Spoorvat – ’n resensie deur Naòmi Morgan

  • 0

Titel: Spoorvat
Samestellers: Leti Kleyn & Riana Scheepers
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799360318

Koop Spoorvat by Kalahari.com.

In 1966, vertel die samestellers in die voorwoord tot hierdie terugreis van ’n veertigtal Afrikaanse skrywers, het ’n eerste bloemlesing van literêre jeugherinneringe by Afrikaanse Pers-Boekhandel verskyn. Vyftig jaar later word ’n soortgelyke opdrag gegee, naamlik om die volgende vrae beantwoord te kry: Wat is die intiemste, mooiste en selfs pynlikste jeugherinneringe van ons bekendste Afrikaanse skrywers? Was hulle as kinders reeds sensitiewe waarnemers, kunstenaars in wording? Hoe het hulle hul jeug beleef? En hoe word hierdie jeugherinneringe verwerk in hul tekste as gesofistikeerde skrywers? Dit sou ’n interessante navorsingsonderwerp wees om die 1966- en 2013-uitgawes te vergelyk en te sien in hoeverre daar op die outobiografiese genre geïmproviseer word.

In 1966 verskyn Herinnering se wei – Afrikaanse skrywers oor hulle jeug by Afrikaanse Pers-Boekhandel. Lees hoe dit aanleiding gegee het tot die samestelling van Spoorvat.

Foto: bidorbuy

Die waarskynlike leser stel belang in die lewensgeskiedenis van ’n skrywer of in die ontdekking van ’n ander tydsgees, maar ook in die terugkyk op sy of haar eie verlede, toe daar toe nog suurlemoene, vye en granate in elke tuin was. Dalk is daar ’n gedeelde herinnering, soos in die geval van Marié Heese se beskrywing van ’n LO-oefening: “En sy kan ook nie oor die perd spring by LO nie. Nooit ooit kry sy dit reg nie. Die res van die kinders seil met die grootste gemak oor, party slaan so ’n hoë bollemakiesie en kom op hulle voete te lande aan die ander kant. Maar sy, nee, sy kan nie. Kan net nie. Sy weet vir ’n feit sy gaan op haar rug val en sy sal lewenslank verlam wees en net in ’n stoel kan sit soos Katy in ’What Katy did’ en niemand kan haar anders oortuig nie” (141). ’n Vergete woordeskat kom in die tekste na die oppervlak: Pretoriusstraat se “snobs” en “krims” (Andries Bezuidenhout, 16), of die nuutgestigte stad Welkom en nuwe dorpe soos Virginia en Allanridge se ducktails, ruk-en-rol-sessions, motorfietse, knuckledusters en boom rook (Piet Steyn, 245).

Bekende en minder bekende skrywers aanvaar hier een of elkeen van bogenoemde opdragte, en die resultaat is fassinerend op verskeie vlakke. Die leser bevind hom in ’n soort tydkapsule; ná 304 bladsye is dit verbasend hoeveel van die herinneringe ooreenstem. Styl, beeldgebruik en uitdrukkingswyse is dus uiteindelik die enigste maatstaf waaraan die tekste literêr beoordeel kan word; die feit dat die skrywer onthou, is op sigself nie ’n waarborg vir ’n boeiende, roerende teks nie.

By Leon van Nierop lê die verwerking in die toekoms: “’Ek sweer die kind gaan nog eendag skryf,’ hoor ek my pa sê” (275). In baie gevalle lei die herinnering tot ’n vergelyking met die hede: PG du Plessis beskryf hoe ’n kragonderbreking hom laat verlang na die stil, kersverligte wêreld van sy kleintyd: “So sonder te veel geluid, so sonder lawaaierige, kunsmatige beelde op skerms” (73). Die stilte was ook in die reaksie op lastige kindervrae oor lewensfeite en ongeoorloofde woorde wat volgens die oumense met Lifebuoy-seep weggewas kon word. Jeannette Ferreira trek die lyn tussen verlede en hede met ’n fyn beskrywing van ’n kuikenbegrafnis wat deur haar broer Faan georkestreer is: “Dit is waaraan ek hierdie Paasnaweek staan en dink by Faan se graf in die fyn musiek van die Laeveld se najaarswind. Nie aan hoe hy dood is nie” (100).

