’n Brief aan Wilhelm Knobel oor Wopko Jensma

  • 6

Deon Knobel skryf ’n brief aan sy oorlede broer.

Kaapstad 11 Augustus 2010

Liewe Wilhelm                                                

Hier is ons nou terug by Wopko. Sowel Jeanne Goosen as Phil du Plessis het bevestig dat jy baie goed bevriend was met Wopko Jensma. Jeanne vertel verder die geskiedenis van hoe Wopko op besoek in Lourenço Marques ’n swart vrou swanger gemaak het. Hy keer later daarheen terug, trou met haar en vestig die gesin in Botswana, waar Lydia Jensma in Francistown woon. Saam met Wopko het Jeanne Botswana in dié tyd vyf of ses keer besoek en daar vir Bessie Head ontmoet. Wopko word volgens Jeanne ’n aantal kere ’n paar uur deur die veiligheidspolisie aangehou.

Wilhelm, jy het heelwat van Wopko se kunswerke besit, waarvan ’n aantal bewaar word by NALN, omdat Mamma baie van jou besittings vir hierdie Nasionale Afrikaanse Letterkundige Navorsingsinstituut in bruikleen geskenk het. Die mooiste een van jou versameling is hierdie een hieronder wat geteken is WJ vir Wilhelm, 11/02/1970. Die uitnodigingskaartjie net langsaan is dié na ’n uitstalling van Wopko, geopen deur prof R Beaton, waar jy die onderstaande abstrakte studie aangekoop het. Of is dit dalk aan jou geskenk deur Wopko?

knobel-brief-1

WJ (11/20), Vir Wilhelm 11/2/1970

knobel-brief-2

Uitnodigingskaartjie vir uitstalling op 16 Maart 1970, Geopen in die SAKV-galery, Pretoria deur prof R Beeton, Hoof Dept Engels UNISA

Wilhelm, een van die bekendste werke van Wopko in jou versameling is getiteld “Slow Fish”, waaroor jy in ’n brief aan Mamma op 6 November 1971 die volgende skryf:

6 November 1971

My liefste Moeder – want Mamma is die liefste Moeder

Hier volg die derde gediggie wat ek die afgelope week geskryf het. Dit is nog nie baie goed nie, maar wat ’n verligting om weer ná ’n jaar te skryf!

By ’n monotipe van Wokpo Jensma

Jy het hom “slow fish” gedoop
ék noem hom trae vis
en hang hom teen my muur:
my moeë gees swem ewe traag
deur stapels werk
net soms as ek opkyk
na jou wasige geel en blou
 en oranje
          en groen
móét die mistroostigheid effens lig
dat ek die sout proe op my tong van              Waenhuiskrans
waar ek nooit was nie
en luister na die geroep van vissermanne
– trae vis
kom laat ons vlug uit die muwwe kantoor
om weer die geroep van die meeue te hoor
en te sien hoe die branders breek op
 die sand
in één gedig

 knobel-brief-3

 

Hoop Mamma hou daarvan. Die monotipe hang in my kantoor en maak dit lekker gesellig. ’n Monotipe is iets wat mens op glas skilder en wat dan afgedruk word.

Doktor Robbertze - wat Wilhelm se psigiater in Pretoria was - hou nie baie van die uitdrukking “trae vis” nie, nou wil ek dit ’n bietjie voorlê aan vriende en hoor of hulle reaksie dieselfde is. Wat dink Mamma daarvan? Die Engels sou wees “sluggish fish”, maar Wopko het dit net “slow fish” genoem, wat ek dink baie geïnspireerd is.

Liefde, Wilhelm

Jy weet Wilhelm, Jeanne Goosen en Phil du Plessis het tevore vertel dat Wopko Casper Schmidt geleer het om syskerm drukwerke, ook bekend as sifdrukke (silk screen prints) te maak. Casper ontwikkel na bewering op sy beurt ’n geweldige houvas oor Wopko, en volgens Jeanne ook oor jou. Oor Casper is daar veel om te vertel wanneer ons by hom uitkom.

Nog meer onsensitief het hy glo met Mamma oor die foon gepraat en belowe om jou te gaan haal by die kliniek en jou bietjie by te staan. Dan het hy glo, in teenwoordigheid van Phil, histeries gelag en kliphard uitgeroep: “Mompelende pampoen.” En dan het Phil verder vertel dat hy, wanneer jy uit die kliniek moes kom, eers knoffel teen die mure van jou woonstel gevryf het en as jy dit dan opmerk, sou beweer het dat jy al weer hallusineer..

Ek het ’n uitgebreide verslag deur Casper oor ’n groep van jou ongepubliseerde gedigte tussen jou nagelate dokumente gevind. Die gedigte was skynbaar dié wat jy wou voorlê vir Mure van Mos van 1970. Sy verslag en lyste waarvolgens hy jou gedigte “klassifiseer” is heel insiggewend in die lig van die latere publikasie van, en resensies oor, gedigte wat deur Casper as geheel onaanvaarbaar geklassifiseer is.

