ATKV-Skrywersalbum | Writers

 
Sonja Loots (1972–)

Sêgoed van Sonja Loots:

“My verbeelding het die grootste invloed op my as skrywer. Persoonlike ervaring is net ’n vertrekpunt. As iets my ontstel, wil ek daaroor skryf.”

“Om te skryf, is vir my maklik. Dis wat voor en ná die skryf kom wat moeilik is. Ek begin nie voor ek presies weet wat my openingsin gaan wees nie. Vir dae aaneen sê ek sinne hardop vir myself waar ek ook al gaan.”

“Daar’s ’n verskil tussen ’n skryfstremming (writer’s block) en as jy niks het om te sê nie. As jy iets voel roer en dit nie kan verwoord nie, is dit ’n skryfstremming. As ’n mens niks het om te sê nie, moet jy liewer stilbly.”

“Om skeppend te skryf, is soos die erotiek. Die twee is soortgelyk in die sin dat daar altyd spanning is tussen totale absorpsie en om terselfdertyd iets van jouself vir jouself te hou. Jy beweeg heeltyd op ’n grens.”

“Ek beskou die joernalistiek as vernieling van my kunstenaarskap. Mense dink dis verwant, maar dis nie ver of na genoeg aan mekaar om sin te maak nie. As jy kreatief skryf, het jy respek vir elke woord. Dis al wat saak maak. Met joernalistiek is woorde soos pitte. Wat belangrik is, is die inligting – nie hoe jy dit sê nie.”

“Wat my pla, spesifiek aan Suid-Afrika, is, behalwe dat ons nie na ons intellektuele kyk en hulle koester nie, is daar geen mentorskap of ondersteuning nie. Daar’s geen finansiering nie, en daar is ook hierdie aktiewe anti-intellektualisme.”

“Jy weet, ek háát rugby. As iemand anders daarvan hou, fyn pikkewyn, whatever blows your hair back, maar ek háát dit. En in hierdie land mag jy dit nie sê nie, want dit beteken jy’s ’n dunlip prissy; jy’s nie ’n goeie sport nie. Ek sou graag die reg wou hê om taamlik ferm te verklaar dat dit absoluut zip zero vir my doen. Elke Vrydag is rugbydag by albei my kinders se skole en as ek op daai skoolgrond kom en ek sien daai hele skare van grou hempies, daal daar regtig ’n groot grouheid op my neer.”

“As ek oor my Afrikaanse taal- en kultuurpolitieke erfenis dink, aan al daardie volks-vaders en seker maar die moeders ook, is daar woede en skaamte en verwyt oor wat hulle aangevang het. Maar ook ’n verbondenheid en ’n mate van begrip waarvan ’n mens nie kan wegkom nie. Ek kan my houding die beste opsom deur te sê ek is deernisvol die moer in vir ons Afrikaanse voorvaders.”

“Die belangrikste les wat ek by Etienne van Heerden geleer het, is dat skryfwerk dissipline verg. Jy moet doodeenvoudig gaan sit en begin skryf. En dit is nie altyd maklik nie.”

Oor hoe belangrik dit is om te lees; waarom ons moet lees: “Russel Hoban het gesê ons skryf fiksie omdat ons fiksie is. Ons lees boeke om onsself en ander te verstaan. André Brink sê wanneer jy ’n boek lees, is jy geheel en al betrokke by die somtotaal van menslike ervaring wat in die boek opgesluit lê. Lekker, nè?”

Kan enigeen skryf of moet jy ’n talent daarvoor hê? “Jy moet ’n aangebore talent hê, maar dit beteken nie jy hoef geleerd of belewe te wees nie. Jy hoef nie eers te kan spel nie. As jy ’n skrywer is, sal jy dit in jou murg kan voel.”

Gebore en getoë

Sonja Loots is op 6 Augustus 1972 op Kimberley in die Noord-Kaap gebore, die oudste kind van Willem en Kristel Loots. Willem het by Spoornet gewerk en Kristel het later ’n bekende skrywer van veral liefdesverhale geword. Sy het ’n jonger broer, Werner.

As gevolg van haar pa se werk het die gesin op verskeie plekke in die land gewoon, soos Klerksdorp in Noordwes, Durban en Goodwood in Kaapstad. “Al is jy klein, hou jy tog iets oor van elke plek.”

Sonja het haar kleuterjare op Klerksdorp deurgebring. Haar vroegste herinneringe is aan die stoep van die spoorweghuisie, die uitstappies na die bure om die televisieprogram Dallas te kyk en die vreesaanjaende ritte agterop haar pa se motorfiets deur die strate van Klerksdorp.

Sedert standerd drie is sy ’n Kapenaar wat eers in Parowvallei en toe in Goodwood skoolgegaan het. Sy matrikuleer in 1990 aan die Hoërskool JG Meiring in Goodwood.

