Piet Botha oor toer, die Lyzyrd Kings en die Karoo

  • 1

Die legandariese rocker Piet Botha onderneem binnekort ’n toer deur Suid-Afrika saam met die Oos-Duitse groep Freygang Band. Hy beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Piet. Hoe’s dinge?

Goeiedag Henry, dit gaan heel goed dankie, behalwe dat die jaar te vinnig verbyvlieg!

Jy onderneem binnekort ’n toer deur Suid-Afrika saam met die Oos-Duitse groep Freygang Band. Hoe het hierdie plan tot stand gekom?

Die hele ding met Freygang is deur Kilian Nestler aan die gang gesit. Hy woon in Sedgefield op die Tuinroete en het deur die jare ons vertonings bygewoon wanneer ons op toer was. Hy het altyd gepraat oor hierdie idee om so ’n “uitruil”-toer te inisieer en toe het hy werk gemaak daarvan en nou is dinge aan’t roer. Hy was natuurlik jare gelede in Oos-Berlyn baie nou betrokke met die groep Freygang, en die stories oor wat hulle moes deurmaak is nogal hartseer. Ek het maar ingespring en gehelp waar ek kon, en nou is daar ’n heerlike sirkus – ’n rock ’n roll-sirkus!

Die groep is daarvoor bekend dat hulle aktivisties te werk gaan – onlangs ook teen skaliegas-ontwikkeling. Wat is jou mening oor laasgenoemde en watter rol het kunstenaars in hierdie kwessie te speel?

Die geskiedenis van hierdie groep is fassinerend. Wat die aktivisme betref: natuurlik! Miskien sal die waarheid oor die groot olie- en gasprodusente eendag bekend word aan almal, maar diegene wat steeds dink hulle dra enigsins die mensdom of die aarde se belange op die hart, is sekerlik net so onnosel en gebreinspoel soos die mense in die Middeleeue … Daar is baie gesaghebbende literatuur hieroor beskikbaar … die aarde is moeg vir die mensdom.

Jou jongste album, Spookpsalms, is baie goed ontvang deur aanhangers en resensente. Hoe voel jy nou, byna twee jaar sedert die vrystelling, oor die materiaal? Voer jy dit graag uit by optredes, en watter snitte is jou gunstelinge in hierdie opsig?

Spookpsalms was vir my ’n wonderlike ervaring, want ons het dit doelbewus opgeneem met suiwer akoestiese instrumente, en die produksie gestroop gehou. Ollie Viljoen, Leon van Zweel en Loandi Boersma het fantastiese werk gedoen. Baie mense het nie verstaan hoekom die album so anders was as die voorgangers nie, maar hulle sal nog eendag. Ons speel baie van die materiaal as die gehoor reg is daarvoor, met ander woorde in teaters en veral op die kleiner dorpe dwarsoor Suid-Afrika. Dit was vir my belangrik om te poog om goeie Afrikaanse musiek te pleeg.

Op daardie noot: Hoe benader jy deesdae optredes en opnames, vergeleke met vroeër in jou loopbaan?

Dis nou ’n vreemde land. Soos mens kan sien, het TV ’n verskriklik negatiewe invloed gehad op oorspronklikheid, veral wat musiek betref. Ek probeer maar op die pad bly en speel steeds altyd meer as 120 vertonings per jaar, doen nuwe opnames wanneer die tyd reg is, probeer soveel as moontlik met ander musikante saamwerk en behou my onafhanklikheid, want wat tans aan die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse mense opgedis word, is dikwels afgryslik.

Jy het onlangs op die televisieprogram Jam Sandwich saam met die Soweto String Quartet ’n lied opgeneem genaamd “Sweet Soul Music”. Hoe het jy die ervaring gevind?

Deon Maas moet die krediet kry vir hierdie program en ek sal hom ewig dankbaar bly daarvoor. Ons het in drie dae iets wonderliks reggekry. Daar was geen ego’s betrokke nie en ek het net die grootste respek vir daardie wonderlike mense en musikante.

Jy tree in verskeie gedaantes op – soms op jou eie, soms as lid van Jack Hammer en soms saam met die Akkedis-broers onder die naam Lyzyrd Kings. Wat put jy uit die onderskeie projekte, of hoe verskil die maniere waarop jy jou uitleef in die projekte?

Lyzyrd Kyngs het vanself oor ’n tydperk van baie jare sy eie lewe gekry, eers as “jam sessions”, en toe het ons skielik hierdie nuwe orkes! Dit is weer eens ’n vriendskap van baie jare wat in iets meer verander het. Jack Hammer is natuurlik al sedert 1984 aan die speel en al tree ons deesdae minder op, het ons steeds van die beste tunes.

Volgens jou webwerf het die materiaal vir Spookpsalms gevloei uit jou besoeke aan bekende Suid-Afrikaners se grafte vir die kykNET-reeks Wie lê waar. Die besoeke het jou dus duidelik geroer. Hoe het jou gedagtes geloop tydens hierdie proses, oor waar die land (se mense) was en waarheen dit op pad is?

Wie lê waar was nogal ’n belewenis vanuit baie oogpunte. Ek het nooit eintlik geweet hoe die TV-mense hulle goed doen nie en hoeveel drama en beheer daar eintlik bestaan in hulle wêreld nie. Wat fantasties was, was die geskiedenis van ons mense, mense van wie die gewone man nie veel weet nie, soos byvoorbeeld Sol Plaatje, Saartjie Baartman, Etienne Leroux, en nog vele meer. Dit het vir my die idee gegee om ’n album te doen wat in “’n ander tyd” afspeel – vandaar die gebruik van tradisionele instrumente en seker ook meer “oud-Afrikaanse” liriek.

Watter rol het kunstenaars, veral musikante, in bogenoemde? Met ander woorde, in watter mate kan kunstenaars/musikante invloed uitoefen op die gang van gebeure in ’n land?

Ek wens dat kunstenaars van alle genres meer invloed op regerings en veral op korporasies en monopolieë kon uitoefen, maar die stryd is tans in sy moer in. Niemand staan op teen die monster nie, want die Dier is te groot … Eendag sal die Dier sekerlik sy eie ondergang bewerkstellig, maar nie in die huidige tydvak nie. Almal wat in Afrikaans wil werk of skryf, is byvoorbeeld onderhewig aan ’n sekere “Big $%%#@ Brother” se goedkeuring, want hulle besit die monopolie. Joseph Goebbels sou groot genot geput het uit hierdie situasie.

Op jou webwerf word gestel dat jy aanhou toer, aangesien, soos John Lee Hooker sing, “it’s in him and it got to come out”. Wat presies is dit wat in jou is en moet uitkom?

Brian Currin doen al van die begin af ons internet “stuff” – ek is eerlikwaar tegnologies gestremd. Maar ek het sekerlik al oor die 5 000 gigs gedoen in my tyd en kon met die wonderlikste musikante saamspeel, en dis al wat ek hoop om nog te doen vir die volgende 10 of 20 jaar.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

Klik hier om die Treasure Karoo Action Group se verklaring te lees.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top