Die wêreld van Charlie Oeng: ’n resensie

  • 1

Die wêreld van Charlie Oeng
Skrywer: Etienne van Heerden
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624080527
Prys: R350

Op Guy Fawkes-dag November 1964 verander Tian Kilian se lewe ingrypend toe hy sy vermoorde ouers se liggame ontdek op hulle Karooplaas, Slootplaas. Die volle besonderhede van hierdie wrede moord, wat plaasvind tydens ’n vuurwerkvertoning deur die Kantonees Charlie Oeng word eers veel later vertel en noop die leser om voort te lees. Tog word daar reeds van vroeg in die roman gewag gemaak van die enigmatiese Oeng se aandadigheid aan hulle dood, maar sy motivering bly onduidelik.  

Tian self voel aandadig aan sy ouers se dood, omdat hy verskeie dinge oor Oeng nooit aan sy ouers vertel het nie. Hierdie skuldgevoel hang soos ’n nooit aflatende swawelreuk aan hom en eers die liefde van die lugwaardin en “halfbloed”, Jenny May, verlos hom veel later daarvan. Dit is asof Tian self sy identiteit verloor het (bykans gesterf het) tydens die moord. Daarom besluit hy om die lewensgeskiedenis van Oeng na te vors en neer te skryf. Daardeur hoop hy om ook duidelikheid oor homself te kry.

Die reis wat hy onderneem na die verblyfplekke van Charlie Oeng in Amsterdam en Kowloon, Hongkong, is inderwaarheid ook ’n psigiese peregrinasie na die verlede en (psigiese) bronne van sy eie bestaan.

In Van Heerden se werk is die verlede altyd die palimpses van die hede. (Op bl 141 word vertel van foto’s wat ontwikkel word en op hulle is dit asof elemente uit die verlede, hier Boesmantekeninge, sigbaar raak.) Deurgaans bly die parallelle tussen die twee lewensgeskiedenisse opvallend: beide vervreemde buitestanders wat hulle uitweg soek in die kuns as surrogaat: die uitgewer van boeke wat later ook sy eie skryf (Tian); die skilder Charlie Oeng. Beide soek ook, skynbaar sonder sukses, na die volmaakte en durende liefde. Tian se roman is opgebou in 36 hoofstukke volgens die Sjinese krygstaktiek (beskryf in ’n boek van Stefan Verstappen). Die doel daarvan is om die vyand te oorwin deur ’n reeks (misleidende) tegnieke. ’n Mens ontkom nie aan die gevoel dat ook die leser van die roman uitgelewer is aan die skrywer wat hierdie tegnieke narratologies  inspan nie.

Charlie Oeng se lewe is in ’n sekere sin tipies van die gekolonialiseerde: vervreem van ’n bepaalde ruimte, taal en identiteit moet hy aanpas by ’n ander ruimte, kulturele gebruike en taal. Verskeurd teen wil en dank tussen sy Kantonese/Sjinese en Nederlandse identiteit raak hy ’n randfiguur wat in die skilderkuns iets van ’n toevlug vind, maar gaan dan deur Ouma Voetjies se inmenging eers by ’n fietswinkel werk. Daar kruis sy paaie met dié van ’n Nederlandse meisie, maar weens sy Sjinese identiteit is dié verhouding van meet af aan gedoem en het dit selfs ’n tragiese afloop. Later gaan werk hy by ’n slagter, waar hy tussen bloed en derms leef en afgestomp raak. Charlie ervaar van jongs af verwerping, vernedering en spot, en een van die dinge wat hy die meeste vrees is “om gesig te verloor”. Om vir hom “gesig te verwerf”, aansien te kry, word hy deel van die Sjinese onderwêreld en pleeg ook ’n moord.

Charlie moet vlug vir die Triade en beland eers as straatkunstenaar in Parys en word (op ietwat ongeloofwaardige wyse) ’n kok vir Nazi-offisiere, en hy maak ook tekeninge van hulle. Later, in Kowloon, werk hy as bedelaar, film-ekstra op die filmstel van The world of Suzie Wong en word gedwing om ’n huurmoord te pleeg. So kom Charlie uit die verf as kunstenaar en moordenaar; gebruiker van sowel die penseel as die mes. Al die plekke waar hy vertoef bied die geleentheid vir beskrywings van (eksotiese) ruimtes, lang uitbreiding oor koloniale vergrype en die leefwyse van verskillende kulture, soos die Sjinese s’n. Maar voortdurend val die klem op die oorlewing van ’n pikareske figuur te midde van onderdrukking en vernedering.

