Oor dood en Lewe en die agnostikus
Johannes Comestor, self ’n ateïs (was immers nog so tot onlangs) wat God wegwens omdat hy reken dat daar nie nut is vir die Godheid nie (het sy siening al verander oor die afgelope paar jaar, het hy meer wys geword en vordering gemaak?) skrywe oor die dood en daarná. Dit is nie die eerste maal nie, hy het dit al verskeie kere aangeraak en wil dit voorkom asof dié kwessie hom net nie met rus kan laat nie en asof hy ’n inherente onrustigheid daarmee wil besweer – ’n onrustigheid wat beslis nie ongefundeerd is nie. Sy seleksie van ander (meestal agnostici en verblinde soekendes soos Abel Pienaar en Anton van Niekerk) wat hy daaroor papegaai, dui daarop dat hy vir homself graag die saak wil uitmaak dat hy hom nié hoef te kwel daaroor, nie. Die feit dat hy dié kwessie gereeld in die openbaar aanspreek, dui egter daarop dat hy nie rus kan vind daaroor nie – weereens, tereg so.
Die feit is dat die persepsie dat die mens se fisiese afsterwe ’n einde aan alles bring, soos Comestor andere daaroor aanhaal, ’n voor die hand liggende hersenskim is.
Die Woord swyg ook nie oor dié kwessie nie.
Die fisiese liggaam vergaan en keer terug na sy oorspronklike formaat – na die aardelemente (stowwe) waaruit dit in die eerste plek deur God geformeer en geskape is (Genesis 2:7) soos ’n pottebakker wat sy klei formeer (Jesaja 29:16; Romeine 9:21) en die gees, dié keer terug na God en die plek wat God daarvoor bestem het (Genesis 3:19; Prediker 12:7) – na alles – dit is juis dié gees van lewe wat in die eerste plek deur God gegee is (Genesis 2:7) en waarvoor die agnostici met hulle kwansuis ‘omvattende’ evolusieleer absoluut géén antwoord of verklaring voor kan vind, nie en ook vermy vir die brander wat dié kwessie vir hulle gedrogtelike tipe evolusie leerstuk is … hoe lewe ontstaan, nie.
Die HERE Jesus Christus waarsku dat die siel nié gedood kán word nie en dat daar lewe ná die fisieke aardse bestaan is en dat daar verskillende bestemmings is (Mattheus 10:28; Johannes 14:1-4).
Daar is ’n besondere beskrywing in die Woord van die lewe ná die fisieke dood wat direk op die afsterwe van die liggaam volg – die betreding van die spirituele realm, waar die lewe voortgaan, baie interaksie plaasvind, maar waar die skeiding met die fisieke realm soos ons wie nog in die fisieke lewe is, dit ken, ’n voldonge feit, is (Lukas 16:23-31). Die HERE Jesus Christus het ook bevestig dat mense ná hulle afsterwe, glad nie ‘dood’ is soos die agnostici dit bedoel, nie (Markus 12:26-27).
Hoe staan sake in die praktyk van ons lewe en afsterwe op aarde?
Dit het geen sin in om voor te hou dat lewe sommerso ontstaan asof uit niet en dan ook net weer vergaan asof dit nooit bestaan het, soos die agnostikus wil voorgee, nie. Dit is só onhoudbaar en onlogies. Hulle is ook diegene wat aandring op bewyse vir alles, maar daar is boonop géén mediese of ander bewys vir soiets nie, aangesien die mediese wetenskap nog só onontwikkeld is dat dit nie daardie aspek kan aanspreek, nie. Die bewering wat hulle maak om hulleself mee te probeer troos en te verkul, naamlik dat die afsterwe van die liggaam die einde van alles beteken, is ’n wilde, ongefundeerde en onbewysbare bewering – geeneen van hulle wat dít beweer, was al in daardie posisie, of ken iemand wat in daardie posisie was of het énige mediese getuienis daarvoor, nie.
Daar is egter heelwat getuienis, selfs indirek, wat tot die teendeel spreek.
Comestor se redelik gereelde aanspreek van hierdie netelige (vir hulle) kwessie en die agnostiese bronne wat hy so papegaai daaroor, het één nut – die feit dat dié bronne algar van hulle se ongemak met die niks-na-afsterwe idee en dan ook daardie soms flambojante konstrukte wat hulle formuleer om hulself mee te kul (deel van daardie selfdesepsie psigose van die agnostikus om sy agnostisisme mee te bly voed) en die feit dat hulle hulself ook nie werklik glo nie, beklemtoon. Natuurlik sukkel hulle om hulself te glo – wat hulle hulself probeer wysmaak is só verregaande en onrealisties. Die agnostikus Barnes, wat deur Comestor gepapegaai word, kan tipies blykbaar nie vrede met die ‘dead-and-doneness’ van sy eie selfdeseptiewe konstruk, maak nie. Natuurlik nie, want dit is só onrealisties.
