Othello by Maynardville

  • 0

 

Behoort klassieke literêre tekste op skool behandel te word? 'n Bydrae hieromtrent het onlangs op LitNet verskyn. Emma Kotzé en Renata Redelinghuys het Shakespeare se Othello by Maynardville gaan kyk en ook hieroor gewonder. Hier is hulle indrukke van dié teaterstuk.

Die eerste Othello-teks is vermoedelik in 1603 geskryf en is ’n verwerking van ’n Italiaanse kortverhaal wat al in 1565 verskyn het. ’n Geldige vraag is of hierdie eeue oue tragedie steeds vandag relevant is. Temas soos rassisme, liefde, wellus, jaloesie en verraad kom in hierdie drama voor en is vandag nog relevant.

Othello, ’n swart generaal in die Venesiese weermag, het in die geheim met Desdemona, ’n edelman se dogter, getrou. Jaloesie veroorsaak dat Iago, Othello se vertroueling, wraak neem op Othello en daardeur sy huwelik met die lojale Desdemona vernietig.

Marcel Meyer (Iago) en Muntu Ngubane (Othello)

Daar is sterk en duidelike besluite geneem ten opsigte van styl en stelontwerp by vanjaar se Maynardville Shakespeare-produksie. Die eenvoudige stel en deurlopende styl het bygedra tot die redelik maklike volg van die storie. Die duur van die opvoering verdien ook erkenning. Die totale duur van begin tot einde, met pouse ingesluit, was twee en ’n halfuur, waar dit in die verlede al meer as drie uur geduur het.

Fred Abrahamse se keuse van akteurs is welgedaan en elke akteur se vertolking en uitbeelding van hul onderskeie karakters het toegelaat dat die karakters tot hul reg kom. Shakespeare-teks verg ongelooflike stemwerk en -tegniek, wat hierdie akteurs meestal onder die knie het. Dit was lekker om Iago (Marcel Meyer) te haat en maklik om jammer vir Desdemona (Melissa Haidon) te voel. Othello (Muntu Ngubane) vertoon beslis die sterk generaal, maar dit was tog moeilik om sy dialoog te volg, as gevolg van artikulasie, wat natuurlik nodig vir Shakespeare is. Siya Sikawuti, Daniel Richards, Nicole Holm en Stephen Jubber is uitstekend in hul rolle en lewer kragtige optredes.

Muntu Ngubane (Othello) en Melissa Haiden (Desdemona)

Dit is geen geheim dat befondsing vir die jaarlikse Maynardville Shakespeare allesbehalwe veilig is en dat daar vreeslik getwis word oor die tradisionele uitbeelding van Shakespeare se werk, dus is dit tog die moeite werd om vanjaar se Othello te gaan kyk. Neem die kinders saam. Kry jou jaarlikse Shakespeare in. Maynardville Shakespeare is dalk een van die dae slegs deel van die geskiedenis.

Othello is by die Maynardville Opelugteater te sien tot 21 Februarie. Kaartjies beskikbaar op Computicket se webtuiste.

Foto's verskaf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top