Op die spoor van Vincent van Gogh se verlore oor, 23 Desember 1888

  • 4

Die vraag waarom Vincent van Gogh sy oor afgesny het, het talle navorsers geboei. Soveel hoofde, soveel sinne. Toe verskyn Bernadette Murphy op die toneel. In haar boek weerlê sy gewilde teorieë soos dié van Kaufmann, Wildegans en Bailey.

Murphy het in Arles gaan bly. Daar het sy op Vincent van Gogh se spoor gekom. Sy het soos ’n speurder elke leidraad opgevolg. Haar navorsing is nie op gissings gegrond nie, maar op briewe en inligting in argiewe. Sy het ook gesprekke met die nasate van Gabrielle/Rachel/Gaby gevoer. Murphy kom tot die slotsom dat Van Gogh sy oor afgesny het as ’n daad van deernis met en omgee vir die lydende en gekweste jong meisie.

Ten einde Van Gogh as mens te probeer peil, is dit nodig om van sy kindertyd en die invloed van veral sy moeder kennis te dra. Sy vorming as mens het ’n sterk religieuse inslag. Dit word deur sy etiese handelinge bevestig. Hy gee om vir ander. Sy deernis met gebrokenes en lydendes is merkwaardig. In dié verband kan na sy optrede teenoor Sien verwys word. Sy omgee vir mense kom ook in sy skilderye na vore, byvoorbeeld die Berceuse-reeks. Musiek speel ’n beduidende rol in sy skilderkuns. Hy is onder die indruk van onder andere Richard Wagner se komposisies. Sy skilderye in Parys, en veral Arles, word ’n simfonie in geel en blou.

Daar is talle teorieë oor Van Gogh se geestesgesondheid. Aangesien daar in sy leeftyd geen psigometriese toetse beskikbaar was nie, bly al die teorieë ontoetsbaar. Hierdie navorser is egter van oordeel dat wat vandag as “bipolêre” versteuring bekend staan, sy geestestoestand sou kon beskryf.

Ná die beoordeling van al die opvattings van navorsers is ek daarvan oortuig dat selfkastyding ’n groot rol in Van Gogh se optrede van 23 Desember 1888 gespeel het. Dit was ’n daad van martelaarskap waarin hy deur die gee van sy oor aan ’n gekwelde meisie iets van homself gee.

Dit gebeur soms dat ’n mens deur verwondering oorweldig word. Dit was my ervaring toe ek in 1992 die Van Gogh Museum in Amsterdam besoek het. Dit was asof die een wonder ná die ander voor my afgespeel het. Die wonderbaarlike skilderye was ’n verwysing na die man agter die skilderye – Vincent Willem van Gogh (30 Maart 1852–29 Julie 1890).

Bernadette Murphy (2016) het ’n deurtastende ondersoek gedoen na die vraag of Vincent van Gogh op 23 Desember 1888 net sy oorlel of sy hele oor afgesny het. Of het daar miskien ’n deel van die oor agtergebly? Op soek na ’n antwoord het sy die primêre bronne nagevors.

Die leemte in Murphy se ondersoek is dat die antropologies-etiese estetika nie voldoende verreken word nie. Die oogmerk van hierdie artikel is om dit ook in berekening te bring. Onder antropologiese perspektief word die menslikheid van Van Gogh verken. Hieronder tel die vormende invloed van sy ouers, sy verhouding met veral Theo, en sy liefdeslewe. In die artikel val die lig op Van Gogh se optrede teenoor Sien (Clarina Hoornik). Sy passie vir die teologie en religieuse dryfkragte kom ook onder die loep. Onder die etiese aspekte is die fokus op sy gedrag en optrede teenoor ander mense. Hieronder word sy menslikheid en deernis teenoor hulpbehoewendes gereken (veral teenoor Gabrielle). Die estetika omvat sy roeping as skilder en sy toewyding aan sy skilderkuns. Sy deernis met ander kom duidelik in sy skilderye tot uitdrukking (De aardappeleters, 1885; Vrouw met hond (ʻA la Vilette’, 1886; De barmhartige Samaritaan, 1890). Van huis uit het musiek ’n stempel op Van Gogh afgedruk. Dit kom ook in sy skilderwerk tot uiting (Pianiste en violist, 1887; Marguerite Gachet aan die piano, 1890).

Inleiding

Vincent van Gogh was ’n uitsonderlike kunstenaar. Hy het sy penseel op ’n eie unieke manier vasgehou. Op dié manier het hy uitdrukking gegee aan dit wat hy gesien en ervaar het. Hy was gekant teen roetine, konvensie, en trucs d’atelier, en hy het rücksichtlos na karaktervolle kuns gesoek (Van Tilborgh 2009). Ná sy periode in Parys het hy sy styl verander en die winste van die (neo)impressionisme sy eie gemaak. Hy het elke dag gestreef na ’n werk wat ’n verskil kan maak. Dié verskil het eers lank ná sy dood onmeetlike afmetings aangeneem.

Kenmerkend van sy kuns was sy harmonieuse kleurgebruik. Sy ongewone snel en treffende skilderwyse met baie verf, sy helder komposisies wat direk op die netvlies gegrif is, sy gedurfde strewe om grafies, tekenagtig te skilder, en die ongewoon kort tyd waarin hy sy vak sy eie maak en ’n heel nuwe visie op kuns ontwikkel het, was buitengewoon (Van Tilborgh 2009; Finlay 2002:20–2; Veldhorst 2015:7; 16–7, 108–9, 111–5).

Van Gogh het lewenslank aan die humanisties getinte realisme getrou gebly. Die alledaagse dinge waaroor die lewe gegaan het, het in sy skilderye neerslag gevind. Hy het ’n voorkeur vir ouer vroue bo jonger vroue en skilder in sy Hollandse periode ook graag stowwerige voëlneste. Later het uitgebloeide sonneblomme in sy skilderye voorgekom. In die laaste stillewens het die vorm ’n groter rol as die ontwerp gespeel (Van Tilborgh 2009; Wessels 2009:27).

Vincent van Gogh se vorming

Vincent van Gogh was van huis uit diep godsdienstig. Sy pa was ’n Nederlands-Hervormde predikant. Die familie Van Gogh bestaan uit talle predikante en kunshandelaars (Wessels 2009:27). Sy moeder was ’n energieke en lewenslustige vrou met ’n groot liefde vir die natuur. Sy kon met groot gemak haar gedagtes op papier vaslê (Wessels 2007:25). Van Gogh was ’n hulpprediker in Isleworth (digby Londen) onder toesig van dominee Thomas Slade-Jones. Op 29 Oktober 1876 het hy sy eerste preek in die Metodistekerk gelewer. Hy het in Augustus 1878 met evangelisteopleiding in Laeken (by Brussel) begin, maar hy staak dit in November van daardie jaar. Hy vertrek na die Belgiese mynstreek, die Borinage, om daar onder die mynwerkers te gaan werk. Daar voer hy ’n uiters armmoedige bestaan. In Wasmes, waar hy aangestel is, hou hy Bybellesings en verpleeg siekes. Hy word egter nie herbenoem nie. Daarom vertrek hy na Cuesmes, waar hy opnuut as evangelis werk. Daarna verval hy in groot armoede, wanhoop en eensaamheid en leef hy in haglike omstandighede. Hy begin toe om te teken. In September 1880 word hy van sy roeping as kunstenaar bewus (Oxenaar 1983:10; Wessels 2009:18–9; Veldhorst 2015:17).   

 Van Gogh en musiek

Vir Van Gogh was die wêreld ’n universum van kleur, lyne, klanke en geure (Veldhorst 2015:16). Musiek was van jongs af ’n integrale deel van sy lewe.

