darem niks gedoen het om die indrukwekkende inhoud skade aan te doen nie!

Ek vermoed Spertyd is ’n boek wat vir velerlei lesers ’n velerlei verskillende dinge gaan beteken. ’n Ryk boek wat baie verskillende invalshoeke kan akkommodeer. Net vanoggend skryf Erns Grundling byvoorbeeld aan my: “Waarvan ek veral hou is dat Elsa Joubert nou eers besef al haar boeke – romans en reisboeke – het gegaan oor die storie van die onderdruktes, die gemarginaliseerdes ... Op ’n manier is Spertyd dalk ’n voortsetting hiervan. As ’n mens dink aan bejaardes se uitdagings, hoe hulle uitgeskuif word in die samelewing ...”

Hierdie boek is een wat homself by uitstek nie maklik laat inperk of kategoriseer nie. Ek dink dadelik aan die heerlike humor rondom StomJapie (die loopraam op wiele) of die amper burleske beskrywing van ’n groot ete saam met medenegentigjariges. Dan is daar die sober, deurtastende blik op maatskaplike en ander baie belangrike sake. En dan weer die sjarmante blik op ’n intieme gesinslewe ... Ek dink nie dis vergesog om te sê nie: dis ’n belangrike boek wat veel sê oor hoe dit is om in Suid-Afrika te lewe.

Mevrou Steytler het nou al by ’n paar geleenthede genoem dat sy nie meer die energie het om op reis te gaan nie. Maar uiteraard ís Spertyd ’n reisboek ... oor die binnereis, “om die ouderdom as ’n kontinent te verken ...” Bowenal is dit ’n geskenkboek – dit is ’n geskenk aan alle Elsa Joubert-aanhangers wat by die lees van dié boek opnuut sal besef, wel, presies hóékom hulle Elsa Joubert-aanhangers is.

Ek wil dus graag van my kant af vir u, en u familie, en ter uitbreiding ook die ondersteuningspersoneel van Berghof, opreg dankie sê vir hierdie besonderse boek.

Etienne Bloemhof, 21 November 2017

  • 3

Kommentaar

  • Estelle Neethling

    Ek sien met groot belangstelling uit om hierdie belangrike boek te lees. Etienne Bloemhof se bekendstelling is uitmuntend.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top