Resensiekliniek: Aanlyn-weergawe

  • 1

’n Basiese gids tot die skryf van resensies  

LitNet het tydens die 2012 US Woordfees ’n resensiekliniek aangebied waar aspirantresensente die fynere kunsies van resensies skryf by Marius Crous kom leer het.  Hier is ’n aanlyn-weergawe van die skryfskool, sodat LitNet-lesers wat nie die resensiekliniek kon meemaak nie, ook kan leer hoe ’n goeie resensie inmekaar steek.

Klik hier vir ’n verslag oor die resensiekliniek deur Roz de Waal, wat die geleentheid namens SlipNet bygewoon het.

Hoe lyk ’n goeie resensent? 

Goeie resensente kom in verskeie groottes en kleure, geure en variëteite. Hulle het egter almal drie eienskappe gemeen: 

  • ’n Liefde vir lees en die letterkunde
  • ’n Kennis van die literêre tradisie
  • Die vermoë om goed te formuleer en te oordeel oor die teks.

Resensiekuns en die basiese kommunikasiemodel

’n Resensie is eerstens ’n vorm van kommunikasie, en daarom geld die beginsels van die kommunikasiemodel ook hier: daar is ’n sender (die resensent), ’n boodskap (die resensie) en ’n ontvanger (die leser).

Om te bepaal watter vorm die resensie gaan aanneem, moet die resensent hom of haar sekere vrae afvra binne die konteks van die kommunikasiemodel: 

  • Wie is die lesers? Die resensent moet weet wie die waarskynlike lesers van die resensie sal wees - is dit vir ’n dagblad of ’n akademiese joernaal, ’n vrouetydskrif of ’n webblad? Die onderskeid kan basies getref word tussen resensies vir vakgenote teenoor resensies gemik op nievakgenote, wat nie ’n akademiese benadering tot die resensie vereis nie, maar eerder net wil uitvind of hulle die boek sal geniet of nie.
     
  • Is daar ’n lengtebeperking? Verskillende publikasies het verskillende behoeftes wat betref die lengte van resensies. In koerante en tydskrifte word die lengte streng beperk ter wille van die uitleg van bladsye, terwyl webwerwe dikwels langer resensies kan akkommodeer. Maak seker dat jy presies weet wat verwag word.
     
  • Watter stylriglyne is van toepassing? Die publikasie waarin die resensie verskyn, sal ook die styl bepaal. Sommige publikasies vereis ’n ligte aanslag, ander publikasies plaas slegs baie bondige resensies, en ander laat weer ruimte toe vir eksperimentering. Maak seker dat die styl van jou resensie by dié van die publikasie inpas.

Hoe lyk die resensie

Die opskrif van ’n resensie is baie belangrik, maar word dikwels deur die redakteur of subredakteur van die publikasie waarin dit verskyn, gekies. Indien jy self ’n opskrif verskaf, moet dit skerpsinnig wees en lesers lok om die resensie te lees.

Die openingsparagraaf dra baie gewig, omdat dit in baie gevalle sal bepaal of ’n leser verder gaan lees of nie. Die openingsparagraaf moet die leser se aandag dadelik trek en op die teks fokus.

Een manier om die resensie te begin, is om in die inleiding die boek binne die skrywer se oeuvre of binne die groter literêre tradisie te plaas. ’n Ander manier wat goed kan werk, is om die resensie met ’n anekdote te begin, of ’n sitaat of aanhaling uit die teks te gee wat jou bespreking rig. Jy kan ook sommer met die deur in die huis val deur onmiddellik jou oordeel oor die teks uit te spreek, en dit dan in die res van jou resensie te motiveer.

Die resensie self moet ’n argument opbou ten opsigte van die teks onder bespreking. Dit moet nie bloot die storie oorvertel nie! Jy kan kortliks die intrige/plot of verhaalgegewe meld, maar wees altyd versigtig om nie die einde weg te gee nie.

Die argument binne die resensie self kan rondom ’n sekere stelling of aspek van die boek gestruktureer word. Die resensent kan byvoorbeeld kies om die boek se motto aan te haal en die boek te bespreek na aanleiding van die manier waarop die teks as geheel by die motto aansluit.

Die slot van die resensie moet ’n samevatting van die argument wees.

