Gustaf Pienaar: Regsalmanak | Columns

 
Wie is die pa? En wie sê die ma is die pa?
In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

’n Sekere mev L is in Desember 1978 getroud. Kort daarna, in Januarie 1979, het sy geboorte geskenk aan ’n gesonde seun. Duidelik was daar nege maande vantevore, in die herfs van 1978, ’n ligte mistykie in mev L se liefdeslewe.

Na die geboorte van die seun het ’n sekere mnr D besluit om die hoër hof in Johannesburg te nader vir ’n verklarende bevel dat hý die vader van die kind was en dat hy geregtig was op redelike toegang tot sy seun. Voordat hy egter so ’n verklarende bevel kon aanvra, moes ’n kurator deur die hof aangestel word om die kind se belange in die aansoek te behartig. Dis hoe die saak voor regter Harms beland het.

Die regter het nogal ’n interessante probleem gehad waarmee hy moes worstel. Aan die een kant was daar mnr D wat aangevoer het dat dit hý was wat vroeg in 1978 by mev L gekuier het – soos in “kuier”. 

Aikôna, het mnr L gesê. Hý was die ou wat in 1978 by mev L gekuier het – soos in “kuier”. Daarom was hý die vader van die kind wat in Januarie 1979 gebore is, en buitendien was hy op daardie stadium reeds met mev L getroud.

Steeds verkeerd, het mev L gesê. Dit was nie óf mnr D óf mnr L wat by haar gekuier het nie; álbei het in April by haar gekuier – soos in “kuier”.

Wat hierdie feitestel interessant maak, is dat ’n hof gewoonlik in vaderskapsake met ’n onwillige pa te make het, want vaderskap in ons reg beteken onderhoud, en onderhoud beteken baie rande vir baie jare in die toekoms. Gewoonlik ontken die man dus dat hy by die vrou gekuier het – soos in “kuier” – en is dit dan die hof se taak om te beslis waar die waarheid lê. Maar in hierdie saak was daar twee ouens wat teenstrydige aansprake gehad het. Mnr D het gesê hý is die pa van die kind, terwyl mnr L aangevoer het dat dit eintlik sý kind is. En dan het ons nog mev L gehad wat gesê het dat dit enigeen van dié twee here kon wees.

Deesdae word dispute van hierdie aard betreklik maklik deur weefseltoetse opgelos, op voorwaarde dat al die betrokke partye hul samewerking sal verleen. Maar weefseltoetse het nie in hierdie saak ter sprake gekom nie, want miskien was die twee mans bang dat weefseltoetse juis sou bewys dat een van hulle nié die pa van die kind is nie. Hulle het liewers gewerk met twee teenstrydige regsvermoedens wat ons uit ons die gemenereg geërf het. Die een vermoede word in ’n Latynse spreuk uitgedruk: Pater est quem nuptiae demonstrant. Dit beteken dat die vader van ’n kind deur die huwelik aangewys word – met ander woorde, as ’n kind gebore word terwyl sy ma met ’n bepaalde man getroud is, dan vermoed die reg dat daardie man die pa van die kind is. Hierdie vermoede kan natuurlik deur getuienis weerlê word.

Die ander vermoede is dat indien ’n vrou swanger is en ’n man erken dat hy met haar gemeenskap gehad het, én sodanige erkenning met die nege-maande-ding by die spesie homo sapiens "klop", dan vermoed die reg dat hy die vader van die kind is. Ook hierdie vermoede kan natuurlik deur getuienis weerlê word.

Regter Harms het dus te make gehad met twee teenstrydige vermoedens. Aan die een kant was daar die vermoede dat mnr L die vader van die kind was, want hy was immers tydens die geboorte van die kind met mev L getroud. Aan die ander kant was daar die vermoede dat mnr D die vader van die kind was, want hy het erken dat hy nege maande voor die kind se geboorte by mev L “gekuier” het, en boonop het sy ook erken dat sy “kuier”-besoeke van albei mans ontvang het. Hoe nou gemaak?

Regter Harms het ’n ou appèlhofuitspraak van 1935 nadergetrek en bevind dat die hof in daardie geval beslis het dat die ma die reg het om te kies wie van twee potensiële vaders die (werklike) vader van haar kind is.1 Regter Harms het beslis dat die regsposisie miskien anders kan wees as die belange van die kind dit vereis, maar in hierdie saak was dit nie ter sprake nie.

As mev L eenmaal haar keuse uitgeoefen het, sou dit onherroeplik en finaal wees. So ’n keuse-uitoefening sou dan tot gevolg hê dat óf mnr L óf mnr D se verpligting om die kind te onderhou, uitgewis sou word, maar daarmee saam sou ook daardie "verloorder" se reg van toegang tot die kind uitgewis word. Einde van die saak.2

Ongelukkig weet ons nou nie wie mev L uiteindelik as pa van haar kind "gekies" het nie.  Dalk ook maar goed so, want nou het jy die hele dag om jou eie slot vir hierdie liefdesdriehoek te skryf …


1 McDonald v Stander 1935 AD 325

2 D v L & Another  1990(1) SA 894 (W)  Om verstaanbare redes beskerm ons howe die werklike identiteit van partye in  gedinge van hierdie aard.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address