... met twee brille op lees. Die een bril vir die letterlike verstaan van 'n teks, dan haal jy hom af en lees dieselfde teks deur die kritiese bril.
Dan, sê die teoloë volgens die verhandeling wat deur Pieter R (19-09) hier geplaas is, sal jy 'n beter verstaan kry oor wat die Bybel nou eintlik bedoel. Hulle verwys dan ook na die teksvers wat sê dat die hele Skrif deur God geïnspireer is.
'n Dubbelsinnige God dus, nee, nie eintlik nie. Hulle maak gewag daarvan dat die betekenisse van die Hebreeuse (ou Testamentiese ) tekste en die Griekse (nuwe Testamentiese ) tekste deur die vertalers besoedel is.
Netjies kom hulle by die teks verby wat lui dat die Woord deur God geïnspireer maar deur die profete en apostels neergepen is. Dit is dus die vertalers wat die oorsaak is dat ons vandag met 'n dilemma sit. Wat gaan dan vir wat?
Wat het die Bybelskrywers dan geskryf? Moet 'n mens nou die hele Bybel wantrou ... wat is waarheid en wat nie. Was daar sonde in die harte van die vertalers wat veroorsaak het dat die boodskap van die Bybel skeefgetrek word/is?
Die Bybel sê dat die Satan in alle vlakke van ons bestaan teenwoordig is en dat hy soos 'n brullende leeu lê en wag om op elke denkbare wyse God se kinders te verslind. Hoekom sou hy nie in die verstand van die vertalers kon insluip en hom voordoen as die engel van die lig en dan skewe teks vertalings bewerkstellig nie.
God sê dat Hy 'n jaloerse God is, Hy verdra geen ander gode nie en haat dit as Sy skepsels hulle tot dit wend. Die afgode-tempels van die volke rondom Israel was grootste en majestueuse geboue, vol prag en praal. As 'n ekstra beweegrede om dit te besoek is daar prostitute, manlik so wel as vroulik, in die tempels beskikbaar gestel vir die plesier van die besoekers. Die seks wat daar plaasvind is dan gekoppel aan afgodediens. Seks gaan dus gepaard met die aanbidding van afgode.
Met die instelling van die huwelik is dit nie wat God ingedagte gehad het nie. In Billy Graham se in Afrikaans vertaalde boek Noodberig, spreek hy dieselfde onderwerp aan. Seksuele losbandigheid word in samehang met afgod-aanbidding gesien. En dit is dit waarteen God ons waarsku.
Van Eck en Barnard verwys na die verskynsel dat die Bybel niks oor vroulike homoseksualiteit te sê het nie. Die argument dat die man die draer van die sperm is kan volgens my omgedraai word en geargumenteer word dat die vrou die eiersel dra. Man-man en vrou-vrou, in beide gevalle is voortplanting nie moontlik nie. In laasgenoemde geval waar vroue mans weier sal menslike voortplanting dan net deur verkragting kan geskied.
Omdat die vertalers buite-huwelikse seks met afgodediens in verband bring, kom hulle wat natuurlik gay georiënteer is voor 'n groot keuse te staan. Van Eck en Barnard noem dat dit vir die oorgrote meerderheid mense net nie moontlik is om lewenslank sonder seks klaar te kom nie. Indien hy gay georiënteer is, sal hy 'n manier vind om uiting aan sy natuurlike drang te gee.
As sy natuurlike voorkeur dan afgodsdiens (sonde) is, verwerp hy God. Want hy kan nie anders nie. Jaco, hier, na wie ek besluit het om as 'n ginefoob ( vroue vrees ) te wys, is 'n sprekende voorbeeld. Soos die vertalers die Bybel vir hom aanbied is sy voorkeur nie te versoen daarmee nie. Daarmee is hy eerlik.
Maar hy hoef nie God te verwerp nie.