In sowel ’n bespreking oor die publikasie Twee Siklusse – wat ek vir jou sewentigste geboortedagherdenking saamgestel het as ’n algemene waardering vir jou werk – noem Petra Müller weereens die name van jou, asook dié van Casper Schmidt en Wopko Jensma as die poète maudit – die “vervloekte” digters – in die Franse sin van die woord. Sy spreek haar intense waardering en bewondering vir die werk van Wopko Jensma uit, as “een van die mees innoverende en opwindende digters uit die tyd”.

Jeanne Goosen beklemtoon weereens hoe spannend dit was vir ’n passievolle jong digter soos jy, om onder die politieke druk te leef en te werk aan die digkuns. “Wilhelm se politieke paranoia kan ek verstaan” – sê Jeanne – “ons was almal paranoïes!”

“Moenie vergeet van die provinsialisme wat kop uitgesteek het nie, behalwe vir Ingrid Jonker. Ons het vir Jan Rabie, Jack Cope en Uys Krige die Goddelike Drie-Eenheid van Clifton genoem.”

Jeanne se opinie, die slag oor die effek van die politieke spanning op julle as jong digters, word egter weerspreek, en wel deur Joan Lötter, jou groot vriendin, en later ook myne, wat dit as minder erg afmaak.

Liewe Wilhelm, is dit nou nie ongelooflik nie. Ek het nou net gepraat van Jeanne Goosen en in die verbygaan van Wopko Jensma toe kry ek ’n oproep van Jeanne om Amanda Botha se selnommer by my te kry, “want die landlyn is te duur. Ek kan dit nie meer bekostig nie.”

Soos altyd loop die gesprek deur hoeke en draaie. Eers oor haar en Wopko Jensma se besoeke aan Lydia en Bessie Head in Botswana en toe later: “Jy weet Wilhelm … eksuus … Deon, een van die mooiste gedigte wat ek ken is die een oor jou pa waar Wilhelm die “swietie” in die sak van die pak se baadjie kry.”

Ons weet darem, natuurlik, Wilhelm, dat dit die taai vlek was as bewys van die “swietie” wat nie meer daar was nie. Dis natuurlik jou elegiese gedig “Ek dra ’n pak, ’n das en onderbaadjie van jou …” waarna sy verwys.

Jeanne kan vreeslik melancholies raak, maar ek vertel toe maar eerlik dat die twee verhale wat onlangs verskyn het, “Fucked for life” en “Wolwors”, vir my skokkend was. Ná haar verduideliking dat dit haar siening is van die “pornografie van geweld”, kan ek dit nou so insien en aanvaar.

“Maar ek wil nie meer lewe nie. Ek kan die mishandeling van diere en kinders nie langer vat nie! Ek huil te veel!” Dan paai ek maar met “Huil is goed vir jou , Jeanne. Dit was die siel skoon.”

Toe vertel sy die deernisvolle verhaaltjie uit haar kinderdae: Haar ma het vir haar ’n pennie in haar sakdoek toegeknoop om saam te neem na haar eerste dag op skool. Sy het in die klas die sakdoek losgevroetel en die pennie het oor die vloer gerol. “’n Ander dogtertjie tel dit toe op en eien dit as hare. En toe ek die middag by die huis kom en vir my ma vertel toe sê sy net: Mense is maar so! Toe antwoord ek: Dan wil ek nie ’n mens wees nie.”

’n Tyd gelede het Jeanne ook met die storie gekom dat sy moeg is vir die lewe, en ek dink in ’n gedig skryf sy toe dat sy haar drie honde aan haar lyf sal vasbind en op die spoorlyn gaan lê om te wag vir die TransKaroo. Min het sy geweet dat die TransKaroo nie meer gereeld loop nie. Sy sou lank moes lê en wag.

 En toe begin sy weer gesels oor Wopko met wie sy ’n paar maal saamgery het Botswana toe – Wopko om sy vrou Lydia en kinders te gaan sien, en Jeanne om ook vir Bessie Head te gaan kuier.

Maar wag, ek moet verduidelik: Jeanne het nou eintlik geskakel om Amanda Botha se selnommer by my te kry, en toe gesels ons eers. Sy herinner my dat Amanda met een of ander kunshistorikus besig is met navorsing oor Wopko se grafiese kuns, en seker ook sy gedigte, en hulle sou glo by my wou aankom om foto's te neem. Sy het toe met Amanda gereël dat hulle my besoek.

Die spannetjie het toe juis later met ’n fotograaf opgedaag om Wopko se werk aan jou, getiteld Vir Wilhelm, en die uitnodigingskaartjie te kom fotografeer.

