Resensie: Le Week-end

  • 0

Regisseur: Roger Michell
Spelers: Jim Broadbent, Lindsay DuncanJeff Goldblum

Met die aanhoor van die woord “geweld” dink ’n mens gewoonlik aan fisieke geweld, maar dít is eintlik die máklike vorm daarvan – emosionele geweld is die een wat moeilik is om vas te pen.

Nick (Jim Broadbent) en Meg (Lindsay Duncan) het dertig jaar gelede wittebrood in Parys gehou. Nou neem Nick vir Meg terug daarheen vir hul huweliksherdenking. Hy is ná al die jare steeds versot op haar, maar sy wil hom verlaat – hul parasitiese seun is uiteindelik uit die huis geskop en nou wil sy vry wees. Nick, ’n filosofieprofessor, het kort tevore die trekpas gekry, maar Meg weet dit nie. Waar sy voel ’n nuwe lewe wag vir haar, voel hy dat alles waaraan hy vasgehou het, voor sy oë verkrummel. Onnodig om te sê dat dit nie ’n idilliese naweek in Parys is nie.

Hierdie film is ’n besonder komplekse uitbeelding van ’n huweliksverhouding. Nick en Meg dra elkeen verskeie maskers wat mettertyd as’t ware vasgegroei het aan hulle: gesofistikeerd (Meg) en akkommoderend (Nick), met tipies onderbeklemtoonde Britse humor wat vlymskerp sny. Hulle dans die ou dans van hul dekades saam, maar af en toe gly die maskers skielik. Nick is bitterlik jaloers op sy steeds baie aantreklike vrou, terwyl Meg ’n koue, meedoënlose cockteaser is. Die film bou op tot ’n openbare en openbarende klimaks by ’n partytjie aan huis van Morgan (Jeff Goldblum), ’n oudstudent en bewonderaar van Nick, wat tot ’n intrigerende onbepaalde einde lei.

Le Week-end word beskryf as ’n komedie-drama, en langs my in die teater het twee jong vroue gesit wat blykbaar vasberade was om dit as eersgenoemde te ervaar. Ek het min gevind om oor te lag, maar darem hier en daar gegrinnik vir ’n stukkie swart humor.

As emosionele wreedheid in ’n verwronge verhouding jou afstoot, is dit ’n fliek om eerder te vermy.

 

 

Sterre:

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top