So drie of wat jaar terug, was daar so sewe of agt meisies en drie seuns, almal sestienjariges in my kategese groep. Een meisie wou weet of gays hemel toe gaan en toe ek na haar kyk merk ek dat die ander se oë almal in een rigting draai. Na 'n pokkelrige outjie hier langs my. Hy het daardie tyd op skool opspraak verwek met sy vermoëns met musiek.
Ek het haar gevra of sy daarvan sal hou as iemand hier haar nie in die hemel wil hê nie. Haar antwoord was 'n besliste nee. Ek het toe aan die groep gesê dat ons as mens nie kan besluit wie in die hemel toegelaat behoort te word nie. Dis nie ons probleem nie. Dis God se hemel en Hy alleen sal besluit wie daar hoort en wie nie. Sorg net dat julle elkeen daar sal kom en nie dalk uitgesluit sal word nie. Ek het toe besluit om die outjie in die groep in te trek en so onopsigtelik bietjie meer aandag aan hom te gee.
Verlede November by die afsluiting was hy ook daar. Slank, volwasse 'n mooi jong man. Sy moeder na my gekom en gevra of ek X onthou. Sy het haar arm op my skouer gesit en net gesê Dankie. X het haar vertel dat hy in my kategese groep was.
Verlede Sondag is hy ( B-mus amper honneurs ) in die kerk en bespeel hy sy instrument, suiwer.
Na die verdaging kom my vrou na my toe en vra "Is hy gay?" Ek weet nie. Sy sê "maar sy lyftaal".
Daar kom toe 'n yskoue beklemming om my hart. Gaan hy ook omdat sy natuurlike instinkte dit dalk dikteer en die vertalers dit skeef het, God verwerp?
Groetnis
Raed-na-Gael


Kommentaar
Beste Raed-na-Gael,
Baie dankie vir jou inset wat ek besonder baie geniet het. Die volgende paragraaf van jou is werklike geïnspireerd:
Die Bybel sê dat die Satan in alle vlakke van ons bestaan teenwoordig is en dat hy soos 'n brullende leeu lê en wag om op elke denkbare wyse God se kinders te verslind. Hoekom sou hy nie in die verstand van die vertalers kon insluip en hom voordoen as die engel van die lig en dan skewe teks vertalings bewerkstellig nie.
Ek vind hierdie suiwer briljant, en dank jou vir jou skerpsinnigheid om hiermee voor die dag te kom.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys
Raed-na-Gael
Ek moet jou komplimenteer vir 'n goeie uiteensetting hierbo. Genoemde studie is ten doel om geloofwaardigheid aan homoseksualiteit met die Bybel te koppel, vir gay Christene, wat so graag aanvaarding daarvoor in die Bybel te vinde wil hê.
Ongelukkig ontbreek argumente in hierdie studie aan die skrywers se eie maatstawwe in sekere gevalle, als voorbeeld dat die sosio-kultuur van die tyd in ag geneem word soos bv dit word beweer bv dat sekere tekse na verkragting van mans eerder als instemmende seks verwys word, soos in die geval van oorlogvoering, en xenophobia. Van die oudste dokumente (ouer as die bybel) toon oordeel van homoseksualiteit in die wetgewing van Hamurabi en van die Akkadians, waar in sekere gevalle genoem word homo's moet ontman word (dws in 'n "saris" - eunuch omskep word). Dit word algemeen deur bybelkundiges aanvaar dat die meerderheid van Levitikus se wette van vorige heidense wette ontleen is.
