Onderhoud: Oorlogsfutiliteit gryp steeds die verbeelding aan

  • 0

Min dinge gryp die mensdom se verbeelding aan soos die verwoesting wat oorlog saai en die futiliteit daarvan. Wat sou die rede wees dat ook Afrikaners meer as honderd jaar na die Anglo-Boereoorlog nog daaroor wil lees? Albert Grundlingh en Bill Nasson se boek Die oorlog kom huis toe is pas bekroon met die gesogte kykNET-Rapport Boekprys in die afdeling niefiksie. Die boek word beskryf as ’n komplekse vertelling van ’n periode in ons geskiedenis wat lesers uitdaag om ons verlede te verstaan op meer geskakeerde maniere as slegs Boer teen Brit of wit teen swart. Jean Oosthuizen het met Grundlingh, bekende geskiedkundige verbonde aan die departement geskiedenis by die Universiteit Stellenbosch, gesels oor die betekenis van die Anglo-Boereoorlog in ’n eietydse konteks.

Albert Grundlingh

Jean Oosthuizen

Koop Die oorlog kom huis toe by Kalahari.com.

Koop Radelose rebellie? by Kalahari.com.

Koop Die Hendsoppers en Joiners by Kalahari.com.

Jy is pas bekroon met die kykNET-Rapport Boekprys vir jou en Bill Nasson se boek Die oorlog kom huis toe. Veels geluk met die toekenning. Mens sou dink alles wat al oor die Die Anglo-Boereoorlog gesê kon word, is reeds geskryf. Tog gryp dit steeds die verbeelding van geskiedskrywers én lesers aan. Wat is dit van daardie oorlog wat mense so boei en aanhou om hulle belangstelling te prikkel?

Benewens die Mfecane in die 1830’s, was dit die enigste grootskaalse oorlog op Suid-Afrikaanse bodem. As gevolg van die wyse waarop dit gevoer is en burgerlikes betrek is, het dit emosionele letsels gelaat wat talle Afrikaners sou beïnvloed en negatief teenoor “Engelse” sou stem.

Die oorlog het ook wye internasionale belangstelling uitgelok en in retrospeksie was dit ’n vooruitskouing van hoe latere oorloë, soos die verwoestende Eerste Wêreldoorlog, sou verloop. Op ’n ander vlak moet mens onthou dat oorlogsvertellinge oor dramatiese gegewens handel en dat dit tot die algemene belangstelling bydra. Mens kan ook spekuleer dat die oorlog meegebring het dat Afrikaners in die noordelike provinsies mag verloor het en dat daar tans oor die hele Suid-Afrika ’n parallelle situasie is waar Afrikaners min formele politieke invloed het.

Daar is al oor verskeie aspekte van die oorlog geskryf, maar relatief min oor die lyding van swart mense wat aan die Boere se kant was en andersom. Jy bring heelwat nuwe insigte daaroor na vore. Is dit nuwe kennis of was dit tot dusver net nie vir die meeste Suid-Afrikaners toeganklik of belangrik genoeg geag om daarvan kennis te dra nie?

Hierdie kennis is reeds vir ’n geruime tyd beskikbaar. Die eerste verhandeling hieroor is in 1969 aan die Universiteit van Londen as ’n magister gedoen. In die vroeë 1980’s het die eerste gesaghebbende boek hieroor verskyn. Ek reken egter dat die bewindsverandering sedert 1994 daartoe bygedra het dat die kennis in die openbare sfeer meer bekend geword het.

Dink jy hierdie “nuwe” kennis oor die samewerking tussen wit en swart tydens die oorlog kan dalk vandag help om nasiebou te bevorder as meer mense daarvan bewus word?

“Nasiebou” is ’n moeilike kwessie, maar ek dink wel dit is goed as verskillende groepe meer bewus is van die kompleksiteit en nuanses van die geskiedenis. 

Daar was nie net samewerking tussen wit en swart gedurende die Boereoorlog nie maar ook gedurende die Rebellie, nie waar nie?