Jeanne in tipiese Jeannistiese wyse, maak op ’n stadium die baie toepaslike opmerking dat “in die dae van ons Sestigers daar in Pretoria is almal met psigiese probleme as skisofreen gediagnoseer. En nou is almal skielik weer bipolêr.”

Phil du Plessis en Jeanne het inderdaad voorheen aan my genoem dat Wopko aan skisofrenie gely het.

Ek het haar vertel dat ek onlangs Phil du Plessis se hele versameling van twaalf uitgawes van julle tydskrif WURM aangekoop het. Ook dat ek terselfdertyd in ’n antieke boekwinkeltjie in Kalkbaai die volledige stel van Izwi en die drie digbundels van Wopko, waarvan ek grotendeels niks verstaan het nie, aangekoop het. “Ja! Dis concrete poetry en in daardie dae het ons kontak gemaak met die avant garde groep in Nederland en België en hulle was hoogs bedrywig met die konkrete poësie. Van hulle is nou so hoog aangeslaan as ons eie NP van Wyk Louw."

Sy noem die name van Karl Appel, Luceberth, (die spelling is dalk verkeerd) De Vries en nog ander. Vir my beteken die name natuurlik niks.

En nou die nuutste onthulling wat volgens haar van Amanda Botha afkomstig is. Jy sal onthou dat Wopko letterlik van die aardbodem verdwyn het. Phil het my eenmaal vertel dat Wopko, wat volgens hom skisofreen was, deur ’n vriend by ’n hospitaal of kliniek afgelaai is vir mediese hulp, of dalk by die Heilsleer, waar hy die laaste tyd ingewoon het, en dat dit die laaste is wat ooit van hom gehoor is.

Jeanne val in die rede en bevraagteken weer, soos ek al voorheen genoem het, die diagnose: “skisofreen?” “Almal wat in ons tyd in Pretoria die pad bietjie byster geraak het, is gediagnoseer as skisofreen. En vandag is dit bipolêr net waar jy kyk!”

En hier maak Jeanne nou die skokkende stelling dat sy van Amanda verneem het dat hulle Wopko se liggaam opgespoor en sy identiteit met DNS bevestig het. “Maar dit was sonder kop, Deon.” Ek sal die storie nagaan en kyk of ek dit kan bevestig. (Baie sinies en met galgehumor, dink ek, maar nie hardop nie: “So toe het Wopko na al sy “senu”-aanvalle uiteindelik kop verloor, in die letterlike sin van die woord!”)

Ek noem toe vir Jeanne van ’n “quizz-kompetisie” waaraan ’n klompie musiekliefhebbers op die internet deelneem, met Wilhelm se groot vriendin Aggie as een van die voorlopers en voorste “navorsers.” Een vraag was toe watter twee komponiste is nie as volledige liggaam begrawe nie. En Chopin was skynbaar een, sy lyf in Parys en sy hart in Pole. En ek dink dit was Haydn wat ook koploos begrawe is. Ek het dit darem baie duidelik gemaak dat so iets nie wettig in Suid-Afrika gedoen kan word nie, aangesien die liggaam en al sy organe deur die Wet op Menslike Weefsel beheer word. Vir oorplantingsdoeleindes geld spesiale skenk- en ontvangsregulasies.

Groete, Deon

******************

16 Augustus 2010,

Liewe Wilhelm

Glo dit nou as jy wil. Ek het nou net met Phil gesels en hy bevestig die storie van Wopko se koplose liggaam wat gevind en met DNS positief geïdentifiseer is.

Bisar!

Deon.

******************

1 November 2016,

Liewe Wilhelm

Na hoeveel jaar neem ek weer die pen op – of liewer klap ek weer die letters van die rekenaar. En die rede vir my skrywe? Noem dit toeval, voorbeskikking of serendipiteit? Ek verkies laasgenoemde as “betekenisvolle sameloop van omstandighede”.

Die laaste woord oor Wopko Jensma reeds geskryf? Ek glo dit glad nie. Ek glo, soos jy hieronder sal lees, dat die ontdekking en bevestiging dat daar ’n Jensma-nageslag bestaan, een waarvan Jason Kemp Madonsela Jensma self as kunstenaar bedrywig is met fotografie en grafiese kuns, die stimulus sal wees om weer aandag en belangtelling in Wopko se kuns en poësie te stimuleer. Maar wag, ek loop die verhaal vooruit.

Wopko se teenwoordigheid, word weereens bewys, wil nie verdwyn nie.

Vanaand, 1 November 2016, plaas ek op Facebook (dis ’n soort van geselsprogram op die internet wat rekenaargebruikers in staat stel om te kommunikeer deur te skryf en ook foto's te plaas) die volgende:

“Ek het gesoek na ’n boekie oor sampioene om uit te vind of Ink Cups, wat in my tuin groei, giftig is of nie en kom toe af op die drie bundels van Wopko Jensma se gedigte Omdat ek dit weggeneem het van die plekkie tussen ander geskrifte en boeke van jou, het ek vergeet waar ek dit 'veilig weggebêre' het.”