Indien enigeen die Bybel als god se openbaring aanvaar, dan moet hulle aanvaar alles wat daarin staan, ingeslote hieronder wat in dieselfde asem gesê is as als die doodmaak van Homo's, nl:
"Die sewende dag (nie Sondag) van die week moet ’n gewyde dag wees. Dit is ’n rusdag tot eer van die Here. Elkeen wat op dié dag werk, moet doodgemaak word. Jy mag ook nie op die rusdag vuur maak nie (Eks. 35:2–3).Dit is verbode om ’n waterdier te eet wat nie vinne en skubbe het nie (Lev. 11:9–10). Kreef en garnale mag dus nie geëet word nie.As ’n priester se dogter haar ontwy deur te hoereer, ontwy sy ook haar pa, en moet sy daarom verbrand word (Lev. 21:9).Jy mag nie die hare voor die ore en die wangbaard knip of snye en tatoeëermerke op jou liggaam maak nie (Lev. 19:27). Jy mag nie verskillende soorte diere kruis of verskillende soorte saad in een land saai of ’n kledingstuk van verskillende soorte materiaal dra nie (Lev. 19:19). Wie die Naam van die Here oneerbiedig gebruik, moet die doodstraf kry. Die hele gemeente moet die oortreder met klippe doodgooi (Lev. 24:16). ’n Vrou wat nie swanger kan raak nie, mag haar slavin aan haar man gee om ’n kind te verwek wat dan as haar eie beskou sal word (Gen. 16:1–2). ’n Man mag meer as een vrou hê (Gen. 4:23–4; 26:34; Deut. 17:17; 1 Kon. 11:1–3; 1 Sam. 1:1–2; Eks. 21:10–11; Deut. 22:28–9). ’n Kind wat sy pa of ma slaan of vloek, moet doodgemaak word (Eks. 21:15, 17). Dit geld ook vir ’n man wat egbreuk pleeg met ’n vrou van ’n medeburger (Lev. 20:10).Wanneer twee mans stry en die een slaan die ander met ’n klip of die vuis sonder om hom te dood, is dit aanvaarbaar (Eks. 21:18–9).Jy mag nie geld teen rente uitleen nie (Deut. 23:19). Seksuele gasvryheid (’n man wat sy vrou of dogters aanbied as “onderhandelingsmiddele” met die oog op byvoorbeeld politieke of ander voordeel) is aanvaarbaar (Gen. 19:8; 20:2; 34:1–10)."
So Christene wat gay Christene onder Bybelse vloek wil oordeel, moet ook self veroordeel word omrede hulle nie bogenoemde Goddelike wette nie nakom nie.
Ek wat gay ateis is, hoef gelukkig nie met hierdie probleem te worstel nie
Jaco Fourie
Jaco,
Ek wil nie nog 'n polemiek begin nie, maar al die wettiese voorskrifte vir saligheid soos deur jou hierbo aangehaal is deur Christus se kruisiging en opstanding ongedaan gemaak. Die suiwere onderhouding van enige of almal van hulle enof van die 10 Gebooie, sal geen mens in die hemel kry nie. [ Rom. 4: 5,14, (lees gerus )]
Maar dit weet jy mos. (Ek worstel ook nie met die wettiese probleem nie )
Groetnis
Raed-na-Gael
Beste Jaco,
Na die lees van jou brief ontstaan onvermydelik die gedagte by my: Hoe is dit moontlik dat die Bybel beskou kan word as die "Woord van God"? Dit is mos uiters onsin. Trouens, dit is die woord en produk van mense.
As daar wel 'n God bestaan, skepper van hemelruimte en aarde, en die siel van die mens, kan dit tog nie dieselfde persona wees wat hom voordoen as, Jahweh, in die Ou Testament nie. Daardie verbode wat jy lys is mos bedoel vir 'n Semitiese stam waarvolgens hulle moes leef en oorleef tweeduisend jaar voor Christus.
Miskien is dit tyd vir 'n nuwe Protestante Reformasie, en 'n herskryf van die Bybel. In die finale analise is dit die woord van mense.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys
Hello,
Hello,
Hello Raed-na-Gael
Hello,
Dan is daar ook nog die tragiese ironie dat Jaco die selfverklaarde ex-christen en nou ateïs, die volgende stelling in die Bybel bewaarheid.