Dit was vir sy ma belangrik dat haar kinders ’n behoorlike opvoeding kry. Hiervan was musiek ’n belangrike deel. In die pastorie van Zundert het ’n klavier gestaan. “Moe speelt al zoo mooi op het harmonium, dat is een waar genot,” merk vader Van Gogh tevrede op (Veldhorst 2015:25–6). Vincent het in 1884 en 1885 formeel in Volderstraat te Eindhoven klavierles by die orrelis en dirigent Hein van der Zande geneem (Veldhorst 2015:10–1). Hy het in dié tyd by sy ouers in Nuenen gebly. ’n Anekdote word van hom vertel: Dit het nie vir hom daarom gegaan om self te leer musiseer nie, maar hy wou ondersoek instel hoe toon en klank in verhouding met mekaar staan (Veldhorst 2015:11). Hy het oor die aangeleentheid in Les artistes de mon temps (1876) van Charles Blanc gelees, wat beweer het: “Le coloris s’apprend comme la musique” (“Die werking van kleur kan net soos musiek geleer word”) (Veldhorst 2015:11). “Colour for Van Gogh was a kind of noise.” (Veldhorst 2015:10). “Ut pictora musica” word die nuwe artistieke leuse: “skilderkuns moet soos musiek wees”.

Van Gogh het Richard Wagner se musiek waardeer. In Lamoureux woon hy die eerste opvoering van Wagner se Lohengrin by, opnuut met die musiek van Berlioz gekombineer. En in 1885 hoor hy vir die eerste keer die opvoering van Wagner se Tristan und Isolde (Gage 2001:185, 236; Veldhorst 2015:36–7).

Van Gogh se skilderkuns het minstens 24 komponiste tot 61 komposisies geïnspireer. Enkele voorbeelde is: Will Eisenmanns se orkeswerk Sieben Bilder von Vincent van Gogh (1938), wat teruggaan op sewe sitate uit Van Gogh se briewe, Einojuhani Rautavaara se opera Vincent (1990) en sy Sechsten Sinfonie of Vincentiana (1990), wat onder meer op Van Gogh se Korenveld met kraaien gebaseer is, asook Gloria Coates se Homage to Van Gogh (1992–1993), na aanleiding van sy Kweperen, citroenen, peren en druiven (Veldhorst 2015:14). Van Gogh soek na waarheid in sy kuns en die lewe vra vir ’n outentieke reaksie (Van Tilborgh 2009).

Van Gogh se verblyf in Arles

Op 21 Februarie 1888 het Van Gogh hom in Arles gevestig. Die lig en die landskap het hom diep geraak. Veral die helder, stralende kleure in die wisseling van jaargetye het ’n invloed op sy kleurgebruik gehad (Oxenaar 1983; Van Uitert 1989; Wessels 2009:13). In ’n brief van 7 September 1888 skryf hy:

[…] Lieve zuster, ik geloof dat men op het ogenblik de rijke aspecten van de natuur moet schilderen. Wij hebben behoefte aan vrolijkheid en geluk, aan hoop en liefde. Hoe lelijker, ouder, slechter, zieker, armer ik word, des te meer wil ik mij wreken met krachtige, goed gerangschikte, schitterende kleuren […]. (Oxenaar 1983:13).

In hierdie periode skilder en teken van Gogh veral bloeiende bome, wingerde, parke, tuine en pleine in Arles, soos die beroemde Caféterras bij avond, Place du Forum, Arles.

Dit is Augustus 1888. Van Gogh is 35 jaar oud. Hy bly al ’n halfjaar in Arles, Suid-Frankryk. Voorheen het hy twee uitputtende en intense jare by sy broer Theo deurgebring. In Arles bly hy vir die eerste maande in ’n hotelkamer, met ’n oordekte dakterras as ateljee. Vanaf September huur hy die regtervleuel van die Geel Huis by die Place Lamartine (twee kamers onder, en twee bo). Buite tril dit van warmte – “een zeer glorieuze, hevige hitte zonder wind”. Ná ses lang weke het die hitte se woede bedaar. Die sagte gesuis van die olyfbome was weer hoorbaar. Ook die gezoem van muggies en Spaanse vlieë. Daar was verder die padda-agtige, skerpsingende sikades. Bo alles het die lig gebrand: die skel, gekmakende sonlig (“bleekzwavelgeel, bleekcitroengeel, goud”), kleure wat hy laat vibreer het en op ’n wonderbaarlike manier verewig en verdiep het in ’n simfonie van blou en geel (Veldhorst 2015:7).

Die skildery van die Caféterras bij avond, Place du Forum, Arles wat Van Gogh in September 1888 geskilder het, gee iets weer van die naglewe in Arles. Dit het in ’n gedig tot uitdrukking gekom.

Lig knipoog deur vensterrame straat
af waar bome met windkuile onder sterre
wat pêrel aan blou fluweel groete wuif
vir nagwolwe wat plesier se spore snuif.

Eenkant ontbloot ’n kelnerin
soos ’n rondtrekkende profetes
aan hongeriges en dorstiges
die aand se geheime spyskaart. (Vos 1999:15)

Die “Caféterras” was die voorportaal tot die heiligdom van bordele. Daar was talle van die gewilde besoekplekke. Bordele is deur die stadsraad gekontroleer om higiëniese redes. In Van Gogh se tyd was daar agt amptelike Maisons de Tolèrance naby die porte de la Cavalerie, nie ver van sy blyplek af nie. Die grootste konsentrasie prostitute was rondom ’n klein straat, rue Bout d’Árles, gevestig. In 1886 was nommers 1 en 16 van rue Bout d’Árles amptelike bordele, en tien ander filles soumises was gelys om daar te werk (Murphy 2016:47–55, 57).

Arles is meer as 2 000 jaar gelede deur die Romeine gestig. Dit is een van die oudste stede in Frankryk met dokumente wat uit die 12de eeu kom. Die argief is so omvangryk dat dit nie digitaal gekatalogiseer kon word nie. Murphy het tydens haar ondersoek ook name van prostitute gekry wat vir die bordeeleienaars gewerk het (Murphy 2016:10–1). Sy het ʼn databasis opgebou van die 15 000 mense wat in Arles gebly het (Murphy 2016:47–55).

Gauguin se verblyf in Arles – verwagting en teleurstelling

In Oktober 1888 nooi Van Gogh Paul Gauguin uit om na Arles te kom. As ’n gebaar van vriendskap en ter verseëling van die toekoms van hulle gesamentlike “Ateljee van die Suide” dekoreer hy “met het enthousiasme van een Marseillaan die bouillabaisse zit te eten” (Veldhorst 2015:7) die kamers van die huis. Hy skilder ook die een kunswerk ná die ander (Oxenaar 1983:13; Van Uitert 1989:88).

Van Gogh was oortuig dat hy en Gauguin nie net in die Geel Huis sal saambly nie, maar sal saamleef en mekaar in hulle skilderwerk inspireer. Dit het aanvanklik so gelyk en gebeur.

Eugène Henri Paul Gauguin is in 1848 in Parys gebore. Sy pa is dood toe hy nog jonk was. Hy het die meeste van sy leefjare in Peru in die skaduwee van sy ma en ouma deurgebring. Ná sy skoolopleiding het hy by die vloot aangesluit en van hawe tot hawe gevaar. Gauguin het begin skilder net voor sy huwelik met Mette-Sophie Gad in 1873. Ná sy skeiding van haar bly hy in Parys. Daar begin sy voltydse toewyding aan die skilderkuns. Hy het die aandag van ander kunstenaars soos Camille, Pissarro en Edgar Degas getrek. Alphonse Portier, ’n kunshandelaar, het van sy werke begin aankoop. Portier het in dieselfde gebou as Theo van Gogh gebly (Van Uitert 1989:81–8).

