Oros in ’n Lang Glas werk aan nuwe album

  • 1

Die Bloemfonteinse band Oros in ’n Lang Glas werk aan ’n nuwe album. Shandor Potgieter beantwoord enkele vrae.

Goeiedag, Shandor. Hoe’s dinge?

Ons is maar besig met die nuwe album in studio, maar dis lekker om bietjie af te vat om met jou te klets, my bra.

Eerstens, vir dié wat nie alte bekend is met jul vibe nie – volgens jul Facebook-blad bestaan die band uit drie lede. Tog glip tromspelers, vioolspelers en so meer by jul musiekvideo’s in. Wat is die storie?

Wel, almal weet mos hoe dit in bands gaan: dán moet dié persoon êrens gaan dans vir tips of dan moet iemand ’n verfklas aanbied, so mense het ander prioriteite ook wat mens in gedagte moet hou, en die band het baie verander van hoe dit was aan die begin toe ons dit gestig het, maar ons is nou stabiel. Die basis van Oros is Louwrens Kock op tromme, Danie Otto op bass en stemme en dan ek op stemme, kitaar en by-instrumente. Casio het vir ons ’n moerse lekker keyboard gegee, so dis nou waar daai by-instrumente inkom. Markus Jordaan is ons klagonspeler/drummer/percussionist en ook ons illustrator vir ons nuwe album. Ons het ook op die album baie local musikante gebruik wat belaglike talent het om te feature, so mense kan hulle hier en daar ook sien, maar darem weet hulle nou wat die basis is.

Julle ouens is aktief en woonagtig in Bloemfontein. Wat is die uitdagings verbonde daaraan om musiek te maak, te skep en uit te voer in ’n plek waar groot venues en groot bands nie so prominent is soos in groter stede nie?

Dis die cool deel van Bloem - ons kan vinnig by die groot stede kom, maar mense moet nie Bloem weggooi nie – met festivals soos Vryfees en Macufe kan ons maklik saam met die groot honde dans.

Ons Departement van Sports, Arts, Culture and Recreation doen baie moeite met die opbou van musiek en hulle ondersteun ons ontsettend baie, so dit maak dinge ook vir ons makliker. En met radiostasies en stasies soos kykNET Musiek en MK maak dit musiek uitvoer baie makliker.

Gepraat daarvan – by verlede jaar se Vryfees het julle die groot Blêrkas-show misgeloop omdat julle in die sneeu vasgesit het. Wat het daar gebeur?

Ek het gehoop niemand herinner my ooit weer aan daardie drie aande nie! Ons was op ons Kaalvoet-toer waar al ons shows moerse lekker afgeloop het. Ons het die hele land vol gespeel vir ’n maand lank en geen probleme nie, behalwe toe ons Bloem toe ry vir ons laaste show van die toer toe ons in Beaufort-Wes vasgesit het as gevolg van sneeu op die N1, so jy kan dink dat dit die slegste manier was om ’n toer af te sluit. Maar elke storie het ’n up side! Ons het ’n sneeuman gebou en ons eie show tussen die berge vol sneeu gedoen – mense kan dit gaan loer op YouTube. Ons het ook op die verstopte N1 ’n paar tunes gedoen ... Dit was, uhmmmm, fun.

Oros se tunes is grotendeels “upbeat”, beide in die klank en in die lirieke. Is dit ’n doelgerigte besluit wat julle van die begin af geneem het, of het dit natuurlik gevloei?

Ons forseer nie ons songs in enigiets in nie – soos mense gaan hoor op die nuwe album, is daar alles van Kwêla tot electro songs – maar ons verander nooit aan ons basis nie. Daar is, after all, ’n spesifieke klank wat ons het, maar ek dink die tempo gesels maar saam met die lirieke – as dit ’n fun liedjie is wil ons hê mense moet dans en ons almal is self baie goeie dansers ... so ons gebruik maar net die songs as ’n verskoning om bietjie te beweeg!

Daar is heelwat groepe wat die meer akoestiese roete inslaan in Afrikaans. Hoe hou julle jul inslag uniek?

Ons songs se fokuspunt skuif maar heeltyd … Omdat ek acoustic speel, maak dit ons nie noodwendig ’n acoustic band nie. Ons kan op ’n line-up saam met Dans Dans Lisa wees, maar ook saam met Fokof – dis die pret van alles! Op die nuwe album het ons ’n nuwe aanslag: ons bring meer instrumente by, wat ons ook dan op stage gaan doen soos trekklavier, keyboard en banjo, so ons daarna sien uit om al die dinge vir ons show saam te sit.

Die eerste vrystellings van Oros se tunes was sowat drie jaar gelede. Hoe daag julle julself uit om nuwe, vars ontwikkelings in te bring?

Elke dag gebeur iets anders en ons is op ander plekke in ons lewens, so dit kom saam met ander uitdagings! Soos ek gesê het, die musiek en die woorde vertel maar saam ’n storie. Ons push ook onsself ten opsigte van nuwe instrumente en om heeltyd relevant en vars te bly in ons klank, maar die basis bly dieselfde. Die ander ding is, almal hou van partytjie en ons hou van partytjiemusiek maak, so dis ’n wen-wen! Ons eerste musiek was ook stories, maar dit was van toepassing daai tyd, maar ’n song soos “Skelm” sal almal altyd mee kan relate, want almal was al op gecheat of het al op iemand gecheat (of êrens trou jou oupa elke tweede naweek of bel jou op Kersdag om te sê jou geskenk is ’n nuwe ouma), so skelms gaan daar altyd wees. Nou is ons groot ding maar net om onskuld en kind-wees te behou, omdat ons nou ouers word en nie weet hoe ons ons huur gaan betaal en al daai jazz nie – so, nuwe stories. Maar wat ons klank betref … ek dink nie daar is al iets gedoen soos ons nuwe album nie. Op baie min albums is daar African kwêla-folkmusiek gemeng met Kaapse Klopse-invloede en stoute remixes, so ons is opgewonde om te sien wat gebeur, maar ons twyfel nie dat mense daarvan gaan hou nie.

Oros het al ’n paar toere onderneem … enige interessante staaltjies te vertel? Enige plekke wat julle nie weer sal besoek nie, of moeite sal doen om wél weer te besoek?

Wel, die snaaksste storie ooit was toe Danie besluit het om van die stage af te klim en onder te dans. Toe hy opklim, toe sit hy met ’n kitaar waar sy gesig sit op die vloer nadat sy voet vasgehaak het, maar hy is die enigste persoon wat so ’n val kan laat sexy lyk. Die ander was toe Danie en Louwrens ’n pose op ’n bar counter gehad het êrens in die Oos-Kaap. Danie is ook die een met die meeste stalkers, maar ek is seker hier is ’n ouderdomsbeperking op julle site!

Wat hou die kort- en langtermyntoekoms in vir Oros in ’n Lang Glas?

Nou is dit net om ons nuwe album, Thula, te release en ’n lekker toer te doen saam die launch, wat ons gaan afsluit by Oppikoppi, so dit gaan pret wees - langtermyn is nog albums, nog video’s om ons musiek oor die water te vat Europa toe! Maar vir nou is dit om ons album uit te kry saam met ’n paar stoute video’s.

Wat is die sin van die lewe?

Loop kaalvoet so lank soos wat jy kan. Op daai manier verloor jy nooit jou onskuld nie, al wat jy nodig het in die lewe is onskuld ... dan maak die lewe vanself sin.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top