Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Groen soos die hemel daarbo deur Eben Venter

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Eben Venter

Eben Venter word op ’n skaapplaas in die Oos-Kaap groot. Hy studeer filosofie en werk as kopieskrywer en joernalis. In 1986 emigreer hy na Australië, waar hy as sjef twee van sy eie restaurante bedryf. Sy veelbekroonde romans is al in Engels, Duits en Nederlands vertaal.


Opsomming

Groen soos die hemel daarbo
Eben Venter
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624082613

“Toe, soos vantevore, het ek myself oortuig dat seks alles oorwin, alhoewel ek rêrig nie kan sê wat alles behels nie.”

Simon is ’n wêreldreisiger, vertroud met die reëls van vryheid en ongebonde plesier.

In Bali verbind ’n selfoon-app twee vreemdelinge vir anonieme seks, terwyl die taal op hulle lippe identiteite eggo wat albei reeds agtergelaat het. Kaapstad is vol versteekte ruimtes vir die uitleef van sensuele vryhede, maar in Nederland kom die skrywende Simon te staan teen homself. In Tokio probeer twee ex-pats vrede maak met die land wat hulle van mekaar skei, en in Istanbul staan hy op die grens van die liefde.

Deurentyd keer herinneringe terug: kleintyd in die Oos-Kaap, sy pa, die plaas en voorligting aan die hand van ’n beesboerdery. In sy sielkundige se spreekkamer bind Simon die grepe van oomblikke en ervarings saam, met dr. Spiteri se insigte.

’n Vreeslose verkenning van moderne seksualiteit, intimiteit, en identiteit.


Uittreksel

Ek en my pa staan op ’n wal vasgestampte grond. Fris gebou, hy, en dié tyd van die jaar bruin soos die grond onder sool. Ek is so ’n raps verby tien en staan daar in my kort kakiekortbroek. Bokant ons sprei die Oos-Kaapse hemel geskroeide ylblou.

“Dis maar net dieselle as ons,” sê my pa.

Ek kyk op, waarnatoe? Sy voorarm wys na ’n trop bees regs van die wal. Daar’s twee wat nie wei nie, maar besig is om te paar.

Die bul se voorkwart is opgehef sodat hy die koei kan klim. Sy agterkwart, die deel wat stoot, is die ene bultende spier. Sy’s kleiner as hy, die koei, met so ’n golwende, blink beesvel. Uitstekende kondisie. Ek hou weg van my pa, al wes op die rug van die wal sodat ek die koei mooi kan sien gedek word. Daar’s verwildering in haar oë, gewoonlik sag en blink, en sy staar so voor haar uit, gebroke, en toe, gedurende daardie laaste stote net voordat sy haarself oplig en wegtrek, verskrik.

Ek kyk op na my pa. “Dis maar net dieselfde tussen ’n man en ’n vrou,” sê hy weer. Met stemtoon wat finaliteit aan die saak gee. Dis hoe die mens paar, uit en gedaan.

Ons stap aan op die vasgestampte grondwal. Die wal loop wes aan die voet van die koppies, bespikkel met klippers en blougroen besembos. As reën kom, so kosbaar op ’n plaas in die Noordoos-Kaap, loop die water teen die koppies af tot teen die wal waar dit stroom maak, groter en dikker, totdat dit dikloop en die dam stadigaan begin volmaak. Die dam, deur my pa aangelê, was die lewensbron op ons plaas. My pa was in alle opsigte ’n vernuftige boer.

“Daar was ’n sekere doktor Jan Bonsma,” vertel hy terwyl ons aanstap, soms is hy voor as die rug versmal en net een man kan vat. My pa se treë was breed, vorentoe, en hy’t uitgegooi.

“Jy sien, hy’t sommer gou gesien die Europese rasse vaar maar swak hier by ons. Helemaal te warm vir hulle. En droog ok nog. Hulle gooi al hulle gewig af. En toe, oor die jare, teël hy ’n nuwe ras, meestal Afrikanerbees, jy weet mos. Die rooies met die horings,” en met dié lig hy sy arms op en hou hulle so wyd hy kan weerskante van sy kop.