Op hoërskool het Sonja tydskrifverhale begin skryf vir sakgeld en van haar stories ingeskryf vir wedstryde. In 1988 het sy op 15-jarige ouderdom en in standerd 8 (graad 10) ’n landwye kortverhaalwedstryd gewen. Die kompetisie is aangebied deur die ATKB in samewerking met die stadsraad van Verwoerdburg. Sonja se kortverhaal, “Floewp”, het oor ’n gesin se aanvaarding van ’n seuntjie met Down-sindroom gehandel.

Sy het onder andere deelgeneem aan die Skrywers ’90-kompetisie, ’n landwye opstelkompetisie wat jaarliks deur HAUM-Uitgewers in oorleg met die Bloemfonteinse Skrywersvereniging gereël is. Hier is sy as die provinsiale én landwye wenner aangewys. Daarbenewens is ’n kortverhaal wat sy geskryf het, gepubliseer in Inknat, ’n bundel wat deur HAUM-Uitgewers uitgegee word.

In die landwye Afrikaans-Olimpiade wat jaarliks deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns gereël word, en waaraan ongeveer 8 000 leerlinge deelgeneem het, is Sonja as die naaswenner bekroon. Gedurende die wintervakansie van 1990 het sy ’n Afrikaans-week bygewoon, waar sy in ’n opstel-kompetisie as die naaswenner aangewys is. Sy het ook ’n poësie-werkswinkel onder leiding van die bekende digter George Weideman bygewoon. Hier is sy as die belowendste jong digter by die werkswinkel aangewys.

Verdere studies en werk

Na skool is Sonja na die Universiteit Stellenbosch, waar sy in 1993 haar BA-graad (cum laude) behaal het, en daarna haar honneursgraad, asook haar MA in Afrikaans-Nederlands, aan die Rhodes Universiteit, beide cum laude. Op Stellenbosch was sy die redakteur van Penseel, die US se blad vir studentepoësie.

In 1992, haar tweede jaar as BA-student, wen sy die eerste én tweede prys in Sanlam en Tafelberg se Jong Stemme-wedstryd.

Nadat sy haar BA voltooi het, het Sonja die Junior Woordkunsbeurs van die Stigting vir Skeppende Kunste ontvang, asook die M-Net-beurs vir Skeppende Skryfwerk. Dit het haar in staat gestel om ’n honneurskursus in Afrikaans en Nederlands aan Rhodes Universiteit te volg. Haar MA-tesis was getiteld “’n Intertekstuele studie: Die werfbobbejaan van Alexander Strachan”. Dit is op Grahamstad dat sy Spoor, haar eerste boek, geskryf het as deel van haar kursus in skeppende skryfwerk onder leiding van Etienne van Heerden.

Na haar studentejare sluit Sonja haar as redaksielid by Die Burger aan. Sy was eers kopieskrywer in die promosie-afdeling en later hof- en Hooggeregshofverslaggewer. Daarna het sy twee jaar as bladuitlegkunstenaar en subredakteur in die koerant se nagkantoor gewerk.

In 1995 is Spoor gepubliseer en het dit dadelik groot belangstelling ontlok. Die titel raak aan alle betekenisvlakke – plantspore, dierspore, treinspore. Sy volg ook die spore van twee kinders tot in hul volwassenheid. “Terwyl ek geskryf het, het dit gevoel asof ek op hulle hul spoor loop, op die spore van die geskiedenis.”

Die val van ’n vliegtuig in twee afsonderlike voorvalle in die omgewing van die Sederberge is as historiese vertrekpunt vir die storie gebruik: “Ek is heel betotteld oor vliegtuie,” verduidelik sy aan Màri-Anne Swartz. “Hulle is soos sterre – pragtige goeters wat verhef is bo alle roetine en saaiheid hieronder. As ’n vliegtuig val, is dit so ’n onbeskryflike verlies – dis soos ’n ster wat uit sy baan neerskiet. Dis so melancholies.”

Spoor is ook skreiende kommentaar op die mens se vernietiging van sy omgewing en die onvermydelike impak daarvan op elkeen se lewe. “Die twee hoofkarakters het ’n onvervulde lewe omdat hulle of hul ouers ’n verwoestende impak op die omgewing gehad het. Dis asof hulle moet boet vir ’n sonde.”

Oor Spoor skryf Madeleine van Biljon dat Sonja jonk mag wees, maar dat sy nie skrik vir ’n wydstrekkende verhaal nie. Sy het reeds op haar ouderdom ’n bewonderenswaardige gawe vir die skep van ’n atmosferiese roman met meer kinkels in die kabel as ’n Aran-trui.