Die outobiografiese genre word in baie van die tekste in die derde persoon of met fiktiewe name hanteer; sonder die voorwoord sou die leser nie altyd geweet het dat dit persoonlike verhale is hierdie nie.

In Helena Gunter se “Elma lieg die waarheid” kom drie stelle karakters voor: historiese en fiktiewe karakters, en karakters in Elma se opstel oor haar / Helena se lewe; die jeugherinneringe word dus reeds as ’n verwerking aangebied. Maretha Maartens dui die fiktiewe karaktername met voetnote aan; Marié Heese verwys na “die kind se pa” (142). Vir historiese romanskrywers soos Irma Joubert pas die opdrag soos ’n handskoen. In “Omie, trap die petrol” (een van die baie interessante titels) kom herinneringe aan ’n omgeboude Tweede Wêreldoorlogtrok, haar skoolbus in Nylstroom (“busdeurtoemaker was ’n spesiale titel, amper soos hoofseun of ysterman”, 163) en latere navorsing vir haar skryfwerk naatloos bymekaar (“die ou trokbus was moeg van bergpasse vol soldate in Abessinië, van swoeg deur die sandduine van El Alamein”, 164). Soos sekere mense dag en datum van hul bekering kan onthou, onthou Joubert dat haar fassinasie met die Tweede Wêreldoorlog tydens ’n Julievakansie begin het toe haar ma se oom Charles Holloway die skoolbus herken het as een van dié waarmee die Rooilussies deur Kenia gereis het tot in Abessinië, en later tot by Tobroek en El Alamein. Verhale soos hierdie bevestig dat die boeke van kreatiewe verwerking eintlik duister is om te lees, want daar was baie kinders op die bus, maar net Irma Joubert het later historiese romans begin skryf. Die bus word ’n kosbare leitmotief wat struktuur en eenheid aan haar herinneringe gee.

Vir Marita van der Vyver is die leitmotief motors: “In die jare sestig en sewentig was ’n motor veel meer as bloot ’n vervoermiddel, dit was ’n leefwyse. Ons het geëet en geslaap en gefliek en gevry in ons motors” (256).

Skrywers wat eerder as digters bekend is, kombineer prosa- en versvorm, soos Joan Hambidge se herinnering aan ’n skoolmaat wat op pad na ’n lenteloop doodgery word. Marlise Joubert kombineer afwisselend prosa en poësie, soos in ’n generiese dialoog. Haar herinneringe aan die twee landmerke van haar jeug, Levubu en Warmbad, is intens sintuiglik, met lyste van eksotiese veldvrugte: “botterklappers, suurpruime, mispels en moepels” (178).

Trienke Laurie neem die opdrag vormlik ’n stap verder en teken haar herinneringe op as ’n lang, vrye vers waarvan die bedrieglik speelse toon en gebruik van onomatopee pynlike herinneringe van kindergeweld en drankmisbruik weerspreek: “Soms voor sy middagslapie/ was Pa se oë met herinnering betraan/ oor hoe hy, brawe oudste, voor/ sy pa gaan staan en smeek het/ om liefs hom as die kleintjies/ met sy ystervuis te slaan” (181).

Trauma impliseer ook troos, dikwels by huishulpe of die tuinman. Dit is Sara wat die kind Joan (Hambidge) in haar ouers se afwesigheid ’n nag lank sus na haar “eerste kennismaking met die dood se reuk én klank” (133). Hans du Plessis beskryf die misverstand toe die tuinman Josef in plaas van die dorp se skoonheid, Marié, in die motor klim waarmee hy en ’n maat onwettig rondry; die verleentheid wat daarop volg, is sprekend van ’n sekere periode in ons geskiedenis.

