Poolshoogte-diskoers by die US Woordfees 2015: Bestekopname van die bestekopnemers

  • 0

Bettina Wyngaard, Marga Stoffer, Louise Viljoen, Francis Galloway en Sonja Loots (Foto: Naomi Bruwer)

Op Woensdag 11 Maart om 15:00 is tydens die jaarlikse US Woordfees bestek opgeneem oor Poolshoogte, die aanlyn beraad wat LitNet in 2014, 20 jaar ná die koms van demokrasie in Suid-Afrika, aangebied het. Die volledige stel bydraes is hier beskikbaar.

Die gesprek by die Woordfees was ’n oorsig, ’n soort sintese van wat vasgevang is in die Poolshoogte-beraad, maar ook meer as dit: die deelnemers het gepoog om Poolshoogte in konteks te plaas, nie bloot op te som nie.

Catrina Wessels het reeds ’n bondige verslag gelewer oor die Woordfees-praatjie. Ek sal dus hierby aansluit. Wessels se oorsig, met foto’s, is hier beskikbaar:

Van kroegtoonbank na kuberkafee

Sonja Loots, die gespreksleier, het opgemerk dat skrywers mekaar vroeër in kroeë ontmoet het, maar dat die kuberruim deesdae dié gespreksruimte vir skrywers geword het.

Die geskiedenis van skrywersbyeenkomste

Francis Galloway het ’n voëlvlug gegee oor die evolusie van Afrikaanse skrywers-/letterkundebyeenkomste.

Na die erkenning van Afrikaans as amptelike taal in 1925 is die georganiseerde stryd op kultuurterrein deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurorganisasies (FAK), wat in 1929 tot stand gekom het, en die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV), in 1930 gestig, behartig. Beide beywer hulle vir Afrikaans en ondersoek maniere om die taal uit te bou.

Daar ontstaan egter by die Dertigers en latere figure die behoefte om soms saam op te tree. In 1934 word die Afrikaanse Skrywersvereniging gestig en vanuit hierdie groep word die Tydskrif vir Letterkunde gebore. In die Kaap vorm NP Van Wyk Louw en ander die Vereniging van die Vrye Boek. Albei hierdie organisasies bevorder die literêre diskoers in Afrikaans.

Die Sestigers het ’n omwenteling gebring met hulle skeppende werk, maar ook met hulle betogende bydraes teen die land se onderdrukkende wette en teen sensuur. Hulle het dagbladartikels, briewe aan die media en mediaverklarings gebruik om hulle opposisie teen die status quo weer te gee.

Dié groep kom die eerste maal in 1973 bymekaar in Kaapstad, en Galloway, wat self daar was, beskryf die Sestigersimposium as “die moeder van alle skrywersbyeenkomste”. Dit word ’n enorme byeenkoms en teen die tyd dat 480 plekke opgeneem is, moes die organiseerders mense wegwys. Hier meng die lesersgemeenskap en die skrywers met mekaar. Dié simposium bied die geleentheid vir die Afrikaanse skrywers vir “bestekopname en solidariteit”, aldus Galloway. Die oorwegende boodskap was: “Ons laat ons nie doodpraat nie.”

In 1974 word André P Brink se Kennis van die aand verbied en ’n skrywersfonds word gestig om sensuur teen te werk.

In 1975 word die Afrikaanse Skrywersgilde gestig tydens ? skrywersberaad wat by Broederstroom gehou is. Hierdie byeenkomste het daarna tot 1984 gereeld plaasgevind.

In 1984 kom die Afrikaanse Letterkundevereniging (ALV) tot stand. Die vereniging sien om na die vakbelange van die Afrikaanse letterkunde. Die ALV se lyfblad is Stilet.

Die internet bring vernuwing en in Januarie 1999 verskyn LitNet vir die eerste keer.

Reeds in 2000 word LitNet se eerste aanlyn seminaar, Briewe deur die lug, gehou.

Dit word in 2004 opgevolg met ’n jeugberaad waaraan 53 jong skrywers deelneem. Nelson Mandela het die openingswoorde hiervoor gepen.

LitNet verskuif weer eens grense toe LitNet Akademies in 2008 geakkrediteer word om sodoende nóg ’n forum – hierdie een aanlyn – vir amptelike Afrikaanse akademiese publikasies te bied.

In Oktober 2012 ontstaan PEN Afrikaans, wat die Afrikaanse letterkunde nou deel maak van die groter, internasionale politieke diskoers, maar ook bepaald na Suid-Afrika en ons plaaslike politiek kyk.

