SêNet-briewe | Letters

 
Die intellektuele gasvryheid van Robert Ingersoll

Voordat die internet toeganklik geword het, was dit moeilik om inligting deur of oor Robert Ingersoll (1833-1899) te bekom. Ek het destyds twee van sy opstelbundels tweedehands gekoop. Wat my dadelik getref het, was Ingersoll se besondere seggingskrag en vloeiende skryfstyl. Dit het geblyk dat sy opstelle veral met die oog op voordrag geskryf is. Hy het sedert 1857 as 'n regsgeleerde gepraktiseer en veral as advokaat uitgemunt. In die laaste kwart van die 19de eeu was hy as openbare spreker dwarsoor Amerika bekend.

Soos van sy tydgenote wat bv intellektueel uitgestyg het (soos Abraham Lincoln), was selfstudie die sleutel tot sukses. Ingersoll het groot waardering vir die werk van bv William Shakespeare en Robert Burns gehad. "Other writers are like a garden diligently planted and watered, but Shakespeare a forest where the oaks and elms toss their branches to the storm, where the pine towers, where the vine bursts into blossoms at its foot" (Kindle 453 - bron hieronder). Amerikaners soos Ingersoll en Lincoln het hulleself ontwikkel en self geleenthede geskep. Hulle het nie, soos deesdae plaaslik en elders voorkom, gewag dat ander mense hulle moet help en aan hulle geleenthede moet bied nie.

Deur werke oor die Verligting, wat in Europa plaasgevind het, te lees, het Ingersoll self geestelik verlig geword. Hy het idees aangehang wat met dié van sy pa, 'n Presbiteriaanse predikant, verskil het. Ingersoll het dit nodig gevind om oor sy opvattings te praat tydens al hoe meer en al hoe groter byeenkomste. Hy het gehoop dat sy medemense ook verlig sou word. "We are not endeavoring to chain the future, but to free the present" (K 105). Hy het sy vertroue in rasionaliteit, wetenskaplike bevindings en tegnologiese uitvindings gestel. Volgens hom was dit die grondslag vir vooruitgang en optimisme. "The church still faithfully guards the dangerous tree of knowledge, and has exerted in all ages her utmost power to keep mankind from eating the fruit hereof" (K 797).

Dit was die tyd toe Charles Darwin se ewolusieleer tot groot misnoeë in kerklike geledere gelei het. Ingersoll het as die groot agnostikus bekend gestaan. Hy is "Robert Injuresoul" genoem (K 48). Dit het veroorsaak dat hy nooit 'n hoër openbare pos as dié van prokureur-generaal van Illinois, sedert 1867, kon beklee nie. Hy het hierdie betrekking na sy deelname aan die Amerikaanse Burgeroorlog gekry. In 1876 het hy hom in Washington DC en in 1886 in New York City gevestig. Van sy vriende was skrywers soos Walt Whitman (nog 'n self-opgevoede) en Mark Twain, die uitvinder Thomas Edison en die nyweraar Andrew Carnegie .

Ingersoll het in 'n tyd gelewe toe min openbare vervoer in die vorm van spoorweë beskikbaar was. Openbare byeenkomste het vir sowel inligting as vermaak gesorg en mense het ver te perd gery om daarby uit te kom. Mikrofone en klankopnames was nog nie beskikbaar nie. Die radio, rolprent en televisie sou ook eers later volg. Tog was Ingersoll landswyd as openbare spreker bekend. Hy is as die beste orator van sy tyd beskou.

Hoewel sy geskrifte in 1902 deur sy swaer in twaalf boekdele gepubliseer is, het sy nalatenskap spoedig in die vergetelheid geraak. Deesdae is al sy skryfwerk op die internet beskikbaar. Susan Jacoby se boek, The great agnostic: Robert Ingersoll and American freethought (New Haven: Yale University Press, 2013), is 'n poging om 'n herwaardering van Ingersoll se werk te bewerkstellig. Min inligting oor sy lewe word deur Jacoby verskaf. Die klem val op Ingersoll se idees en die omstandighede waarin hulle uitgespreek is.

Die redes vir Ingersoll se ongewildheid in sommige kringe blyk duidelik. Hy het homself onomwonde 'n vrydenker, 'n humanis en 'n agnostikus genoem en geen onderskeid tussen agnostisisme en ateïsme getref nie. Hy was 'n voorstander van die absolute skeiding van die gesagsgebiede van die staat en kerk. Hy het sy standpunt beskou as bloot 'n voortsetting van die goeie insig wat die grondleggers van die Amerikaanse staat en die skrywers van daardie grondwet geopenbaar het. "They knew that to put God in the Constitution was to put man out" (K 54). Hiermee het hy die standpunt van Thomas Paine onderskryf.

