Politieke korrektheid en die joernalis
In sy rubriek van 5 Julie in Die Burger: Apartheid: stop dié benaderings sien Jan-Jan Joubert sowaar kans om vir Hermann Giliomee die leviete voor te lees. Dis amper lagwekkend, maar hy maak seker daarop staat dat Giliomee hom sal ignoreer. Jan-Jan vryf sy eie politiek korrekte benadering sterk by lesers in.
Sy rubriek is ‘n reaksie op Giliomee se artikel: “Apartheid: Was dit dan net boos?” Jan-Jan wys daarop dat Giliomee “nie sover (gaan) om sy vraag openlik te beantwoord nie, maar ek is bevrees sy geïmpliseerde antwoord is 'nee'”.
Vermoedelik was geskiedenis nooit Jan-Jan se sterk punt nie, maar selfs met die uiters gebrekkige kennis wat hy demonstreer behoort hy te weet dat geen internasionaal hoog aangeskrewe geskiedkundige hom aan die blanko verdoeming van ‘n sekere tydperk in die geskiedenis sal skuldig maak nie. Dis net politieke koerantskrywers wat die voorreg het, want hulle stories word vinnig geskryf, vinnig gelees en vinnig weggegooi.
Jan-Jan kom dan met twee “ergste voorbeelde” deur na die USSR en Nazi-Duitsland te verwys. Ons moet hom ook nie verkeerd verstaan nie: “Geen gelykstelling met apartheid hier deur my nie, net ’n beginselpunt oor boosheid.” Nodeloos om dit vir hom te sê maar om die Nazi’s en Sowjet kommunisme in dieselfde asem as apartheid te noem, met die bedoeling om ‘n assosiasie tussen die drie te skep, is die holruggerydste donkie wat ‘n mens jou kan verbeel.
Jan-Jan reken: “Giliomee se vergelykings van apartheid met Amerikaanse segregasie en Nazisme raak nóg kant nóg wal. Apartheid moet op sigself beoordeel word.” (Sonder die Nazi’s en Stalin?) Die feit dat apartheid nie op Nazisme gebaseer is nie en dat van die apartheidswette geskryf is op grond van wetgewing wat op daardie stadium nog in die suidelike state van die VSA toegepas is, is kardinaal belangrike feite. Om dit van die tafel te probeer afvee met die patetiese verskoning “ (dit) raak nóg kant nóg wal”, dui daarop dat Jan-Jan besef dis feite wat hy nie kan draai soos hy graag wil nie.
Aan die einde maak Jan-Jan die stelling: “Die vergoeiliking van apartheid is besonder swak smaak.” Dis weer die ou-ou storie dat daar alleen op negatiewe wyse na apartheid verwys mag word, anders word jy gebraai. Alleen dit wat die algemene goedkeuring van swart mense wegdra mag gedebatteer word.
Vir my is dit boosheid as ‘n deel van die bevolking nie die reg het om hulle mening uit te spreek nie. Jan-Jan sal, sover dit die blanke publiek betref, noodwendig verskil, maar hopelik verstaan hy nou dat dit historici se onvervreembare reg is om enige saak en selfs apartheid wetenskaplik te ondersoek. As hierdie punt eers ingesink het kan ons dalk oor die grondwet en almal se basiese menseregte gesels?
In die artikel is daar nie ‘n enkele helder moment nie. Nogtans moet besef word dat Jan-Jan nie dof-dof of toe-toe is nie. Hy is bloot politiek korrek.
George