Stellenbosch Wynfees 2013

  • 0

Stellenbosch is bekend vir sy eikebome, maar dalk nog meer vir sy wyne. Naomi Meyer het vir Annareth Bolton, uitvoerende hoofbeampte van die Stellenbosch American Express® Wynroetes, ’n paar vrae gestel oor die fees, wat vanaf 25 Januarie tot 3 Februarie vanjaar plaasvind.

Hallo Annareth, baie dankie vir die geleentheid tot gesprek. Vertel asseblief vir ons lesers van die Stellenbosch Wynfees (wat darem aan die einde van Januarie plaasvind, as die mense weer salaris gekry het ... :)).

Stellenbosch Wynfees, die vlagskip-gebeurtenis van Suid-Afrika se vernaamste wynstreek, sal die nuwe jaar in ’n splinternuwe gepoetste baadjie verwelkom, met ’n verlengde tiendag-feesprogram wat ’n groter gehalte-ervaring van die Eikestad vanaf 25 Januarie tot 3 Februarie sal oplewer.

Ons het besef dat dit sin maak om eerder ons wêreldklas wyne te vertoon gedurende ’n tyd in die jaar wanneer alles wat Stellenbosch bied – sy natuurskoon, unieke kultuurerfenis, uitmuntende akademiese instansies en florerende wynbedryf – op hulle beste en kleurvolste is. Perfekte sonskyndae, die gedruis van ’n nuwe universiteitsjaar, en die gewoel van die oesseisoen sal alles nuwe dimensies aan die Stellenbosch Wynfees verleen. Ons deelnemende plase is opgewonde en die hele dorp is slaggereed om seker te maak dat wynliefhebbers en toeriste van regoor Suid-Afrika, en die wêreld, se grootste verwagtinge oortref sal word.

Is die fees ’n nuwe ding? Beoog julle om ’n jaarlikse instelling hiervan te maak?

Die Stellenbosch American Express® Wynroetes het juis hierdie jaarlikse hoogtepunt wat voorheen in die wintermaande plaasgevind het, na vroeër in die jaar verskuif sodat besoekers al die unieke juwele en attraksies van dié historiese dorp en sy meer as 150 wynplase in hul volle glorie gedurende die kleurvolle somer kan geniet.

Die nuwe datum vier ook die geboorte van Suid-Afrikaanse wyn, soos gestaaf deur dié inskrywing op 2 Februarie 1659 in die dagboek van ene Jan van Riebeeck: “Vandag, eer aan God, is wyn vir die eerste keer met Kaapse druiwe gemaak.”

Sal jy asseblief vir ons lesers praktiese inligting verskaf: kostes, venues, die restaurante wat betrokke is met hulle kos-en-wyn-pasmaats?

Die koste om die Wyn Expo van 1 tot 3 Februarie op die Pick n Pay Festival Square op Die Braak by te woon beloop R60 per kind jonger as 12 jaar, R150 pp, of R375 vir 'n naweekpas.

Die 2013 Stellenbosch Wynfees beloofn keurspel van uiteenlopende wyn-ervarings vir geesdriftiges en wyngroentjies asook die meer ernstige wynkenners, insluitende ’n gala-geleentheid vir liefdadigheid, ’n liplekker tiendag-promosie by die meeste van die gebied se bekroonde restaurante, spesiale kultivar-aande, en prettige wyntoere.

Sportgebeure, kunsuitstallings en musiekkonserte wat tydens die fees in en om die dorp sal plaasvind, sal besoekers deel laat voel van die beminde Stellenbosch-leefstyl.

’n Seën van die Oes asook ’n Oesparade op Saterdag 26 Januarie beloof om ’n groot fees-trekpleister te wees, wanneer wynmakers en werkers van deelnemende Stellenbosch-wynplase met ’n karnaval-atmosfeer die dorp se strate spreekwoordelik gaan rooi verf.

Gedurende die week sal entoesiaste hulle eie fees-ervaring na smaak en voorkeur kan beplan deur by deelnemende restaurante te gaan aansit vir ’n “Wine & Dine” kos-en-wyn verlustiging of deur by die vele wynplase te gaan aanklop vir ’n insiggewende toer en proe.

Dit alles kom tot ’n einde tydens ’n drie dae lange Wyn Expo wat in die hart van die dorp sal klop met interaktiewe stalletjies en proe-programme van meer as 130 wyn- en fynproewer-kosprodusente. Die Wyn Expo vind plaas vanaf 1 tot 3 Februarie op Die Braak en sal volle voordeel trek uit die pragtige omgewing met ongekunstelde tafels, groen dekor en vryvloeiende Bedoeïen-tente. Skemerkonserte op ’n sentrale verhoog sal die feesgangers loslit vermaak terwyl hulle die lekker kelderskatte van die streek geniet.

Vir nog inligting, besoek www.stellenboschwinefestival.co.za.

Watter vermaaklikheidsitems sou jy mense aanbeveel om te kom kyk by vanjaar se fees?

Die program is so uiteenlopend en regtig propvol aktiwiteite. Ons lede het regtig moeite gedoen om aan ieder en elk 'n unieke geleentheid te bied om Stellenbosch op sy beste te ervaar. Een geleentheid wat wel vir my uitstaan, is die Pick n Pay Lifestyle Experience wat op Woensdag 30 Januarie van 17:00 tot 20:00 plaasvind, ook op Die Braak. Dit beloof om 'n toonvenster te wees van die Stellenbosch-leefstyl. 'n Skemerkelkgeleentheid, wat ook die bekendstelling van die Stellenbosch Wynfees Stigting insluit, gaan hierdie leefstylaand vooraf.

Die wynbedryf is onder die loep en in die spervuur op die oomblik as mens dink aan die plaaswerkerstakings wat aan die gang is en onderhandelinge ten opsigte van die lone.  Hoe dink die Stellenbosch Wynfees om in hierdie verband ’n rol te speel, indien hoegenaamd?

Wat betref die stakings, sover is ons nie geraak in Stellenbosch nie. Ons hou ’n fyn oog op verwikkelinge.

Kyk na argiefmateriaal omtrent die Stellenbosch Wynfees in die jaar van die sokkerwêreldbeker:

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top