Gustaf Pienaar: Regsalmanak | Columns

 
9 Augustus: Soms is regskoste nie "peanuts" nie
In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Vandeesweek die een en ander oor gedingskoste in siviele sake.

Miskien moet ek net gou eers weer verduidelik wat met "siviele saak" bedoel word.

As iemand deur die Staat aangekla word dat hy ’n misdryf gepleeg het waarvoor hy deur die hof gevonnis kan word, noem ons so ’n saak ’n strafsaak. As die hof aan die einde van die saak teen die beskuldigde bevind, sê ons hy word “skuldig” bevind.

Wanneer twee gewone landsburgers aan die stry raak oor byvoorbeeld die bepalings van ’n kontrak en hulle neem die saak hof toe, praat ons van ’n siviele saak. Die een party sal die eiser wees en die ander die verweerder. Sou die hof aan die einde van die saak teen, byvoorbeeld, die verweerder uitspraak lewer, word laasgenoemde nie "skuldig" bevind nie maar wel "aanspreeklik". Daar is dus sprake van ’n wenner en ’n verloorder in ’n siviele saak.

Dit bring ons by die koste-aspek. Normaalweg wen ’n party sy saak met koste; dit wil sê as die eiser die saak wen, dan word die verweerder verplig om die eiser se gedingskoste te betaal. Die omgekeerde kan ook gebeur – met ander woorde dat die eiser gelas word om die verweerder se koste te betaal, sou die eiser in sy saak misluk.

Koste is in die diskresie van die hof, maar gewoonlik word gedingskoste toegeken "op die skaal soos tussen party en party", soos dit genoem word. Dit beteken dat daar in die hooggeregshof- en landdroshof-reëls kostetabelle is wat die Takseermeester van die betrokke hof moet volg wanneer hy ’n kosterekening nagaan om te kyk of alles wat die suksesvolle party eis, toelaatbaar is.

Daardie kostetabelle skryf byvoorbeeld ’n sekere bedrag voor vir die koste van ’n brief of ’n telefoonoproep, of ’n konsultasie wat die kliënt met sy prokureur gevoer het, of die tyd wat die verhoor van die saak in beslag geneem het.

Die kostetabelle maak egter nie voorsiening vir ál ’n party se regskoste nie, want daar is sekere dinge wat ’n prokureur of advokaat móét doen ter voorbereiding van ’n saak wat onontbeerlik is, maar waarvoor daar nie altyd voorsiening in die kostetabelle gemaak word nie. Daarom is dit ’n normale verskynsel dat as ’n mens ’n siviele saak in die hof aanhangig maak, dit jou tog wel geld uit jou eie sak gaan kos - al wen jy die saak met gedingskoste.

Jou prokureur- en kliëntrekening - dit wil sê die rekening wat die prokureur vir jou as sy kliënt lewer - is gewoonlik hoër as die party- en partyrekening (die kosterekening wat opgestel word ooreenkomstig die kostetabelle in die betrokke hofreëls en wat deur die verloorder aan die wenner betaal moet word). Normaalweg kom die prokureur en sy kliënt vooraf ooreen oor die basis waarop die prokureur sy rekening sal lewer. Die gebruik is om op ’n tarief per uur ooreen te kom.

Nou gebeur dit soms dat die hof ’n party beveel om gedingskoste op die hoër skaal - die prokureur- en kliëntskaal - te betaal. In só ’n geval kan die wenner in ’n siviele geding omtrent ál sy regskoste van die verloorder verhaal. Maar dit gebeur slegs in buitengewone omstandighede dat ’n hof koste op hierdie hoër skaal beveel.

Dit bring ons by vandeesweek se saak, wat ’n voorbeeld is van ’n geval waar die hof koste op die hoër skaal - die prokureur- en kliëntskaal - beveel het. ’n Sekere mnr Nel van Bela-Bela (voorheen Warmbad) in Limpopo was lid van die "Waterberg Landbouwers Ko-operatieve Vereeniging" (sic). Tussen Junie en Augustus 1944 het hy teenoor die koöperasie die wanvoorstelling gemaak dat hy ’n baie groot grondboontjie-oes gehad het. In werklikheid het hy nog nooit grondboontjies geplant nie en het hy nie soveel as ’n enkele pit aan die koöperasie gelewer nie.

Wat gebeur het, is dat twee werknemers van die koöperasie wel met grondboontjies geboer het vir ’n byverdienste. Hulle was onder die indruk dat hulle nie as werknemers van die koöperasie toegelaat was om hul grondboontjie-oeste aan die koöperasie te verkoop nie. Hulle het nie geweet dat die minister van landbou reeds gedurende die vorige jaar, in 1943, hierdie beletsel opgehef het en dat hulle geregtig was om met hulle eie koöperasie sake te doen nie.

Die twee het mnr Nel gevra of hulle onder sy naam hul grondboontjies aan die koöperasie kon verkoop in ruil waarvoor hulle aan hom ’n goeie kommissie sou betaal. Hulle het kort-kort vir Nel inweegstrokies gebring wat hy dan na die koöperasie geneem het vir betaling. Op hierdie manier het Nel aan die koöperasie voorgedoen dat hy byna 91 000 ton se grondboontjies ingeweeg het, waarvoor die koöperasie hom net ’n rapsie minder as R5 000 betaal het. In vandag se geld is dit stellig al meer as R300 000 - wat ’n klomp geld is.

Mnr Nel het egter nie geweet dat hy self met twee swendelaars te make gehad het nie, want in werklikheid het hulle óók nie ’n enkele pit by die koöperasie laat inweeg nie. Omdat hulle in beheer was van die inweegproses, kon hulle maklik die inweegstrokies vervals.

Toe die koöperasie die skelmstreek agterkom, het hulle ’n eis teen Nel ingestel vir terugbetaling van die geld wat hulle aan hom oorbetaal het. Om een of ander vreemde rede het hy die saak verdedig, wat beteken het dat die koöperasie ook nog regskoste moes aangaan om ’n vonnis teen hom te kry.

As ’n teken van die hof se afkeuring van Nel se bedrog het die regter teen die einde van die saak hom nie alleen beveel om die oorspronklike R5 000 met rente aan die koöperasie terug te betaal nie, maar hy is ook gelas om die koöperasie se koste op die hoër skaal soos tussen prokureur en kliënt te betaal. Hierteen het Nel jou waarlik geappelleer, maar die Appèlhof in Bloemfontein was tevrede met die oorspronklike kostebevel. In sy uitspraak is dit duidelik dat die Appèlhof ’n deeglike ondersoek ingestel het na die herkoms en werking van die reël dat ’n party onder sekere omstandighede op hierdie manier met koste gepenaliseer kan word. 1

Na al die jare is hierdie uitspraak nog steeds goeie gesag wanneer iemand se advokaat of prokureur die hof vra om ’n party te penaliseer (of te "straf") deur ’n kostebevel op die hoër skaal – naamlik soos tussen prokureur en kliënt - te gelas.


[1] Nel v Waterberg Ko-operatiewe Vereeniging 1946 AD 591


Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address