Ek was so opgewonde dat ek hulle gevind het dat ek toe dadelik foto's van die drie digbundels saam met die grafiese werk wat hy aan jou opgedra het op my Facebook plaas, ook die uitnodiging na sy uitstalling in Pretoria in 1970.

Feitlik onmiddellik daarna kom ’n boodskap terug van ene Jason Kemp Madonsela Jensma dat hy my plasing gesien het. (In Facebook-taal: “He shared it.”) Ek gaan besoek hom toe op sý Facebook-blad en kom af op interessante en opwindende inskrywings. Sommige daarvan was selfs so uitdagend as wat dié van Wopko dikwels was. Daar is onder andere ook ’n kort gedig van Wopko self.

I dream I am a streamlined falcon
I crack the blue skull of the sky
Wide open
I am piercing thru deaths jeteye
I dream I crack God's order twice
– Wopko Jensma 1975

Ek skryf toe die volgende boodskap vir hom:

“Mr Jensma, I am overjoyed to have received your share. As you may have seen, the one art work that I placed was dedicated by the artist to my late brother, Wilhelm Knobel, as one of the group of poets in Pretoria in the sixties he knew, and was a friend of Wopko. My brother died at the early age of 38 years and would have been 81 years old on 26 October this year. I would really want to communicate with you more personally and invite you sincerely to write to me at knobel@icon.co.za.

“Another close friend of Wopko was Jeanne Goosen, a very good poet, who in fact, as she told me in 2005, went with Wopko to Botswana to visit Lydia. Is or was she your mother? Please write to me by email. Deon Knobel. ”

Die volgende boodskap word kort daarna, om 3:41 op 2 November van hom ontvang:

knobel-brief-4

Jason Kemp Madonsela Jensma
November 2 at 3:41am

"Hi Deon. Wopko and Lydia are parents of my mother. I certainly will email you today. Nice Wopko posts you got on your page. Do you have any sculptures? Never got to physically see any. I must go to work now, email you this afternoon."

******************

16 November 2016:

Wilhelm, ek het reeds ’n paar maal met Jason Jensma oor die foon gesels en ook het ons heen en weer geskryf. Ek was bekommerd dat die inhoud van my skrywe hom en sy familie, van wie sy moeder nog leef, dalk sou ontstel en daarom het ek hom my hele artikel gestuur en gevra dat hulle as familie my toestemming gee dat ek dit mag aanstuur vir publikasie.

Vandag kry ek die bevestiging, met net een voorwaarde, dat ek nie na sy ouma Lydia mag verwys as ’n prostituut nie. Ek het dit toe maar omskryf na “los vrou met geen morele standaarde nie”. Ek kon hom die versekering gee, en is self oortuig dat as dit die geval was, ek nie sou glo dat Wopko die eerbare ding sou doen om met haar te trou en haar in Lourenço Marques te vestig nie.

Hier is Jason se antwoord per elektroniese brief:

"Hi Deon

Feel free to publish the article, on condition that you don't call Lydia Jensma a prostitute, like those from Tydskrif magazine and TUKS did. Although the family knows that it isn't true, the rest of people just believe what they read. I'm sure you know what I mean.

"(In case this is useful to you.) There is something interesting about the birthdays of Wopko's children and grandchildren and I often wonder if it may have something to do with the poem titled "Spanner in the what works" where he speaks of being born in four different places and 60 years later passing away in four different places.

"I was born 9 October and my cousin Marlon was born 9 October, my cousin Elaine was born 27 September and cousin Flame on 27 September (passed away). All these Wopko's grandchildren. My mother was born 20 August and my daughter on 20 August as well. I wonder hey ...

"(In case this is useful to you.)

After looking for the origins of the Jensma surname it seems to be very political in Friesland history. If what I read is correct, it seems like the Jensma surname was began by a royal family that changed their name to Jensma to hide away from the Spanish invasion.

one online source
https://www.houseofnames.com/jensma-family-crest

Regards

Jason M Jensma"

******************

16 November verder:

Wilhelm

Ter agtergrond en verduideliking oor my belangstelling in Wopko, plaas ek nou hieronder my artikel oor Wopko wat ek reeds op 19 April 2013 geskryf het. Ek plaas dit om weereens die betekenisvolle sameloop van die onlangse gebeure, ook bekend as serendipiteit, te beklemtoon.

19 April 2013 "Wopko Jensma"

Dis interessant hoe die verhaal van Wopko Jensma net nie tot ’n einde kan kom nie. Uit jarelange ondervinding in regsgeneeskunde met derduisende post mortems uitgevoer en die gepaardgaande verlies en droefheidsreaksies van naasbestaandes, het dit ook duidelik geword dat afsluiting slegs verwag of verkry kon word indien ’n liggaam van die geliefde gevind en uitgeken kon word, en hopelik ook ’n duidelike oorsaak van dood.