Tian, aan die ander kant, word groot in die Karoo op ’n tipiese plaasopset in die traumatiese sestigerjare van die vorige eeu. Rasse-onderdrukking is aan die orde van die dag en swart mense se lyding, en veral sosiale onderhorigheid, word byna as vanselfsprekend aanvaar, ook deur die verligte ouers van Tian. Uit die roman spreek ’n diep verontwaardiging én skuldgevoel van die verteller. In die proses maak Van Heerden (soos in Toorberg) weer ’n beduidende vernuwende bydrae tot die moderne Afrikaanse plaasroman, ’n romansoort wat parodiërend omgaan met die tradisionele Afrikaanse plaasroman. Weer word kernaspekte daarvan (soos die idilliese ruimte en die erfopvolging) op hulle kop gekeer. Boonop speel hierdie roman ook op ’n dorp af en word ook vernuftig ingespeel op tipiese aspekte van die tipiese Afrikaanse dorpsroman (soos die geheime nuwe intrekker, die femme fatale en ongeoorloofde verhoudings). Onder die kalm oppervlak skuil kragte en ’n broeiende rassekonflik wat ophoop.

Tipies van Van Heerden se oeuvre is ook die vermenging van realistiese en fantastiese elemente, sy eie inkleding van die magiese realisme. Dit is weer eens ruimskoots aanwesig, veral in die figuur Ouma Ogies, die blinde siener, sy wat nie spore laat nie en dit wat gaan gebeur reeds vooraf sien. Maar ook die uitbeelding van Charlie Oeng, wat boer met drakies wat vuur spoeg, en tekeninge maak wat lewe kry, streef die realisme verby.

Van Heerden problematiseer in sy oeuvre dikwels bepaalde narratiewe truuks en konvensies, soos verwag kan word van ’n gesoute dosent in kreatiewe skryfwerk. In hierdie roman kry die leser ’n ek-vertelling van Tian, maar word dit eintlik ’n alwetende (of ouktoriële) ek wat aan die woord is: op “alwetende wyse” word die geskiedenisse van Charlie Oeng, Ouma Voetjies en Ouma Ogies vertel en hulle gedagtes en dialoë weergegee, maar altyd met die kanttekening van “soos ek my dit verbeel” of “soos ek my voorstel”. Tian se weergawe van Charlie Oeng se “wêreld” is ’n moeisame herkonstruksie van ’n ontglippende lewe, omdat dit verweef is met die lewens van soveel ander én met die geskiedenis self. Boonop word dit soos die opbou van ’n antieke vaas waarvan stukke ontbreek, ’n proses van inbeelding en interpretasie. Die roman wat ons lees, is inderwaarheid Tian se vertelling self en dit word deurspek met metanarratiewe opmerkings oor die moeisame skryfproses. Agter Tian gaan die (abstrakte) outeur skuil, wat suggereer dat die skryf van ’n roman oor die onkenbare Ander ’n gevaarlike onderneming is en aan die onmoontlike grens. In die proses word nie net gesuggereer dat vertellings onbetroubaar is nie, maar dat die hele proses van representasie vol valkuile is.

Dit is daarom duidelik dat hierdie roman nie net fundamentele aspekte van ’n narratief problematiseer nie, maar ook boordens toe vol is van uitsprake van ontologiese én epistemologiese kwessies. Immers: oorspronge is nie agterhaalbaar nie – ook nie dié van mense nie. Lewens is moeilik herkonstrueerbaar, die waarheid is onvindbaar en skuld onbepaalbaar. Hierdie opvattings, saam met bepaalde narratiewe tegnieke soos deurstreping, vermenging van die fantastiese en realistiese (die drakies wat vuur spoeg!), waarheid en verdigsel, wetenskap en mite, laat duidelik blyk dat hierdie roman postmodernisties is tot en met, hoewel die aanslag wegskram van teoretiese vernaamdoenery. Wat die proses van herkonstruksie van Charlie Oeng se lewe verder kompliseer, is die feit dat die Westerse waarnemer, soos Tian, hom vaskyk teen die eksotiese aspek van die Ander (die Oosterling), byna soos die film The world of Suzie Wong waarna hier veelvuldig verwys word, ’n Westerse vertekening was. Dit is reeds ’n waarskuwing uit postkoloniale hoek gerig by monde van Jenny aan Tian én Van Heerden self: representasie van die gekolonialiseerde Ander kan slegs deur empatiese inlewing geskied en noodsaak in feite die tegniek van deurstreping (sous rature) waardeur moontlikhede eers geopper of weergegee word en dan ondermyn word.

