Resensie: The Intouchables

  • 0

The Intouchables (Frans, met Engelse onderskrifte)

Draaiboek en regie: Eric Toledano en Olivier Nakache

Rolverdeling: Francois Cluzet, Omar Sy, Anne le Ny

Van die 24 flieks wat ek al vanjaar gesien het, het ek hierdie een die meeste geniet. Net soos die uitstekende The Sessions gaan dit oor ’n verlamde man, maar met ’n heel ander aanslag.

Die middeljarige Philipe (Francois Cluzet) is van sy nek af ondertoe verlam ná ’n skermsweefongeluk. Nie een van die oppassers wat vir dié aristokraat aangestel word, hou lank nie. Die film open in Philipe se weelderige Paryse huis: ’n hele ry mans sit en wag vir ’n onderhoud. Onder hulle is die jong Senegalees Driss (Omar Sy). Hy stel nie in die posisie belang nie, hy soek net ’n handtekening op ’n vorm om te bewys dat hy tevergeefs werk gesoek het en gevolglik ’n staatstoelaag kan kry. Driss se oneerbiedige houding wek Philipe se belangstelling, en kort voor lank kry hy (onwillig) die werk. Geleidelik ontwikkel daar ’n noue verhouding tussen die twee mans, gebou op ’n gedeelde sin vir humor en uiteindelik vertroue.

Driss (wonderlik vertolk deur Omar Sy) is ’n karakter soos ek lanklaas in ’n fliek gesien het – lewenslustig, brutaal reguit en geheel en al oneerbiedig. Dis egter nie arrogansie nie, dis bloot hoe hy is. Sy houding is ongeveer: hy verwag van niemand om hom jammer te kry oor hy arm en agtergestel is nie, so waarom moet hy die skatryk maar verlamde Philipe jammer kry? Francois Cluzet se besadigde vertolking van ’n man wat al deur die meule is, maar hom nie laat onderkry deur sy omstandighede nie, vorm die perfekte teëhanger vir Driss.

Ek kan hierdie fliek nie hoog genoeg aanbeveel nie!

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top