WF 2012: Klestou

  • 0

Arnold Shepstone is dors. Hy het reeds sy laaste waterkapsule gesluk. Hy kyk op sy polsradar en sien dis 07:00, 2062-11-20. Dis donker in Marseilles, veral in die kerkgebou. En as dit so sneeu. Hy kom sukkelend orent, styf van die lank stil lê, maar hy het nie ’n keuse nie – Die Plaag doen amper hul rondtes …

Hy onthou toe hy Ben Ul’Haque se gesig vir die eerste keer gesien het. Die koue, donker oë van die wêreld se laaste diktator. Hy het dit tóé al geweet; hy het geweet dié sou ’n oorlog word soos nooit vantevore nie. Niemand behalwe die terroristegroep wat hulself Die Plaag noem, sal lewendig hier uitkom nie.

Hy staan op en kyk om hom rond. Die ruïne wat eens ’n Katolieke Kerk was, het die afgelope week as Arnold se skuiling gedien. Die wind is kwaad vanmôre; die sneeu dwing sy teenwoordigheid met geslaagde gemak af. Dis asof die natuur ’n voorgevoel het ... Iets gaan gebeur. Gaan die helikopter betyds wees?

Ul’Haque het  twee jaar gelede wêreldwyd op al die groot TV-stasies verskyn. Van daardie dag af sou die wêreld verander. Hy het vertel dat hy die kloon is van die terroris Osama bin Laden. Voor Bin Laden se dood het hy ’n eenvoudige liggaamsel in ’n surrogaatmoeder laat inplant as ’n laaste geskenk aan die mensdom. Volgens Ul’Haque was sy voorganger moeg vir wegkruip. Hy het ook vertel van Bin Laden se vyftigjaarplan. Stalin se vyfjaarplan se blou Moses!

Die Plaag het wêreldwyd hoofkwartiere gestig en só het hulle stadigaan ’n weermag opgebou. Hulle het die nuutste tegnologie van chemiese oorlogvoering begin navors. Dit is juis dié strategie wat derdewêreldse lande eerste laat val het.

Hy is so dors ...

Water in derdewêreldlande regoor die aardbol is met ’n geneties gedokterde weergawe van cholera besmet. Cholera so erg dat die pasiënt op die meeste twee uur kon lewe nadat die virus in die bloedstroom opgeneem is.

Atoombomme het Afrika die volgende dag verwoes. Die aarde het ’n ongenaakbare, bloedbevlekte slagveld geword.

Die Plaag het onder die radar van die openbare oog én die VN ’n 10 miljoen sterk weermag van terroriste opgebou. Hul toerusting was ongeëwenaar,  die beste ter wêreld, en hulle tegnologie het tot die uiterste gestrek. Dit sluit in lasergewere met oënskynlik onbeperkte ammunisievoorrade. Die wêreld het nie ’n kans gestaan nie.

Arnold se keel is kurkdroog. Hy moet net uithou tot vanaand – die helikopter sal kom ... En dan is hy weg van sy moederplaneet af – weg vir altyd. Hy is al op dag een vir diens ontbied. Op die slagvelde het hy geveg. Sy vriende het langs hom gesterf; kamerade is voor sy oë vermoor.

Hy het skuiling kom soek in die verlate kerk nadat sy peleton in ’n hinderlaag vernietig is. Met sy laaste iPad-battery het hy ’n hulpkreet uitgekry Nasa toe. Die antwoord wat hy ontvang het, was eenvoudig – 20 November, helikopter.

Sy baadjie kleef nat teen sy lyf soos die koue wind hom groet. Die stroompie is net 100 meter onder die kerk.

Net nadat die oorlog uitgebreek het, het die organisasie NE (New Earth) ’n aankondiging gedoen: Daar is ’n alternatiewe aarde in ons sonnestelsel –die besbewaarde geheim in die geskiedenis. Klestou. Die NE het met die uitbreek van die oorlog twee jaar gelede besef die aarde gaan hierdie massaverwoesting nie oorleef nie. Hulle het aan drie ruimtetuie begin bou wat sal poog om die wêreldbevolking na Klestou te vervoer. Elke tuig sal sowat 100 000 passasiers kan vervoer.

Die “arke”, soos hulle bekend staan, is gereed om op te styg. Die eerste ark het klaar vertrek. Dié ark, wat as die “Draer van die Mensdom” bekend staan, het die wêreld se talentvolste individue vervoer. Duisende dokters, wetenskaplikes, ingenieurs, argeoloë, IT-spesialiste en astronome is reeds besig om planeet Klestou te verwerk tot die produk wat ons aarde altyd was.

Die Draer van die Mensdom het ook gereedskap en peperduur werktuie soos hyskrane vervoer. Die uitverkorenes het klaar begin bou aan ’n basis, wat ’n ruimtestasie, hospitaal, residensiële areas en selfs landbougrond insluit.

Die aarde het ’n oppervlak van 510 072 000 km2. Klestou is beduidend kleiner met ’n oppervlakte van 100 089 020 km2.

Hy dink aan Klestou ...

Skielik voel hy ’n harde hou teen sy agterkop en draai om, sy AK-47 omhoog. Drie Plaag-soldate! Hy kan nie nou doodgaan nie. Hy is so, so naby aan die einde ...

“Wat maak jy hier?” vra die een met die geweerkolf.
“Hy is ’n oorlewende van die weerstandsmag,” antwoord sy maat.
“Ek is net ’n toeris, ek ...”
“Nonsens! Wat maak jy dan met ’n AK en ’n polsradar? Daar is in elk geval niks meer toeriste oor nie – daar is niémand oor nie,” smaal Nommer 3 en Arnold besef dit was dom.
“Op jou knieë en kyk om,” sê Nommer 1 en lig sy geweer. Dit kan nie die einde wees nie, dink hy, dit kán net nie ...

Drie skote klap. Dan bars ’n oorverdowende geroesemoes los, propellers en nog geweerskote. Die skril klank van die lasergewere ... ’n Geskree. Toe word alles swart.

 Arnold word wakker. Sy kop klop en sy arm is in ’n verband. Hy is in ’n hospitaal. Die lug buite is die blouste blou. Hy sukkel orent en ’n fris man in kakie kom by die deur in.

“Ek is Beyers – aangenaam.” Hy steek sy hand uit. “Goed om jou hiér te sien. Laas toe ek jou gesien het, was jy maar in ’n benarde posisie,” lag Beyers.
“Waar ... wat het gebeur? Die helikopter! Ek ...”
“Jy het dit gemaak, ou perd, maar ook net-net! As ek en Pieterse ’n sekonde later daar aangekom het, sou daardie spul jou vrekgemaak het. Ons was ook die heel laastes op die ark ...”
“Jy bedoel ons is ... hiér?” Hy spoeg die laaste woord uit. “Dit kan nie wees nie!”
“Sersant Shepstone, welkom op Klestou.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top