Twintig jaar ná die begin van ons demokratiese bestel neem LitNet poolshoogte van ons literêre landskap met bydraes oor die produksie- en leesprosesse, literêre navorsing, genreverskuiwing, betrokkenheid en eksterne verhoudings wat die Afrikaanse letterkunde raak.

Die Poolshoogte-beraad word sodoende oopgestel aan die 60 000 unieke besoekers wat LitNet maandeliks trek.

Tendense in die literatuurbeskrywing

Oor Louise Viljoen se opsomming van die nuwe tendense in die letterkunde sê Catrina Wessels: “’n Mens hoop dat dié uiteensetting êrens gepubliseer sal word.”

Ek kan maar net saamstem. In ’n paar minute het sy ‘n oorsig gegee oor referate in Poolshoogte wat nie net toeganklik was nie, maar ook ryk aan inhoud.

Viljoen begin deur Poolshoogte se blik op die letterkunde te vergelyk met die ondersoek van “the state of the discipline” wat gereeld deur die American Comparative Literature Association gehou word.

Viljoen wys daarop dat die invloed van postmodernisme aan die kwyn is en dat daar tans selfs vrae gevra word oor die relatiewe bydrae daarvan in die letterkundige diskoers – sommige kritici beskou selfs die postmodernisme as apaties. Vir haar is daar egter geen twyfel nie dat die postmodernisme die Afrikaanse letterkunde gehelp het om die wit, heteroseksuele manlikheid van die Afrikanerbestel te bevraagteken. Sy is dus nie bereid om dit bloot as naïef af te maak nie.

Lesers sou in hierdie verband die inleiding van Willie Burger se referaat oor realiteitshonger, die populêre wending en transnasionalisme kon gaan lees, veral die verwysings wat hy inbou na die werk van Pascale Casanova.

Dat die letterkunde aanbeweeg, is egter nie altemit nie. ’n Postpostmodernisme of metamodernisme is besig om pos te vat. Die wêreldletterkundes is bewus van die globale internasionale krisis, terwyl die nuwe tendense ook baie bepaald klimaatsverandering en ander ekologiese kwessies onder die loep neem.

Viljoen noem dat ’n mens die nuwe tendense moontlik as ’n ingeligte pragmatisme sou kon beskou, of ’n pragmatiese idealisme. Die literatuur moet esteties wees, maar ook sosiaal betrokke. Hier sonder Viljoen die werk van Antjie Krog as voorbeeld uit.

’n Beweging wat ook die aandag trek, is die posthumanisme, soos ’n mens vind in die dierestudies wat Andries Visagie, Susan Smith en Susan Meyer doen.

Willie Burger se verwysing na die honger na realisme in die huidige ontspanningsliteratuur en Jonathan Amid se Poolshoogte-bydrae oor die opkoms van populêre fiksie verdien ook vermelding. Hier word populêre fiksie beskryf wat ook op sosiale kwessies gerig is én betrokkenheid nastreef. Amid se bydrae kan hier gelees word.

Heilna du Plooy se verwysings na psigofortologie word ook as ’n nuwe manier van lees voorgehou. Hiervolgens kan siektes verhoed word deur positiewe ervarings. Viljoen wys daarop dat sy ongemaklik is met sommige aspekte van hierdie benadering, maar dat dit ’n interessante nuwe veld is. Du Plooy se bydrae kan hier gelees word.

Die volgende aspek van die huidige literêre diskoers is die transnasionalisme, oftewel kosmopolitiese aard van die letterkunde, soos verwoord deur Willie Burger in sy referaat, en Leon de Kock in syne. De Kock s’n verskyn hier.

Die Afrikaanse letterkunde moet egter ook bewus wees daarvan dat ons te klein is om onafhanklik te wil bestaan van die Engelse letterkunde in Suid-Afrika en die Nederlandstalige letterkunde, wat ook albei betreklik klein is. Die kwessie van vertalings tussen hierdie letterkundes sluit hierby aan.

“Big Data”, ’n gonswoord in hedendaagse samelewing, word ook van toepassing gemaak op die hedendaagse letterkunde. Só word globale opnames gemaak waarby boeke ingedeel word volgens welke tema ook al deur die dataskeppers genomineer word; boeke en skrywers word dus nie meer individueel gelees nie, maar wel as deel van tendense.

Viljoen het gemeld dat daar min oor die poësie gesê op die Poolshoogte-beraad en sy skryf dit toe aan die lewendige gesprekke wat op die aanlyn joernaal, Versindaba, plaasvind. Charl-Pierre Naudé en Nathan Trantraal het wel oor die poësie geskryf.