Dana Snyman onthou vir Simon, wie se bed op verfblikke staan en wie se kamer na Vaseline, Jeyes Fluid en Lifebuoy-seep ruik (235), reuke en assosiasies wat seker ook in die verlede lê. Hy kombineer tegnologie (Google Earth) en ’n virtuele besoek aan Daniëlskuil, waar hy twintig jaar laas was. Soos vanuit ’n ruimteskip kry die seun en sy dominee-pa ’n goddelike blik op die stadsaal waar Charles Jacobie en die Drakensbergse Seunskoor opgetree het: “Een aand het ’n minister vir ons van daardie saal se verhoog af vertel ons, die blankes van Suid-Afrika, het ’n goddelike roeping om die Westerse beskawing hier aan die suidpunt van Afrika te laat voortbestaan” (235). Die geur van kaneelsuiker herinner hom aan basaars en môremarkte waar daar geld ingesamel is vir gemeenskapsbehoeftes, maar pa en seun onthou dit verskillend, en so sal dit waarskynlik bly.

Maretha Maartens vertel hoe haar pa haar van mansdinge leer (sementvoor bou, groentebeddings spit, in trurat afry van die Ongelukskoppad). Die politiek sluip asof by die agterdeur in wanneer sy vertel hoe hy haar ook selfverdediging leer: “Hy wys my hoe om myself en ander te verdedig met die vlymskerp swaai- en kapswaard wat hy vir ons ma maak. Hy is nag en dag op patrollie ná Sharpeville” (195); hy kry die een hartaanval na die ander.

Wium van Zyl onthou diskriminasie wat te make gehad het met ’n onsigbare klassesisteem: “Vooraanstaande ouers se kinders het posisies ingeneem wat liefs nie deur ’n bergboer se skoolprestasies uitgedaag moes word nie” (291). Weens segregasie was die tydkapsule vroeër reeds vir sekere skrywers soos ’n ander land: “Vir ons het dit gelyk asof hulle op ’n ander planeet woon. Teerstrate, mooi tuine en groot huise, motors op die erwe, soms ook ’n karavaan of motorfiets, fietse vir die kinders, honde wat gewas word en katte wat lui opgekrul in die son lê” (Clinton V du Plessis, 59).

’n Hele paar skrywers se kindertyd is sinoniem met ’n buitengewone ouma. Keina Swart vertel van haar ouma met die lang, dieprooi hare wat sy elke ses weke by Dorothy van die Grand Salon laat kleur het. Die styl is heerlik geselserig, die taal gemeng, soos wat ons maar gepraat het. Die laaste sin van ’n bejaarde wat nie meer kan onthou dat die groot slag reeds gelewer is nie, tref na die joligheid die leser soos ’n vuishou in die maag: “Dis af, Oumie. Dorothy was klaar hier, sê ek saggies. Never you mind, sê my ouma. Never yóú mind oor mý hare” (255).

Wanneer Connie Luyt se mollige ouma Lucy Roux haar onderklere saans van onder die nagrok uittrek, word die ritueel ’n ode aan ’n waardige dame wat vir haar gebak deur Hennie Aucamp (wat as student by haar in Dorpstraat loseer het) in een van sy bundels geëer is. ’n Mens raak nostalgies by die lees van die beskrywing van hierdie vrou, wat haar nie met “aanstellerige mense, hoogdrawende siele, skelms en uitbuiters” opgehou het nie” (189); ons het haar nou nodiger as ooit.

Ook Henning Pieterse se ouma was ’n onvergeetlike karakter: sy het die plaas bestuur en vlot Sesotho gepraat. Sy oupa was ’n Napoleon-bewonderaar, soos portrette in die gang en slaapkamer getuig het. Vir die 21ste-eeuse leser straal daar ’n gevoel van sterkte en waagmoed uit hierdie figure uit ’n vervloë era, wat hul stempel op plase, woonhuise en kleinkinders afgedruk het, omdat niemand toe bedreig is nie: wanneer ’n mens lees dat ouma Aletta reeds vyfuur soggens aan die gang was, wonder jy onwillekeurig of sy veilig was; jou leeservaring word deur die huidige veiligheidsituasie beïnvloed. Ouma Aletta het egter ook om ’n ander rede ’n sagte plek in my hart: sy was ’n liefhebber van katte, soms tot veertien op ’n keer; maar meer nog, ’n soort katfluisteraar wat die wildste ma-kat kon laat spin. Ook Pieterse kombineer prosa en poësie met ’n roerende “Vrystaatse elegie” vir die ouma wat hy nie “teen die einde [moes] gesien het nie” (212).