Vir Thys Human was Spoor ’n verrassende en in talle opsigte ook ’n ongewone prosateks. Die historiese gebeure wat die onderbou van die novelle vorm – ’n Lockheed Lodestar-vliegtuigramp in 1941 naby Elandsbaai aan die Weskus, ’n Junkers-vliegramp in 1945 in Pakhuispas, en die lê van die Saldanha-Sishen-spoorlyn – raak egter in so ’n mate met die fiksionele verhale wat dit ten grondslag lê, verstrengel dat ’n nuwe tekswerklikheid tot stand kom.

Dit is ’n werklikheid waarin die oënskynlik afsonderlike verhale van twee buitestandersfigure vertel word. Charity Versveld, wat op die plaas Uitsig grootword en deur middel van haar naam verbind is aan die Junkerswrak op die plaas en ook aan die gestorwe vlieënier, oorheers die een storie. Die ander vertel van Sean Farao, wat op Elandsbaai grootword en later help met die bou van die spoorlyn. Tog word hierdie twee stories op vernuftige wyse met mekaar in verband gebring.

Thys Human het Spoor ’n geïntegreerde, betekenisryke en tegnies vernuftige teks gevind wat die leser om ’n verskeidenheid redes sal bybly. Dit verdien, sê hy, ’n wye leserstal.

In Beeld het Gretel Wybenga geskryf dat Spoor die toon en aanslag van ’n klaaglied oor die sinnelose verbruik en vermorsing van die geskape wêreld het, en spesifiek hier, die dier wat spoorloos aan die verdwyn is. “Hier en daar is die boodskap te eksplisiet, soos in die herhaalde beskrywings van walglike vlesige maaltye. Die kindergebed van Charity vir die opgestopte diere wat in die gang vassit, was ook myns insiens ’n geval van oorsentimentalisering.

“Die nuusverklaring noem die publikasie ’n ‘roman’ maar myns insiens lê dit onder andere weens die geabstraheerde introverte aard daarvan gekombineer met die lengte (83 bladsye sonder die vele wit bladsye tussen hoofstukke), nader aan die poësie. Charity en Sean word nooit mense nie – dis nie kritiek nie – maar word verstrak tot stemme, tot simbool. Wou die teks nie dalk ’n gedig wees nie? Wát ook al, het dit steeds nie vir my in die vorm ingesak wat daarvoor bedoel is nie. As roman is die ryke stof nie ten volle deurgewerk nie, en die aanbieding struktureel te los. Wat nie wil sê dat die debuut nie beïndruk nie. Dis besonder vindingryk en die subtiele hantering van motiewe wat op mekaar inspeel, dwing bewondering af. Dié jong skryfster het die instink vir die spel wat ons met woorde speel.”

Vroeg in 1999 het Sonja haar woonstel in Woodstock gegroet en na Johannesburg getrek, waar sy in Brixton gaan bly het en as artikelredakteur vir De Kat gewerk het.

In 2002 is sy aangestel as boekeredakteur by Rapport, ’n posisie wat sy tot 2005 beklee het. In 2005 is sy aangewys as Via Afrika-boekjoernalis van die jaar. In die verslag van die beoordelaars is sy geloof vir die intellektuele gesag, belesenheid en insig wat uit haar resensies spreek en vir die vars en toeganklike aard daarvan. Sy is ook deur die beoordelaars beskryf as “een van die land se min essayiste”.

Daarna was sy deeltydse dosent in Afrikaans en Nederlands aan die destydse RAU (nou UJ), bemarkingsbestuurder by Random House Struik, en sepieskrywer. Voor laasgenoemde was sy vir ’n rampspoedige rukkie selfs die sekretaresse van die 7de Laan-grootbaas, Danie Odendaal. “Ek het myself gou onderskei as maklik die swakste sekretaresse wat hy nog ooit gehad het. Ek dink daar loop nou nog mense in Johannesburg rond wat wag dat ek hulle telefonies verbind. En toe het hy (Danie) my later gevra of ek ander talente ook het, op sy kenmerkende ironiese, droë manier. Ek het vir hom gesê: ‘Ek glo graag dat ek nogal kan skryf.’”

Kort voor lank het sy haar onderskei as een van die eerste draaiboekskrywers vir 7de Laan, maar mettertyd het sy haar losgemaak van die verleidings van media en televisie. Sy het vir drie jaar saam met haar man, Pieter Malan, na Londen verhuis, waar hy buitelandse korrespondent vir Media24 was. Hulle het twee kinders, Henri en Stella.

“In ’n stadium het ek regtig nogal vasgedruk en geïrriteerd gevoel hier. Die hele benouende klein binnekringetjie – veral Afrikaans, die taal, die letterkunde, die joernalistiek. Die tyd in die buiteland was vir my fantasties, dit het horisonne oopgemaak en ek dink die roman is ryker as wat dit sou gewees het as ek nie Engeland toe was nie. Maar ek het later so ’n bietjie stoom verloor met my ‘ek wil nooit weer teruggaan Suid-Afrika toe nie’. Ek het begin dink dis moeilik om ’n mens se kinders groot te maak in ’n land wat jy nie verstaan nie.”