Iewers in November of vroeg in Desember 1887 het Gauguin en Van Gogh mekaar tydens ’n uitstalling van Van Gogh by die restaurant Le Chalet ontmoet. Die ontmoeting het tot die uitruil van skilderye gelei.

Ná ’n aantal terugslae (sy gesondheid en finansieel) aanvaar Gauguin Van Gogh se uitnodiging om na Arles te kom en die Geel Huis met hom te deel. Van Gogh het Gauguin bewonder. Hy het egter besef om saam met ’n ander te bly en te werk, sy eie eise stel. Om te oorleef het Theo van Gogh aan Gauguin ’n toelaag betaal. In ruil hiervoor moes Gauguin elke maand ’n skildery voorsien, wat Theo in Parys verkoop het. Op 21 Oktober, nadat Gauguin 500 frank as vestigingsgeld by Theo ontvang het, vertrek Gauguin op sy lang reis. Die reis het in die lig begin, maar in die nag geëindig (Murphy 2016:84–91).

Voor Gauguin se aankoms in Arles was Van Gogh geestelik en liggaamlik gedreineer (Murphy 2016:107). Daar was die intensiewe voorbereiding, die verwagting en die afwagting. Gauguin skryf ná sy aankoms in Arles dat Vincent ’n bietjie geïrriteerd is en dat hy hoop hy mettertyd sal kalmeer. Van Gogh skryf aan Theo dat Gauguin ’n besondere persoon is. Hy is kalm en hardwerkend (Van Uitert 1977; Murphy 2016:107). Van Gogh maak ook daarvan melding dat geestelike gesondheid ’n normale deel van die kreatiewe proses is (Van Uitert 1977; Murphy 2016:107).

Bernadette Murphy se speurtog

In hierdie artikel is die selfportret wat Van Gogh op 8 of 9 Januarie 1889 gemaak het, die fokus.

Figuur 1. Selfportret met pyp. Januarie 1889. (Van Uitert 1977; Murphy 2016) (Grafika: www.VanGogh.net).

Ek het lank by die selfportrette van die gekweste man met en sonder sy pyp in sy mond stilgestaan. Dit is duidelik dat die verwonde oor, die linkeroor is. Skilders het in die spieël gekyk as hulle ’n selfportret geskilder het. Dit blyk ook duidelik uit die tekening met sy swart pen wat dr Félix Rey op 18 Augustus 1930 op ’n vel van sy voorskrifboek gemaak het (Van Uitert 1977:148–9; Murphy 2016:107).

Die skildery gee ’n duidelike aanduiding van die weerstoestand: dit is ysig koud. Die enigste teken van warmte is die smeulende pyp.

Die vrae wat navorsers vir meer as ’n eeu al besig hou, is veral: Wat het gebeur wat tot hierdie skilderye aanleiding gegee het? Wie het die skilder verwond? Waarmee is die verwonding aangerig? Was dit ’n mes of dalk ’n skeermes? Waar was Gauguin toe die drama hom afgespeel het? En wie was die raaiselagtige Rachel/Gabrielle/Gaby? Vir meer as ’n eeu is daar verskillende antwoorde op die tergende vrae gegee. Die antwoorde is as gesaghebbend aangebied en het die status van waarheid verkry. Onlangs het daar ’n nuwe antwoord op die kwellende vrae gekom, naamlik dié van Bernadette Murphy ná ’n deurtastende speurtog. Die speurtog en bevindings word noukeurig in haar boek Van Gogh’s ear: The true story (2016) opgeteken.

Die eerste vraag van die leser is natuurlik: hoe betroubaar is haar getuienis? Die leser moet elke bewering weeg en oorweeg.

Murphy het in 1994 met vakansie na Provence vertrek en sy het daar gebly. Sy is bekoor deur die bruisende kultuur en die intense sonlig wat alle kleure tot glansende skoonheid verhef het (Murphy 2016:5–7). Murphy se ondersoek het baat gevind by ’n nuwe publikasie van Van Gogh se briewe (Jansen, Luijten en Bakker 2009). Verslae van sy “higiëniese besoeke” aan die plaaslike bordele is oorgeslaan in vorige weergawes. Hierdie besoeke is belangrik vir die ontknoping van die identiteit van Rachel/Gabrielle/Gaby.

Murphy het, soos ’n ondersoeker van historiese gebeure behoort te doen, elke bestaande bewering gaan toets. Haar vertelling berus dus nie op die oorweging van ander navorsers se inligting nie, maar sy het self die spoor gesny. Sy het een waardevolle les geleer: “always go back to the source” (Murphy 2016:153). Ad fontes. En dit het sy inderdaad gedoen. Op haar tog het sy die een bestaande teorie ná die ander as ongeldig ontmasker. Soos ’n betroubare navorser het sy by die sleutel van die gebeure uitgekom. Die sleutel wat die deur na die Geel Huis oopsluit en die gebeure van 23 Desember 1888 noukeurig en met empatie opteken.

Murphy het ook in die gemeenskap van Arles in die jare voor en ná 1888 in gedelf. Sy het op grond van noukeurige navorsing die lewe in Arles gerekonstrueer. Die omgewing, die klimaat, die sosiale lewe, die bestaan in die Geel Huis en die groen park (Murphy 2016:47–55). In haar soektog na antwoorde het sy alle moontlike detail nagevors. Soms het ’n doodloopspoor ’n verrassende nuwe koers aangedui. Op die mees onverwagte oomblik het die sonlig deur die wolke gebreek.

In September 1888 betrek Van Gogh die maison jaune. Hy het lank reeds die plan om ’n plek te vind wat as woon- en werkplek van kunstenaars kan dien. Aanvanklik verloop die samesyn tussen hom en Gauguin goed, maar spoedig irriteer hulle mekaar en voer hulle driftige gesprekke oor hulle skilderye en kunsopvattings (Oxenaar 1983:13). Konflik ontstaan. Van Gogh is depressief en emosioneel onbestendig. Alles word donker. Hy ly ook aan slaaploosheid (Murphy 2016:171).

Wat het op 23 Desember 1888 gebeur?

Gauguin het Van Gogh oorskadu, sowel fisiek as met die krag van sy persoonlikheid. Hulle het mekaar wedersyds gerespekteer, maar was nooit werklik vriende nie (Murphy 2016:111). Die saamwerk was vrugbaar, maar die invloed van Gauguin se skilderstyl op Van Gogh moet nooit oorskat word nie. Toe Van Gogh in 1888 op die kruin was, het hy alleen gewerk. Gauguin het van Gogh aangespoor om sy verbeelding te gebruik – om binnenshuis sonder ’n model te skilder (Murphy 2016:106–25).

Die spanning tussen Van Gogh en Gauguin het soos donderweer opgebou. Dit was die een bliksemstraal ná die ander. In ’n brief aan Theo skryf Van Gogh dat hy en Gauguin dikwels oor Delacroix, Rembrandt en ander skilders praat. “De discussie is van een hevige elektrische spanning, we houden er soms mee op als een elektrische batterij na de ontlading” (Earle 1997:18–20; Hulsker 1998:561). Dit was duidelik: êrens moet daar ’n kortsluiting kom.