“Ek ken hulle, Pa,” sê ek vies.

Hy swaai om agter toe, kantel sy kop en rek sy oë.

“Nou ja, die Bonsmaras wat vandag hier op ons plaas loop, is geteel uit Afrikanerbloed, meestal, en toe gekruis met die Hereford en die Korthoring. Dis wat jy hier by ons het vandag. Kyk ’n bietjie na daai boude, jy kan hulle mos nou nie gaan staan en vergelyk met die Nguni wat nou kamtig die in-ding is nie, hulle kan nooit as te nimmer die gewig van die Bonsmara aansit nie.”

My pa stop, haal sy groot wit sakdoek uit sy broeksak, vou hom so mooi oop in sy hand en met ’n enkelpluk raak hy ontslae van ’n boetebos, daai vuilgoedplant met sy langwerpige sade wat aan die wol van die merino vashaak en dit nikswerd maak. Die boetebos bly ’n pes selfs al hou jy nie merino’s aan nie, en my pa het nie. Hy het, soos ek gesê het, slim geboer en lankal oorgeskakel na die meer geharde Dorperras.

En verder niks meer oor die bul wat die koei gedek het nie. Die middag was gebaai in ’n melkerige blou. Links van ons die koppies en regs grasvlakte. Reg voor my my pa se bene in sy plaaskortbroek. Die bleek streep aan die agterkant van sy knieë was al variasie op die bruin van sy stewige bobene en kuite.

En dít het ook by my vasgesteek: daai geswolle bul. Sy riempiel, was al hoe ek die dik ding kon beskrywe. Dis wat ons het en die koei nie. Dit word snaaks. Na hy gesê het wat hy gesê het, kon die bul my pa ook nie meer skeel nie. Dis ek wat bly kyk het hoe die bul homself uittrek, sy kop laag hang en so in slow motion swaai, klaar, hy was klaar met sy besigheid, en wegstap van die trop sonder om eers om te kyk. Toe stop hy, lek sy flank met daai breë dik tong van hom en piets-piets met sy stert, en sy dinges trek stadigaan binne die skede weg. Hy sak weer sy kop en draai ’n karoobossie af, die klein ronde bossie net ’n raps hoër as sy hoewe, en lekker gekerrie na die somerreën.

My pa het nie weer oor die ding van paar gepraat nie, niks daarop uitgebrei, nie eens ’n bietjie advies nie. Nooit, ooit weer nie. Daardie middag terwyl ons aangestap het op die vasgestampte grondwal en later begin afsak en suid gehou het, met die koppies nou aan die eenkant, en deur ’n klofie van waar die huis en werf en die buitegeboue begin uitsteek het, al daardie pad kon ek nie die ding wat hy oor die bul en die koei gesê het, uit my kop kry nie. En hoe dit maar net dieselfde by ons is nie.

Jare later, so lank as dit my gevat het om lekker in my vel rond te loop en in te val by ’n kamer vol kaal mans, sê so ’n stuk of tien, en eenhonderd persent gemaklik daarmee te wees, wel, byna, het ek weer daardie middag saam met my pa op die vasgestampte grondwal onthou.

Die terugflits het gebeur in die kusdorp van Seminyak op die eiland Bali waar ek met vakansie was saam met my vriendin Miriam en haar Aboriginal kêrel, ’n ou met die naam van Ralton.

Ek word die oggend wakker op my bed, groter as enige bed waarop ek al geslaap het in Australië, want dis waar ek nou bly. Daar is slegs twee kamers in ons privaat villa, elk met eie badkamer. Dubbele gaasdeure maak oop op ’n stoep met pilare en mure ’n paddagroen geverf, en van die stoep af loop jy met trappies die ommuurde tuin binne. Hier is dit ’n weligheid van heliconia en frangipani en strelitzia nicolai.

Bokant my bed draai die waaier lou lug. Oggendsweet blink op my en sou ek my arm teen die lig hou, val dieselfde tuingroen van buite op my vel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top