Sedert 2009 is sy dosent in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad, waar sy eindelik die vrede gevind het om te skryf. “Ek het meer tyd in die akademie. Minder as wat ’n mens sou wou hê, en waarop ’n mens sou hoop, maar ek dink nie enigiemand het genoeg tyd vir lees en dink nie. Dis net nie daardie soort land nie. Ons is almal op ’n drafstappie.”

Sestien jaar na die publikasie van Spoor word Sirkusboere in 2011 deur Tafelberg uitgegee. En met die intrap word dit met die Eugène Marais-prys bekroon en haal dit die kortlys vir die Jan Rabie/Rapport-prys en die WA Hofmeyr-prys.

Die roman het ’n literêre beroering veroorsaak, skryf Willemien Brümmer. Bloot die historiese gegewe is die soort koorsdroom wat net sowel deur ’n Etienne van Heerden of ’n Etienne Leroux versin kon gewees het.

Soos in die roman vertel word, neem die sirkusbaas Frank Fillis in 1904 ’n Boereoorlog-spektakel na die Wêreldtentoonstelling in St Louis, Amerika – glo die grootste militêre skouspel wat die wêreld tot nog toe gesien het. Honderd Boere, honderd Britte en vyftig “agterryers” en “inboorlinge” is oor die water om die veldslae by Colenso en Paardeberg op te voer voor 25 000 toeskouers op ’n slag. Twee keer per dag moes generaal Ben Viljoen as aankondiger optree terwyl generaal Piet Cronjé sy grootste vernedering herleef: sy oorgawe in die slag van Paardeberg.

“Dit het in werklikheid op ontsettende groot skaal gebeur en dit was een van die grootste suksesse op die skou,” vertel Sonja. “Perde is regtig afgerig om in die skouspel dood neer te val en in die arena was daar kanonskote, gewere en uniforms. Daai militêre krygspele moes geweldig imposant gewees het. Die koerantberigte van die tyd maak geweldig gewag van die feit dat die oorlogsgedruis so raserig was dat die vroue flou geval het en jy die salpeter in die lug kon ruik.

“Buffalo Bill, wat tonele uit die Amerikaanse geskiedenis opgevoer het, was soort van die voorloper, en hy’t in Chicago so ryk geword dat hy ’n dorp en ’n begraafplaas gekoop het. Die Wêreldtentoonstelling was soos ’n Randse Paasskou op ste­roids.”

Oor die oorlogskouspel-fenomeen wat daardie jare so gewild was onder die Amerikaners vertel Sonja aan Riette Rust dat oorlog daardie tyd all the rage was. Die Amerikaners het, nes die Boere, oorlog gemaak, onder meer teen die Filippyne en Spanje. En boonop was die Amerikaners die Boere goedgesind.

Sy het nie die woord sirkusboere geskep nie. “Dis ’n woord uit daardie tyd. Dis wat die Boere se volksgenote by wie hulle ongewild was, hulle genoem het.” Die sirkus word ’n metafoor vir die sirkus wat die Boere se lewe op ’n breë vlak geword het. Akteurs in die arena, maar ook daarbuite. Want hulle het “kreatief met die feite omgegaan”.

“Daar is in elk geval nooit konsensus oor geskiedenis nie,” reken Loots. “Almal interpreteer dit verskillend. Die literator Chris van der Merwe praat van die ‘vervalsing van die geskiedenis’. Kyk maar na die nuwe interpretasies van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, so anders as wat wit leerlinge in die apartheidera moes leer.”

Die klem in Sirkusboere val op die geskiedenis ná die Boereoorlog wat nou weer in die nuus is. “Die gesprek daaroor is nog nie klaar nie,” sê sy. “Ons het nóú eers genoeg afstand om daaroor te kan praat. Dit gaan nog jare duur voor ons rustig oor apartheid sal kan gesels. Die geskiedenis bly lank giftig.”

Die Afrikaanse gemeenskap toon groot ooreenkomste met die sirkusboere, sê sy. Ons was net so verdwaas, rigtingloos, maar ook vindingryk met die magsverskuiwing ná apartheid soos die sirkusboere ná die magsverskuiwing wat die Boereoorlog meegebring het. “Maar die raakpunte met die hede is die tweede laag van die roman. Die storie en karakters bly die belangrikste,” sê Sonja.

Vir Sonja is haar roman “veel meer van ’n vraag as ’n antwoord”, omdat sy wou weet hóékom die Boere besluit het om sirkusvertonings van die oorlog te gaan hou. Al sou van die Boere dalk gedink het die opvoerings sou terapeuties wees, reken sy nie dat die oopmaak van soveel pyn en vernedering (soos by Paardeberg) enigsins ’n manier was om die oorlogskade te verwerk nie.

