SêNet-briewe | Letters

 
Oor kalenders

Kobus is heeltemal reg as hy dit onder my aandag bring dat die onderwerp onder sy bydrae Die Skepping en berekening van tye, nie ‘kalenders’ is nie. Ons was eintlik veronderstel om oor die ouderdom van die aarde te bespiegel toe hy my verly  het met sy verwysing na die Juliaanse kalender.

Maar aangesien kalenders so ’n interessante onderwerp is en dit vir my duidelik geword het dat hy dit tog nie gaan waag om ’n mening oor die ouderdom van die aarde te waag nie, stap ek maar daarvan af en skakel oor na kalenders toe wat ’n baie interessante onderwerp is en een waaroor nogal taamlik onkunde en ’n paar misverstande bestaan.

Die doel van ’n kalender is om jaartalle aan te dui en ’n jaar op te deel in verskillende eenhede van maande weke en dae.

Ek wil nou nie te ver in die verlede gaan delf nie en skop daarom af by  die Juliaanse kalender waarna hy verwys het as die ‘huidige kalender in gebruik.’ Op advies van Sosigenes is  die Juliaanse Kalender in 44 vC  ingestel. Dit het 365 dae gehad met ’n skrikkeldag elke vierde jaar, dws dit het voorsiening gemaak vir ’n jaar met ’n gemiddelde lengte van 365.25 dae. Dié jaar het ook op 25 Maart — ongeveer die noordelike sonnestilstand — begin en het oorspronklik 10 maande gehad. Dié kalender is tans bekend as “Old Style”.

Omdat ’n jaar (tropiese jaar) in werklikheid 365.2425 dae het, het ’n fout van byna 8 dae oor ’n periode van 1 000 jaar geakkumuleer. Pous Gregorius XIII het derhalwe die Gregoriaanse kalender in 1 582 ingestel en daardie jaar is met 10 dae ingekort sodat 4 Oktober gevolg is deur 15 Oktober en  ’n Dekreet is uitgevaardig dat die Juliaanse kalender vervang word met die Gregoriaanse kalender met 12 maande en met die nuwejaar wat op 1 Januarie ipv 15 Maart val.

Voorts sal die skrikkeldae wat volens die Juliaanse kalender elke 4 jaar bygevoeg is, verminder word deur die skrikkeldag vir  eeujare wat presies deelbaar is deur 400 (bv. 400; 800; 1200;1 600 en 2 000)  weg te laat. Dit het dan die gemiddelde lengte van ’n jaar oor ’n siklus van 400 jaar te staan gebring op ( ((400 x 365) + 99)/400) dae, dws 365.2475 dae teenoor die werklike lengte van 365.2425 dae en teenoor die Juliaanse kalender se gemiddelde jaar van 365.25 dae.

Brittanje het die Gregoriaanse kalender eers in 1752 ingestel toe die fout al tot 11 dae geakkumuleer het, deur 2 September deur 11 September te laat volg. Daar was glo taamlike ongelukkigheid en selfs opstande omdat sommige onderdane van mening was dat hulle lewe met 11 dae verkort word.

Die klomp skrikkeldae en reëls rondom dit, was egter ’n yslike kopseer vir Sterrekundiges in berekenings van bepaalde gebeure soos bv verduisterings en omwentelingsperiodes van asteroïdes of komete en talle ander, omdat daar altyd aansuiwerings gedoen moes word vir die skrikkeldae en ook omdat datums altyd om middernag — dus  tydens waarneming sessies oorgeskakel het.

Die Juliaanse dag (nie die Juliaanse kalender nie) is in 1583 —’n jaar na die instelling van die Gregoriaanse kalender en nadat die Juliaanse kalender begrawe is, deur Joseph Scaliger voorgestel om dié probleem op te los. Die naam Juliaanse dag — afgekort as JD — is na bewering ’n verwysing na sy pa se naam en verwys nie na Julius Caesar of die Juliaanse kalender wat afgeskaf is nie. Dit is eintlik glad nie ’n kalender wat tydperke opdeel in jare, maande en weke nie, maar slegs ’n metode om periodes tussen twee datums in dae en breuke van dae te bereken. JD 1 is lukraak gekies en daar is besluit op 12:00 vm 1 Jan 4713 vC  as JD 1.

