Resensie: Die mond vol vuur. Beskouings oor die werk van Breyten Breytenbach

  • 0

Die mond vol vuur. Beskouings oor die werk van Breyten Breytenbach
Louise Viljoen
SUN PReSS
ISBN: 9781920338831

“Watter doel dien digters in nooddruftige tye?” ("Wozu Dichter in dürftiger Zeit?”) het Heidegger eenmaal gevra. Met Louise Viljoen se verhelderende studie van Breyten Breytenbach se digterlike oeuvre rys 'n antwoord op dié vraag agter die woorde op: 'n digter soos Breytenbach se werk funksioneer via die estetiese aard daarvan as die gewete van sy lesers. Want niks wat Breytenbach geskryf het, kan losgemaak word van die politieke bewussyn daarin ingebed nie. Júis omdat hy in Afrikaans skryf vir Afrikaanse lesers, vanaf 1964 (die hoogty van apartheid en Afrikanernasionalisme) tot 2014 (die hoogty van Afrikanasionalisme), is dit opvallend hoe die sosiopolitieke draad regdeur sy werk loop met 'n bewussynsverruimende effek wat nimmer loslatend is, die leser in sy ban neem en ongeregtighede in die maatskappy bly uitwys.

Die treffende titel van hierdie versamelbundel essays, Die mond vol vuur, suggereer dié nimmer loslatende bewussyn - via die vurige mond van die digter.   Die titel skakel met 'n versreël van Victor Hugo (1802–1885) uit 'n intense politieke bundel, Les chants du crépuscule (Skemerliedere): "Mon âme a plus de feu que vous n'avez de cendre!" ("My siel het meer vuur as jou verkillende as!"). Merkwaardig genoeg noem Breytenbach sy laaste laatwerkbundel ook skemeraandsange, met hierin 'n intense "utopie-bedremmeling" ingebed oor ontnugterde politieke ideale, ten spyte van 'n lewenslange stryd om gelykheid, vryheid en broederskap vir alle burgers. Soos Hugo wat die klankmatige eggo van sy era wou wees, so is die aard van Breytenbach se poësie ook sensitiewe "woordwerke" wat die politieke, filosofiese en ewige menslike vrae van sy tyd registreer en verwoord deur 'n halwe eeu en 21 digbundels plus dramas, romans en outobiografieë, naas politieke kommentaar in die openbare forum heen. Viljoen se 12 essays (ongelukkig nie genommer nie), bied agt oor sy poësie, drie oor Breytenbach-outobiografieë (die tronkoutobiografie ontbreek egter), en een oor sy twee opspraakwekkende dramas, Boklied en Die toneelstuk.

Naas die treffende titel en buiteblad, met 'n onlangse foto in grys en donkerblou tinte van 'n bejaarde Breytenbach, is besondere hoogtepunte in die bundel die essays oor die digter se tronkpoësie (wat fokus op die intieme verhouding met die leser) en die sluitstuk van die boek, 'n essay oor sy laatwerk getiteld "Die poësie van uitwissing". In dié slot-essay word ook 'n nuwe leesstrategie vir moeilike poësie helder omlyn aan die hand van onlangse poësiebenaderings van Brian McHale (2005) en Ramesh Sankar (2012) – 'n bykomende bonus.

Viljoen is 'n onderhoudende en deurwinterde literatuurkritikus, wat vir boeiende leesstof op dié gesamentlike reis deur Breytenbach se oeuvre sorg. 'n Mens sal nie noodwendig met alle stellings saamstem nie – soos dat die tronkpoësie 'n "vervreemdende blik op Afrika" (2014:72) bied of dat daar in die tronkverse 'n "gebrek aan direkte verwysings na die politiek" (2014:74) is nie. Waar kry jy 'n duideliker beeld van die aard en ritme van 'n Afrikatronk, met sy Afrikatalige tronkjargon, as juis hier, soos ook in die tronkoutobiografie? En waar is 'n meer polities betrokke vers as "Taalstryd" oor die Soweto-opstande van 1976? Debatteerbaar is ook Viljoen se stelling dat die "verhouding met die leser veral in die tronkpoësie op die spits gedryf word" (2014:106). In die laatwerk en in vyf-en-veertig skemeraandsange kom die leser steeds intensiewer op die voorgrond. Maar dit is mindere krappighede teenoor die besonderse insigte van Viljoen oor 'n periode van twee dekades (1993–2014) se intensiewe kritiese betrokkenheid by die werk van Breytenbach. Veral boeiend is haar trasering van die aard van die digter se intense afhanklikheid van die leser as kommunikasiekanaal tydens sy politieke gevangenskap (1975–1982), soos weerspieël in die poësie uit daardie periode (2014:91–106), sowel as die verskynsel van die doelbewuste gestrooptheid tot op die been (as 'n voorsorgmaatreël teen die nuuskierige oë van tronkbewaarders) van ongeveer 400 verse uit dié tyd in "die doolhuis van eensaamheid in die waai van die berg" (2014:103).