“En as die opvoerings ’n poging was om by hul volksgenote in aansien te styg, was die roem maar kortstondig.” Daarby het die Boere hulle belaglik gemaak deur die oorlog te “herhaal” en die opvoerings het hulle ook nie genoeg in die sak gebring om só uit die ná-oorlogse armoede te kon kom nie, sê sy.

Vandat sy op die monografie Die Boere-sirkus van St Louis (1904) (FJG Publikasies, 1998) deur die sportwetenskaplike Floris van der Merwe afgekom het, het daar egter 10 jaar verloop voordat sy “murg in die pype” van die bedroë sirkusboere kon toor. Die storie en die karakters het haar aangegryp, vertel sy aan Riette Rust. “Tyd val weg en dis asof die mense hedendaags word. Ek het my karakters rondom die geskiedkundige feite ingekleur, maar so getrou moontlik daaraan gebly.

“Ek het ontsettend baie navorsing gedoen, en dit was vir my belangrik dat niks wat ek daar uitdink of versin, bots met die feite nie, maar jy moet darem iets toevoeg. Iewers moet die feite vlerke kry.”

Vir Ben Viljoen se karakter en van sy ervaringe het Sonja sterk gesteun op onder meer JW Meijer se biografie, Generaal Ben Viljoen: 1868–1917. Sy “tolboseienskap”, of rusteloosheid, was vir Sonja baie interessant.

Al hierdie over-the-top karakters kon maklik ontaard het in karikature, maar sy het hard gewerk om hulle waarlik mens te maak. “Hulle is nie monsters nie, almal het ’n goeie en minder goeie kant. En al sou ek byvoorbeeld Piet Cronjé glad nie vir ete wou nooi nie, het ek hom leer liefkry, foute en al.”

Die soldaat Maans Lemmer, ’n newekarakter wie se vrou en seun sterf, is Sonja se gunsteling. “Lemmer toon dat die ou Boere nie almal hardvogtig en stoer was nie, daar was ook dié met deernis.”

Die hartroerende briewe wat Lemmer in ou Afrikaans aan sy seun Willempie geskryf het, is losweg geskoei op die briewe van Frikkie Badenhorst, soos opgeneem in Tant Alie van Transvaal (Nasionale Pers, 1939). Maar Loots het besonderhede bygewerk en die taal het sy haar eie gemaak deur ou uitgawes van Die Patriot, die Patriot-woordeboek en Ons Klyntji te lees.

Die gebruik van die k- en m-woorde vir swart mense was vir Sonja baie swaar. “Dit was ’n skryfblokkasie wat ek net eenvoudig moes oorkom omdat ek in die leksikon van daardie tyd moes skryf. Die rassistiese terminologie kom uit ou geskrifte.”

Daar is ’n hele paar roerende tonele rondom dié karakters. Soos wanneer Cronjé se vrou, Hester, sterf en Fenyang terugdink aan hoe sy hom gedokter het – in haar kombuis langs die warm stoof waar sy hom “toegelaat het” om te slaap en vir hom gesing het.

Fassinerend vir Sonja was die navorsing oor die Edwardiaanse leefstyl, en sy beskryf die kostuums van veral die vroue haarfyn. Maar vir haar was dit belangrik om ’n boek te skryf waarvan mans ook sou hou. Sirkusboere is voorwaar soms lekker butch (“Die stad het hom sommer dadelik aan die balle beet”). “Ek het dikwels my werk vir mans gewys en gevra of ek nie dalk soos ’n vrou klink nie, hoe hulle sou optree en of ’n toneel werk.”

Haar afkeer van bloeddorstige rugby-skrums het juis gesorg vir ’n huiwering toe sy op die gegewe oor die Boereoorlog-spektakel afkom. Sy’s nie ’n bekeerde wat, soos die skrywer Thomas Hardy, glo “War makes rattling good history; but peace is poor reading” nie.

“In hierdie land is ons eintlik ’n bietjie moeg om te lees oor oorlog. Daarom gaan my roman eintlik oor daarna. Hoe gaan jy aan? Hoe leef jy met trauma? Hoe leef jy met verlies? Die Boere-oorlog raak so half ’n metafoor vir ander goeters.

“Ek het tien jaar geloop en tob oor die projek. Die boek wat jy gelees het, het ek tien maande gelede (voor Oktober 2011) aktief begin skryf. So dit was tien jaar, tien maande, tien uur en tien sekondes. Dit was toe ’n taamlik uitmergelende tien maande met lang ure en min slaap en donker kringe onder die oë en klasgee en kinders. Ek het bietjie laat gly op die gym-roetine.”

