Resensie: Biegbrief en ander verhale deur Esta Steyn

  • 0

 

Titel: Biegbrief en ander verhale
Outeur: Esta Steyn
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780624068457

Koop Biegbrief en ander verhale by Kalahari.com

Esta Steyn is ’n gesoute skrywer; so tuis in die kortverhaalgenre soos ’n eend in die water. Ek koop nie maklik kortverhaalbundels nie, maar slaan eerder my tande in ’n dik boek met een storielyn wat my ’n dag en ’n nag kan boei. Boonop is daar – mag ’n mens dit sê – soms iets presieus aan kortverhale. Dikwels die pennevrug van alumni van kreatiewe skryfskole. Oneindig voortreflike skrywers wat die genre gebruik as vertoonvenster vir hul woordeskat. Kortverhale van sewe bladsye lank wat oor een oomblik in die ewigheid handel, met meer en meer besonderhede wat opstapel en uitkring en groei soos ’n wynspatsel op wit damas. Hokaai, roep ek. Ek is Jan Alleman. Ek wil vermaak word en nie geïmponeer word nie. Ek wil in ’n koffiebreek myself blitsig in ’n storie verloor. Barokagtige oordaad laat my prewel: “Kies tog een byvoeglike naamwoord, een metafoor, een beskrywing. Draai jou darlings nek om, magtag.”

Of behoort skrywers hul stories meer te geniet as die lesers?       

Etienne van Heerden het een keer gesê kortverhaalskrywers mors met storielyne. Skynbaar pluk Steyn hulle moeiteloos uit die lug. Sy skryf oor wat sy ken en haar verbeelding is vrugbaar. Die protagoniste is “gewone” vroue met ’n situasie, ’n geskiedenis, ’n agenda, ’n kap van die byltjie om agter te kom. Ant Liefie gaan aan die spook om haar gesogte kamer in die ouetehuis te behou. Annalise het die hasepad gekies en moet eers ’n biegbrief skryf voordat sy kan huis toe. Hanna moet vir oulaas geld gaan trek met Siebert se bankboekie. Mathilda het die Britse Lotto gewen en droom groot. Hanlie besluit om oplaas die kinderkamer te ontruim. Weduwee Trynie word opgebeur deur ’n groot blou papegaai. Eva moet ’n misterie uitpluis en ’n graflap vind. ’n Peperduur Italiaanse rok vang Aletta se oog, die soort rok wat ’n mens se lewe kan verander. Jenna en Lukas, jong geliefdes, beland by ’n waterskeiding in ’n lekker bangmaakstorie. Tina word ontwortel na haar man se maatskappy gelikwideer is en moet haarself nuut uitvind soos Marianne Sägebrecht in Bagdad Café. Die oujongnooi mejuffrou Magda Viljee word ’n laaste kans gegun om haar onderrok in Kaapstad te laat uithang. Elizabeth draai by die dood om en hang teen die plafon.

Elke karakter se oë gaan oop, soos die leser s’n, om klein dingetjies raak te sien. Dis ’n boek wat homself lees; as jy weer sien, is jy in die laaste pylvak. En daar is veel wat jou bybly: wêrelde in ’n neutedop, ’n hele lewe in ’n hoofstuk, ’n insig vanuit die linkerveld, ’n ongemaklike gewaarwording, gloeilampie-oomblikke. Humor. En veral deernis. Vir vroue wat manipulerend, konkelend, leuenagtig maar ook weerloos is. Steyn beskryf dit so: “Oor vroue wat ’n bietjie kan lieg, ’n bietjie kan bedrieg en ’n bietjie kan bieg.” En uiteindelik is hulle so sterk soos ou botter, soos my ouma sou sê.

Biegbrief en ander verhale is stories sonder fieterjasies, fensie truuks en foefies. Jans Rautenbach het per geleentheid gesê flieks is deesdae propvol spesiale effekte; daar is geluide en ontploffings en goeters wat vlieg, maar wat hy wil weet is: Waar is die storie? Hier is ’n dosyn stories om jou kop besig te hou en jou in jou etensuur op ’n towertapyt weg te voer na die towerwêreld wat agter die alledaagse skuil hou.

Want op die ou einde is niemand gewoon nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top