Van die rebelleleiers het gepoog om swartes aan hulle kant te kry, en van die swartes het dit nogal oorweeg in die hoop dat hulle moontlik voordeel uit sodanige ooreenkoms kon trek. In die praktyk het daar egter nie veel van tereg gekom nie. In die boek Radelose rebellie bespreek ek en Sandra Swart die aangeleentheid.

In jou uitgebreide navorsing oor die Boereoorlog kyk jy ondersoekend na die rol van uiteenlopende groepe onder die Afrikaners wat wissel van hendsoppers en joiners tot bittereinders en later rebelle en selfs Kaapse rebelle. Lyk my die Afrikaners was maar nog altyd hardkoppig en in verskillende kampe verdeel?

Ja, inderdaad; en dit beklemtoon hoeveel werk daar moes ingaan om latere Afrikanernasionalisme staan te maak.

Na afloop van die Boereoorlog was daar groot bitterheid tussen Boer en Brit maar veral ook onder die Boere self. Jy verwys ook daarna in ’n vorige boek Die Hendsoppers en Joiners. Is die skerp politieke skeidslyne wat vandag nog tussen baie Afrikaners sigbaar is, dalk deels die gevolg daarvan?

Ek is nie van mening dat dit lynreg na die “Joiners” en “Hendsoppers” herlei kan word nie. Daar is soveel ander kwessies wat ’n verdelende rol speel dat spesifieke en vervloë oorlogsverdeeldheid nie meer figureer nie.

Watter rol het die Afrikaanse kerke gespeel om heling en versoening na die oorlog te bewerkstelling en kon hulle daarin slaag?

Aanvanklik nie soseer nie; die “Joiners” is selfs verbied om Nagmaal te gebruik of kinders in die NG Kerk te doop.

Die oorlog het ’n groot invloed gehad op Afrikanerdenke as voedingsbron vir wit nasionalisme. Tot watter mate het dit bygedra tot dit wat uiteindelik sou uitloop op die apartheidsideologie?

Apartheidsideoloë het selde die oorlog as regverdiging vir apartheid aangevoer; onregstreeks het dit egter wel deur die pad van Afrikanernasionalisme geloop.

Die oorlog moes sekerlik ook ’n invloed gehad het op die ontwikkeling van swart nasionalisme in Suid-Afrika?

Snaaks genoeg nie juis as ’n bron van griewe nie. Dit kan aangevoer word dat swart mense soveel ander griewe in die loop van die 20ste eeu kon opbou dat dit nie nodig was om die Anglo-Boereoorlog aan die begin van die eeu uit te sonder nie. Daar word egter wel soms verwys na die feit dat swartes met die vredesluiting in Mei 1902 uitgesluit was en dat dit die beginpunt van hulle daaropvolgende swak politieke posisie was.

Dink jy wit en swart Suid-Afrikaners kan dalk vandag nog iets uit hulle gedeelde ervarings tydens die Boereoorlog leer in hulle soeke en hoop op die moontlikheid van samewerking en versoening?

Daar word selde vrywilliglik uit die geskiedenis geleer. Miskien het ons nou ’n punt bereik dat beide groepe met minder vooroordeel die ander se geskiedenis behoort gade te slaan?

Aan die voet van die Paarlberg, reg onder die Afrikaanse Taalmonument, is ’n monument waarvan min mense bewus is en enig in sy soort in die Wes-Kaap. Dit is die ABO-Monument wat fokus op die stryd van die Kaapse Afrikaners, en ander Kolonialers, wat in die Anglo-Boereoorlog die republieke van Transvaal en die Vrystaat aktief gesteun het of simpatiek gesind was. Sommige mense sien sulke monumente as simbole van verdeling. Hoe kan mens sulke monumente inspan om die verlede beter te verstaan as slegs Boer teen Brit of wit teen swart?

Ek dink hierdie monument is ’n sensitiewe uitbeelding van oorlogstydse realiteite sonder om oorlog te verheerlik. Mens moet ook in gedagte hou dat monumente altyd slegs ’n greep van die geskiedenis as erfenis uitbeeld; dit gee nie voor om die hele historiese spektrum te dek nie. In die onderhawige monument is daar nogal ’n buitengewone breër bewussyn van die futiliteit van oorlog.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top