Utopia-musiekfees: 'n Post-mortem verslag

  • 0

Die Utopia-musiekfees is onlangs vir die eerste keer by Nekkies te Rawsonville (die ou Ramfest venue) gehou. Valie wat ek is, was ek nog net by Oppikoppi. Julie sal ek 'n jaar in die Kaap wees, en dit sou darem sleg van my wees as ek in hierdie tyd nie eers een "provinsiale" musiekfees bygewoon het nie. Nadat ek ’n ogie oor die naweek se line-up gegooi het, was dit nie eers meer 'n kwessie van keuse nie. Die name van bands soos Mr Cat & the Jackal, Bittereinder, Desmond & the Tutus, aKING en Fokof het vervulbare beloftes van ’n naweek van musiekwaardering ingehou.

Vrydag na werk spring ek en vriend Ernst in die kar en mik Worcester se kant toe. In my 6 jaar se Oppi-pelgrimstogte was ek nog nooit so voorbereid vir kampluukse nie en die volgepakte kar getuig hiervan. In Rawsonville aangekom word daar vinnig laer getrek (nadat ons ons whiskey in plastiekbottels moes oorgooi omdat geen glasbottels in die feesterrein toegelaat word nie). Ons besluit om eers te braai en sodoende 'n deeglike fondasie vir die aand se verrigtinge te lê. Die braaivleisvuur was net aan toe twee van die feesorganiseerders by ons kamp opdaag met slegte nuus: "No open fires allowed".  Dis vir my soort van onverstaanbaar hoe kampvure nie by 'n musiekfeeskampnaweek toegelaat word nie (komaan!). Vriend Ernst, oud-Voortrekker wat hy is, laat hom nie onkant vang nie – hy het 'n gasbraai ingepak. ’n Paar biere en boeries later is ons gesterk en reg vir aksie.

Ons volg die paadjie – die beligte Utopia "Hollywoord" sign is ’n nice touch – na die stages om Mr Cat & the Jackal te sien. Hulle is meesters van die teatrale (jy móét hulle live sien om hulle musiek na volle te waardeer) en hulle energieke balkan blues is die ideale manier om die aand te begin. Hulle opvoering saam met gaskunstenaar Tailswapper is veral besonders. Nadat ons onsself so lekker dors gedans het, besluit ons om eers terug te keer tente toe (aangesien mens nie drank in die feesterrein mag invat nie –  komaan!) vir lafenis.

Mr Cat & the Jackal Foto: Lupa Photography

Van die kamp af hoor ons hoe Karen Zoid al haar mees bekende treffers speel. Ons keer met haar laaste song, wat ek nog nooit gehoor het nie, terug. Ek is nie juis 'n Zoid fan nie, maar sy blaas my heeltemal weg met haar kakharde blues-aanslag. Dis baie bad ass en sy kan gerus met ’n selfingenome glimlag om dieselfde vuur as blues-legendes soos Albert Frost en Dan Patlansky sit.

Volgende is Bittereinder, die band waarna ek die meeste uitgesien het, aan die beurt. Ek het hulle nog nooit live gesien nie, maar het 'n taamlike obsessie met hulle musiek – Jaco van der Merwe se lirieke is suiwer digkuns. Hulle begin die set heel gepas met die openingsnit van hulle jongste album, met die musiek net so atmosferies en byna-mities soos op die fantastiese Die Dinkdansmasjien.

Hulle speel baie songs van Dinkdans af, ook baie van die wat saam met gaskunstenaars opgeneem is. In hierdie dele het die ouens van Bittereinder improvisasies  gedoen: nuwe musiek met bekende beats,  Jaco wat die lirieke van verskillende songs deurmekaar meng (soos die lirieke van "A Tale of Three Cities" wat met "Bliksem" se musiek opgevoer is – bedonnerd!). Dis ’n besonderse ervaring as jy hulle musiek ken en spreek van regte vakmanskap.

Ná Bittereinder my brein met hulle musiek- en ligvertoning  ingebliksem het, is dit tyd vir die volgende item op die spyskaart. Dis vir die meeste mense seker die hoofgereg: Fokofpolisiekar. Dit wil egter voorkom asof daar bietjie van ’n deurmekaarspul is, want almal keer Fokofloos na die tentdorp terug. 

Bittereinder Foto: Lupa Photography

Almal is bietjie verward en/of omgekrap hieroor en bespiegelings oor waarom Fokof (of die ander band wat in hulle plek aangekondig is) nie gespeel het nie is die onderwerp van laataand-bespiegeling in die laer.

Die volgende oggend gaan die bespiegeling voort. Daar word mal-lekker koffie van die Beans about Coffee-stalletjie gekoop terwyl ons probeer navors wat met die line-up aangaan. Die organiseerders van Utopia het flink gedink om hulle faux pas reg te stel en oornag die line-up verander: Saterdag sien nou heelwat anders daar uit, met shows wat nou drie ure vroeër begin (dus ook meer shows) en Fokof wat die aand sal afsluit. Well played, sirs.

Vrydag se opkoms was bietjie karig gewees, maar soos wat ons met ontbytbiere sit en brunch maak kom daar op die Saterdag nog heelwat feesgangers in. The more, the merrier. Nie lank nie of mense begin braai en bier uit glasbottels drink – en dit wil voorkom asof die organiseerders besluit het om eerder, miskien uit dankbaarheid, nie té streng teenoor die groeiende gehoor te wees nie ...

Twee van hierdie jaar se Sanlam Sing 'it-kunstenaars, Zaki Ibrahim en 3rd World Spectator, tree dié dag op. Albei kwyt hulle bitter goed van hulle taak. Tussenin kry Hot Water die feesgangers lekker aan die dans met hulle Afrika-jive. Die musiekmomentum word nie minder nie. Weer gesien is aKING op die verhoog – daar is geen klagtes nie.

Desmond & the Tutus is maller as wat ek hulle ooit gesien het. Daar skort niks met hulle energie nie en die show is surrealisties lekker. Laaste, maar natuurlik nie die minste nie, kom Fokofpolisiekar aan die beurt. Wat is daar nóg oor hierdie ouens te sê? Hulle is ongelooflik tight, en die skare sing/skree oudergewoonte woord vir woord saam. Lang storie kort: hulle speel al vir vyf jaar dieselfde songs live en, so lief as wat ek vir hulle is, dink ek ek praat vir almal (die band ingesluit) as ek sê dis hoog tyd vir ’n nuwe album.

Vanuit ’n organiseringsoogpunt het Utopia ’n bitter goeie aflewering gehad. Die kamp- en ablusiegeriewe was baie netjies (alhoewel die geen-braai-reël bietjie Nazisties is). Die klank en verhoogbeligting was 5-ster gewees. Die bands kry almal onderskeidings. Daar was net bietjie te min mense, en dis waarskynlik aan bemarking toe te skryf (alhoewel die feit dat AfrikaBurn en die SA Kaasfees oor dieselfde tydperk plaasgevind het ook ’n faktor kon wees).

Behalwe vir die kommunikasiegapings (intern en ekstern) en die effense senuweeagtigheid oor feesstapels soos braai en bierbottels, was dit 'n puik georganiseerde fees gewees. Het ek al genoem dat die bands uitgestaan het? Ten spyte van die klein skares het almal van die beste shows wat ek al ooit van dié bands gesien het gelewer. Utopia, ek sal volgende jaar graag weer kom, as julle kan bekostig om dit weer te hou ...
 


Daar haal ek en vriend Ernst toe ook die feesfoto's (wel, soort van). Wie wil raai by watter show dit was?

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top