Die veranderende produksieprosesse

Marga Stoffer van NB-uitgewers het vertel hoe die produksieprosesse in haar leeftyd as uitgewer verander het.

Vyf-en-twintig jaar gelede is manuskripte nog per hand geredigeer en daarna deur tiksters oorgetik. Van hier is die teks geset, in lood.

Rekenaars het kort daarna meer algemeen geword en redigeerwerk is met ’n woordverwerker en die setwerk in XyWrite gedoen. Van daar is films gemaak wat uiteindelik op plaat oorgedra is.

Die koms van Indesign en drukgehalte PDF-formaat het film onnodig gemaak. Alles is deesdae gerekenariseer.

Lesers sou ook Kerneels Breytenbach se referaat oor die produksieproses kon lees.

Veranderde bemarkingsprosesse

Die bemarking van boeke aan winkelgroepe en die bemarking van die uitgewershuis aan skrywers het toentertyd uit lang middagetes bestaan. Stoffer het verwys na Koos Human wat bekend gestaan het as “a legend in his own lunchtime”.

Vandag is die mededinging om rakruimte veel groter, dus word boeke en handelsmerke veel beter bestuur.

Groei in die plaaslike mark

Stoffer het afgesluit met baie bemoedigende statistiek oor die plaaslike uitgewersbedryf . Sy het gefokus op die verkope van boeke in die algemene mark.

In 2004 was slegs 24% van alle titels wat in die Suid-Afrikaanse handel verkoop het, plaaslike titels; die res is almal oorsee uitgegee. In 2014 was die plaaslike markaandeel 36%.

Die aantal boeke wat plaaslik uitgegee word, kan gemeet word aan die ISBN’e wat toegewys word, want aan elke boek wat formeel uitgegee word, word ’n ISBN verskaf. In 2004 is 9 000 ISBN’e in Suid-Afrika uitgereik; in 2014 was dit 16 000.

In 2004 is 1,55 miljoen eksemplare van plaaslike boeke verkoop; in 2014 was dit 3,58 miljoen.

Ook vir Afrikaans is daar goeie nuus. In 2004 was 77% van die plaaslike boeke wat verkoop is, Engels en 22% Afrikaans. In 2014 was die verdeling 53% Engels en 45% Afrikaans.

Redes tot kommer

Ten spyte van hierdie uitstekende nuus waarsku Stoffer dat daar ’n ernstige rede tot kommer is weens die Departement van Basiese Onderwys se totaal ondeurdagte besluit om slegs een boek per vak per graad voor te skryf. Dit hou geweldige finansiële implikasies vir almal in en boonop is daar geleenthede vir grootskaalse onderduimshede.

Stoffer het die woorde van ’n uitgewer (wat nie genoem kan word nie weens die vrees dat die maatskappy negatief beïnvloed sal word) geëggo en gepleit dat skrywers hulle stemme dik moet maak oor hierdie kwessie. Die betrokke uitgewer se bydrae is hier beskikbaar.

Francis Galloway, wat die laaste woord oor hierdie kwessie gehad het, moes ook ’n waarskuwing rig oor die groot gebrek aan nuwe skolastiese werke in Afrikaans. Protea Boekhuis en SUN Press van SUN MeDIA is uitgesonder as twee uitgewerye wat steeds probeer, maar die feit bly: akademiese werk in Afrikaans is onder druk. Galloway se volledige referaat, waarin sy hierdie aangeleentheid verduidelik, is hier te lees.

Betrokkenheid in die literatuur

Bettina Wyngaard het kortliks die huidige stand van “betrokkenheid” in die letterkunde bekyk.

Vir haar is betrokkenheid ’n positiewe soeke na ’n beter samelewing.

Sy toon aan dat daar tans min direkte politieke betrokkenheid onder Afrikaanse skrywers is, anders as in die sestigerjare toe skrywers openlik teen apartheid gestaan het.

Daar word wel na genderkwessies gekyk en die ekologie speel ook ’n rol, maar nie naastenby soveel soos byvoorbeeld by die skrywer Margaret Atwood nie.

Daar is tans ook nog te min swart en bruin stemme in die Afrikaanse literatuur, sê sy.

Wyngaard vermoed egter dat daar binnekort meer direkte politieke betrokkenheid gaan plaasvind onder skrywers. Sy verwys na skrywers se teenkanting teen die muilbandwet en die woede wat geheers het oor die regering se optrede tydens die Staatsrede van 2015. PEN Afrikaans sou moontlik die leiding in hierdie verband kon neem.

Wyngaard se volledige referaat is hier te lees.

Keer terug na die aanlyn kongres om nog bydraes te lees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top