In my loopbaan in regsgeneeskunde het ek dikwels met hierdie versugting na afsluiting te doen gekry. Een moeder wou weet, selfs 11 jaar ná die dood van haar dogter in die bomaanval op die Helderberg Taverne in Rosebank, of haar dogter bewus was van wat gebeur het en of sy gely het. Ek kon haar gerusstel dat ’n fragment van die missiel haar dogter se breinstam morsaf geskeur het en dat sy dus oombliklik dood sou wees. ’n Bejaarde egpaar het aangedring om die reeds gedeeltelik ontbinde liggaam van hulle seun, ’n diepseeduiker wie se liggaam dae lank tussen rotse vasgesit het, te sien. Hulle wou die versekering kry dat dit wel hulle seun se liggaam is.

Indien Wopko se liggaam beskikbaar was vir ’n lykskouings en ’n oorsaak van dood gevind en geformuleer was, sou ook in sy geval dalk afsluiting kon plaasvind, nie net onder die moontlike nageslag van Wopko nie, maar ook vir die paar vriende en tydgenote uit die Sestigs wat nog leef en selfs onder letterkundiges. Ek verwys na die ses jong meisies wat verdwyn het tydens die optredes van die pedofiel Gert van Rooyen en sy saamleef vrou, Haarhoff. Daardie familielede sukkel seker steeds met hulle rouproses en afsluiting sal seker nooit volledig kan plaasvind nie.

En net wanneer mens begin dink dat Wopko Jensma dalk finaal tot ruste gekom het, verskyn die insiggewende artikel deur Leti Kleyn (Die Burger, By, 13 April 2013) en die daaropvolgende brief van Willem Swanepoel (in die bylaag van 20 April 2013) met ’n foto van die redaksie van Gerwe, onder redakteurskap van W Jensma.

"My eie 'kennismaking' met Wopko het plaasgevind deurdat daar ’n vriendskap bestaan het tussen hom en van die jong Sestigers in Pretoria, van wie Wilhelm Knobel, Phil du Plessis, Casper Schmidt, Jeanne Goosen en ook Joan Lötter almal deel was van hierdie groep digters en vriende.

"Dit was eers toe ek ná Wilhelm se dood in sy kuns1êer op sekere kunswerke, geteken deur Wopko Jensma, afgekom het, dat ek werklik begin belangstel het.

"Ná my aftrede in 2004 het ek begin om soveel moontlik van Wilhelm se vriende op te spoor en te kontak.

"Sowel Jeanne Goosen as Phil du Plessis het bevestig dat Wilhelm baie goed bevriend was met Wopko Jensma. Jeanne vertel verder die geskiedenis van hoe Wopko op besoek in Lourenço Marques ’n swart vrou, Lydia, swanger gemaak het. Hy keer later daarheen terug, trou met haar en vestig die gesin in Botswana, waar Lydia Jensma in Francistown woon. Saam met Wopko het Jeanne Botswana in dié tyd vyf of ses maal besoek. Wopko word ’n aantal kere vir ʼn paar uur deur die veiligheidspolisie aangehou.

"Ek kon met meer inligting oor Wopko ’n hele paar kunswerke van hom herken in Wilhelm se lêer, waarvan meeste sifdrukke was en waarvan ’n aantal bewaar word in die Wilhelm Knobel- versameling by NALN in Bloemfontein.

"Die uitnodigingskaartjie hieronder afgedruk is dié na ’n uitstalling op 16 Maart 1970 van grafiese werk deur Wopko Jensma, geopen deur professor Ridley Beeton, en waar die onderstaande abstrakte studie waarskynlik aangekoop is, of meer waarskynlik deur Wopko aan Wilhelm geskenk en opgedra is, soos inderdaad onder aan die kunswerk aangetoon word 'vir Wilhelm.'"

 "Jeanne Goosen vertel dat Wopko vir Casper geleer het om syskermdrukke (sifdrukke) te maak. Casper ontwikkel na bewering op sy beurt ’n geweldige houvas op Wopko."

In ’n bespreking oor Wilhelm se Twee Siklusse en ’n algemene waardering vir sy werk, noem Petra Muller weereens die name van Wilhelm, Casper Schmidt en Wopko Jensma as die poètes maudès – die “vervloekte” digters – in die Franse sin van die woord – en spreek haar intense waardering en bewondering vir die werk van Wopko Jensma uit – “een van die mees innoverende en opwindende digters uit die tyd.”

Jeanne beklemtoon weereens hoe spannend dit was vir ’n passievolle jong digter om onder die politieke druk te leef en te werk aan die digkuns. Wilhelm se politieke paranoia kan sy verstaan. “Ons was almal paranoïes”.

