Hoeveel kaf in Kafka?

  • 0

In die wysbegeerte is dit veeleisend om die geskrifte van bv Ludwig Wittgenstein (1889-1951) en Martin Heidegger (1889-1976) te begryp. In die letterkunde is daar moeilik verstaanbare skrywers soos James Joyce (1882-1941) en Samuel Beckett (1906-1989). Oor Joyce se Finnegans Wake (1939) het Harold Nicolson geskryf: "It is almost impossible to decipher, and when one or two lines of understanding emerge like telegraph poles above the flood, they are at once countered by other poles going in the opposite direction" (SêNet, 10.09.2012). As 'n mens op soek na verheldering jou na vertolkings van sulke skrywers se werke wend, wyk die duisternis in 'n mate, maar 'n mens kan ook mislei word.

In die jare sestig, toe die eksistensialisme in die mode was, was daar in die boeke van Jean-Paul Sartre (1905-1980) en Simone de Beauvoir (1908-1986) heelwat wat vir my sin gemaak het. As 'n mens na 'n halfeeu daarna toe teruggaan, is daar steeds hier en daar helder klanke wat opklink, maar onderlangs is daar glad te veel gedruis wat maar liewer kon gebly het. Ook die herlees van Albert Camus (1913-1960) se werk is teleurstellend. Dit is bv nie langer sinvol om vryheid so absoluut te verabsoluteer nie, want volgens wetenskaplike bevindings en selfs in die sosiale praktyk lyk dit asof die moontlikhede vir menslike vryheid al hoe minder word.

Maar wat maak 'n mens met Franz Kafka (1883-1924)? Daar is twee maniere om hierdie harde neut te kraak: om die werke deur én oor hom te lees. Ek het albei probeer. Ten einde die koring van die kaf te probeer skei, is al wat daarna oorbly om self te besin, om self te kyk waar die lig moontlik deurbreek. Is die probleem met my benadering nie dalk juis dat ek hom (te) rasioneel takseer nie? Moet ek nie liewer toelaat dat hy my met sy irrasionaliteit en absurditeite meevoer nie? Of moet ek liewer die saak gewonne gee? Die opbrengs is tot dusver min en die tyd en inspanning wat dit geverg het, is baie. Kafka was sekerlik in 'n mate gek (skisofrenies) en ek wil nie dat dieselfde lot my tref nie.

Ek weet dat Joseph K se verhoor (The Trial, 1925) nie 'n verslag van die gebeure rondom sy huweliksaansoek aan Felice Bauer (1887-1960) is nie, maar eerder sy wilde verbeeldingsvlugte na aanleiding van daardie gebeure is. Wat werklik gebeur het, word feitlik onherkenbaar verfrommel. Moet ek die goeie wil behou en lojaal die pad tot die einde met Kafka loop? Maar daar is nie 'n bestemming nie omdat hy nie klaar aan die stuk geskryf het nie; nog minder dit herskryf of hersien het. Dit geld ook K in The Castle (1926) en ook Amerika (1927). Vandaar Kafka se heel moontlik redelike versoek dat al sy ongepubliseerde skryfwerk liewer vernietig moet word, wat Max Brod (1884-1968) nie gedoen het nie.

Ek verstaan dat sy hoofkarakters, soos Josef K en K, objektiverings van homself is. Ek weet dat hy nie realistiese beskrywings aanbied nie, in die sin dat dit gaan oor dinge in sy onderbewussyn en oor wat hy gedroom en hom verbeel het. Maar die mate van irrasionaliteit en absurditeit oorskry te ver die grense van redelikheid. 'n Woord kan net sowel sy teenoorgestelde beteken. 'n Mens het hulp by die vertolking nodig en ek het dit in talle kommentare gesoek, maar ek twyfel of ek (genoeg) verstaan gevind het. Kafka het vir seker iets te sê, maar wat hy gelewer het, is dikwels eerder amper iets, omdat sy boodskap nie ondubbelsinnig gekommunikeer word nie; dalk omdat hy juis sinloosheid wou oordra. Die teks bied ruimte vir allerhande vertolkings. Dit kan wees dat Kafka pêrels uitstrooi en hulle is seker eg, maar is hulle blink genoeg? Daar is 'n onafheid in sy werk, soos die letterkundiges sou sê. Maar juis daarmee wen sy geskrifte (skynbaar) aan spontaneïteit en onvervalstheid.

Pietro Citati (Kafka, London: Minerva, 1991, 320p) word gereken as 'n vertolker van Kafka se werk. Reeds aan die begin verseker Citati sy lesers dat Kafka "lived far away, very far away, in a world that did not belong even to him" (p 3). Daar is treffende aanhalings soos "The words are hard, we walk on them as on an uneven pavement" (p 11), "I take a piece of my heart, carefully wrap it in a few sheets of written paper and give it to you" (p 11) en "The deeper one digs one's grave, the more silence one achieves" (p 21).