Brianvds praat van onsterflikheid ‘begeer’. Maar hy het dit mis. Daar is geen enkele mens wat werklik onsterflikheid ‘begeer’ nie – allermins gelowiges, want húlle weet hoe dit werk – dat mense nie onsterflikheid begeer nie, want mense het gewoon geen keuse of seggenskap daarin nie. In die hiernamaals ís daar onsterflikheid, of die mens dit só wil hê of nie – ook vir die agnostikus. Ál wat die mens kán begeer – en dít is wat die gelowige wél doen, is om te begeer om die onsterflike toekoms in die hiernamaals met sy Skepper, met God, deur te bring en dan sy lewe hier op aarde só in te rig volgens die riglyne wat van sy Skepper daarvoor neerlê is (Mattheus 22:37-40; Prediker 12:13-14), dat dit só sal verwesentlik uit SY genade – dit is juis ook die doel van die lewe op aarde soos ons dit ken.
Die probleem is dat die agnostikus, juis vanweë die deseptiewe staat waarin hy verkeer, wat die agnostisisme onderlê, nie kan onderskei tussen die fisieke en die spirituele dimensie van sy lewe as mens, nie. As hy sou kon, sou hy nie getwyfel het oor die lewe in die hiernamaals, nie. Hy sou besef dat dit juis die Spirituele is, wat die lewe aan die vlees gee, en dat die vlees kan ophou funksioneer, afsterf, kan vergaan, maar nie die spirituele, nie.
Maar die mediese wetenskap het wél al te doen gekry met getuienis wat heeltemal die ‘dead-and-doneness’ nosie van agnostikus weerspreek. Ons praat hier van die sogenaamde NDE. Mense wat klinies dood verklaar is, omdat die liggaam in alle opsigte ophou funksioneer, maar die persoon dan in die gees, in daardie sogenaamde ‘dooie’ toestand, besige en alles behalwe dooie spirituele ervarings het in die spirituele dimensie en dan terugkeer na die fisieke lewe om daaroor te getuig. Daar is ook die gevalle van mense wat as geheel en al ‘bewusteloos’ gediagnoseer is, maar wat wél spirituele ervarings in dié toestand het, terwyl die liggaam vir alle praktiese doeleindes nutteloos is.
Wat dit vir ons bewys, is dat die menslike bewussyn, wél bly funksioneer onafhanklik van die onbruikbare fisieke fakulteite van daardie mens. Daar is talle uit-die-liggaam ervaringe waarvan getuig word en waarby ek self ook al betrokke was in die sin dat die persoon waar ek by was in die vertrek, maar wie bewusteloos was, agterna haarfyn beskrywe het wat gebeur het en wie gekom en gegaan het en wat elk gedoen het terwyl dié persoon in die gees asof van bokant die mense af, die proses gade geslaan, het. Verskeie gevalle is daar waar mense onder swaar narkose sulke ervaringe het en sien en hoor wat gebeur tydens die prosedure. Michael Sabom rapporteer selfs ’n geval waar die vrou gedurende die prosedure ’n hartversaking beleef het waar geen lewenstekens op die EEG geregistreer het, nie, maar sy agterna kon kommentaar lewer omdat sy op daardie stadium ’n buite-die-liggaam ervaring had.
Jefferey Long is ’n wetenskaplike wat spesialiseer in stralingsonkologie en hy is oortuig daarvan dat bewustheid na die afsterwe van die liggaam voortduur op ’n georganiseerde en helder manier.
Wat ook al die antagoniste probeer aanvoer vir die feit van voortsetting van bewustheid en lewe ná die fisieke afsterwe van die liggaam, hoe hulle dit ook al sal wil probeer wegpraat en afmaak, die feit daarvan staan soos ’n paal bo water want dit gebeur alles terwyl die liggaam juis in onbruikbaarheid, die sogenaamde staat van ‘dead-and-doneness’ verval het en só sou bly, was dit nie vir die terugkeer van lewe en bewustheid na daardie ‘dead-and-done’ liggaam, nie. Dié gebeure is al die onderwerp van wetenskaplike studies en die voorkoms daarvan is al in gesaghebbende mediese tydskrifte soos Lancet gerapporteer terwyl géén mediese verklaring (op hierdie stadium van ontwikkeling) daarvoor gegee kan word, nie.
Daarom kan ons met gemak en oortuiging sê – daar ís lewe na die afsterwe van die liggaam, want die beskikbare getuienis dui daarop en die getuienis van die wetenskap, hoe ongesofistikeerd die rapportering en hantering daarvan nou ook al op hierdie vroeë stadium van die ontwikkeling van die wetenskap is, bevestig weereens die betroubaarheid van die Woord in daardie opsig óók …
En met reg is die Johannes Comestors en die Barnes’e van die agnostiese lewe in die plek waar hulle net eenvoudig nie vrede kan maak met hulle selfdeseptiewe nosie van ‘dead-and-doneness’ nie, ten spyte van die vermeerdering van sogenaamde kennis wat hulle sou moes kon vertroos, nie. Dit pla hulle, tereg, só baie, dat hulle ’n studie prober maak daarvan en selfs boeke daaroor skywe. Maar soos dit ongelukkig met hulle is, soek hulle al op die verkeerde plek vir dié kennis en ignoreer hulle doelbewus (’n tipiese metodiek) die tersaaklike kennis, omdat dié hulle hopelose ‘dead-and-doneness’-hoop sal verpletter.
Dan is dit soos Trienie opmerk – ons kry hulle jammer oor hulle troostelose hopeloosheid sonder die deelname aan die belofte van God, die Gewer van die Lewe.
Groete … en sterkte vir dié wat dit nodig gaan hê …
Kobus de Klerk