Oukersaand en Kersdag was sonder reën. Die weerverslae toon aan dat die reënval van 21 tot 23 Desember 30 mm was. Daarna het dit opgeklaar (Murphy 2016:119). Op die oggend van 23 Desember het die twee skilders in die onaangename weer wakker geword. Dit het beteken: gevangenskap in die Geel Huis (Murphy 2016:118–9). In sy biografie skryf Gauguin (1923 [1903]:19) dat Van Gogh ’n “light absinthe” op die dag van die drama gedrink het.

Wat het in die Geel Huis gebeur? Daar bestaan verskeie mites oor die aand. Oor Gauguin se rol in hierdie tragiese gebeure is daar verskillende weergawes. Daar is sy eie weergawe soos dit in sy biografie van 1903 voorkom (Gauguin 1923). Hy skryf dat Van Gogh ’n glas na hom gegooi het. Hy het dit egter ontduik en Van Gogh fisiek gegryp, die kafee verlaat en die “place Victor Hugo” gekruis. ’n Paar minute later was Van Gogh in sy bed, waar hy aan die slaap geraak het en eers die volgende dag wakker geword het (Murphy 2016:119).

Dit is duidelik dat Gauguin homself probeer regverdig. Daar was nie ’n “Place Victor Hugo” in Arles nie. Hy het “Place Lamartine” bedoel. Hierdie insident het ook nie op die dag van die drama plaasgevind nie, maar op Saterdag 22 Desember, waarskynlik in die Cafè de l’Alcazar by 17 Place Lamartine. Dit was die enigste plek waar ’n mens die plein kon oorsteek na die Geel Huis toe (Murphy 2016:119).

Die waarheid is dat Gauguin Van Gogh in sy oomblik van nood in die steek gelaat het (Murphy 2016:129). As Gauguin se lewe in gevaar was, sou hy na ’n hotel gevlug het, maar hy het nie. In sy weergawe is hy byna deur Van Gogh doodgemaak en was hy gelukkig om te ontkom (Murphy 2016:129). Aan Émile Bernard skryf hy dat nadat Van Gogh hom in die park met sy skeermes in die hand bygedam het, Van Gogh na die Geel Huis koers gevat het. In sy outobiografie skryf Bernard niks hiervan nie. As dit so was, sou Bernard dit aan sy vriend Albert Aurier, die kunskritikus, genoem het (Murphy 2016:129). Gauguin se vlug na ’n hotel was dié van ’n lafaard (Bernard 1889; Murphy 2016:129). Bernard het onmiddellik ná die tragedie ’n lang brief aan Albert Aurier geskryf waarin hy die besonderheid van Van Gogh se ineenstorting gegee het (Murphy 2016:129).

In ’n brief, gedateer Januarie 1889, gerig aan ’n onbekende ontvanger, som Gauguin sy verblyf in Arles op: “I was meant to spend a year in the south working with a painter friend: unfortunately he went completely mad and for a month I feared a tragic, fatal accident” (Murphy 2016:129).

Die koerant Le Forum Républicain berig op 30 Desember 1888 dat Van Gogh teen 11:20 sy oor afgesny het. Om die bloedstroom te keer, het hy sy kop verbind, die Geel Huis verlaat en na die rooiligdistrik gegaan. Die koerant noem verder dat Van Gogh rondom 11:30 in die rue Bout d’Árles opgedaag het. Hierdie inligting is vermoedelik deur die polisie verskaf. Dit is vyf minute se stap van die Place Lamartine na die bordeel Maison de Tolérance No. 1 (Murphy 2016:130).

Nadat Van Gogh die afgesnyde oor by die bordeeldeur afgegee het, is hy terug na die Geel Huis. Daar het hy ’n olielamp aangesteek voordat hy na sy eie kamer is. Hy het nie geweet hoe skrikbevange Gauguin was nie. Van Gogh het verwag dat Gauguin na die Geel Huis sou terugkeer. Daar is geen twyfel by Gauguin nie dat as Van Gogh hom sou sien, hy oor die afgrond sou tuimel (Murphy 2016:131). Gauguin was by tydens die gebeure, of waarskynliker: hy is na rue Bout d’Árlese ontbied nadat Van Gogh daar opgedaag het. Dit sou maklik wees om Gauguin op te spoor. Daar was net ’n paar hotelle naby Place Lamartine (Murphy 2016:130). Murphy wonder of Gauguin in daardie 35 ure werklik veilig in sy hotel was. Wat wel gebeur het, is dat hy op die oggend van 24 Desember gearresteer is (Gauguin 1923:20–1; Murphy 2016:130).

Daar kan sonder vrees vir teëspraak aanvaar word dat Van Gogh sy oor bewustelik afgesny het. Maar was dit sy hele oor, of nie?

Het Van Gogh sy hele oor of net die lob afgesny?

Op die hoogtepunt van die konflik tussen Van Gogh en Gauguin sny eersgenoemde in ’n toestand van verstandsverduistering “een stukje van zijn oor af […]” (Oxenaar 1983:13). Dit is ook die siening van historici by die Van Gogh-museum (Murphy 2016:5–6, 140). Volgens Van Uitert (1989:96) het Van Gogh net ’n deel van sy oor afgesny.

Alphonse Robert, die polisieman, was gedurende die nag van die grusaamheid aan diens. Hy is die aand na die bordeel ontbied. Sy weergawe is dat ’n meisie in die teenwoordigheid van haar baas aan hom ’n koerant oorhandig het. ’n Oor was in die koerant toegedraai. Hy het onthou dat dit ’n hele oor was (Murphy 2016:140–1).

Murphy troef alle vorige navorsers met die ontdekking van ’n skets van dr. Fèlix Rey, wat Van Gogh ná die tragedie behandel het. Die skets maak dit duidelik dat Van Gogh sy hele oor afgesny het. Maar nog meer betekenisvol is dat Murphy op “Rachel” se spoor gekom het.

Rey was ’n jong dokter in Arles en hy was die eerste persoon wat Van Gogh behandel het toe hy op 24 Desember in die hospitaal opgeneem is. In 1934, toe die depressie op sy hoogtepunt was, het Irving Stone ’n fiksiebiografie oor Van Gogh geskryf, Lust for life (Stone 1934). In ’n brief in Time Life vind Murphy ’n verwysing na ’n brief van Stone aan Rey (Murphy 2016:140–1). Daarin word verwys na ’n tekening wat Rey vir Stone gemaak het van Van Gogh se oor op ’n vel voorskrifpapier (Murphy 2016:144). Op 18 Augustus 1930 het Stone Rey by sy spreekkamers, 6 rue Rampe du Pont in Arles, besoek (Murphy 2016:147). Hy het Rey versoek om ’n illustrasie van Van Gogh se oor te maak (Murphy 2016:148). Murphy (2016:148) vind die voorskrifpapier in ’n argief in die Bancroft Library by die Universiteit van Kalifornië, waar die Stone-dokumente bewaar word (Murphy 2016:144). By die eerste skets staan: “The ear was sliced with a razor following the dotted line.” By die tweede skets staan: “The ear showing what remained of the lob” (Murphy 2016:149).

Op Oukersdag-oggend is Vincent na die spreekkamer van Rey geneem. Hy was skaars by sy bewussyn. Rey het Van Gogh op die ondersoektafel gehelp. Sy klere was met bloed deurdrenk. ’n Geskeurde verband met bloedvlekke was om sy kop verbind (Murphy 2016:150). Die “geskenk” wat Van Gogh vir ”Rachel” geneem het, is saam met hom hospitaal toe gestuur. Rey se eerste uitdaging was om te kyk of hy die oor kon aanwerk. Van die vorige dag tot die opname die oggend het sklerose egter ingetree. Daarom was die aanwerk van die oor onmoontlik. Die beste wat hy kon doen, was om die bloedvloei te keer en die wond te versorg om infeksie te keer. Hy het toe ’n skoon verband om Vincent se kop gedraai (Murphy 2016:151). Rey het ’n antiseptiese verband gebruik wat infeksie in die genesingsproses teengewerk het.