"Moenie vergeet van die provinsialisme wat kop uitgesteek het nie, behalwe vir Ingrid Jonker. Ons het vir Jan Rabie, Jack Cope en Uys Krige die 'Goddelike Drie-Eenheid van Clifton' genoem."

My “kontak” met Wopko en sy werke het nie hier opgehou nie. ’n Jaar of twee voor Phil du Plessis se dood het ek hom gaan besoek in sy “kasarm” van ’n huis in Kalkbaai, waaroor beide hy en Marié Blomerus aangrypende gedigte geskryf het. Die gesprek het weer by Wopko ook ’n draai gemaak. Phil het weereens vertel van Wopko se brose senuweesamestelling as skisofreen. (Terloops, ’n term en diagnose wat vir my as oudmedikus steeds moeilik is om te begryp.) Phil het weer beklemtoon dat Casper Schmidt by Wopko die tegniek van sifdrukke geleer het en ook dat Casper nogal ’n sterk houvas op Wopko gehad het omdat Wopko so maklik deur suggestie beïnvloed kon word.

Eintlik was ek dié dag by Phil op soek na uitgawes van die digtersgroep se selfgepubliseerde letterkundige tydskrifte, Wurm en Izwi, waarin ek sommige van Wilhelm se gepubliseerde gedigte wou opspoor. Phil verwys my toe na ’n antikwariese boekwinkel in die bekende straat van interessante winkels in Kalkbaai se hoofstraat, waar Phil sy volledige stel van Izwi-tydskrifte afgegee het vir verkoop. Terwyl ek dit onder hande en oë geneem het – ’n volledige stel netjies in ’n kartonboks verpak – val my oog op die naam Wopko Jensma, en daar, tot my uiterste verbasing, lê die stel van drie digbundels van Wopko, elkeen met van sy kenmerkende “amoeba-agtige kreature” op die voorblad. Uitgewers en datums soos volg:

1. Sing for our execution

knobel-brief-5

OPHIR/RAVAN PRESS 1973

2. Where white is the colour where black is the number

knobel-brief-7

knobel-brief-6

RAVAN PRESS, Desember 1974

3. I must show you my clippings

knobel-brief-8 knobel-brief-9

RAVAN PRESS, Junie 1977

En in sowat vier uit negentien uitgawes van Izwi is daar gedigte en enkele kunswerke van Wopko. Ek het hulle eenkant gesit en sal hulle nou saamlees met die gedigte in sy drie bundels.

My forensiese snuffelneus is nou geprikkel en ek wil beslis navraag doen oor die beweerde vonds van sy koplose liggaam. As die liggaam deur DNS uitgeken is, moet daar êrens in ’n regsgeneeskundige laboratorium of dodehuis ’n rekord wees. Met John Kannemeyer se skryf van JM Coetzee se biografie het hy my genader oor iets soortgelyks. Nicholas, die seun van JM Coetzee, is dood nadat hy by ’n hoë gebou in Hillbrow afgeval, afgespring of afgestoot is.

Met die datum van sy dood kon ek ná ’n lang soektog en talle oproepe na kollegas en polisiebeamptes wat destyds werksaam was by die staatslykshuis, die polisie se brief wat saam met die liggaam vir lykskouing gestuur is, opspoor waarin geskryf is: “Het gespring.” Sommer net met verwysing na ’n soortgelyke verdwyning van ’n jong mens, was dié van Rosalind Ballingall, wat na bewering by ’n hippiekolonie in die Knysnawoude aangesluit en spoorloos verdwyn het.

Ten minste vier maal in my loopbaan is losliggende skedels wat in die bosse gevind is, na ons in Kaapstad gebring om vas te stel of dit moontlik die skedel van ’n jong vrou was. Elke keer was dit óf die skedel van ’n bejaarde vrou óf ’n man en in ’n geval of twee ook sonder tande. In ’n onlangse en nog ongepubliseerde boek oor die ervaringe van ’n geneesheer in die Karoo, waarvoor hy my versoek het om ’n voorwoord te skryf, vertel hy van ’n jong vrou wat saam met haar moeder op reis was van Johannesburg na Kaapstad. Hulle het by hom aangekom en hom versoek om ’n sterk verdowende inspuiting aan die dogter te gee. Hy het geweier en skryf hoe hy later gelees het dat die jong vrou n die Knysnabosse verdwyn het. Weereens serendipiteit, dink jy nie, Wilhelm?

Die probleem met Wopko is dat ons geen datum of plek van sy dood beskikbaar het nie. Ek sal by Amanda Botha navraag doen, want dit was sy en Phil du Plessis wat die bewering gemaak het dat sy liggaam, wat koploos gevind is, met DNS uitgeken is.

******************

16 November 2016

En nou, Wilhelm, as jou kop nie klaar draai van al my gesels nie.