Citati: "Hearts open completely only when faces are distant, when presence does not imprison us and glances do not touch" (p 12). "Writing was exactly this irresistible tide: it had the unlimited, undefined and uninterrupted quality of water, and at the same time it seemed a navigation on water" (p 52). Kafka wou sy lewe verletter: "To abolish life within oneself and transform it into that pure, translucent, absent and empty substance called literature" (p 53). "A writer's life truly does depend on his desk ... he must cling to it with his teeth" (p 228-229).

"'Outside of this world that we know is there still hope?' Max Brod asked his friend. Kafka smiled: 'Oh, certainly, much hope, infinite hope, but not for us'" (p 160). "The world is full of possibilities, but I do not yet know what they are" (p 213). "No one sings as purely as those who are in the deepest depths of hell" (p 216). Dit is nie Kafka se pessimisme wat my onderkry nie, maar sy irrasionaliteit, sy viering van absurditeite. Aan die een kant: "I am greedy for solitude" (p 113). Aan die ander kant: "He needs friendship, affection and the sound of a human voice, like a dog" (p 79).

In Elias Canetti se Kafka's other trial: The letters to Felice (New York: Schocken Books, 1974, 121p) is daar hierdie aanhalings: "If one bolts the doors and windows against the world, one can from time to time create the semblance and almost the beginning of the reality of a beautiful life" (p 39). "There are times, Felice, when I feel you have so much power over me that I think you could change me into a man capable of doing the obvious ... What a lovely feeling to be in your safekeeping when confronted by this fearful world which I venture to take on only during nights of writing" (p 31).

Ek haal by voorkeur aan wat Kafka oor skryfwerk sê: "When I am telling a story I usually have the kind of feeling small children probably experience when attempting their first steps" (p 32). "Writing means revealing oneself to excess ... This is why one can never be alone enough when one writes, why there can never be enough silence around one when one writes, why even night is not night enough" (p 37). In James Hawes se Excavating Kafka (London: Quercus, 2008, 243p) is daar hierdie aanhaling: "I have to pile up insecurities inside me before they can turn into a little security or a letter" (p 160).

Die uiterste mate waarin Kafka se werk op subjektiewe ervaring gebaseer is, blyk uit die titel van Louis Begley se uitstekende boek, The tremendous world I have inside my head; Franz Kafka: a biographical essay (New York: Atlas, 2008, 223p). Kafka: "People are sewn into their skins for life and cannot alter any of the seams" (p 62). Begley: "Even a modicum of knowledge about Kafka's life and his social context should enhance the experience of reading his work" (p 7). Oor Amerika het Kafka aan Felice geskryf: "The novel is me, my stories are me" (p 6). Ook: "Since perfection cannot be achieved one must at least come as close to it as possible, and not give a thought to sparing oneself" (p 35).

In sy dagboek het Kafka geskryf: "It became clear in my organism that writing was the most productive direction for my being to take" (p 38) en dat "breadwinning and the art of writing must be kept absolutely apart" (p 42). Dan volg die verwysing in Begley se boektitel: "The tremendous world I have inside my head, but how to free myself and free it without being torn to pieces" (p 38). "If I can't pursue the stories through the nights they break away and disappear" (p 47). Aan Felice het Kafka geskryf: "All I possess are certain powers which, at a depth almost inaccessible under normal conditions, shape themselves into literature" (p 97-98). In 1904 het Kafka aan Oskar Pollak (1883-1915) geskryf: "A book must be the axe for the frozen sea inside us" (p 149).

Die aanwese eerste benadering tot Kafka is moontlik Jeremy Adler se geïllustreerde Franz Kafka (London: Penguin, 2001, 164p). Kafka: "I don't even have anything in common with myself" (p 18). Aan Felice het Kafka geskryf: "I doubt that I am a human being" (Begley, p 23). Onder andere op grond hiervan bevraagteken ek die volgende stelling van Adler: Kafka se "unique appeal ... ultimately rests on the simplest paradox of all: all human beings are the same, but everyone is human in their own way" (p 8). Kafka se menswees was egter glad nie tipies nie.

Oor Kafka se ontwikkeling van 'n eie skryfstyl: "Family feeling gave me an insight into the cold space of the world that I had to heat with a fire which I first had to look for myself" (p 29). Aan Felice het Kafka geskryf: "I have a hellish love of screaming into the ears of a well-prepared, attentive audience" (p 83). Oor aanvaarding van die dood: "From a certain point, there is no going back. That is the point to reach" (p 117). "My life is a hesitation before death" (p 124). Franz Blei (1871-1942) het gesê: "Kafka was the 'servant of a God in whom he did not believe'" (p 111). Brod het Kafka se skryfwerk 'n "form of prayer" genoem (Wikipedia).

Kafka het aan erge angsneurose en depressie gely. Sy geskrifte word as enigmaties (misterieus, duister, raaiselagtig) bestempel en allegories vertolk. Die hoofindruk wat Kafta se werk laat, is dié van troosteloosheid en uitsigloosheid. Kafka het eksistensialiste soos Sartre beïnvloed. Camus was veral vatbaar vir Kafka se uitbeelding van absurditeit.

Johannes Comestor

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top