Verder het Ingersoll, soos sy pa, die hoogs omstrede afskaffing van slawerny bepleit. Die doodstraf, marteling, wreedheid en selfs lyfstraf was vir hom onaanvaarbaar. Daarby was hy ten gunste van vroueregte, bv stemreg vir almal. Hy het hom onomwonde van anti-semitisme gedistansieer. Ingersoll het verdraagsaamheid bepleit. Andersins was sy politiek egter dié van 'n konserwatiewe Republikein. Sy gelukkige gesinslewe (hy het 'n vrou sedert 1862 en twee dogters gehad) was alombekend.

Jacoby se teks is van 'n nie-propagandistiese aard. Dit spreek boekdele vir die agting wat sy en haar onderwerp inboesem dat 'n hoogaangeskrewe universiteitsuitgewery soos Yale hierdie biografie gepubliseer het. Sy toon aan dat Ingersoll brûe tussen liberale sekulêres en nie-fundamentalistiese godsdienstiges probeer bou het. Om in kerklike kringe meer aanneemlik te wees, het Ingersoll verkies om homself eerder 'n agnostikus as 'n ateïs te noem. Hy het beklemtoon dat die waarheid van wetenskaplike kennis voorlopig van aard is; dat latere resultate ander en beter insigte kan bring. Jacoby kontrasteer Ingersoll se skeptiese gesindheid telkens met die fanatieke standpunt van die Nuwe Ateïste (K 196, 928, 1105 en die nawoord). By Ingersoll was daar "intellectual hospitality" (K 771).

Ingersoll het 'n hipnotiese invloed op sy gehore gehad. Hy het hulle informeel in gewone spreektaal toegespreek. Sy aanslag was populêr en nie geleerd of tegnies nie. Hy het heelwat gevatte humor ingesluit en vrae uit die gehoor bevredigend en dikwels oortuigend beantwoord. Nadat 'n mens 'n aantal van sy opstelle gelees het, word sy styl bekend; ook sy neiging tot oordrywing. Daar is feitlik noodwendig ook heelwat herhaling. Let op die eenvoud en duidelikheid van die volgende: "While I am opposed to all orthodox creeds, I have a creed myself; and my creed is this. Happiness is the only good. The time to be happy is now. The place to be happy is here. The way to be happy is to make others so" (K 1001).

Ten slotte enkele aanhalings uit die bundels waarna ek in die eerste paragraaf hierbo verwys het. Ek verskaf nie bladsynommers nie, want die bundels is nie deurlopend genommer nie. Oor "the clergy": "At first they flatly denied the facts - then they belittled them - then they harmonized them - then they denied that they had denied them. Then they changed the meaning of the 'inspired' book to fit the facts." Hy haal Paine soos volg aan: "To argue with a man who has renounced his reason is like giving medicine to the dead." Ingersoll: "I had rather go down in the glory and grandeur of the storm, than to rot in any orthodox harbor." "True genius never cowers, and there is always some Samson feeling for the pillars of authority."

"Treat your wife as though she were a splendid flower, and she will fill your life with perfume and with joy ... I like to think love is eternal. And to love in that way and then go down the hill of life together, and as you go down, hear, perhaps, the laughter of grandchildren, while the birds of joy and love sing once more in the leafless branches of the tree of age." Ingersoll het dikwels die rede by begrafnisse gevoer. By dié van sy broer het hy in 1879 gesê: "He believed that happiness is the only good, reason the only torch, justice the only worship, humanity the only religion, and love the only priest." In 1882 by die graf van 'n kind: "Here in this world, where life and death are equal kings, all should be brave enough to meet what all the dead have met."

Johannes Comestor


Comments 2 Reaksies | 2 Comments
Delete Comment
avatar
Jacques
2013-02-04 @14:04

Baie dankie - insiggewend en interessant geskryf.

Ek het nie van hom geweet nie

Ek sien nie die verwysings wat genoem is nie?

Delete Comment
avatar
Johannes Comestor
2013-02-04 @15:49

Jacques, oor die verwysings. Ek verwys met Kindle-pleknommers na die e-boek weergawe van Jacoby se biografie. Die e-boek en die gedrukte boek is by Amazon te kry. Die ander aanhalings kom uit Ingersoll's greatest lecturers (New York: Freethought Press, 1944). Ek het nie bladsynommers gegee nie, want die bladsye in hierdie bundel is nie deurlopend genommer nie. As jy wil weet uit watter opstel 'n spesifieke aanhaling kom, kan ek die titel verstrek en dan kan jy die volledige teks op die internet opspoor.

Johannes Comestor 

   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address