In Junie 2004 is sy op eie stoom na Amerika: na St Louis en Coney Island, waar generaal Piet Cronjé ’n kontrak met die spektakelbaron William A Brady gesluit het, nadat die “glorie” in St Louis hom platsak en vereensaam gelaat het. Hierdie jongste spektakel is só deur Brady geadverteer: “Piet Cronjé with real Kaffirs, mounted lancers and artillery”. Suid-Afrikaanse koerante het hom egter honend “die sirkusgeneraal” gedoop.

Presies honderd jaar later loop sy op sy voetspore terug, want sy’t iets van die moderne Afrikaner in hom gesien. “Soos hy, trag hulle stroef om die verwarrende magsverskuiwing in die oë te kyk,” skryf sy in haar essay “Circus Boers” op LitNet. “Soms word hulle belaglik gemaak, gemarginaliseer, en dikwels kies hulle om in die sonsondergang weg te ry, om elders ’n nuwe begin te maak. My vriende oorsee skrop toilette, vee oumense se gatte af, werk as duikinstrukteurs, bestuur hyswerktuie. Hulle sou selfs by die sirkus aansluit indien hulle moet.”

Nie een van haar vriende hoef egter twee keer per dag ’n skouspel van hul trauma te maak waarin hul verlede tot sirkus getransformeer word nie. Dis as’t ware die kern van Sirkusboere: die uitmergelende “vervalsing van die geskiedenis”, soos die literator Chris van der Merwe op LitNet skryf.

Sonja is versigtig om haar oor die weerklank in die hede uit te laat. “Die feit dat ek ’n boek geskryf het daaroor, beteken nie dat ek tot ’n klinkklare gevolgtrekking gekom het nie. Waaroor ek wel wonder, is of jy regtig iemand kan kry om te begryp of om met jou te simpatiseer as jy nie moeite doen met hoe jy jou pyn aanbied nie.”

“Dit was vir my opvallend met iets soos die Waarheid-en-versoeningskommissie. Dit was vir almal ’n ontsetting in meer as een opsig, maar ek het ook gedink dit was verskriklik om die mense weer deur daardie trauma te sit. Ek was lank ’n hofverslaggewer, waar jy sit en kyk hoe mense vertel waardeur hulle moes gaan. Jou verstand sou vir jou sê dis waar heling begin, maar in praktyk sien jy dikwels dat dit net nuwe trauma veroorsaak. Dit sou ’n baie mooi storie gewees het as jy jou trauma kon opvoer en vrygeraak het en die toekoms kon instap – genees.”

Dalk is dit die rede hoekom die sirkusboere die afgelope 100 jaar meestal stilgeswyg is. “Daai etiket van sirkusboere was neerhalend en daardie mense is ná die tyd uitgeskuif. Voor die tyd is Piet sterk afgeraai om te gaan. Selfs pres Steyn het vir hom geskryf en gesê asseblief moenie.

“Ek dink finansieel was dit vir baie Boere die enigste uitweg. As jy in so ’n emosionele niemandsland sit ná ’n oorlog, maak dit seker op ’n gek soort manier sin. Maar dis ’n skisofreniese ding om te doen. As ek daardie herinnerings lees wat Piet daarna in Die Brandwag geskryf het, wonder ek ’n bietjie oor sy geestestoestand. Hy het die storie vir homself vertel soos hy dit graag wou glo en hy’t dit regtig self begin glo, dink ek. Ek sou albei die generaals (Piet Cronjé en Ben Viljoen) vir terapie wou stuur!”

In Sirkusboere versinnebeeld die twee generaals die twee maniere waarop die traumatiese verlede van die Afrikaner verwerk kan word: Cronjé wat verknog is aan sy smaad, behep met die oorlog teen die Engelse. “Hy rol dit al groter, soos ’n miskruier sy stink bal, en hy sal aanhou rol totdat dit hom heeltemal verdwerg,” skryf Loots in Sirkusboere.

Viljoen, daarenteen, wil die verlede soos ’n vrot vel van hom afskud. “Daar is beslis die moderne Afrikaners wat soos Ben net weggly en ’n nuwe begin gaan maak. Almal van ons ken sulke mense en ek het self al daai strategie probeer,” sê sy. “Maar ja, dan is daar dié wat so vasklou en hatig en nydig en oneerlik raak. Albei is ewe ondoeltreffend. Nie een van hulle bereik nirvana nie.”

