Tot siens, koning Arthur: geleenthede + gemors = hoop in bekroonde jeugverhaal

  • 0

Tot siens, koning Arthur
Annelie Ferreira
Uitgewer:
Tafelberg
ISBN: 9780624056225

Koop Tot siens, koning Arthur by Kalahari.net!

 

Dis nie moeilik om agter te kom hoekom hierdie verfrissende jeugnovelle die goue prys in Sanlam se kompetisie vir Jeuglektuur in 2011 gewen het nie. Sommer met die intrapslag, as die hoofkarakter op die eerste bladsy sê: “Wat min mense van my weet ...”, besef die leser dat Sylvia van der Merwe (ook Guinevere genoem) ’n gewone meisie is, maar beslis nie alledaags en vervelig nie.

Met byderwetse tienersleng en humoristiese inslag nooi hierdie verhaal enige jongmens (veral meisies) uit om die raaisel op te los in verband met die titel – wie sou koning Arthur wees in die storie? Nog ander raaisels word in die verhaal verweef met verskeie intertekste uit sprokies en musiek, selfs kaartspel. (My enigste kritiekpunt is dat dit ongelukkig nie genoeg en altyd ewe boeiend en betekenisvol geïntegreerword nie.) Sommige probleme word opgelos en ander word deur die hoofkarakter in haar ontluikende volwassenheid aanvaar en agtergelaat.

Dadelik word die tienerlesers se visuele geletterdheid uitgedaag wanneer hulle verbeelding geprikkel word deur die moontlike kommunikasie tussen die visuele en die woordteks op die voorblad: ’n Tienermeisie in netjiese slenterdrag staan langs ’n geverfde baksteenmuur. Glimlaggend hou sy ’n sambreel in die lug waar sy en ’n klein groen voëltjie duskant ’n heining staan; sy vang die helder sonlig vas wat deurbreek oor die bome anderkant die muur en oorskrei hiermee die mensgeboude grens. Die leser weet intuïtief dat hier ’n positiewe storie is, al is dit duidelik dat die fondamente van die muur besig is om af te skilfer.

In kort hoofstukke met titels wat spanning skep en die leser se deelname stimuleer, ontplooi die storie soos Sylvia betekenis skep in haar verwarde verwysingsraamwerk nadat sy geskors is uit die hoërskool. Die verteller bied ’n goed gebalanseerde uitbeelding van persone, met ’n diepe deernis van die hoofkarakter vir bejaardes, ’n sieklike en moeilike kleuterboetie, haar onsuksvolle ma en uiteindelik ook ’n gestremde vriend. Hiermee word ook die hoofkarakter se kontekste uitgebeeld: dié van ’n ouetehuis waar sy gemeenskapsdiens moet doen, haar gebroke huislike omstandighede, en so ook die restaurant waar sy saans werk om te help geld verdien as tiener in ’n enkelouerhuis.

Uiteindelik word die konflik in tieners se sosiale lewens wat spanning kan skep in die jeugdige leser se ontvanklike gemoed (dwelms, skorsing en oneerlike vriendskapsverhoudings) opgelos wanneer Sylvia se skorsing in jukstaposisie geplaas word met die waarheid wat vry maak – dit bring eerlike versoening sonder dat die leser onveilig gelaat word. Hiermee bring Tot siens, koning Arthur vir tienerlesers hoop – laasgenoemde was dan ook die tema van die Sanlamkompetisie.

Hierdie jeugboek is ’n waardige toevoeging tot die genre van jeugletterkunde in Afrikaans waar die teikenlesers 14-18 jaar oud is. Die teks sou selfs voorgeskryf kon word op skool, omdat daar niks aanstootliks is nie, en niks waarmee onderwysers of leerders ongemaklik sou hoef te voel in die klaskamer nie. Die karakterbeelding word gerealiseer in ’n geskikte styl, met byderwetse register, binne ’n eietydse maatskaplike konteks waarin etiese kwessies literêr verken en ontgin word.

Annelie Ferreira het bekendheid verwerf met ’n aantal niefiksieboeke, onder andere Daar’s ’n mens binne, Die dag toe ons God gevang het, Eenmaal iets dappers en Eva ontmoet Einstein,asook ’n roman, Hoekom honde nie kan sing nie. Hierdie titels getuig nie net van ’n wye belangstelling in (alle) mense en postmoderne godsdiensbeskouings nie, maar ook van haar fyn sin vir humor en ironiese kyk na die lewe.

Ook in Tot siens, koning Arthur kom die skryfster se eerlike konsekwentheid, deernis en humor na vore in die karakter van Sylvia. Die skerpsinnige ironie in haar innerlike monoloog en deernis vir ander blyk uit die verhaal se intrige en dialoog. Die leser kry te doen met ’n universele tema van menswees wat verwoord word in die ma se woorde dat Sylvia al die geleenthede gehad het, maar ’n gemors daarvan gemaak het. Met selfspot, ironie en ligte, vermaaklike sarkasme leer die leser die lewe van Sylvia en die mense rondom haar ken, waar sy selfkrities en reflektief omgaan met haar stukkende verwysingsraamwerk.

Dié bekroonde jeugnovelle neem ’n nuwe plek in Ferreira se oeuvre in, hopelik ’n nuwe era waarin tienerlesers blootgestel word aan haar ervaring as skrywer en taalpraktisyn met jeugfiksie in Afrikaans uit haar pen. Willem Venter se woorde aangaande Ferreira is hier gepas: Sy is “... ’n skrywer wat deur die muur is en nie daarin vaskyk nie, wat tuis is met haar onderwerp en haar taal. Een met haar voete op die grond terwyl sy reik na die sterre.” Sylvia (Guinevere) van der Merwe staan ook by ’n muur, haar voete is op die grond en sy reik na die lig van helder sonskyn. Een van die verrassings is dat sy ook die klein groen voëltjie by haar kon red.

 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top