Waarom?

Volgens Kaufmann en Wildegans (2008) is die gangbare siening grootliks op Gauguin se weergawe gegrond. Sy weergawe bevat teenstrydighede en dit wat gebeur het, is meer kompleks as wat hy voorstel. Kaufmann en Wildegans het noukeurig na die getuies se weergawes en albei skilders se weergawes gaan kyk.

Van Gogh was hoogs ontsteld oor Gauguin se planne om so gou moontlik na Parys te vertrek. Volgens Kaufmann en Wildegans (2008) het Van Gogh op 23 Desember ’n aanval van ’n metaboliese versteuring gekry. Hy het, volgens hulle insigte, baie aggressief teenoor Gauguin opgetree. Die twee skilders het ’n hewige argument naby die bordeel gehad. Dit kon wees dat Van Gogh toe sy vriend aangeval het. Uit selfverdediging het Gauguin, wat ’n amateurskermer was en die toebehore saam na Arles gebring het, Van Gogh se oor met ’n swaard afgesny.

Volgens Kaufmann en Wildegans is daar nie voldoende getuienis of die daad ’n ongeluk of ’n poging was om Van Gogh doelbewus te beseer nie. Daar is egter ’n aantal probleme met hulle teorie. Daar is geen duidelike aanduiding watter tipe swaard (indien enige) Gauguin by hom gehad het nie. Van ’n foil, sabre of épéé sou slegs twee van die drie deur vlees kon sny. Aangesien daar geen ander besering op Van Gogh se liggaam was nie, is Kaufmann en Wildegans volgens Murphy die spoor byster (2016:139). Gauguin het Arles die volgende dag verlaat en die twee skilders het mekaar nooit weer gesien nie.

Kaufmann en Wildegans kom tot die slotsom dat Van Gogh die gebeure versin het om sy vriend Gauguin, wat sy oor met ’n swaard afgesny het, te beskerm. Albei het onderneem om ’n “Pakt des Schweigens” te eerbiedig. Dit was in Gauguin se belang om vervolging vry te spring. In die eerste brief van Van Gogh aan Gauguin ná die gebeure skryf hy dat hy sy mond dig sal hou en vra dit ook van Gauguin. Maar waarom op aarde sou Vincent toegestem het om stil te bly indien Gauguin wel sy oor afgesny het? (Murphy 2016:139)

Hierdie weergawe van die tragiese gebeure is nie akkuraat nie. Martin Bailey (2016), ’n Britse Van Gogh-spesialis, oordeel in sy boek, Studio of the south: Van Gogh in Provence, dat Van Gogh sy hele oor met ’n skeermes afgesny het nadat hy gehoor het dat sy broer Theo aan Jo Bonger verloof geraak het (Murphy 2016:177). Theo het op die aand van 21 Desember verloof geraak. Van Gogh kon nie die brief so vroeg as 11:00 op 22 Desember met die voormiddag se pos ontvang het nie. Selfs al het Theo sy broer dadelik hieroor ingelig, was dit te laat om die laaste pos na Arles te haal. Hy het die nuus van sy broer se komende troue op Sondag 23 Desember gehoor, die dag van sy ineenstorting (Murphy 2016:177). Bailey verwys na die korrespondensie tussen familielede wat in die museumargief is. In sy brief aan sy moeder vra Theo op die 21ste Desember 1888 toestemming om met Jo Bonger te trou (Murphy 2016:158–9).

In ’n brief van Januarie 1889 meld Van Gogh dat hy op 23 Desember sy finansiële toelaag van 100 frank van Theo ontvang het (Hulsker 1998:562). In die lig van die noue bande tussen die broers is Bailey van mening dat die geld met ’n brief gestuur is wat ook die nuus van die komende huwelik bevat het. ’n Onwelkome verrassing vir Van Gogh. Dit is moontlik dat Theo se beoogde huwelik met Jo Bonger sy finansiële steun aan Vincent in gevaar sou stel.   

Gauguin se besluit om sy huisgenoot en kunsmedewerker vir goed te verlaat en die nuus van Theo se verlowing en komende huwelik sou sekerlik vir Van Gogh in ’n donker kuil laat beland het. Maar of dit die rede vir sy selfkastyding was, is ’n ander vraag wat ’n ander antwoord vra. Van Gogh het die terugslag van Theo se verlowing oorkom deur voort te gaan om te skilder (Murphy 2016: 139–40).

’n Geskenk aan ’n engel met ’n afvlerk

’n Plaaslike koerant, Le Forum Républicain, berig op 30 Desember 1888 dat Van Gogh teen ongeveer 23:20 op 23 Desember sy oor afgesny het. Hy het die vloei van bloed verhinder deur ’n verband om sy kop te draai. Hy het die Geel Huis verlaat en was onderweg na die rooiligdistrik. Hy sou met rue de la Cavalerie na die Maison de Tolérance No. 1 gegaan het. By die deur het hy na “Rachel” gevra. Hy het ’n pakkie by hom gehad en haar versoek om “daarna om te sien” voordat hy in die nag verdwyn het (Murphy 2016:130).

Dit is merkwaardig dat Van Gogh die helderheid gehad het om nie alleen die geskenk skoon te was en sorgvuldig toe te maak nie, maar ook om die olielamp aan te steek sodat Gauguin sy weg deur Vincent se kamer na sy eie kamer kon vind (Murphy 2016:131).

Dit is die wins van noukeurige en geduldige navorsing: dit gee ’n ander perspektief, ’n nuwe lig op wat gebeur het.

Murphy het deur haar navorsing nader aan Arles van 1888 en Van Gogh se geestestoestand beweeg. Sy het na die feite gekyk. Hieruit kom dit aan die lig dat die opvatting van ’n boheemse verslawing aan absint uitgeskakel kan word. Daar is geen absint in Van Gogh se gunstelingkroeg aangehou nie (Murphy 2016:77). Die enkele male dat hy in sy briewe uit Arles na die drank verwys, gebruik hy dit om die helder groen wat hy geskilder het, te beskryf.

Rondom 20:00 op Oukersdag het ’n imposante middeljarige man deur die park geloop. Hy het ’n jas van wol aangehad. Hy het verby die porte de la Cavalerie gewandel en verby die openbare tuine. Op sy wandeltog kon hy die gedempte geluide van stemme hoor. Toe hy die Place Lamartine en die Geel Huis bereik, het hy ’n groot skare sien saamdrom. Hy het nader beweeg (Murphy 3–5, 121, 124–6, 128–34). Dit was ’n skrikwekkende gesig: alles was in wanorde, bloedbesmeerde lappe en bloed teen die mure. Hier het die polisiehoof, Joseph d’Órnano, vir Gauguin ingewag. Toe Gauguin die Geel Huis bereik, is hy gearresteer vir die moord op Van Gogh (Murphy 2016:4).