Heb 6: 4-6
Die oordeel egter, kom ons geensins toe nie, maar 'n mens kan ten diepste net hoop dat Heb 10:29, nie aan hom verreken sal word nie.
Dit. kan net hy verhoed.
Raed-na-Gael
Pieter
'n Mens moet maar aanvaar dat die meerderheid mense altyd die een of ander god sal wil aanvaar en aanbid, asook probeer om ander tot hulle geloof te wil proseliteer. Ek het geen pyn daarmee nie, solank hulle my net uitlos. Elkeen van hulle het net een doel voor oë in godsdiens, en dit is om vir hulself 'n plekkie in die mitiese hemel na hul dood te probeer bewerkstellig, en die pyniging van die mitiese hel te probeer ontsnap. Wat wel in my krop vassteek is wanneer gelowiges, maak nie saak vir watter god hulle aanbid nie, hulle eie godsdienstige reëls selektief toepas, en reëls wat hulle nie pas nie wil sublimeer asof hulle nie meer van toepassing is nie.
Ek meen. Raed sê hierbo hy wil nie in 'n polemiek met my aangaan nie, met ander woorde die saak wil uitpraat nie, maar toe voeg hy by dat van die reëls op die kruis vasgenael is en nie meer van toepassing is nie. Die doodstraf vir die verontheiliging van die Sabbat is nou kamma afgelas met Christus se kruisiging, maar die doodstraf vir homoseksualiteit nie, albei in dieselfde asem deur Mose uitgespreek. Nou hoe dan? Waar is die logika daaraan.
Na die kruisiging van Jesus, is addisionele reëls in werking gestel, oa. dat vrouens se koppe in die kerk bedek moet word, en dat hulle in die kerk alleenlik gesien en nie gehoor mag word nie. Vandag is dit alles behalwe. Vrouens gaan kaalkop kerktoe, en word definitief "gehoor". Die gekibbel onderling oor besprinkeling van baba's of die onderdompeling van volwassenes, ens. ens.
Wat dit vir my sê is dat hierdie gelowiges se god nie weet of hy aan of af is nie. Stel 'n klomp reëls op, en besluit later, nee dis 'n fout, dit moet nou eintlik so wees. Skraap die eerste klomp en onderhou nou die nuwes. Dis net mense wat kan fouteer, 'n god behoort glad nie. Wat dit ook vir my sê is dat die skepper god was nooit ooit daar gewees nie maar is 'n skepping van die mens se eie verbeelding.
Jaco Fourie
Raed
Die feit dat jy vir my tekse in dit Bybel uitwys, ek gaan gestraf word omrede ek god nie aanbid nie, sê vir my jou hele godsdiens is nie op liefde vir jou god gebaseer nie, maar wel uit VREES vir al die verkillende vloeke en strawwe wat daarin opgestapel staan indien jy nie aan sy wense in terme van die Bybel se vereistes nie nakom nie.
Jy weet ek is 'n ateis. Ek glo in geen god nie. Om my te probeer bekeer deur vir my die skrik op die hals te probeer jaag is die verkeerde manier om met ateiste of enige ander non-Christen te werk te gaan. Hy vee net eenvoudig sy agterent af op sodanige tekse.
Jy moet eers diegene oortuig dat JOU god wel bestaan. Vir die Bybelse god om vir my te sê: "Dit is my reg om te straf. Ek sal vergeld" Heb10:30. is soos wanneer ek vir jou sê die Hindu god Krishna sal jou straf omrede jy hom nie aanbid nie, of Islamse Allah 'n vloek van verwoesting op jou uitspreek omrede jy nie hom in terme van die Koran aanbid nie.
