Valda Jansen se ses bestes

  • 1

Hierdie week kies Valda Jansen haar gunsteling-kuierplekke op die wêreldwye Web.

Valda se gedigte het onder andere in Groot verseboek verskyn. Sy was voorheen ’n Duits-onderwyser in Mitchells Plain en die Paarl. Sy het haar loopbaan as joernalis by Die Burger begin en later by Beeld  voortgesit. Sy het ook onder andere bydraes gelewer vir die “Van Alle Kante”-rubriek. Valda werk tans by die SAUK as vervaardiger en redakteur van Monitor, Spektrum en Naweek-Aktueel wat op RSG uitgesaai word.


1. www.kidsastronomy.com

My 6-jarige dogtertjie is in graad 1. “Die Ruimte” was een van hul eerste temas van die jaar. Elke dag se nuwe les is saans met badtyd en aan die etenstafel entoesiasties oorgedra. En dit was Pa se plig en voorreg om op sy rekenaar te gaan soek na ’n relevante webtuiste om die nuwe kennis oor die ruimte en die aarde op ’n kindervriendelike manier oor te dra. En daarmee saam het ons almal sommer ook baie geleer. Baie kleure en goeters wat beweeg, en ook speletjies wat die belangstelling prikkel.

2. LitNet

 Ek kry my weeklikse (soms daaglikse) fix wat boeke en skrywers betref; dit help natuurlik ook dat nuusinligting geredelik beskikbaar is op die Nuus24-skakel. Dus, iets vir sowel die dromende skrywer as die joernalis wat haar daaglikse brood moet verdien. En in dieselfde asem www.facebook.com. As ek dit nog nie op LitNet gelees het nie, sal my vuisboek-maatjies my inlig. Hulle stel my bekend aan relevante, uitdagende artikels in plaaslike en buitelandse koerante.

3. Jena.de

’n Leeftyd gelede het ek ’n jaar lank in Duitsland gewoon en skoolgehou. Soms as die nostalgie my oorval, blaai ek deur dié webtuiste, ook dié van die skole waar ek was. Intussen het van die onderwysers reeds afgetree, en veral die middestad het intussen ’n gedaantewisseling ondergaan, soos ek en my gesin so twee jaar gelede gesien het toe ons vlugtig daar deur is op pad na Berlyn.

4. DDR Museum

Dit het ek raakgelees toe ons voorbereidings getref het vir die Duitsland-trippie. Die museum is ’n besoek werd, al is dit net op die internet; dis ’n wonderlike interaktiewe museum waar jy selfs in ’n regte egte Trabbi kan sit. En pas dié week het die museum sy tweemiljoenste besoeker verwelkom, ’n bewys van hoe gewild die museum is.

5. Gordon Institute of Business Science

Ek is vanjaar by die Gordon Institute of Business Science besig met ’n intensiewe kursus oor leierskap en mensebestuur. Ook die webblad maak vir my as groentjie in die sakesektor ’n opwindende nuwe wêreld oop.

6. Jozikids.co.za

Soos my lewe deesdae feitlik begin en eindig met my kind, het ek intussen geleer om baie rond te surf op soek na interessante, stimulerende dinge om in Johannesburg te doen om haar en die maatjies besig te hou. Dan is joburgtheatre.com ’n gunsteling met kinderproduksies in die People's Theatre. Om nie te vergeet van www.jyt.co.za, die kinderteater in Parktown
nie.

 

  • 1

Kommentaar

  • Samuel Williams

    Hou van jou verwysing na "Vuisboek"... het met ons onlangse kerk basaar selfs ’n "vuisboek" blad opgestel met foto's wat ek oor die laaste drie jaar van ons gemeentelede geneem het. Daar was amper "baklei" oor foto's wat daar verskyn of nie verskyn het nie, oor wie, wie se foto's koop, ens. Terwyl jy die foto's besigtig kon jou maklik R2 aangeslaan word "spot fine" as jy na ’n prent wys, "poke" of "comment" en as jy dit sou "like" kon jy dit koop vir R5.

    O ja, en as jou foto nie daar was nie, was jy ook beboet met R2, want "waar was jy toe ek die fotos geneem het?"

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top