Kobus is heeltemal reg as hy dit onder my aandag bring dat die onderwerp onder sy bydrae Die Skepping en berekening van tye, nie ‘kalenders’ is nie. Ons was eintlik veronderstel om oor die ouderdom van die aarde te bespiegel toe hy my verly het met sy verwysing na die Juliaanse kalender.
Maar aangesien kalenders so ’n interessante onderwerp is en dit vir my duidelik geword het dat hy dit tog nie gaan waag om ’n mening oor die ouderdom van die aarde te waag nie, stap ek maar daarvan af en skakel oor na kalenders toe wat ’n baie interessante onderwerp is en een waaroor nogal taamlik onkunde en ’n paar misverstande bestaan.
Die doel van ’n kalender is om jaartalle aan te dui en ’n jaar op te deel in verskillende eenhede van maande weke en dae.
Ek wil nou nie te ver in die verlede gaan delf nie en skop daarom af by die Juliaanse kalender waarna hy verwys het as die ‘huidige kalender in gebruik.’ Op advies van Sosigenes is die Juliaanse Kalender in 44 vC ingestel. Dit het 365 dae gehad met ’n skrikkeldag elke vierde jaar, dws dit het voorsiening gemaak vir ’n jaar met ’n gemiddelde lengte van 365.25 dae. Dié jaar het ook op 25 Maart — ongeveer die noordelike sonnestilstand — begin en het oorspronklik 10 maande gehad. Dié kalender is tans bekend as “Old Style”.
Omdat ’n jaar (tropiese jaar) in werklikheid 365.2425 dae het, het ’n fout van byna 8 dae oor ’n periode van 1 000 jaar geakkumuleer. Pous Gregorius XIII het derhalwe die Gregoriaanse kalender in 1 582 ingestel en daardie jaar is met 10 dae ingekort sodat 4 Oktober gevolg is deur 15 Oktober en ’n Dekreet is uitgevaardig dat die Juliaanse kalender vervang word met die Gregoriaanse kalender met 12 maande en met die nuwejaar wat op 1 Januarie ipv 15 Maart val.
Voorts sal die skrikkeldae wat volens die Juliaanse kalender elke 4 jaar bygevoeg is, verminder word deur die skrikkeldag vir eeujare wat presies deelbaar is deur 400 (bv. 400; 800; 1200;1 600 en 2 000) weg te laat. Dit het dan die gemiddelde lengte van ’n jaar oor ’n siklus van 400 jaar te staan gebring op ( ((400 x 365) + 99)/400) dae, dws 365.2475 dae teenoor die werklike lengte van 365.2425 dae en teenoor die Juliaanse kalender se gemiddelde jaar van 365.25 dae.
Brittanje het die Gregoriaanse kalender eers in 1752 ingestel toe die fout al tot 11 dae geakkumuleer het, deur 2 September deur 11 September te laat volg. Daar was glo taamlike ongelukkigheid en selfs opstande omdat sommige onderdane van mening was dat hulle lewe met 11 dae verkort word.
Die klomp skrikkeldae en reëls rondom dit, was egter ’n yslike kopseer vir Sterrekundiges in berekenings van bepaalde gebeure soos bv verduisterings en omwentelingsperiodes van asteroïdes of komete en talle ander, omdat daar altyd aansuiwerings gedoen moes word vir die skrikkeldae en ook omdat datums altyd om middernag — dus tydens waarneming sessies oorgeskakel het.
Die Juliaanse dag (nie die Juliaanse kalender nie) is in 1583 —’n jaar na die instelling van die Gregoriaanse kalender en nadat die Juliaanse kalender begrawe is, deur Joseph Scaliger voorgestel om dié probleem op te los. Die naam Juliaanse dag — afgekort as JD — is na bewering ’n verwysing na sy pa se naam en verwys nie na Julius Caesar of die Juliaanse kalender wat afgeskaf is nie. Dit is eintlik glad nie ’n kalender wat tydperke opdeel in jare, maande en weke nie, maar slegs ’n metode om periodes tussen twee datums in dae en breuke van dae te bereken. JD 1 is lukraak gekies en daar is besluit op 12:00 vm 1 Jan 4713 vC as JD 1.
Volgens die verwerker daar is Pres Paul Kruger (1825/10/10 — 1904/07/14) dus gebore op JD 2387909.5 en het hy gesterf op JD 2416675.5. Hy het dus (2 416 675 – 2 387 909) = 28 766 dae oud geword. Dit is (28766/365.2425) = 78.76 jr.
Dis nogal jammer dat daar nie ’n ander naam vir die Juliaanse Dag gekies is nie omdat talle mense dit verwar met die Juliaanse kalender — die “Old Style” — en onder die indruk verkeer dat die Juliaanse kalender in sommige kringe nog relevant is en gebruik word.
Panda