God se openbaring van Homself aan die mens
Brianvds skryf in ’n kommentaar dat hy meen God is skugter om na vore te kom om Homself te openbaar en meen dit is ’n aanduiding van die Goddelike nie-wees.
God is egter op geen manier ‘skugter om na vore te kom’, nie. Ons as ware gelowiges weet dit want ons het kontak met God en HY figureer in haas elke aspek van ons lewens op een of ander wyse. Maar God is nie opdringerig soos ’n mens wat reklame moet maak vir homself nie – God is absoluut verhewe bo sulke gedrag en het dit allermins nodig. Dit strek God tot geen voordeel as ’n mens in Hom glo nie, want die mens kan God met niks behaag waaroor God nie alreeds in oormaat oor beskik nie. Die feit dat God Homself dus aan mense beskikbaar stel om ’n verhouding met Hom te hê as God en hulle Skepper, is deur en deur slegs tot voordeel van die betrokke mens en ’n Genadedaad van God. God is dus nie ter wille van enigiets, allermins SY Eie bekendheid, manipuleerbaar soos mense is, nie en hoef ook hoegenaamd niks aan mense te bewys om hulle guns te wen, nie.
Alle mense leef dus in God se goedertierenheid en om te wil dink dat mens nie genade (goedertierenheid) van God nodig het, nie, is eerder ‘n bewys van God se milde vrygewigheid deurdat HY alle mense só gelykmatig behandel dat die onkundiges en insigloses onder hulle selfs nie eens besef tot watter ingrypende mate hulle op SY genade leef, nie. Die feit dat die agnostikus dit misbruik, maak dit nie minder goedertieren en genadig nie, maar beklemtoon dit eerder.
God het SY reëls op aarde in die fisiese dimensie gelykmatig gestel het vir almal want God is nie partydig nie (Handelinge 10:34). Deel van God se reëls hier is SY genade aan al SY skepsels, welke HY regverdig, deur die bank, beskikbaar stel. Elke mens kry dus dieselfde geleentheid om sy lewe te leef MAAR ook sy verhouding met God te vind en uit te brei en soos met enige ander stelsel op aarde, is daar ook sekere riglyne en reëls wat gevolg moet word om suksesvol dáárin te wees – dit is waar gehoorsaamheid aan God die deurslaggewende rol speel. God het só beskik dat HY van almal verwag om Hom te gehoorsaam en dat hulle Hom sal eer en daartoe gee God aan hulle almal ’n gelykmatige geleentheid om dit te doen.
Agnostici het ongelukkig die manier om van God te verwag om op hulle vlak vir hulle op hulle voorwaardes ’n eiesoortige en identifiseerbare vertoning te kom lewer om Homself aan hulle te kom bewys … hoe onnatuurlik van hulle. In die natuurwetenskap is daar hoegenaamd niks wat na vore kom en vir agnostiese wetenskaplikes vertonings kom lewer om laasgenoemde van hulle bestaan te kom oortuig nie. Die waarheid is eerder dat wetenskaplikes deur onverpoosde soektogte en indringende ondersoeke dinge in die Goddelike natuurskepping vind, wat lánk reeds bestaan het, maar nou eers in die bewustelike realm figureer omdat die wetenskaplikes genoeg moeite en toewyding aan die dag gelê het om dit te vind. Dit is die natuurlike, Goddelike reël - dit is die mens se plig, met álles, so ook ’n suksesvolle verhouding met God. As jy iets te wete wil kom, moet jy daarvoor gaan soek waar dit waarskynlik te vinde is en met genoeg toewyding, sal jy dit vind. Hierdie is ’n universele Goddelike reël wat vir alles en almal geld (Lukas 11:10-13). Tog doen die wetenskaplike dit geredelik, maar wanneer dit by sake Gods kom, wil hy ’n vertoning hê - hoe onnatuurlik en onsinnig.
Maar dit is nie die reël nie. Elke mens op aarde kry dieselfde geleenthede met God – soek en jy sal vind - der miljoene gelowige mense volg die reëls daarvan en verkry hulle verhouding met God ooreenkomstig die leer van die HERE Jesus Christus want God lewer nié sulke ‘reklame’ vertonings nie (Mattheus 12:38-45) vir die redes daar genoem.
Niemand hoef God ‘blindelings’ te glo nie. Blindelings? Gelowiges is juis nié blind nie. Daar is meer as genoeg aanwysers (pointers) na Goddelike betrokkenheid in die natuur om ons. Maar sommige mense, die agnostici, verkies om die aanwysers te neem en doelbewus ’n interpretasie daaraan te probeer heg en hipotese daaromheen weef sodat hulle Goddelike betrokkenheid daardeur kan probeer ontken en wegpraat. Dit is baie moedswillig.
