SêNet-briewe | Letters

 
Paul Kruger se Transvaal-wildreservaat – Kiekie 1
Met die intrapslag voel ek hoe my boerebloed stil word. Vroegdag is dit alreeds stikwarm en bedompig in die Krugerwildtuin. Binne die ontvangslokaal van Orpenhek vertoon die klipvloer egter koel en Afrika-netjies. Verbaas staar ek op na die imposante geraamde volkleurfoto’s wat teen die hoofmuur pryk. Dit bevat 4 gesigte van SA se hoof reënboogleiers.

Moes Paul Kruger en sý grondleggers se foto’s nie eerder hier gehang het nie, wonder ek vies en wag geduldig vir die ontvangsdame om haar aandag na ons te draai. “Seker het húlle niks met die ontstaan van die Kruger te doen nie?” fluister ek en stamp liggies aan my vriendin wat ons besprekingspapiere oor die toonbank na die dame stoot. Blommie, soos ons haar noem, is skerp en weet dadelik waarna ek verwys. Sy knip nie oog.

“You can pay at Satara camp, 7 days and 7 nights.” Verduidelik die dame vriendelik en stamp ons dokumente. Terwyl sy in gebroke engels die reëls en regulasies van die Kruger aan Blommie verduidelik, ondersoek ek die res van die minder indrukwekkende foto’s teen die mure.

Daar is geen teken van Paul Kruger. Eertydse president wat hierdie wildreservaat in 1858 geproklameer en dit die Transvaal-wildreservaat genoem het. Slegs foto’s van onthoringde renosters en bloeiende katte in strikke gevang wat jou naar laat. Daar is voertuie wat deur olifante omgegooi word en koning van die oerwoud (leeus) wat op die warm teerpaaie rus. Verder is daar allerhande Afrikaprodukte wat grasserig ruik en uniek aan die Krugerwildtuin is.

Toe ons die H7-roete oos na Satara-ruskamp vat vergeet ek gou van die 4 foto’s. Die 5-spoed outomatiese Toyota sleep die volgelaaide Bushbaby soos ‘n skip en spat gruis onder wiele. Ons is opgewonde. Ons reis perfek beplan. Natuurlik moet daar so gou moontlik afgehak en kamp opgeslaan word, want die Groot Vyf roep na ons vanuit hierdie asemrowende stuk bosveld.

Voor ons hang die son witwarm. Die ongeveer 50km na Satara bevat ongelooflik groot verskeidenheid diere, voëls, reptiele, insekte en plante. Sebras, blouwildebees, buffels, koedoes, volstruise en kameelperd is volop. Ons ry heel behoedsaam want ‘n rooibok kan maklik met een sprong regoor ‘n teerpad spring. Hulle hoewe en horings heel skerp en voel niemand lus vir een op sy skoot.

“My jinne, kyk hoe groen en welig!” sê Manlief en wys na die natuur wat nou op sy mooiste is. Die gras is lowerruig en voel jy lus om daarin te rol. Verder is die rooigrond volgesuip aan al die swaar reëns.



Dit is rooibos-veld hierdie en voel behoorlik of jy binne in ‘n bosparadys van maroela- en wildevybome inry. Die pad is omsoom met skakerings van groen. Troppe rooibok met kleintjies wei rustig en is baie mak. Hulle rooi vetgevreete lywe steek duidelik teen die groen agtergrond af en kan van vêr raakgesien word. Stadig blaas ek asem uit, want hier rus jou gees en siel saam dier en veld.



“Olifant!” waarsku ek en Blommie rem. Voor ons in die pad staan die ou grote met sy logge liggaam op pilaarpote wat van bo na onder ewe dik lyk. Saam verken ons die situasie want almal weet hoe gevaarlik dit is om binne-in ‘n trop olifante in te ry. Geduldig wag ons totdat hy besluit om op sy tone uit die pad te beweeg. Met sy slurp hark hy diep in die modder langs die pad en is sy lyf alreeds vol rooigrond geblaas. Die waterpanne oral in die veld moet vir dier en voël voorwaar afkoelend wees.

Dan sien ons die eerste leeu en my hart ruk ‘n bietjie. Digby die pad onder ‘n klein doringboom lê hy in salige koelte. Wakker tuur hy geeloog terug na ons. Die ysblokkies in my koeldrankbeker word tjoepstil. Almal hou asem op as die blinkvet gespierde lyf rekkend orent kom. Hy skud sy kop en sy maanhaarkroon vertoon vorstelik rooibruin.

Blommie sug behaaglik terwyl sy deur haar optiese zoemlens na hom loer en sê: “Ek laat eerder ‘n leeu my opvreet voor ‘n Taxi my doodry.” Haar wens is ook om eendag liewer op hulle wildsplaas, Mafunjane, begrawe te word en sy is ‘n gekwalifiseerde veldwagter. Ons geniet dit natuurlik vreeslik as sy ons tussen die die Groot Vyf rondry op haar oopkajuit Jeep. Want gedurende weeksdae is ons al twee vasgevang tussen vier stadskantoormure, en kan die families nie wag om naweke weg te breek na veld en dal.