Daar is ook onvergeetlike herinneringe aan ma’s: Rita Gilfillan deel die herinnering wat daar in lap opgesluit lê, die vroeë verlies aan ’n moeder en die gemis wat nooit weggaan nie: “Hoe haar rok gevoel het onder my vingers, selfs al kan ek haar gesig nie meer onthou nie. [...] Of dwalend deur ’n materiaalwinkel streel ek miskien ingedagte oor ’n rol linne, en daar is sy! Vervlietend, maar ’n definitiewe aanwesigheid” (101).

Indien daar oor vyftig jaar ’n derde bundel jeugherinneringe verskyn, sal dit noodwendig inhoudelik verskil van die eerste twee in die reeks. Hierdie bundel bevat nog herinneringe aan leesplesier: om dus om van ’n boekery te moet ontslae raak, is traumaties, maar ook ’n verrykende herinneringsreis. Wat hou jy, en waarom? Dit is haar kinderboeke wat Cecile Cilliers heel laaste laat gaan het, en die redes waarom dit nie meer nuttig is nie, is ook die verhaal van die Afrikaanse diaspora: “[M]y buitelandse kleinkinders lees nie meer Afrikaans nie” (47). Cilliers het as gevolg van artritis haar boeke vir ’n Kindle verruil; sal skrywersherinneringe in die derde uitgawe nog verwysings na boeke van papier bevat?

Jonger skrywers soos Jaco Jacobs is minder nostalgies: hy besoek nog gereeld plekke uit sy verlede en vul dan die bekende agterdoek met eietydse karakters en gebeure: “Dit is immers wat skrywers doen” (151).

Hoewel daar generasie-gapings is tussen die skrywers in die 2013-bundel, is daar in hul herinneringe geen plaasmoorde en duiselingwekkende misdaadstatistiek nie. Die leser verwag iets eietyds skokkends by die lees van Myra Scheepers se “Tuiskoms”, maar vind ’n inspirerende vertelling oor oorlewing in die wildernis.

“The past is a foreign country: they do things differently there,” het die skrywer LP Hartley gesê. In die geval van die huidige geslag Afrikaanse skrywers se jeugherinneringe sou dit meer gepas wees om te sê die verlede wás ’n ander land, en dat hierdie bundel dus ’n kosbare kleinood is. Hans du Plessis beskryf as volg die einde van sy plattelandse bestaan in Silverton:

“Die munisipaliteit het die grondstrate begin teer, die bloekombos op die hoek is uitgekap en die kwekerye in ons straat is toegemaak en opgesny in erwe” (69). Wanneer PG du Plessis se familie Cornelia toe trek, ervaar hy die wonder van rondreisende toneelgeselskappe wat in die stadsaal kom optree het, sy ma se meubels vir opvoerings geleen het (“ek sien die toneelwêreld oopgaan op ons voorhuismeubels”, 78), en sommer ’n bietjie oorskietmelk vir koffie gevra het. Pure Molière! Sy beskrywing van die rondreisende filmvertonings is ’n plaaslike “Cinema Paradiso”, waartydens die breek van die film ’n geleentheid was om te ontsyfer wat die Engelse dialoog nou eintlik beteken het. Die waarde van ’n streeksraad en die invloed wat dit op die skrywers en akteurs in wording gehad het, word ook onderstreep deur Fanie Viljoen se beskrywing van die Sukovs-trok en sy kennismaking met die wonderwêreld van toneel, wat die kinders later herhaaldelik op huisstoepe uitgespeel het (297).

