"Wil jy dans, Daleen?" deur Helena le Roux

  • 0
Vettriano se Singing Butler (foto: Wikipedia)

Tydens die US Woordfees 2014 is die suksesvolle Sanlam | LitNet-tydskrifverhaalslypskool aangebied. So groot was die belangstelling in dié geleentheid dat heelwat voornemende deelnemers weggewys moes word.

Daar is nou goeie nuus vir almal wat nie die geleentheid kon meemaak nie. LitNet gaan vir die volgende paar weke ’n tydskrifverhaalslypskool-reeks plaas: aantekeninge van die aanbieders, asook verhale wat deur deelnemers voorgelê is.

LitNet plaas ’n verhaal van een van die deelnemers aan die slypskool: "Wil jy dans, Daleen?" deur Helena le Roux.

“Daar is Saterdag ’n wynfees in die vallei, Daleen, en jy’s genooi,” val Anton met die deur in die huis.

Daleen lag en skud haar kop met die digte swart hare wat die mooi gesig omraam. “Wat wil julle met ’n ‘tannie’ op die wynfees maak?”

“Watse ‘tannie’? Moenie dink omdat jy nou die halfeeuverjaardag agter die rug het, dat jy oud is nie. Ons wil hê jy moet dit geniet,” verseker Anton haar. “Ons inkommers uit die Vrystaat moet hierdie Kaapse kultuurding verken.”

Daleen glimlag onseker oor hierdie uitnodiging van haar jonger bure. Hulle het kort nadat sy en Herman op hierdie Bolandse dorp kom bly het, hul bure geword. Veel jonger, maar van die begin af het hulle byna soos familie gevoel. Met Herman se skielike heengaan was dit veral hulle bystand wat haar deur die donker dae gedra het. Haar twee dogters is op universiteit en baie besig met hulle eie aktiwiteite. Louise het haar gereeld vir ’n braai genooi en hul twee woelige seuntjies kom dikwels by ‘ouma’ Daleen kuier.

“Ai, julle. ’n Fees is ’n plek vol uitbundigheid. Sal dit nie julle pret bederf om my saam te sleep nie?”

“Aikona!” keer Anton. “Ek en Louise sal dit geniet om jou saam te neem.”

Louise leun oor en streel oor die ouer vrou se hand.

“Dis tyd dat jy uitkom. Herman is al ’n jaar oorlede en dit sal jou goed doen om tussen mense te ontspan,” verseker Louise haar.

Daar is ’n plaat motors toe hulle by die Boland Kelder indraai. Hulle kry wynglase waarin hulle die verskillende wyne kan proe. Oral is kleurvolle stalletjies. Hulle gaan sit in die groot saal by ’n ronde tafel. Die man aan hul kant van die tafel staan op en stel hulle bekend as Danie, Elsa en haar pa, Johan. Louise stel ook vir hulle bekend.

Anton bring ’n ysbak met ’n bottel chenin blanc in. Terwyl hy almal se glasies vul sê hy: “Hier gaan dit nog lekker word; die manne gaan nou laat waai”, en hy beduie na die orkes.
Toe Daleen haar eerste slukkie wyn proe, trek die orkes weg met “Tant Mossie se sakkie-sakkie-sakkie-boeredans”. ’n Groep mense begin luidkeels saam sing, ander klap hande. Dis net of die opgewekte musiek almal betower.

Die glasie bly vergete tussen haar vingers. Die onthou van haar en Herman se danse kom terug. Sy dans met ’n wye romp wat om haar swaai. Haar gedagtes dompel ver die verlede in.

Sy is nog altyd versot op dans.

Dit duur nie lank voor pare op maat van die vrolike musiek begin dans nie. Anton spring op en maak ’n buiging voor haar. “Kom Daleen, my voete jeuk”, en hy trek haar op.
Daleen is verbaas oor hoe ligvoets die stewige Anton beweeg. Die jare val weg en haar stywe ledemate is skielik los en soepel. Sy sweef saam met Anton van die een nommer na die ander: “Hanoverstraat”, “Byeboerwa” en “Die oukraalliedjie” totdat haar asem hyg.

“Dankie Daleen, jy mag maar dans!” sê Anton en sak op sy stoel neer.

“Dit was nou lekker, dankie,” sê sy en gaan sit op haar stoel. Sy voel jonk en lewenslustig. Daleen weet nou dat sy net bestaan het, en vir ’n jaar nie geleef het nie. Anton en Louise is nou op die dansbaan. Hulle is gesoute dansers en voer allerhande passies uit.

Net toe sy ’n groot sluk van haar wyn neem, begin die orkes met “Wil jy dans Carina?”. Die ouer man aan hul tafel wat sy as Johan ontmoet het, staan voor haar.

“Wil jy dans, Daleen?” vra hy beleef. Daleen steek haar hand uit en knik. Hy trek haar op. Hulle dans in stilte. Sy voel sy sterk arms om haar. “Louise het my vertel dat jou man oorlede is; ek weet hoe jy voel, want my vrou is ook twee jaar gelede oorlede.”

“Dankie dat jy verstaan,” fluister sy.

Styf in sy arms sweef sy toe die orkes “The last waltz” speel. Sy voel so veilig en gelukkig, so asof sy hier hoort. “Ek sal jou graag beter wil leer ken,” vra hy toe hulle gaan sit. Dit voel vir haar sy ken hom al jare.

 

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top