Jaco Fourie
Jaco,
Ene Cobus Fourie, het ook oor jou voorkeur, so drie of vier jaar gelede vir my geskryf ( hier op die Sê ) dat " as ek net wil verstaan ". Ek was op daardie stadium onder die indruk dat daar familiebande was en hierdie persepsie het my nogal verras. Ek het gewonder en stilweg navraag gedoen en afgekom op die ontnugterende werklikheid dat daar in my familie, aan beide vaders-en moederskant , dinge was waaroor daar nie gepraat word nie.
In een geval is daar twee broers, die enigste kinders, en albei sal nie weens hul "voorkeur", 'n nageslag voortbring nie.
Jy WAS 'n gelowige. Jy weet alles van geloof af. Die enigste rede waarom jy ongelowig geraak het ( jy sal dit heel moontlik ontken en ander redes voorhou ), was omdat jy nie jou lewenswyse met die Bybel kon versoen nie. Oor die jare het ek self by tye so uitgelewer gevoel omdat dit waarin ek glo, net eenvoudig nie met my omstandighede geklop het nie. Ek as christen word nou nog blootgestel aan menslike redenasies, die koerante, pers, TV, en die Sê, noem maar op. Orals is daar druk.
Ek kan nie anders as om by God te bly nie. Daar is tye wat dit vir my iets besonders is om 'n gelowige te wees ( Terwyl ek hier skryf, oorweeg ek dit om 'n insidentjie met jou te deel, sal sien ).
Wat ek hierbo geskryf het, het ten doel om 'n lig voor in die tonnel te wees. Iets waaraan iemand kan vashou. Dit is in die huidige tydvak van beter verstaan, na my mening, anachronisties om God te verkwalik vir alles wat skeef loop. Die wêreld was reeds voor Christus se koms so woes en donker soos nou. Hy het in die donkerte en woesteny vir ons 'n lig kom aansteek, Hyself. Hy wil dat ALMAL na Hom toe moet kom.
Ek ken al 'n paar baie goeie en definitiewe gay mense. Nie een is egter gelowig nie.
Jy noem dat na jare lange intense studie, jy blykbaar kan bewys dat God nie bestaan nie. Is die stelling nie vergesog nie ? Ek dink so !
Groetnis
Raed-na-Gael
[ Voordat ek vir soveelste keer tot kerkraadslid verkies is, het ek onlangs iets in die oggend-ure beleef, dit was nie 'n droom nie, ook nie 'n nagmerrie nie, waarin ek by 'n diens was en daar nie 'n dominee beskikbaar was. Ek is toe versoek om die diens te lei omdat niemand anders beskikbaar is nie. Ek het dit die volgende dag aan my vrou genoem omdat dit so besonders was. 'n Week later kom die brief hieraan. Weer 'n benoeming, dit nadat ek laasjaar Jan. bedank het (jy kan hiermee maak net wat jy wil, onthou net, ek hoef dit nie met jou te gedeel het nie). ]
Raed
Dankie vir jou mooi brief wat ek baie waardeer. Ek wil net 'n paar regstellings maak waar jy verkeerde persepsies van my uitgespreek het.
Ek kan nie glo ek het gese ek kan BEWYS daar is geen god nie. My siening is altyd dat beide die ateis nie kan bewys daar is geen god nie, net so geld dit met die gelowige. Die verskil wel is dat die onus groter by die gelowige berus om sy god se bestaan te bewys.
Ek kan eerlikwaar se dat ek ateis geword het as gevolg van deeglike studie, rakende nie net my eie vorige godsdiens nie, maar ander ook om na alternatiewe moontlikhede te gesoek het, waar ek versugtiging kon gekry het in my destydse stryd met homoseksualiteit. In die proses van studie was my oorgrote begeerte gewees om die Bybelse god beter te verstaan en nader aan hom te kon kom tot so 'n mate dat ek bereid was om myself te laat kastreer om my seksdrang geheel en al te elimineer, sodat ek god se verordeninge vir die mens kon nakom. Origen, die kerkvader het Christus se opdrag letterlik opgeneem waar gesê was geseënd is diegene wat om my ontwil 'n eunuch is. Nie net hy, maar ander vroeër gesiene geestelikes het dieselfde padtjie gevolg tot hulle volkome geluksaligheid. En dit was ek ook bereid gewees om te doen.
