Song for Marion: Die beleënheid van ouderdom

  • 1

Draaiboek en regie: Paul Andrew Williams
Rolverdeling: Terence Stamp, Vanessa Redgrave, Gemma Arterton, Christopher Eccleston
Punt: 4/5

Quartet, Amour, Song for Marion. Drie van die beste flieks wat ek vanjaar al gesien het, het twee dinge gemeen: bejaarde mense en musiek. In ’n samelewing wat heeltyd net wil jonger, mooier en vinniger, bied hierdie uitbeeldings van die beleënheid van ouderdom ’n wonderlike perspektiefwisseling. 

Marion (Vanessa Redgrave) is sterwend aan kanker, maar sy leef steeds vir alles wat elke dag bied, veral vir die sanggroep oues onder leiding van die jong onderwyseres Elizabeth (Gemma Arterton). Marion het ’n innige verhouding met haar knorrige man, Arthur (Terence Stamp), terwyl hy met min mense klaarkom, veral nie met hul enigste kind (Christopher Eccleston) nie. Arthur versorg sy vrou liefdevol, maar hy vrees gedurig dat sy haar sal ooreis en is dus gekant teen die sanggroep. Marion laat haar egter nie daar weghou nie, selfs toe sy later in ’n rolstoel is.

Die swaartepunt van die verhaal is die interaksie tussen Arthur en Elizabeth, veral ná Marion se dood. Hulle leer mekaar stadigaan werklik ken, en met haar begrip en openheid slaag Elizabeth daarin om Arthur na homself te laat kyk. Die slotsom? Dis regtig nooit te laat om te verander en te vergewe nie.

Hierdie fliek is pragtig. Soos die ouer mense besonders is in hul verhouding met mekaar, is ook die jong Elizabeth. Sy leef glad nie volgens die voorskrifte van “ordentlike gedrag vir oues van dae” nie (viva, Antjie Krog!) en laat haar sanggroep nommers sing wat die wenkbroue laat rys by die koorkompetisie waaraan hulle ten slotte deelneem – dis suiwer plesier. Daar is puik toneelspel deur al die akteurs, en dis veral lekker om Christopher Eccleston weer in ’n ernstige rol te sien.

Song for Marion is nogmaals ’n voorbeeld van die weldeurdagte en goed afgeronde soort film wat jy kry as die draaiboek en regie deur dieselfde persoon is. Welgedaan, Paul Andrew Williams.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 1

Kommentaar

  • Martie Retief Meiring

    Jy is reg met die beleënheid van die ouderdom, maar hier is 'n subteks wat die rolprent besonder sterk maak: die hantering van die dood  van 'n geliefde/ lewensmaat. Arthur tree eintlik weer in Marion se lewe (oop gesprek met Elizabeth; die waagmoed om te sing en die versoening met sy seun). Hierdie hantering van verlies  is iets wat Joan Didion of Joyce Carol Oates nie heeltemal kon regkry met hulle veel geroemde skrywes  nie. Williams se subtiliteit is wonderlik en watter bravura performances het  Stamp en Redgrave nie gelewer nie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top