Hou in gedagte dat daar is ‘n groot verskil is tussen ’n resensie en ’n boekbespreking: ’n resensie spreek ’n waardeoordeel uit. Wees bedag daarop om konsekwent te wees in jou oordeel: moet jouself nie weerspreek nie. Motiveer ook enige stelling en uitsprake wat jy maak deeglik.

Leesoefening

Lees die volgende resensies en let op na die opskrif, die inleidende paragraaf, die interne argument en die slot. Is sommige van die resensies meer geslaagd as ander? Kyk ook na die verskillende style wat die resensente inspan. In watter opsigte is die resensies suksesvol, en waar skiet dit te kort?

Ontleding van resensies

Bedrewe resensente is deeglik bewus van die tegnieke wat hulle aanwend om hulle lesers van hulle standpunt te oortuig. Die Nederlandse akademikus Wam De Moor het in sy boek De kunst van het recenseren van kunst 6 tipes argumente geïdentifiseer wat in resensies gebruik word. Deur hierdie argumente binne ’n resensie te identifiseer kan die leser die resensie ontleed, terwyl resensente self die verskillende argumente moet kan uitken en benut om sodoende meer gebalanseerde resensies te skryf.

Die 6 tipes argumente is:

Mimetiese argumente

Die woord mimesis is afgelei van die Grieks en beteken “nabootsing”. Hierdie tipe argument word veral gebruik om te oordeel oor hoe ver ’n teks van die werklikheid afwyk, of hoe goed dit die waarheid naboots. So kan dialoog byvoorbeeld as onrealisties of ongeloofwaardig gesien word, of ’n plotpunt onwaarskynlik as dit teen die werklikheid gemeet word.

Emosionele argumente

Emosionele argumente word gekenmerk deur taalgebruik wat die resensent se ervaring by die lees van die teks oordra, byvoorbeeld uitsprake soos "’n Heerlike boek" of "Ek moes die boek soms vir ’n paar oomblikke neersit en eers die trane wegpink."

Morele argumente

Morele argumente maak beswaar teen die inhoud van ’n teks, byvoorbeeld as ’n resensent hom of haar nie kan vereenselwig met die teks nie, omdat dit teen sy geloofsoortuigings indruis.

Strukturele argumente

Hierdie argumente het te make met die struktuur van die teks, byvoorbeeld argumente wat wys op die verskillende perspektiewe wat in ’n teks aangewend word, die verskillende vertellers wat aan die woord is, die afdelings waarin ’n bundel onderverdeel is, of die vorm van die gedig of verhaal.

Intensionele argumente

By hierdie tipe argumente word die bedoeling van die skrywer betrek, byvoorbeeld ’n opmerking soos: "Die skrywer poog met hierdie teks om die ongeregtighede van die verlede reg te stel."

Vernuwings- of tradisie-argumente

Hierdie argumente fokus op hoe die teks aansluit by die tradisie, en sal uitwys of daar sprake is van vernuwing al dan nie.

 

Oefening

Lees die volgende resensies en probeer die verskillende argumente identifiseer wat daarin voorkom:

’n Gedagte, ten slotte

Die resensent het ’n verantwoordelikheid teenoor lesers en skrywers, en moet te alle tye probeer om met integriteit oor tekste te oordeel. Onthou ook dat oordeel ook nie die begin en einde van die resensent se roeping is nie. ’n Begaafde kritikus moet, volgens Foucault, tekens van lewe vermenigvuldig en idees tot lewe bring.

 

Aan die gang? Ons hoor graag van lesers!

As jy ’n ywerige leser is wat graag resensies skryf, dra gerus by tot LitNet se boekgesprek! Ons moedig kritiese denke oor boeke aan en hoor graag van ons lesers. Stuur jou lesersindruk of opinie oor enige boek aan lesersindruk@litnet.co.za.

Hierdie aanlyn-kliniek is saamgestel uit Marius Crous se klasnotas.

Die resensiekliniek is ondersteun deur Sanlam en die US Woordfees.

  • 1

Kommentaar

  • Jopie de Beer

    Pragtig geskryf. Ek soek hulp. Ek het pas 'n historiese roman geskryf wat op 'n ware gebeurtenis tydens die ABO plaasgevid het. Wie kan ek nader vir 'n resensie? Moontlik ook in Nederland. Julle hulp sal werklik waardeer word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top