Feitlik. Om vir 'n gay te sê hy moet selibaat bly, is 'n onmoontlikheid. Al doen hy nie die daad nie, sondig hy in sy gedagtes wat op dieselfde daadwerklikheid neerkom volgens die Bybel. Om die Bybel te probeer verdraai om versoening daarin teenoor homoseksualiteit te probeer bewerkstellig, bluf diegene net hulself. Die Bybel is klinkhelder duidelik daaroor en is onverbiddelik daarteen gekant. PUNT! Homoseksueles wat opreg Christene wil bly, het na my mening, net een alternatief, en dit is om sy seksdrange geheel en al te elimineer. Drasties Ja, maar dit gaan sy versoenofferande moet wees vir sy saligheid vir die hiernamaals, asook vir mental geluk vir die hede. Vandag kan dit chemies geskied sonder die drastiese orgidektomie. Daar is vandag meer mans wêreldwyd wat eunuchs is as gevolg van prostaatkanker-behandeling as wat ooit in die verlede was. Die vorige stigma daaraan verbonde is nie meer van toepassing nie.
Mbt drome. Daar is 'n wetenskaplike verklaring daarvoor. Baie dinge gebeur as gevolg van 'n kettingreaksie in
'n mens se lewe en verwagtinge, veral in die onderbewussyn of die ID van die brein. Van hulle is reeds gedefineer, oa: "the laws of expectancy"; "prone to accidents"; ens. Daar is 'n hele wetenskaplike dissipline daaraan verbonde waarvan my kennis net oppervlakkig gevaarlik is. Natuurlik is daar ook diegene wat drome as goddelike openbaring vertolk, en wie is ook daar om te bewys dit is nie.
Cobus Fourie is toevallig gay. Kan nie onthou of hy 'n Christen is nie. Wat in my krop mbt hom steek is sy doelbewuste rugdraai op sy eie mense en sy taal. 'n Mannetjie afkomstig van 'n plattelandse Afrikaner-dorpie in die Wes-Transvaal, wat weier om Afrikaans te praat of skryf en in 'n hoogdrawende Engels skryf wat selfs die gemiddelde Engelsman nie besig nie. In gaytaal word sodanige persoon as 'n "pretentious prissie queen" bestempel. Ek asook die meerderheid Afrikaner gays is trots om beide Afrikaner asook gay te wees.
Omrede ek 'n Fourie is, het ek tot die slotsom gekom dat hierdie van vrot van die homo's is. Ek kom hulle gereeld tee. In 'n Pretoria gay kroeg is die eienaar 'n Fourie. Een aand met myself getel, kon ek vier ander gereeldes tel, plus twee besoekers, nie een verwant nie, in 'n bywoning by die 60. Die eerste gay huwelik in hierdie land was 'n Fourie betrokke.
Ek kan nie bewys daar is geen god nie, maar ek het tot die slotsom gekom daar is geen. Vir my bly die onus, nee, 'n verpligting, vir 'n god om vir my sy bestaan te bewys.
Jaco Fourie
Beste Raed-na-Gael, net God bewerk geloof in elkeen se hart ... jy is egter as draer daarvan 'n besonderse lig saam op my pad, en ek weet vir andere ook ... Namaste! Cornelius Henn
Jaco,
Dankie. Ek lees jou vorentoe. Net 'n klein puntjie. Mbt tot die 'droom' - Daar was by my geen verwagting nie. Onthou, ek het bedank. Die ander 'punt' wat in die 'droom' uitstaan - "daar is niemand anders nie"
Groetnis
en Cornelius,
Alles vir Hom, tot Sy eer.
Groetnis
Raed-na-Gael