Gelowiges glo baie dinge wat hulle nog nie verstaan nie, maar hulle is seker van God se integriteit en neem Hom op SY Woord omdat hulle Hom ken. In daardie proses neem God hulle op ’n weg waar HY dan mettertyd en gaandeweg openbaarmaak die dinge wat hulle tevore ter goeder trou geglo het. Omdat God, GOD is, verwag HY van mense sulke geloof, want HY is betroubaar. Dit is die Weg. Dit geld vir almal – vir gelowiges en vir ander, daar is geen uitsonderings nie.
God sal niemand wegstuur wat glo, nie. Daar is die geleentheid vir die agnostikus om God te ontmoet nes daar ook vir enige gelowige is. Verskil is dat die gelowige die geleentheid benut en die agnostikus verkies om die rug te draai. Om te sê alles sal tog in elke geval in die hiernamaals geopenbaar word, is duidelik opportunisties en wederstrewig. Dit is duidelik dat God reeds van die mens in lewe verwag om sy verhouding met God te vestig, sodat daar ’n konklusie - vervulling van verwagtinge en vervolmaking van verhoudinge - in die hiernamaals tussen God en die gelowiges kan verwesentlik. Watter geleentheid is daar vir ’n agnostiese mens wat in lewe, met allerlei verskonings en jakkalsdraaie doelbewus distansie van God soek, dat daar skielik in die hiernamaals verbetering sal intree? Nog rebellerende bendes wat soos die satan en sy bende sal wil optree? Dit is tog duidelik dat God it nie só wil hê, nie. God verwag die kennismaking en verbintenis en verinniging van die mens met God, met die HERE, komende van die mens (Johannes 3:16; 1 Timoteus 2:3-5; Openbaring 3:20) terwyl die mens nog lewe op aarde, sodat die hiernamaals daardie verhouding kan volbring daardeur te vervolmaak en verewig, soos ’n Bruidegom met sy bruid (Jeremia 7:34; 16:9). Watter suksesvolle ‘huwelik’ is daar moontlik tussen partye as die een weens doelbewuste Goddeloosheid gedurig probeer wegbeur van die ander (Openbaring 18:23)? Geliefdes doen moeite en soek mekaar op en vind mekaar. Vreemdelinge beur egter weg en word dus ook weggewys en moet dan nie behandeling soos en binnekennis van, ’n huweliksgenoot verwag, nie.
En dit is ook hoegenaamd nie asof God SY skepsels ignoreer oor SY identiteit en wese, nie. Die HERE het op verskillende maniere immers alreeds en steeds, in baie detail SY aard en wese, van God, aan die mensdom kom voorstel (Johannes 14:6-7). Na die Hemelvaart van die HERE, het HY verskeie mense deur die Heilige Gees geïnspireer (Johannes 14:16-17) om op skrif te stel (die opgeskrewe Woord - Bybel) alles waartoe HY hulle inspireer, sodat algar kennis kan opdoen oor God en dan dit voortsit en daarop te bou deur ’n persoonlike verhouding met God op te bou (2 Timoteus 3:16-17).
Voor dit, het die HERE aan verskeie mense as profete (sien die Pentateuch en die Ou Testamentiese profete boeke) SY aard, Wese en Wil kom openbaar. Nog voor dít, het God wél direk met mense gekommunikeer, maar dié ervaring was vir mense een te veel om te hanteer, vanweë die Heerlikheid van God en hulle het aangedring op ’n tussenganger tussen hulle en God, waarop God dan tot vandag toe, die stelsel van profete as tussengangers ingestel het as kommunikasie metode tussen God en mens (Deuteronomium 18:15-19), tesame met SY Eie direkte openbarings aan gelowige mense deur SY Heilige Gees (Eksodus 31:2-3; Numeri 11:17; Nehemia 9:20, 30; Haggai 2:5; 1 Korinthiërs 3:16–17; Romeine 8:11).
Die vraag of hindoes en moslems en animiste en so aan ook darem Hemel toe gaan, is baie maklik om te beantwoord omdat die HERE die kwessie van Hemel toe gaan, in geen onduidelike of dubbelsinnige terme aanspreek en dit dus vir geen mens nodig sal wees om eens ’n oningeligte opinie daaroor te waag nie – die Reël (Johannes 14:6) is presies dieselfde vir alle mense – gelowiges, moslems, agnostici, hindoes, animiste en wie ook al anders – en elkeen sal by die nakoming of nie- nakoming van daardie reël staan of val.
Daar is dus geen regverdiging vir die agnostikus om te sê hy ken God nie. Dit is dan eerder ’n geval dat hy op die stadium wat hy agnosties verkeer, doelbewus nie wíl leer van en kennis maak met God, nie.
Kobus de Klerk