Postmodernisties is ook die gebruik wat Van Heerden maak van populêre romansoorte. In die tipiese speurverhaal is daar ’n moord, ’n moordenaar, speurder en uiteindelik ’n motief. Soms begin ’n speurverhaal met die moord en met die onthulling van die moordenaar se identiteit. In die roman gaan dit dan daarom om die motief te agterhaal, die moord te rekonstrueer en die moordenaar self te deurgrond. Dit is op hierdie stramien dat Van Heerden se roman geborduur is. Tian se soektog na insig in die aard en motivering van die dader voer hom na verskillende lande; dus is dit ook ’n reisverhaal (net soos Oeng se wedervarings ook is). Verder bevat die vertelling van Charlie Oeng se omswerwinge al die bekende elemente van die avontuurroman. ’n Stuk geskiedenis wat weggelaat word in die roman is Tian se jeug in pleegsorg. Die suggestie is dat dit te traumaties was om onder woorde te bring. Tog is dit ’n funksionele leë plek: Tian het nooit werklik volwasse geword en sy jeug agtergelaat nie; eers in sy skryfpoging slaag hy daarin. Daarom is die roman ook ’n (laat) ontwikkelingsroman.

In die roman het ek ’n paar taalfoute opgemerk (“op sy pinkie”, “gesig verloor”, “emu” ipv “emoe”), en selfs ’n feitefout: dit is tog die dodo wat uitgesterf het, en nie die emoe nie (bl 432)! Maar vitterigheid ter syde. Van Heerden skryf altyd skynbaar moeiteloos en sy prosa is dikwels meesleurend. Soms is daar egter ’n oordadigheid en raak die taal net te welig. In hierdie roman word die taal veel meer ingetoom, maar die groter soberheid verhinder gelukkig nie dat hier steeds stukke prosa is wat ’n mens in hul liriese geslaagdheid sal bybly nie. Verhaaldrade word goed geïntegreer, karakters boei en oortuig. Oplaas word Charlie se storie en Tian se roman moeiteloos een, net soos mnr Y en die knolskrywer s’n in Leroux se 18-44. Van Heerden se roman bevestig trouens weer eens die seminale aard van die Leroux-roman. Leroux se knolskrywer is besig met sy roman in sy kliniese huisie gebou deur sy homoseksuele vriend, die argitek; Tian skik dag en nag “aan die lewe van Charlie Oeng en die vuil koffiekoppies soos ’n trop drakies op die tafelblad om my staan” (bl 255). Beide romans is metanarratiewe én die leser lees uiteindelik die roman wat beide karakters geskryf het. En albei is geslaagde romans.

Van Heerden bereik met hierdie roman weer die peil van sy beste werk.

*HP van Coller is buitengewone professor, Skool vir Tale, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom.

Glossarium

Palimpses verwys na ’n stuk perkament waarop ’n vroeëre teks uitgewis is en waarop dan weer geskryf is. Deur moderne tegnieke kan die weggewiste teks aangetoon word.

Deurstreping hou in dat ’n woord (of voorstelling) onnoukeurig, onbetroubaar of verkeerd is en dus uitgewis word. Omdat dit egter nodig is, bly dit leesbaar. Daardeur word aanwesigheid en afwesigheid in taal ter sprake gebring. Hierdie begrip is ook aanwesig in die denke van Jacques Derrida, wat sê dat uitwissing/uitvee “does not mark a lost presence, rather the potential impossibility of presence altogether” – met ander woorde, die onmoontlikheid van een eenduidige betekenis wat in die eerste plek toegeskryf is aan die woord of term.

Die ontologie hou verband met bestaan en wording; die epistemologie gaan oor die ontstaan en die grense van die menslike kennis.

Stramien is gaas om op te borduur.

’n Leë plek is ’n funksionele weglating mét betekenis (soos ’n ontbrekende rymklank waar dit verwag word in ’n gedig) – die minus priem in die woorde van Jurij Lotman.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top