In hierdie ander land het meisies byna outomaties klavier geneem, soos in Heilna du Plooy se mooi beskrywing van ’n klavierles wat ’n emosionele verbintenis met ’n (gestorwe) jong man in ’n foto tot gevolg het (90). Dit is ’n plek, selfs buite Suid-Afrika se grense, waar daar nie noodwendig Engels gepraat is nie, soos wat Louis Esterhuizen (wat Sjangaan en Afrikaans gepraat het, maar geen Engels nie) vertel; ’n plek waar ook ander, soos hy en sy ouma Annie, Sondae uitgery het na die hoofpad toe om te “kyk na die karre wat met eentonige reëlmaat verby kruie” (94). Dié van ons wat in tweetalige woonbuurte grootgeword het, onthou ook nog tonele soos die volgende: “Ek word soos ’n sirkusfrats aan die Engelse se kuiergaste en familielede voorgestel: “This is Rachelle Grief, she is Afrikaans” (110).

Wat skrywers onthou, is ook noemenswaardig: Douwleen Bredenhann se vertelling van die verlies van ’n tand grens aan die burleske; Rachelle Greeff gee ’n regmatige plek aan die onbesonge sementwatertrôe van die Adderleystraatse blommemark: “Dié groot bakke is in die vroeg sestigs so betowerend soos die waterputte van die klassieke sprokies. Jy kan die bodem nie sien nie. Die water is swart, glad en koud. Dit ruik na bloeiwyses en blomstele. Die sementwande van die bakke is koel, asof dit baie, baie oud is” (116). Die wêreld wat hier beskryf word, is vir ewig verby, maar die leser kan sy eie onskuld terugvind by die lees daarvan.

Wanneer onthou ons vir die eerste keer? Piet Steyn meen hy kan sy geboorte onthou (238) en dat hy met die eerste asemteug ’n mond vol stof ingekry het: “Elke keer daarna wat die westewind Wesselsbron se afgestroopte lande se sand op Odendaalsrus neergegooi het, en die sand onder my tande gekraak het, het ek so ’n déjà-vu-gevoel gekry dat dit die eerste ding was wat ek ooit ingekry het” (239).

Fanie Viljoen gebruik die formule “ek onthou” as ’n mantra waarmee hy herinneringe oproep, ’n struktureringsbeginsel wat ook deur die Franse skrywer Georges Perec in sy beroemde Je me souviens-teks van 1978 gebruik is (“Ek onhou ’n groen verjaarsdagkoek”; “Ek onthou ’n kamer”; “Ek onthou ’n sirkustent”; 294 ev).

Herinneringe is natuurlik onbetroubaar (Samuel Beckett het baie insiggewend daaroor geskryf); ons weet nie meer of iets vir ons vertel is, of ons dit op ’n foto of in ’n tuisfilm gesien het nie: “Stories word oor en oor vertel totdat dit vir die luisteraar en verteller eindelik waarheid word, en ’n lewendige verbeelding vul sonder moeite ontbrekende besonderhede in” (Cecile Cilliers, 50).

Onthou ons net een maal werklik? En kan ons die herinneringsaksie herhaal, is dit dan nog eg (sou Proust ook wonder)? Ingrid Winterbach se bydrae sluit die bundel af met hierdie gedagte: “Dalk is daar by elke oproep van die herinnering ’n klein verskuiwing; dit word elke keer dalk éffens meer verteken. Of dalk word die herinnering iewers diep in die brein geberg. Elke keer presies dieselfde klein chemiese ontploffing [...] Herinneringe vasgelê soos insekte in amber” (304).

Dis ’n bundel dié wat met plesier en nostalgie gelees word, maar uiteindelik ook met ’n indruk van groot verlies. Die verlede is nie net ver nie, maar ook stil, en iewers in jou kop onthou jy ’n reël van Olga Kirsch:

Hoe het dit skielik laat geword?
Die oggend was so lank en stil,
die middag ruim en warm en gul.
Die afdraand van die dag is kil.
Hoe het dit skielik laat geword?


Sign up for LitNet’s free weekly newsletter. | Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top