Ek het hierdie hele skrywe van my gestuur aan Thijs Nel - ’n kunstenaar wat ook vir Wopko in Johannesburg geken het. Hy het dit op sy beurt gestuur aan ’n vriendin wat bevriend was met Wopko en wat hom aan Wopko voorgestel het.

Hy skryf, nogal positief, aan my: “Soos al jou skrywes, vind ek hierdie ook nie net treffend nie, maar pynlik op die man af: Jou manier om die lewe te besweer en sinvol te verwerk?

"Wat gaan jy hiermee doen? Dit behoort wyd gelees te word." My kennis van Wopko en kennismaking met hom was in die laat 60’s, of ek dink selfs miskien in die 70’s. Wopko was op ʼn dag na my toe gebring deur ʼn vriendin wat haar oor hom ontferm het.

Hy was toe reeds eintlik “buite bereik” en soos ʼn kind. Kommunikasie was tee of koffie en koekies ... geen gesprekke oor kuns of letterkunde nie. Die eerste paar besoeke was tydens ʼn tydperk toe hy by die Heilsleer versorg is en later een of twee keer toe hy in Abel Road – ek dink in die White Horse Inn – gewoon het. Toe hy my groet, het hy op ʼn keer gesê: “Jy moet daar kom tee drink. Hulle gee ook koekies.”

En soortgelyk aan die vermiste oorskot van Gideon Scheepers (soos roerend verwoord in die gedig van DJ Opperman, "Gebed om die gebeente") ontvang ek enkele jare gelede, ná een van die vorige artikels oor Wopko, die ewe roerende gedig van Thijs Nel, waaroor hy die volgende skryf: “Dink jy my 'Grafskrif vir Wopko' sal in diepte verstaan word? Ek het dit aanvanklik geskryf as ʼn trooswoord vir Leti Kleyn, wat op een of ander manier gehoor het dat ek Wopko geken het.”

******************

16 November 2015, 21h35

Wilhelm om hierdie skrywe af te sluit – ek sê spesifiek “hierdie skrywe”, want ek glo daar gaan meer kom namate ek sy gedigte vanuit ’n psigiese hoek bestudeer het – ook soos ek met joune en "bipolêr" gedoen het. Ek wil vasstel of ek “skisofrene” trekke daarin gaan identifiseer. Dan gesels ons weer oor Wopko Jensma.

Ter afsluiting plaas ek, met sy toestemming, dié aangrypende gedig van Thijs Nel:

Versugting vir ’n gebeente
’n Grafskrif vir Wopko Jensma

Daardie laaste dag toe jy my groet
het jy soos die klein seuntjie wat jy
weer in die kringloop geword het
’n hand in jou sak gesteek en
die kleinste stukkie blou, bloubottelglas
’n kleinood uit jou skeppingshart
met hierdie woorde aan my gebreek

‘dié is vir jou
dit kom uit Nefertiti se graf’
daarna het ek jou nooit weer gesien nie...
het jy dalk soos die blou
in die Ewige liefde versmelt
want blou is die kleur van liefde
en is oral in en om ons heen
refleksie in water
uitspansel bokant ’n boom

Arthur von Schendel oortuig ons
blou is geen kleur nie
dit is ’n droom

miskien het jy
soos Michelangelo
die engel in die klip ervaar
en dit woord vir woord
om jou los gebeitel:

net aan die mens
word dit vergun
om die Woord
deur skeppingsdrif omgord
te ontgin en
in alle heerlikheid
vlees te word

– Thijs Nel

Met groete to volgende keer, Wilhelm.

Jou nou ook reeds bejaarde broer, net minder as ’n jaar dubbeld die ouderdom wat jy was met jou dood.

Deon

******************

Sondagaand 27 November 2016.11.27

Wilhelm, ek het jou gewaarsku. Maar hierdie stukkie nuus kan ek nie weglaat nie.

Na my “ontmoeting” met Wopko se kleinseun, Jason, het ons kontak gehou deur boodskappe wedersyds aan te stuur. En hier volg ’n gedig deur hom wat hy op 26 November op sy Facebook blad geplaas het.

I'm the air of the west, the fire of the east,
compliment myself each otherly
and a united multiple personality,
inborn vaccine at birth and prey on insanity

Ek vra toe of dit een van Wopko se verse is – die verwysing na veelvuldige persoonlikheid en die waansin het my so laat vermoed – toe skryf hy: “This one is me, I wrote it last night.”

Nou vir eers totsiens en dalk bly ek weg vir ’n tyd lank. Maar moenie te seker wees daarvan nie. Ek het hierdie hele geskrif van my aangestuur na Engela Linde (Van Rooyen) wat jou by ’n boekbekenstelling lank gelede genoem het as dié persoon wat haar talent raakgesien het. Sy het ’n verhaal ingestuur vir een van die Univerisiteit Stellensbosch se Studentblaaie waarvan jy Redakteur was.