Murphy het in haar speurtog op die spoor van ’n bloedverwant van “Rachel” gekom (Murphy 2016:8, 30, 57, 63–9, 130). Gustav Coquiot was die eerste plaaslike Franssprekende wat ’n biografie oor Van Gogh geskryf het (Murphy 2016:130). Die grootste konsentrasie prostitute was rondom ’n klein straat, rue Bout d`Árles, gekonsentreer. In 1886 was nommers 1 en 16 van rue Bout dÁrles amptelike bordele, en by tien ander was filles soumises gelys om daar te werk (Murphy 2016:57). Murphy snuffel ’n verslag van prostitute se mediese sorg van die 1860’s en 1870’s uit waarin die naam Rachel voorkom. Prostitute het besigheidskaarte gehad waarop hulle werksnaam aangedui was. Daar was altyd ’n Rachel in die bordele. Maar wie was Van Gogh se Rachel? (Murphy 2016:63–4)

In die vroeë 1980’s het ’n plaaslike historikus ’n reeks onderhoude met ouer inwoners van Arles gevoer (Murphy 2016:66). Niemand van hulle het oor ’n Rachel gepraat nie, maar vertel dat haar familie ’n garage naby die stasie besit het (Murphy 2016:66). In ’n brief van Alphonse Robert aan Rey skryf hy dat hy die diensdoende polisieman op die aand van die tragedie was. Hy meld dat hy verby die Maison de Tolérance No. 1 gestap het. Dit is deur ’n sekere Virgie bestuur. Hy kan nie die prostituut se naam onthou nie, maar haar werksnaam was Gaby (Murphy 2016:67). Dit is ’n deurbraak. Gaby (Gabrielle) was ’n populêre naam in die laat 19de eeu.

’n Franse biografie oor Van Gogh is in die vroeë 1970’s deur Pierre Leprohon geskryf. Die biografie bevat ’n klein aanhangsel waarin die lewe van sommige van Van Gogh se protagoniste beskryf word nadat hy Arles verlaat het (Murphy 2016:68). Een van die persone wat vermeld word, is die meisie aan wie Van Gogh sy oor gegee het. Sy was bekend as Gaby, wat op die ouderdom van 80 jaar dood is. Ná die gebeure van 23 Desember het sy in diens gestaan van Monsieur Louis, wat die bordeel bestuur het. Rachel/Gaby was ook elders in diens. Monsieur Louis se plek, 5 rue Bout dÁrles, was twee deure verder van die Place de Toléranceaf (Murphy 2016:68).

Daar was 30 Gabrielle’s op Murphy se databasis. Sy moes name elimineer. Murphy het ook na die doodsregister gaan kyk. Daar het sy na ’n vrou wat rondom tagtig jaar oud dood was, gesoek. Twee Gaby’s was kandidate. Die tweede Gaby het meer belowend gelyk. Haar naam was Gabrielle en sy het in Arles gebly. Sy het met ’n slagter getrou. Danksy haar getroude van kon Murphy Gaby se nageslag opspoor wat steeds plaaslik gewoon het (Murphy 2016:68).

Die volgende deurbraak kom deur die argiefdokument, “Garages, Arles 1957–1959” (Murphy 2016:67). Murphy het die lêer oor garages bekom. Dit was bedek met stof. ’n Teleurstelling. Die lêer was leeg (Murphy 2016:68). Sy besluit om middagete saam met haar vriendin Michèle te nuttig. Dié besit ’n ontwerpboutique en kom uit ’n familie wat geslagte lank in Arles gebly het. Gedurende die ete vra Murphy haar of die naam Gaby ’n klokkie by haar lui. Haar antwoord is soos ’n helder klokslag: “Oh yes, the family had a garage near the station when my parents were young” (Murphy 2016:69).

Die familie is in die telefoongids opgespoor. Die vrou wat die telefoon antwoord, sê dit sal raadsamer wees om met die ander stam van die familie te praat wat die garage bestuur het. Haar pa is die aangewese persoon. Hy was Gabrielle se kleinseun – en hy is in sy negentigs. Die man het buite Arles gewoon (Murphy 2016:69).

Murphy het ’n brief aan die kleinseun geskryf, maar geen antwoord gekry nie (Murphy 2016:69). Sy het weer ’n oproep gemaak en terselfdertyd ’n afspraak met die kleinseun van Gabrielle gemaak. Tydens die onderhoud het hy aan Murphy ’n foto van ’n vrou teen die muur gewys. Sy was ongeveer 30 jaar oud. Glimlaggend het sy na hulle gekyk. Hy het aan Murphy nog ’n foto gewys. ’n Foto van ’n ouer vrou. Die vrou was op albei foto’s geklee in ’n volle Arlésienne-kostuum (Murphy 2016:217). Skielik het ’n klop aan die deur die gesprek onderbreek. Dit was die man se dogter. Stilte het neergedaal. Murphy het die gesprek in die rigting van Gabrielle probeer stuur. Toe was daar ’n tweede klop. Dit was ’n priester. Dit was die einde van die gesprek (Murphy 2016:218).

Dit is opvallend dat vroue gekoppel is aan Van Gogh se ineenstortings. Hy het die vroue in ’n reeks bekend as La Berceuse geskets of geskilder (Veldhorst 2015:10, 104; Murphy 2016:218). Ouer vroue in nood het hom aangegryp. Augustine Roulin, die vrou van sy vriend, die posman Joseph Roulin, het vir hom die universele moeder geword – ’n figuur van vertroosting (Murphy 2016:219–20). Voor sy besoek aan “Rachel” het hy op 23 Desember sy eerste ineenstorting gehad. Hy het sy tweede ineenstorting ná sy besoek aan Rachel op 3 Februarie 1889 gehad.

Iets oor “Rachel” het Murphy gehinder. Wanneer prostitute te oud vir die veeleisende werk geword het, het hulle bordele bestuur. Maar “Rachel” was getroud en het ’n kind gehad (Murphy 2016:220). Buitendien was Gabrielle te jonk om ’n prostituut te wees. Die Van Gogh-biograaf Pierre Leprohon, wat haar Gaby noem, skryf dat sy slegs 16 was toe sy die geskenk van Van Gogh ontvang het. Dit is egter ’n vergissing. Gabrielle het op 82 jaar gesterf. Op 23 Desember 1888 was dit net ’n paar weke ná haar 19de verjaarsdag. Sy was te jonk om ’n prostituut te wees. Virginie Chabaud sou nie die risiko waag om iemand wat te jonk was, onwettig as prostituut aan te stel nie (Murphy 2016:221).

Dit lyk asof Van Gogh sy geskenk aan die meisie in die straat buite die bordeel gegee het. Daar was ook ander werk in bordele: by die kroeg, as kokke, wasvroue en skoonmakers. Dit verklaar waarom daar later gesê is dat “Rachel” vir Monsieur Louis, wie se bordeel langs Madame Chabaud s’n was, gewerk het (Murphy 2016:221).

In een van die artikels van ’n koerant, Le Petit Provençal, wat op Kersdag gepubliseer is, word geskryf dat Van Gogh gevra het om met een van die inwoners te praat – iemand het gekom en die deur oopgemaak. Daar is geen melding van ’n prostituut nie.

In Desember 1888 het Alphonse Robert as ’n polisieman in Arles gewerk. Hy was toe slegs 15 maande in diens. Hy was die dorpsamptenaar wat die gebied moes patrolleer en toesien dat vrede bewaar word. Hy was bevoeg om in flagrante ’n misdaad te verhinder, maar hy kon nie ’n ondersoek doen nie. Hy kon ook nie privaateiendom betree nie en verder was hy nie ingelig oor prostitute se register nie. Robert was ’n jong getroude man, met ’n klein kind. Dit was dus onwaarskynlik dat hy die dienste van prostitute sou gebruik (Murphy 2016:222–3).  

In ’n brief van Van Gogh van 3 Februarie 1889 aan sy broer skryf hy oor die meisie wat hy gaan sien het, “people say good things of her” (Murphy 2016:223). Murphy het die lys van vroue wat vir veneriese siektes behandel is, nagegaan. Gabrielle se naam het ontbreek.

