’n ope brief aan Dorian Gray deur Ruan Fourie: ’n resensie

  • 0

’n ope brief aan Dorian Gray
Ruan Fourie
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485307471

In Ruan Fourie se debuutbundel word die verloop van ’n liefdesgeskiedenis geskets deur ’n volgehoue intertekstuele spel met Oscar Wilde se roman The Picture of Dorian Gray. Die omslagontwerp toon ’n leë raam waarin ink (of bloed) afloop, ’n tabula rasa waarteen die projeksies van ’n mislukte liefdesverhouding geportretteer word.

Die bundel skep ’n verliteratuurde indruk en dra swaar aan ’n oordaad motto's en verwysings. Die Victoriaanse leefwêreld van Dorian Gray word betrek, afgewissel met gesprekke oor klassieke kuns, letterkunde en musiek, die verromantisering van kunstenaarskap, die sosiale media, popmusiek en die kampuslewe. Ongelukkig dra die magdom verwysings niks by tot die yl diggegewe nie en dit vertoon soos borduurwerk om die mankemente in die verse te verdoesel. Die aanbod en tematiek van die bundel werk eerder kontradiktories as aanvullend op die geheel in, en skep die indruk van willekeur. Ook die stilistiese truuks, soos die plaas van titels onder aan die bladsye het geen doel nie – dit belemmer net die leesproses.

Van die verse is infantiel:

in graad 7 moes ons elk ’n vriend se naam
hardop aan die juffrou verskaf
om aan te teken op ’n klaslys
(vir veiligheidsdoeleindes).
hier al besef jy met skok
dat iemand vir jou omgee
sonder dat jy dit verwag het,
en skrik jy oor jou gebrek
aan skuldgevoel
voor almal die spelling van tjienkerientjee
nog gou herkou vir die toets.   (tjienkerientjee, 39)

Jeugdige en studentikose pedanterie vier hoogty, byvoorbeeld "stille raas" (50):

"living in a parallel universe
means you have to think
parallel thoughts."

ek ontdek ... nee.
ek skok myself.
is dit die geval?
my gedagtes kleef
aan moontlikhede.
soos om te slaap. dit werk so:
jy moet slaap eers naboots
voor die ware jakob manifesteer,
en in die limbo
van hierdie gefabriseerde slaap,
op pad na die ware droom,
stoot my brein vieslike
gedagtes na die voorgrond.

Die verse bly vassteek in ’n belydenisagtigheid en verdowende ekkerigheid, byvoorbeeld "ar/seer" (19–20):

ek wil eintlik net iewers om verskoning vra
want ek verstaan ek is fucked up.
ek sukkel met die onderskeid
tussen mense wat ék kruis en dwars liefhet
(soms tot my spyt)
en dié wat my terug liefhet.
ek was nog nooit so seker
dat iemand bloot opreg is nie,
maybe you're a daydream
dressed as a nightmare
for all misandrists.

liefde is, ten aanvang, slegs gesog
as dit martel.

Asook "lights, camera, acción" (41):

ons is in ons moer.
ons het mekaar nie ontgroei nie,
net begin stagneer.
[…]

ek het my stil gehou,
ons het die rolle van antieke jongmense
aangeneem, kakkerige bands beluister
in die buitelug […]

Soms word die narratiewe gang in die verse bederf met pretensieuse woordkeuses, byvoorbeeld (my kursivering): "jou igtiomorfe oë (23); "dat jy hier is,/ bewus van die kognitiewe dissonans (11); en "kaneel is bitter, maar ongetwyfeld olfaktories aangenaam (26).

Alhoewel “catacombes” (49) die nodige afronding mis, is dit tog ’n aangrypende vers:

kraaie voer ’n danse macabre uit in die dowwe lug
terwyl met die beendere van ses miljoen
weggedoen word in die gange en grotte van l'ossuaire municipal,
die katakombes van Paris.

Die semiotiese spel met leestekens in "typo" (70) bly ongelukkig, net soos die leestekens self, teen die oppervlak vassteek: die poging tot uitgebreide metaforiek slaag nie.

Eweneens is die woordspeling en neologismes nie altyd ewe geslaagd nie, byvoorbeeld "hel/ing" (68); "gema/a/k" (12), "seepbelsubtiels" (21) en "ar/seer" (20).

Die verse herinner aan voortstuwende-bewussynstroom-tegniek, maar die assosiatiewe skuiwe is té lukraak en arbitrêr en het ’n fasiele indruk by my gelaat. Dit is verse wat nog nie poësie geword het nie.

Dit is duidelik dat die digter moeite gedoen het om die bundel in sy geheel na ’n groot literêre besigheid te laat lyk. Só open Deel II byvoorbeeld met disparate verwysings na The unbearable lightness of being (Milan Kundera), The real life of Sebastian Knight (Vladimir Nabokov), An artist's life manifesto (Marina Abramovic), We the animals (Justin Torres), Lolita (Vladimir Nabokov), asook die genoemde interteks van Oscar Wilde. Die bundelnarratief is nog nie sinvol deurgekomponeer nie en skep ’n versnipperde indruk. Die individuele verse self sou kon baat met selfkritiek. Die  “ek-jy”-gedreun raak eenselwig en steurend, en die brief of epistel is nié ’n matrys vir literêre slordigheid of vergrype nie.

Dalk moet Ruan Fourie vir eers die verestetiseerde idees en groot konsepte los en terugkeer swartbord toe om te skrýf. Sonder geleende vere.

Die bundel sluit af met "as die verlange" (75), wat ook aansluit by "die liefde's niks anders" (8). Die toespeling in die titels op Jonker se "Gistraand" voel egter na ’n futlose literêre speletjie:

die laaste keer
het ek ’n briefie in jou posbus laat glip
en weggehardloop soos ’n kind
wat toktokkie speel.

in dié nota het ek geskryf:
"tot hier."

Fourie is ’n ambisieuse jong digter. ’n ope brief aan Dorian Gray is ongelukkig ’n voortydige debuut wat ’n vraagteken laat hang oor die rol en verantwoordelikheid van die keurder en uitgewer in die publikasieproses.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top