Die afgelope tyd word daar oor Israel gesels hier op die Net. En ja, Israel is voorwaar God se uitverkore volk. En daarom werd om dop te hou as ‘teken’ van toekomstige dinge wat hier op aarde gaan gebeur.
‘n Groot deel van die Bybel handel oor die volk Israel. En wanneer jy die kronologiese gebeure begin dophou, sien jy Israel is voorwaar:
Die volk...
Die land...
Die belofte...
Die stryd...
Die heerlikheid!
Ons kan baie by Israel leer. Die Here het ‘n geestelike standaard aan Israel gestel vir die voorreg om “volk van God” genoem te word. Verlengde tye van nasionale rebellie en ongehoorsaamheid het daartoe gelei dat die Here Sy volk dikwels aan hulle vyande oorgegee het, sodat hulle tot besinning kon kom en uit foute gemaak, kon leer. Baie mense meen, (indien volledige godsdiensgeskiedenis nie bestudeer) dat God in die ou Testament uiters wreed en ongenaakbaar voorkom. Maar wanneer daar indiepte gekyk word na Israel se voortdurende rebellie, sondes gepleeg, hul ondankbaarheid oor die goeie dinge wat God hul geskenk het, hul afgodery en verwerping van die Messias, besef jy dat God moes optree! Kom ons leer by Israel ...
Maar, wonderlik om te dink op geen tydstip van Israel se bestaan was daar twyfel aan die geloofwaardigheid of geldigheid van die onvoorwaardelike beloftes wat God aan die vaders van die volk Israel gemaak het nie. Die Here self was, en is steeds, die waarborg van die Abrahamitiese, Kanaänitiese en Davidiese verbond wat die land as ‘n ewige toesegging aan Israel verseker.
Hierdie wete laat my hart swel. Die besef dat God beloftes aan sy kinders gemaak het, in sy Woord, wat Hy nooit sal verbreek nie.
Israel se toekoms is dus seker, omdat die God met wie hulle voorvaders plegtige verbonde gesluit het, getrou is. Weldra, sal God self Sy heerlikheid aan Israel en die nasies openbaar, waarby ons ingesluit is: “Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen.” Hand. 15:16-17
Kom ons hou Israel maar dop – ‘n vingerwyser na die horlosie.
Trienie Mahne