Murphy het weer ’n besoek aan die kleinseun gebring, maar sy seun het haar te woord gestaan. Die pa was te moeg en het die vertrek verlaat. Skielik het die agterkleinseun gesê: “So, ʻRachel’ is my great-grandmother” (Murphy 2016:223).

Sondag 8 Januarie 1888 het Gabrielle se familie vir middagete in ʼn plaashuis buite Arles vergader. Hulle het Gabrielle se broer se verjaarsdag ’n paar dae vroeër gevier. Die middag het die bure se hond Gabrielle bestorm en haar deur die tjalie en mou wat haar linkerarm bedek het, gebyt. Daar was dadelik die gevaar van hondsdolheid. Die hond het inderdaad hondsdolheid gehad. Hitte is op Gabrielle se wond met ’n rooiwarm yster aangebring om die infeksie te weer (Murphy 2016:224). Haar mediese rekord gee besonderhede van haar behandeling – 20 dosisse van vaksien is tussen 10 en 27 Januarie 1888 toegedien (Murphy 2016:14).  

Waarom die oor as geskenk?

Naas die humanistiese (menslike) aspek van sy kuns, kom die religieuse aspek ook in Van Gogh se kuns aan die orde. Van Gogh se hele lewe getuig van ’n religieuse bewussyn en syn (Wessels 2009:105–8). Geen wonder dat ’n diep religieus deurdronge bestaan Van Gogh se lewe gekleur het en ook in daardie swart nag van 23 Desember 1888 ’n beslissende rol gespeel het nie.

Besete met ’n kunstenaarswaansin het hy gewerk totdat hy byna gek daarvan geword het. Sélf kunstenaar, verstaan hy die kuns van die lewe en ook die kuns van sterwe (Wessels 2009:14). Die tema van “kunstenaarswaansin” blyk in die laaste deel van sy lewe duidelik. Hy reken dat hy voor die opname in die hospitaal in Arles niks meer as “een doodgewone kunstenaarsverdwazing” gehad het nie. Die koors daarna was na sy mening die gevolg van bloedverlies, omdat hy ’n slagaar raakgesny het. Wanneer hy in Arles in kwarantyn gehou word, skryf hy dat hy liewer dood wil gaan as om soveel probleme te veroorsaak. Hy meen dat “lijden zonder te klagen” die enigste les in die lewe is wat ’n mens moet leer (Wessels 2009:225).

Ná sy selfverminking in 1888 skryf hy aan Gauguin: “In mijn geestesverdwazing of zenuwtoestand of waanzin, weet ik niet goed hoe ik het moet zeggen of noemen, […]”. Dit is merkwaardig dat hy troos in kuns en musiek gevind het. Hy skryf vraenderwys: “De kunst brengt immers net zoals muziek troost voor bedroefde harten?” (Wessels 2009:215; sien ook Veldhorst 2015:97–105). Van Gogh se Berceuse is ’n tipiese voorbeeld van “‘muzikale kunst’ zonder een zichtbaar muzikaal onderwerp” (Veldhorst 2015:104).

Daar kan gespekuleer word oor die antwoord op die vraag. In die laat 1880’s was psigiatriese versteurings in die plattelandse Frankryk onbekend. Daar is in algemene terme daarna verwys as “mentale vervreemding” of “epilepsie”. Daar was ook nie voldoende kennis hoe om die versteurings te behandel nie (Murphy 2016:116). Sonder ’n breinskandering en mediese notas is dit byna onmoontlik om die geestesiekte te omskryf wat tot sy optrede aanleiding gegee het (Murphy 2016:235).

Al die benaminge van geestesiektes probeer om Van Gogh se optrede te verklaar en te verstaan. Hy was kranksinnig (Murphy 2016:161, 182), geestelik versteurd (Murphy 2016:163) en hy het aan slaaploosheid gely (Murphy 2016:121, 171). Hy was een van die estrangers (Murphy 2016:7) en daarby nog eensaam ook. Dit was vir hom fisiek en geestelik ’n stryd om aan die lewe te bly (Murphy 2016:140). Van Gogh het die een skildery ná die ander gemaak en desondanks het dit nie ’n afset gekry nie. Dit sou hom kon laat voel dat hy as skilder misluk het.

’n Begrip wat sy toestand in ons dag sou kon beskryf, is “bipolêre” versteuring. Sy gemoedstemming skommel tussen lig en donker.

Van Gogh se geestestoestand het sy lewe lank soos ’n donker wolk oor hom gehang. Die antwoord lê dalk op ’n verrassend ander vlak. Murphy kom tot die slotsom dat Van Gogh sy oor doelbewus en bewustelik afgesny het. Die skeermes sou soos “’n mes deur botter geglip het” (Murphy 2016:40). Dit was ’n daad van selfkastyding. Op dié manier kon hy die rol van martelaar aanneem. Ná die daad het hy sy geskenk aan die meisie by die bordeel gaan gee. Daarna is hy terug na die Geel Huis, waar hy boontoe na sy bed gestrompel het. Die polisie het hom die volgende môre daar bewegingloos in ’n poel bloed aangetref (Murphy 2016:3–4).

Wat wel vasstaan, is dat Van Gogh iemand met deernis was. Hy was deurdring van godsdienstige dryfkrag en passie om vir ander om te gee. Dit kom in talle van sy skilderye na vore, byvoorbeeld Pietà, Saint-Rémy, September 1889, en De barmhartige Samaritaan, begin Mei 1890. Van Gogh was die meester van medemenslikheid (Wessels 2009:178–9). Ook omdat hy hipersensitief was (Murphy 2016:179), veral teenoor ander. Sy groot vriend Joseph Roulin, wat by Arles se poskantoor gewerk het, het Arles op 21 Januarie 1889 verlaat om ’n nuwe betrekking in Marseille te aanvaar (Murphy 2016:178–9). Vir Roulin was dit bevordering, maar vir Van Gogh eensaamheid en verlies. Terwyl Roulin blyplek sou soek, sou Augustine en die kinders in Arles agterbly. Augustine het in die plek van haar man ’n ogie oor Van Gogh gehou. Terwyl Augustine en die kinders in Arles gebly het, het Van Gogh egter ook na hulle omgesien (Murphy 2016:179). Hy het in 1888 pragtige skilderye van Joseph Roulin en in 1889 van sy vrou, Augustine Roulin, La Berceuse, gemaak. Dit is ’n buitengewone kunstenaar se uitdrukking van omgee.

Van Gogh se omgee vir ander kom duidelik in sy litografie Sorrow, Den Haag, 6 November 1882 / 11 November 1882, tot uitdrukking. Maar meer nog in sy omgee vir en aanvaarding van Clasina Hoornik, bekend as Sien, die swanger prostituut vir wie hy sorg tot ná die geboorte van haar kind. Vincent beland in ’n ernstige krisis. Op aandrang van Theo kom daar egter in September 1883 ’n skeiding. Hy besluit om sonder haar na Drenthe te vertrek (Wessels 2009:84, 86). Sien se verhaal kom in die volgende gedig tot uitdrukking:

Sien
Sorrow, Vincent van Gogh, 6 November 1882

In elkeen se lewe is daar plasreën
en dae deur ’n swart mantel omvou.
In ’n alleengelate straat sien hy die vrou
krampagtig en hartstogtelik vasgewortel
in die aarde en tog verslae deur teistering.

