’n Blik op die toekomswaarde van Afrikaans

  • 1

“Die toekomswaarde van Afrikaans” … So heet een van die Jakes Gerwel-gesprekke wat tydens vanjaar se Suidoosterfees plaasgevind het. Op die paneel sit Anne-Marie Beukes, direkteur van die Afrikaanse Taalraad, Conrad Steenkamp, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, Hendrik Theys, ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad en Christo van der Rheede, wat as die gespreksleier opgetree het.

Anne-Marie Beukes, Conrad Steenkamp, Hendrik Theys en Christo van der Rheede, met Basil Kivedo aan die woord

Van der Rheede sê dat ’n taal sonder toekomswaarde ’n dooie taal is, maar dis nie die geval met Afrikaans nie. Daar is miljoene sprekers wat Afrikaans van dag tot dag lewend hou. Afrikaans word in sekere werksplekke gereeld gebruik, veral ook in die uitvoerende kunste. Hy noem onder andere onderwys en opleiding, publikasie, advertering, televisie, musiek, toerisme en kunstefeeste. Omdat Afrikaans vele sektore beslaan, is dit belangrik om oor die toekomswaarde van Afrikaans te gesels.

Beukes meen dat die toekoms van Afrikaans in die omarming van ons land se taal- en kultuurdiversiteit lê en dat ons daarom ernstig moet begin raak oor meertaligheid. Afrikaans kan nie in isolasie bevorder word nie en taalnetwerke sal geskep moet word sodat verskeie faktore kan saamwerk om Afrikaans se toekoms in ’n meertalige konteks te verseker.

Steenkamp het die belangrikheid van moedertaalonderring beklemtoon deur uit te brei oor die wanpersepsie wat daar onder sekere ouers en voogde is oor die idee dat onderrig in Engels hul kinders op ’n internasionale beroepslewe voorberei. Daar is sommige ouers wat dink aan emigrasie en dat kinders plaaslik sowel as internasionaal sal floreer as hulle slegs in Engels studeer.

Theys het vanuit ’n onderwysperspektief gepraat en ook beklemtoon dat moedertaalonderrig belangrik is as ouers wil hê hul kinders moet hul volle potensiaal bereik.

Vanuit die gehoor het daar ook ’n paar angstige kwellinge gekom, soos die taalkwessie aan die Universiteit Stellenbosch, probleme met betrekking tot taal in die onderwys, skole wat al hoe minder in Afrikaans begin les gee, en hoe ons gaan verseker dat Afrikaans nie verder afgeskaal word tot waar dit uiteindelik totaal en al uitgefaseer word nie.

Mercy Kannemeyer (links agter) en Danny Titus

Hendrik Theys, Willa Boezak en Christo van der Rheede

Hierdie tipe gesprekke het my in die afgelope jaar so ’n bietjie ongemaklik laat voel, want die manier waarop daar vanuit sekere oorde na die taalkwessie gekyk word, gaan gepaard met soveel angs dat dit my sommer afskrik. En dit voel ook asof ek dieselfde argumente by meer as een geleentheid maak. Afrikaans floreer op ’n hele aantal terreine; die kunste is een daarvan. Afrikaans het ook so ’n groot voorsprong op navorsing en akademiese gebied dat dit nie sommer net sal uitsterf nie. Dalk is ek te idealisties, maar ek wil nie so bang wees oor my taal nie.

Ek weet dat dit vir sommige taalaktiviste nie genoeg is dat mense net Afrikaans praat nie – dit moet op tersiêre gebied ook prioriteit geniet. En ek stem gedeeltelik saam, maar Afrikaans gaan moet leer om ander tale te omarm, sodat die taal nie op ’n eiland groei nie. Dit beteken absoluut niks as ons wil aanspraak maak op moedertaalonderrig, maar nie dink aan hoe al die ander moedertale van ons land saam kan groei en ontwikkel nie. Ons stryd vir Afrikaans moenie onder die sambreel van moedertaalonderrig gehou word as ons eintlik net omgee oor Afrikaans nie. Skynheiligheid gaan nie die taal enigsins red nie.

Conrad Sidego aan die woord

Nog iets wat swaar op my hart rus, is hoe daar gereeld gesê word dat die toekoms van Afrikaans in bruin hande lê. Aanvanklik het ek nie bereid gevoel om alleen die juk van die taalkwessie te dra nie, maar ek kan nie toelaat dat sommige organisasies met hul eie politieke agendas namens my praat nie. My pleidooi rakende die toekomswaarde van Afrikaans is dus dat daar spasie gemaak sal word vir jongmense om te gesels. Ek besef ons weet nie alles nie, maar ’n handjievol van ons is wel bereid om te leer. En daardie handjievol mag dit dalk regkry om groot skares in die regte rigting te lei.

Daar word deur talle organisasie baie goeie en vernuwende werk gedoen en dis verblydend. Afrikaans het ’n enorme toekomswaarde, en deur volgehoue werk deur die nodige netwerke sal Afrikaans floreer, mits die regte mense die goeie stryd stry. En dit val natuurlik nie binne my jurisdiksie om te sê wie die regte mense is en wie nie, want almal wat ’n belang het by Afrikaans mag mos daarop aanspraak maak. Sodra jou rol en werk binne die Afrikaanse debat egter sprekers van die taal, sowel as sprekers van ander tale, uitsluit, kan jy maar weet jy baklei dalk net vir jouself.

Foto's: Naomi Bruwer

Lees ook:

https://www.litnet.co.za/suidoosterfees-2018-wat-die-toekomswaarde-van-afrikaans-anne-marie-beukes/

https://www.litnet.co.za/suidoosterfees-2018-wat-die-toekomswaarde-van-afrikaans-christo-van-der-rheede/

https://www.litnet.co.za/suidoosterfees-2018-wat-is-die-toekomswaarde-van-afrikaans-conrad-steenkamp/

  • 1

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Al hierdie voordragte is op dieselfde geykte manier op 'n dwaalspoor. Voorstanders van Engels tob nie oor Engels-variëteite en meertaligheid nie. Hulle beweer nooit dat Engels se voortbestaan van ander tale afhanklik is nie. Engelssprekendes dwarsoor die wêreld is berug vir hulle eentaligheid. Terselfdertyd probeer die meeste mense wat Engels praat (moedertaal- en ander sprekers) dit so korrek moontlik doen. As Afrikaanssprekendes verlang dat Afrikaans in 'n eerbare vorm, bv as 'n taal wat duidelik van veral Engels onderskeibaar is, moet voortbestaan, sal hulle taalsuiwerheid en Standaardafrikaans moet bevorder. Dit is ongewens dat Afrikaanssprekendes op 'n paternalistiese manier probeer om ook die gebruik van ander tale te bevorder. Pleks van sowel Afrikaansvariëteite as ander tale te bevorder, behoort Afrikaanssprekendes hulle kragte saam te snoer deur Standaardafrikaans te bevorder. Ook in hierdie geval is daar in eenheid krag.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top