“Is dit nie ‘n renoster daar oorkant?” Sowaar! ‘n Bonkige koei met kalf staan dieper die oop vlakte in, en ons is verruk oor die vele wild wat dié tyd van die jaar hulle kroos grootmaak. ‘n Visuele fees vol opwinding. Hieronder is foto’s van die jongelinge sommer met die mik-en-druk kamera geneem.



Soos ons ry blits rooi en wit veldblommetjies by ons verby. Buite die lugverkoelde voertuig, is die humiditeit hoog en die kwik staan alreeds voormiddag op 31 grade. Nie ‘n lekker vooruitsig om op so ‘n dag kamp op te slaan en aan warm pale te hang nie. Maar daar is niks op hierdie stadium waarvoor ons nie kans sien nie. Die vooruitsig van ‘n ongelooflike vakansie te aanloklik.

Dit is ook die tyd van trekvoëls. Yslike swerms rooibekkweleas. Hulle vlug op die wind lyk soos swart seegolwe en vlieg hulle ons maklik teen voertuigspoed verby. Daar is ook houtkappers, verskeie soorte visvangers, roofvoëls, troupante, duiwe, dam-eende ens ens.



Alhoewel lief vir die Groot Vyf wil ons geen reptiel mis en sal vir ‘n langtyd na hulle staar. Per toeval sien ons dié veldlikkewaan wat homself goed kamoefleer op ‘n gladde boomstam. Natuurlik is hy ‘n smulhappie vir ‘n breëkoparend wat een van die grootste roofvoëls in die Kruger is.



Vir oom Skillie (bergskilpad) moes ons ook vinnig uit die pad swaai. Papbek en tydsaam kou hy aan watte of iets wit soos skuim lyk. “Vir my lyk dit eerder na spinnekopweb” sê Seuna en klim amper by die ruit uit om foto’s te neem. “En vir my lyk dit of sy ‘n voortrekkerrok dra,” lag Blommie en neem hierdie foto met haar 18-250mm kortlens.

Intussen raak ons haastig ruskamp toe. Alhoewel voertuie tot 50km/h in die wildtuin op teerpaaie mag ry, is die aanbevole wildkykspoed 25km/h. Beweeg jy nog stadiger is jy verseker van jou Groot Vyf elke dag asook die skaarser kleiner diere.

“Oe la la. Kan ek nie maar ‘n blom of twee pluk vir ons kamptafel?” vra ek teen my beterwete. Die veld is oortrek met die mooiste blomme en oral ontluik die lelies vanuit hul knopstadium en vertoon skitterwit of koraalpienk. Dit is varslekker om die ruit van jou voertuig af te draai en saam die wind die verskillende reuke van blom, gekneusde gras of vars diermis in te adem.



Toe ons Satara-kamp inry het ons alreeds vier van die Groot Vyf gesien en tientalle foto’s geneem. Voor my oë is my vakansiedroom besig om soos ‘n geel sonneblom oop te vou. Die kampgrond vertoon ruim en skoon, alhoewel nie luuks en kan ek nie wag vir die koel sterrekykaande en sielvolle sonsondergange nie. By die ingang en winkel begroet rye voertuie ons wat alreeds arriveer het.

Jy kan kamp opslaan direk langs die heining. Die drinkplekke is buite die elektriese draad en word gedurende die nag verlig met kolligte. Om vanuit jou kampstoel diere dop te hou is voorwaar ‘n uitsonderlike ondervinding. Selfs gevlekte hiënas kom bedel snags bene by die braaivleisvure. Diervoerdery word natuurlik verbied. Rondom Satara is die veldvlaktes oop en skoon en kan jy verskeie dierinsidente raaksien.

“Aaa – swembad!” gil my seun wat die nattigheid daarvan sien blinkwink in die vêrte. “Ek kry vir ons solank roomys terwyl julle inboek,” belowe hy en spring uit die voertuig wat nog nie behoorlik tot stilstand gekom het.

Toe ons die ontvangslokaal binne stap tref die verkoeling ons vol in die gesig. “Sjoe, dis lekker hier binne,” sug Manlief gelate en hengel sy beursie uit sy broeksak.

Die volgende oomblik steek ek in my spore vas. “Ag nooit – sowaar?” fluister ek terwyl my oë gly oor die nou 4 bekende foto’s teen die hoofmuur. My rug begin kriewel. Is ek regs? Of soek ek ten minste gelyke erkenning? Gaan my Afrikanerbloed my vakansie omvêrgooi? Sekerlik sou Mnr Zuma gesorg het dat die stigters van die Kruger ook hulle ereplek kry?

Ek sien egter geen foto of bewys. En vir vandag ook geen teken ...

Word vervolg

Trienie

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address