Sy buig hooploos in die tempel van smart
waar haar heilige lamp nog steeds vonkel.
’n Vervalle donker kamer is haar uitvlug
waar plesiersoekers haar skandelik
in die steek laat en haar met smart ontstig.

Geboë met los hare wat haar rug kriewel,
bedek arms haar verworpe en veragte gesig,
wag sy van God en mens verlate op ’n stomp,
hang haar borste verleë en leeggesuig;
in haar buik spartel ’n kind in vrugwater.
Vincent bevry die slagoffer van wanhoop
uit die leegte waar doodskaduwees sluimer.
Ses weke later beur ’n seuntjie die wêreld in.
In die skemer van Sien se verdriet staan
sneeuklokkies en lelies – simbole van onskuld.

Om Sien se chaos te bedwing en te heel
streef hy na die simfonie van blou en geel. (Cas Vos, ongepubliseerd)

Vir Van Gogh was Christus nie alleen die groot kunstenaar nie, maar ook die redder uit doodsangs (Wessels 2009:215, 227). As navolger van Christus was hy, soos Jesus, daar vir die ander. Soos Christus was hy bereid om hom vir die ander te gee. Hierdie diep religieuse motief speel ’n groot rol in die nag van 23 Desember 1888.

Dáár by die bordeel het hy sy oor aan ’n 18-jarige meisie, genaamd Gabrielle Berlatier, gegee (Murphy 2016:8, 130). Sy was nie ’n prostituut nie, maar het as ’n bediende snags in bordele gewerk en soggens vroeg het sy besighede skoongemaak. Van Gogh sou die meisie dus elke dag gesien het. Waarom sy? Verskeie weergawes van gebeure, ook in koerante soos Le Forum Républicain en Le Petit Provençal, en die woorde van Gauguin vat dit soos volg saam: “Hier, dis vir jou – ’n herinnering aan my” (Wessels 2009:56; Murphy 2016:225).

Van Gogh het ’n obsessie met godsdiens gehad. Hy het in Christus se woordspore by die laaste Nagmaal gevolg: “Dit is my liggaam – doen dit tot my nagedagtenis.”

Gabrielle het inderdaad daardie aand by Maison de Tolérance No. 1 gewerk, nie as prostituut nie, maar het beddegoed oorgetrek en skottelgoed gewas. Van Gogh se vreemde geskenk op daardie reënerige nag was ’n skok vir die jong meisie. Sy het flou geword. Van Gogh was diep geraak deur die weerlose meisie wat so hard gewerk het. Hy was ontroerd deur haar. Gabrielle het ’n opvallende litteken aan haar arm gehad nadat ’n hond met hondsdolheid haar as kind gebyt het. Haar wonde is deur ’n vuurwarm yster geskroei om infeksie teen te werk (Murphy 2016:9, 226). Sy was vir hom ’n engel met ’n geknakte vlerk. Van Gogh was intens, oorsensitief, empaties en simpatiek (Murphy 2016:227–8). Hy verrig Gods-diens aan ander. Vincent van Gogh gee iets van homself aan ander. Sy vlees en bloed.

Deur haar voortreflike navorsing en speurtog onthul Murphy Van Gogh se passie vir die lewe, kuns en mense wat geblom het soos die sonneblomme wat hy geskilder het – sy skilderye as ’n uitdrukking van die lewe as ’n simfonie in blou en geel.

Bibliografie

Aurier, A. 1890. Les Isolés: Vincent van Gogh. Mercure de France, Januarie.

Bailey, M. 2005. Drama at Arles: New light on Van Gogh’s self-mutilation. Apollo, 162(523):31–41.

—. 2010. Why Van Gogh cut his ear: New clue. Art Newspaper, Januarie.

—. 2013. The sunflowers are mine: The story of Van Gogh’s masterpiece. Londen: Francis Lincoln.

—. 2016. Studio of the South: Van Gogh in Provence. Londen: Francis Lincoln.

Bakker, N. 2011. Vincent van Gogh. Amsterdam: Van Gogh Museum.

Bernard, É. 1994. Propos sur l’art. 2 dln. Parys: Séguier.

Brand, E.J.P. 2010. Dossier Van Gogh: Gek of geniaal? Amsterdam: Uitgeverij Candide.

Earle, C. 1997. Vincent van Gogh. Londen: PRC Publishing.

Finley, V. 2002. Colour. Londen: Hodder and Stoughton.

Gage, J. 2001. Colour and culture: Practice and meaning from antiquity to abstraction.  Londen: Thames & Hudson.

Gauguin, P. 1923. Avant et après. Parys: G. Crès et Cie.

Hulsker, J. 1985. Lotgenoten: Het leven van Vincent en Theo van Gogh. Weesp: Agathon.

—. 1998. Vincent van Gogh: Een leven in briefen. Amsterdam: Meulenhoff.

Jansen, L., H. Luijten en N. Bakker (reds.). 2009. Vincent van Gogh: De brieven. De volledige, geïllustreerde en geannoteerde uitgawe. 6 Bande. Amsterdam: Amsterdam University Press.

Kaufmann, H. en R. Wildegans. 2008. Van Goghs Ohr: Paul Gauguin und der Pakt des Schweigens. Berlyn: Osberg Verlag.

Leroy, E. 1930. Letter to Irving Stone, 25 November. Stone Papers: Banc MSS 95/ 2 folder 10, Bancroft Library, University of California, Berkeley.

Murphy, B. 2016. Van Gogh’s ear: The true story. Londen: Chatto & Windus.

Oxenaar, R. 1983. Vincent van Gogh. Otterlo: Rijksmuseum Kröller-Müller.

Stone, I. 1934. Lust for life. New York: Longmans.

Stone Papers: Banc MSS 95/ 205 CZ/, Bancroft Library, University of California, Berkeley: California.

Van Uitert, E. 1989. Vincent van Gogh: Leben und Werk. Keulen: DuMont Buchverlag.

Van Tilborgh, L. 2009. Voorwoord. In Wessels 2009.

Veldhorst, N. 2015. Van Gogh & muziek: Symfonie in blauw en geel. Amsterdam: Amsterdam University Press.

Vos, C. 1999. Vuurtong. Clubview: Benedic Boeke.

Vos, C. 2017. Ongepubliseerde gedig.

Wessels, A. 2009. Het Evangelie volgens Vincent van Gogh. Kampen: Uitgeverij Ten Have.

  • 4

Kommentaar

  • Dit kom vir my voor dat die ma van Van Gogh op 'n harmonium en nie 'n klavier nie musiek gemaak het. Dit blyk uit die volgende aanhaling: “Moe speelt al zoo mooi op het harmonium, dat is een waar genot,” merk vader Van Gogh tevrede op. (Veldhorst 2015:25–6)

    • Goeie dag, Piet. Dankie vir jou kommentaar. Naas die harmonium het moeder van Gogh ook " piano en orgel" gespeel,"en had in die algemeen muzikaliteit hoog in die vaandel staan' (Veldhorst, 26). Dit is opvallend dat die woord "pianino'' vanaf Maart 1888 in minstens vyftien briewe tussen Jo, Theo en moeder van Gogh voorkom. Van Gogh het in 'n musikale familie groot geword. Dit is opvallend dat die vrou by die piano in die tyd 'n geliefde tema vir skilders was (Manet en Cezannes). Van Gogh het die tema ook in sy skilderkuns ontgin (vgl sy skildery Marguerite Gachet aan de piano, 1890).

  • Cas soos altyd is die resensie 'n toonbeeld van insig en deeglikheid en jou persoonlike bydrae [gedigte] dui op begrip en deernis met die skilder. Dankie vir hierdie keurige kommentaar.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top