In ’n poging om te verstaan wat die deelnemers aan die projek gedryf het, fokus Loots se roman veral op vier figure: Frank Fillis, Piet Cronjé, Ben Viljoen en Cronjé se agterryer, Fenyang Mokeyane. Louise Viljoen meen dat daar heelwat vleis aan die been van hierdie karakteriserings is: elkeen van hierdie figure kom as ’n geronde en oortuigende karakter voor die leser te staan. Frank word geteken as ’n sirkusbaas met hope verbeelding, energie en ondernemingsgees wie se uitspattige projekte hom meestal in die skuld laat beland. Piet word voorgestel as ’n geldgierige maar ook diep godsdienstige en melankoliese man wat worstel met die nagevolge van sy vernedering by Paardeberg. Vir hom gaan dit onder meer daaroor dat die vertoning moet wys wat die Britse Empire die Boererepublieke aangedoen het. Sy eie optrede teenoor sy agterryer, Fenyang, is egter eweneens beskamend en slaan terug op sy vroeëre betrokkenheid by die “inboek” van swart mense ná skermutselings waarvoor hy uit sy pos as assistentveldkornet ontslaan is. Ben is ’n elegante sjarmeur wat met gemak in hoë kringe in Engeland en Amerika beweeg en hom tot elke prys wil losmaak van dit wat agter hom lê in Suid-Afrika. Die roman gee ook ’n geloofwaardige gesig aan Fenyang, die soort karakter wat vroeër nie veel voorgekom het in feitelike en fiktiewe representasies van die Anglo-Boereoorlog nie. Anders as die ander karakters is hy nie in ’n posisie om sy eie besluite te neem nie. Hy word gewoon as agterryer deur Piet saamgeneem na die oorlog en uiteindelik ook na St Louis.

Sonja slaag daarin om die leser behendig deur die magdom historiese gegewens te stuur deur die wyse waarop sy die roman stuktureer. Daar is net twee punte (die skeepsreis na Amerika en ’n beskrywing van enkele van die uitstallings by die Wêreldtentoonstelling) waar die leser voel die verteltempo wil-wil verslap, maar dit word gou weer reggestel.

Verder kan ’n mens jou verlustig in Loots se ryk en ruie Afrikaans, waarin al die registers van die taal oopgetrek word. Haar representasie van die Anglo-Boereoorlog en sy nasleep is een wat ’n mens nie durf misloop nie. Sirkusboere is ’n intelligente, deurdagte en goedgeskrewe roman wat veel te sê het oor menslike swakheid én heroïsme, oor opportunisme én oorlewingsvermoë.

Jeanette Ferreira skryf satire is waarskynlik die verste buitepos wanneer dit oor perspektief op ’n oorlog gaan. Min skrywers waag dit, veral wanneer die helde en antihelde in so ’n oorlog – in dié geval die Anglo-Boereoorlog – oor meer as ’n eeu heen geïdentifiseer is.

Uiteraard verg dit van outeur én leser volwassenheid en die vermoë om buite die gevestigde en algemeen aanvaarde opvattings te dink. Nie dat Loots die eerste is wat haar hand aan satire oor dié oorlog waag nie, net dat sy dit so briljant doen dat die vernuf van hierdie roman die tema oorstyg.

Met vars dialoog en ’n sterk individuele styl laat sy historiese figure só herleef dat hul swak­hede nie van hulle karikature maak nie, veral generaal Piet Cronjé, oor wie se rol by Paardeberg daar soveel uiteenlopende menings bestaan en waarvan die meeste is dat hy dwaas opgetree het.

Sonja Loots se roman handel nie net oor die ontluistering van helde en die verering van verontregtes nie. Buiten die geslypte satire word die sirkusarena ’n metafoor van die oorlog, van die karakters se ganse lewe: Speel vir die gehoor daardie deel van jou lewe wat die sirkusbaas vir jou in die arena bestem het.

Só word die vermaaklike en veragtelike grootdoenerigheid ook die tragiese. In hoofstuk ná hoofstuk ontvou ooreenkomste tussen die werklike lewe en die sirkus, die akteurs en die sirkus se lotgevalle. Nooit word hierdie ooreenkomste aan die leser opgedwing nie. Nooit word dit te ver gedryf nie. Loots ken haar vak. Sy kan haar leser boei en ontroer. En sy is gewoon meesterlik wanneer sy die koddige en die skrikwekkende van menslike sotheid en oorhoopsheid satiriseer.

Dit is vir Ferreira jammer dat daar so ’n oormaat beklemtoonde woorde is. Dit is hinderlik en doen afbreuk aan Loots se andersins gepoleerde styl. Dit tersyde is Loots se tweede roman ’n kragtoer. Sowel toeganklik as diepsinnig, skerp, briljant. Van universele belang en uitvoergehalte.

Op LitNet skryf Chris van der Merwe: “In Sirkusboere word ’n boeiende stuk geskiedenis op meevoerende wyse verwerk. Die leser wat ná die eerste twee bladsye van die boek nie lus voel om verder te lees nie, moet selfondersoek doen. Die meevoerendheid word onder andere verkry deurdat die verhaal in die vorm van kort tonele opgebou is, en telkens wissel van een tyd en plek na ’n ander, sodat die leser nie ’n kans kry om verveeld te raak nie. Dit sou ’n heerlike teks wees om te verfilm! Die gedurige wisseling tussen die verskillende tye het, naas die meevoering van die leser, ook ’n ander funksie: dit sluit aan by die sentrale tema van die verbondenheid van hede en verlede.