Sy vind my artikel insiggewend en interessant.

O, ja. Amper vergeet ek. Gister was die herdenking van Henri en Christine se huweliksdatum en jare daarna ook van hulle jongste seun, Wilhelm. Ek probeer my bes om kontak te hou met al ons familielede wat nog in die lewe is.

Liefde

Deon

  • Foto's: verskaf
  • 6

Kommentaar

  • Opwindende verwikkelinge. Ek het twee skilderytjies en drie houtsneewerke deur Wopko Jensma gekoop van sy kleinseun, Jason Madonsela Jensma. En aangesien dit so waardevol is en nie per pos gestuur kan word nie, het Jason aangebied om dit self te kom aflewer. Hy is reeds twee dae op die lang pad van Pretoria en hoop om my Donderdag 15 Desember, te skakel vir aflewering. Ek sal goeie foto’s daarvan neem, en ook van die oorhandiging wat ek glo nogal van Kuns-historiese belang mag wees.

  • Ek weet nie of ek dit mag doen nie, maar sou graag hierdie kommentaar, ter aansluiting van my groot dokument wou begin met:
    Beste Wilhelm,
    En so het Jason Kemp Madonsela Jensma op 15 Desember by my aangekom met die waardevolle kunswerke van Wopko, foto’s waarvan ek later sal aanstuur. Ook die dag saam met hom deurgebring, middagete by Van Hunks gehad, Koffie en Hot Chocolate by Aegan Coffee Shop. En deurentyd baie gesels. Hy het onderhoudend vertel van die lewe van Wopko met Lydia, eers in Lourenco Marques gevestig en later in Botswana. Dis hieroor wat Jeanne Goosen so vuriglik kan vertel van haar besoeke aan Botswana saam met Wopko - hy om Lydia en die kinders te gaan sien en sy om ook Bessie Head te besoek. EK is hoogs beïndruk met Jason as persoon en gespreksgenoot - sy intelligensie en sy kennis van en belangstelling in baie uiteenlopende dinge.
    Jason is self in eie reg 'n uitstekende kunstenaar: grafiese kuns, olieverfskilderye, portretstudies in houtskool en potlood en fotografie. Gaan kyk gerus op sy kunsblad: Jason Jensma multimedia. Hy het ook uiters interessante inligting oor Egipte en die voorgangers van die Pharaohs, die CUSH-ras en bevolking, ook êrens in Afrika. Bevriend met die skrywer Peter Horn wat ook vir Wopko geken het. Ek wens so jy, Wilhelm kon met Jason gesels het. Jy sou sy intelligensie en belangstellings waardeer en geniet het. En dan het hy self ook insig in chemiese wanbalans in die brein wat tot soveel chaos en hartseer kan lei. Mooi loop tot volgende keer. Deon
    Ns: O en ek het 'n paar van daardie Kinder-Kerskaartjies wat ons elke jaar geteken het bymekaar geplaas om as my Kers en Nuwejaarskaart te gebruik. Baie goeie ontvangs gehad. D.

  • A.E. (Elsa) van Rooyen

    Wat 'n voorreg om hierdie inligting te lees - pragtige Afrikaans - informatiewe Afrikaans! Baie, baie dankie vir die geleentheid om aan die voete van Gamaliël te mag sit.

    • Elsa van Rooyen
      Hoe wonderlik om jou kommentaar te ontvang. Dit word opreg waardeer. Omdat ek nie deur sommige ander skrywers en akademici as "letterkundige" gereken word nie, beteken waardering en kommentaar op my "suiwer Afrikaans" oneindig baie.
      Deon Knobel.

  • Francois Maritz

    Deon Knobel, baie dankie vir die interessante inligting oor Wopko, in gesprek met jou broer. Dit was heerlik om hierdie in die laataandstilte te kon geniet.

  • Hélène Opperman Lewis

    Ek's spraakloos. Het lanklaas iets so roerend, so onopgesmuk, so terloops en so meevoerend gelees. Dit leef deur mens. Dankie dat jy dit met my gedeel het, Deon! Ek hoop dit word gepubliseer (of so iets) want mens wil dit graag met almal deel.

    En dan Carel (Casper) Schmidt ... is dit hy wat later in NY gewoon het? Pediater was en vriend van Herman Lategan? Daar kon tog nie twee CS'e wees nie? Kom oorspronklik van Namibië af?

    Na Thijs Nel het ek eendag per toeval tydens 'n KKNK fees in een van Oudtshoorn strate staan en luister terwyl hy met pottebakkery besig was. Net daar het ek gedink ... die man is beide digter en filosoof ... toe hy so tussendeur iets sê van: "Hoekom sal mens lelike kuns maak om teen ander se mure te hang?" Daai woorde van hom bly my steeds by.

    Hoe klein en naby is die wêreld nie.
    Die pathos het nou my siel gevoed.
    Dankie Deon.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top