Teater-resensies | Theatre Reviews

 
Op dees aarde: Basson bring hulde aan Reza de Wet met dié teaterjuweel

Die première van Op dees aarde is by 2012 se Clover Aardklop Nasionale Kunstefees met beide die AngloGold Ashanti Fyngoud-prys vir die beste Afrikaanse aanbieding en die Clover Soveel Beter-prys vir die beste algehele aanbieding bekroon. Dié produksie is deur Marthinus Basson (regie en ontwerp) en Hugo Theart (vervaardiger) nuwe lewe ingeblaas as huldeblyk aan die dramaturg Reza de Wet, wat vroeër vanjaar oorlede is. Basson is hiervoor ook benoem vir die OFM-prys vir beste regisseur en bereik oudergewoonte nuwe hoogtes met ’n produksie waarin daar fyn gespeel word met die saambestaan van boosheid en goedheid, humor en tragedie.

Die dramateks Op dees aarde is deel van De Wet se Vrystaatse-trilogie waarin daar bekende De Wet-temas in die subteks ontgin word. Hieronder tel die reaksie en kommentaar op tradisionele Afrikanerwaardes, -ideologieë en -bygelowe; die Calvinistiese Afrikaner se persepsie van sonde en straf teenoor vreugde en vryheid; en die verwikkelde aard van boosheid en goedheid, wat dikwels gepaardgaan met ’n magies-realistiese styl.

Die produksie sentreer rondom die jongste suster, Bybie (Karli Heine), se verjaarsdag. Die voorbereiding daarvoor en die afwagting wat geskep word, vorm ’n goue spanningsdraad wat die gehoor meesleur in die uitgebreide eksposisie voor Bybie se koms. Dit is 12 jaar na Bybie se dood en elke jaar op haar verjaarsdag lê sy besoek af aan haar aardse gesin. Ma (Wilna Snyman) is op haar sterfbed, terwyl die twee oujongnooisusters, Sophie (Alida Theron) en Minnie (Joanie Combrink), die verjaarsdagvoorbereiding doen. Onder Sophie se leiding word daar tussendeur ook ’n plan bewerkstellig waarvolgens die susters finaal van die sondige Bybie ontslae wil raak, onder die mantel van ’n poging om haar van haar aardse rondswerwery te verlos.

Die jong Karli Heine se moeitelose vertolking van Bybie as sensueel en promisku, maar ook vol onskuld, lewenslus en vreugde, is opvallend in ’n produksie waar sy teen veral Snyman en Theron se veteraanspel gemeet word. Vir die susters is Bybie se swangerskap simbolies van die boosheid en sonde en daarom steek Sophie ’n skêr in Bybie se maag. Die baba is egter steeds magies ongeskaad en simboliseer dat boosheid altyd saam met goedheid sal bestaan.

Snyman skitter in haar vertolking van Ma as die tradisionele matriarg, wat afgespeel word teenoor Sophie, die praktiserende matriargale figuur. Theron se karaktergebonde spel is indrukwekkend en konsekwent soos sy uitbeeld hoe Sophie waarde heg aan die konserwatiewe en praktiese bo die emosionele, in ’n subtiele en skynbaar beheerste poging om haar eie eensaamheid en hunkering te onderdruk.

Basson se stel is indrukwekkend, outentiek en veelseggend. Ryk simboliek word met ’n meestershand subtiel verweef met skerp dialoog en De Wet se kenmerkende humor wat moeiteloos wissel tussen die grappige, tragiese, ironiese en vulkaniese. Daar is deurgaans seksuele ondertone en verwysings wat spannend te staan kom teenoor dit wat “bleek en vroom” moet wees.

Die produksie handhaaf ’n meesterlike balans tussen skynbaar ligte humor en onderliggende spanning. Die uitstekende teksverwerking, regie en ontwerp doen Reza de Wet se nagedagtenis gestand tesame met gesoute vertolkings deur ’n rolverdeling wat sensitief is vir De Wet se spel met kontraste om subtiel ’n venster te bied op dit wat die diepste in die (Afrikaner-) psige lê.

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address