“Daar is wel enkele kleiner punte van kritiek. Piet Cronjé raak vir my soms oordrewe karikatuuragtig; hy is té eendimensioneel. Verder: die plekke en tye van die verlede word deurgaans op ’n besonder oortuigende wyse voor die gees van die leser geroep, en die historiese plekke en gebeurtenisse word oor die algemeen goed met die roman as geheel geïntegreer - maar ek is nie seker of die perdry-kompetisie tussen Ben en Buffalo Bill (257 ev), boeiend soos wat dit op sigself is, ’n funksie het in die ontwikkeling van die tematiek nie. Derdens: die taalgebruik is oor die algemeen gepas, die dialoog sprankelend, maar soms wil-wil dit beweeg in die rigting van mooiskrywery. Ek dink aan ’n sin soos die volgende: ‘Die baklei het soos ’n jakkals weggesluip, en in sy plek het swartgalligheid en selfverwyt aan Piet se hande kom snuffel’ (69).

“Dis egter ondergeskikte punte. Die hoofpunt is dit: hierdie sirkus gaan nog aan baie mense baie plesier verskaf!”

Oor ’n boek wat haar lewe verander het, het Sonja aan Beeld vertel: “Die boek wat die naaste daaraan gekom het om met ’n weerligslag van eensklapse insig en nuwe voornemens my lewe te verander, is die Duitse sprokiesroman Momo van Michael Ende (Tafelberg, 1977, vertaal deur Helene de Villiers).

“Die verhaal van die stryd teen die grys menere het my aangegryp en meegehelp in ’n besluit om van werk te verander en my dae anders te beplan. Die grys menere steel tyd. Met ’n klomp drome en ’n paar bedenkings, en met groot angs maar nog groter moed, uitoorlê Momo hulle mettertyd.

“Gewoonlik is die uitwerking van ’n boek egter meer subtiel. Miskien is dit ’n teken van my ontoereikendheid as leser, maar dikwels is dit ná jare nog net ’n enkele sin uit ’n roman, of ’n enkele strofe uit ’n gedig, wat my bybly. Dit sit soos 'n weerhaak in die gedagtes vas. Jy kry nie daarby verbygedink nie. As jy jou weer kom kry, is jy terug by die woorde wat so ’n indruk op jou gemaak het. Daar bly geen ander manier oor om dieselfde ding te sê nie.

“So byvoorbeeld eindig my bepeinsings oor die liefde letterlik nou al jare lank by ‘Aileall se liefdeslied’, ’n Middeleeuse gedig wat Karel Schoeman uit die Iers vertaal het. Aileal, wat verlief was op sy broer se vrou, noem die liefde onder andere ‘heldedade onder die see’. My kopie van Uit die Iers (Human & Rousseau, 1970) is al voos gevat.

“En dan is daar George Eliot se Middlemarch, wat my altyd troos as ek my ontstel oor die onbelangrikheid van my lewe en dié van die mense om my. Sy skryf oor die karakter Dorothea: ‘But the effect of her being on those around her was incalculably diffusive: for the growing good of the world is partly dependent on unhistoric acts; and that things are not so ill with you and me as they might have been, is half owing to the number who lived faithfully a hidden life, and rest in unvisited tombs.’”

Sonja is besig met navorsing vir haar voorgenome doktorale studies onder Louise Viljoen aan die Universiteit Stellenbosch – ’n studie oor verliesliteratuur. “Ek doen op die oomblik navorsing oor hoe Afrikaanse skrywers die verlede argiveer, so daar is raakpunte met my eie roman. Ek kyk na Ingrid Winterbach, Marlene van Niekerk, Eben Venter, Etienne van Heerden, Abraham de Vries.

“Ek dink dit waarmee die Afrikaanse letterkunde op die oomblik mee worstel, is waarmee almal van ons in ons alledaagse lewe worstel: Op hoeveel mag jy aanspraak maak? Hoe mag jy lewe as ’n Afrikaanse mens? Hoe mag jy Afrikaans praat? Hoe is dit sensitief deel van die land, van ’n inklusiewe identiteit, maar ook trou aan waar jy vandaan kom?”

Daar broei inderdaad ’n volgende roman in Sonja se kop, “maar wie weet: dalk neem dit nóg tien jaar voor ek daarmee klaar is.”

Publikasies:

Publikasie

Spoor

Publikasiedatum

1995

ISBN

062403402X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet


Publikasie

Sirkusboere

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780624053354 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Eugène Marais-prys 2012

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet


Artikels oor Sonja Loots beskikbaar op die internet:

Artikels oor Sonja Loots beskikbaar op die internet:\

 

Bygewerk: 2012-06-14
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address