Ook fassinerend is die kritikus se ontleding van 'n minder-ondersoekte aspek veral in die latere Breytenbach-oeuvre: seksuele omgang as metafoor vir verse-maak (2014:95–106). Dié verskynsel, wat ook eksplisiet in die poësie van die digter Johann de Lange voorkom, is iets waaraan kritici normaalweg doelbewus nie aandag skenk nie, weens die ongemak wat die gewaagde element daarin waarskynlik by lesers wek. Só is daar in Katalekte 'n vers oor "die maak van poësie" (2012:58) oor die "eet" van 'n "groenvytjie" wat die skryf van 'n vers metafories gelykstel aan wat klink na 'n ontmaagding, asook 'n besonder eksplisiet-seksuele "eetvers" (2014:33) waarin ongemaklik-direkte seksuele beelding direk met die maak van 'n vers gelykgestel word. Dié verse suggereer almal dat die verhouding met die leser ook 'n "erotiese verhouding" is, soos Viljoen uitwys (2014:105).

'n Absolute hoogtepunt in dié studie is Viljoen se omskrywing van "krisismomente" by die "skryf van 'n poësie van uitwissing" (2014:278–306) waar haar ontleding van Breytenbach se laatwerkpoësie en die sosiopolitieke verduisteringe uit die samelewing intens by mekaar aansluit:

Die vrees vir ondergang is dus nie net in die self gesetel nie, maar kom ook voort uit 'n betrokkenheid by die lot van sy moedertaal, die toekoms van sy vaderland, die volhoubaarheid van vrede in Afrika en die gedagte dat die planeet dalk deur een of ander apokaliptiese gebeurtenis uitgewis mag word. Die verskillende skrywerlike gebare van skrapping, die topos van uitwissing en die verstegniese maatreëls waardeur die poësie uitgewis word, is dus paradoksaal genoeg elkeen op sy eie wyse getuienis van hierdie betrokkenheid by die wêreld. (2014:306)

Literatuurkritiek word deesdae toenemend in die steeds groeiende populistiese Afrikaanse media verminderend bekyk deur buitestanders wat geringskattend oordeel oor literatore en opgeleide literêre kritici se intense betrokkenheid by die letterkunde, oor hul kritiese vermoëns, oor hul skryfstyl, oor hul liefde vir die verwikkelder elite letterkunde. Teen dié negatiewe houdings in is die verskynsel van 'n boek soos 'n Mond vol vuur getuienis van 'n steeds skaarser-wordende en besonder waardevolle vermoë waarsonder verwikkelder letterkunde grootliks onbegrepe sou bly: die vermoë om goed te kan lees. In dié opsig is Louise Viljoen Breyten Breytenbach se ideale leser. Die Afrikaanse taalgemeenskap moet sig eerder besonder gelukkig ag om in die steeds yler-wordende literêre landskap nog oor súlke digters en súlke lesers te beskik.

 


 

Louise Viljoen bespreek Die mond vol vuur by die US Woordfees 2015.

Item: Louise Viljoen: 'n Mond vol vuur – Beskouings oor die werk van Breyten Breytenbach

Die gerespekteerde literator Louise Viljoen word beskou as een van die grootste kenners van Breyten Breytenbach se oeuvre. In die? gesprek met Francis Galloway, ook 'n kenner van die gevierde digter se werk, gesels Viljoen oor haar jongste publikasie, 'n Mondvol vuur. Die? boek lewer verslag van 'n jarelange belangstelling in Breytenbach se werk en gee 'n oorsig oor verskillende aspekte van sy omvangryke oeuvre. 

13 Maart 09:00 | Boektent | 50min | R50 ?

Klik hier vir die volledige program van die US Woordfees 2015.

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top