Volgens  die verwerker daar  is Pres Paul Kruger (1825/10/10 — 1904/07/14) dus gebore op JD 2387909.5 en het hy gesterf op JD 2416675.5. Hy het dus (2 416  675 – 2 387 909) = 28 766 dae oud geword. Dit is (28766/365.2425) = 78.76 jr.

Dis nogal jammer dat daar nie ’n ander naam vir die Juliaanse Dag gekies is nie omdat talle mense dit verwar met die Juliaanse kalender — die “Old Style” — en onder die indruk verkeer dat die Juliaanse kalender in sommige kringe nog relevant is en gebruik word.

Panda


Comments 9 Reaksies | 9 Comments
Delete Comment
avatar
Thomas
2012-11-08 @18:45

Panda

Weereens baie interessant en leersaam. Dis nogal goed om sulke dinge te weet én te onthou - op my ouderdom begin dit nou 'n redelike uitdaging word!

Groetnis

Thomas

Delete Comment
avatar
Brianvds
2012-11-08 @19:56

Nou ja, nou moet jy nog net vir ons die "star date" in die "Star Trek" reeks verduidelik... :-)

Delete Comment
avatar
Jan Rap
2012-11-08 @23:54
Baie interessant Panda. As die Juliaanse kalender 44vC ingestel was, wat was hulle verwysingspunt?  Maw, wat was byvoorbeeld die jaartal op, sê 21 April 20vC?
Delete Comment
avatar
Panda
2012-11-09 @14:46
Jan,
Ai man ‼ – jy kom altyd met die moeilikste vrae vorendag! Maar dit is ’n interessante punt en ek sal my bes probeer.
Kalenders het aanvanklik slegs voorsiening gemaak vir die indeling van ’n omwenteling om die son in verskillende eenhede van maande, weke en dae en daar is aanvanklik glad nie jaartellings aan die onderskeie omwentelings gekoppel nie. Dié stelsel is eers in 527 n.C. deur Dionysius Exiguus ingevoer. Die Juliaanse kalender het op daardie stadium nog gegeld. Exiguus het bereken dat Maria op 25 Maart 527 jaar van te vore, deur die Heilige Gees bevrug is, waarvan die gevolg was dat Christus 9 maande later op 25 Desember van daardie jaar gebore is. Daardie jaar (dis nou die jaar waarin Christus volgens Exiguus gebore is) is toe deur hom die jaartelling van 1 n.C. toegeken. Ander jaartellings wat gevolg het, is bepaal deur vorentoe en agtertoe te tel.
Die Juliaanse kalender het op daardie stadium gegeld maar die datum 1 n.C.  kom presies ooreen met die Gregoriaanse kalender wat later ingestel is omdat daar ’n aanpassing van 10 dae op die Gregoriaanse kalender gemaak is toe dit ingestel is om voorsiening te maak vir die geakkumuleerde tekort in dae. Dus: Die jaar 1 n.C. op die Juliaanse kalender kom presies ooreen met die jaar 1 n.C. op die Gregoriaanse kalender. Die antwoord op jou vraag is volgens my dus: 21 April 20 v.C. sou op die Juliaanse kalender presies dieselfde wees as op die Gregoriaanse kalender, d.w.s. 21 April 20 v.C.
Dus:  toe die Juliaanse kalender ingestel is, het dié spesifieke jaar nie bekend gestaan as 45 v.C. nie. Dit is eers later deur geskiedskrywers bereken dat dit in dáárdie jaar moes plaasgevind het.
Die Romeine het nie voorsiening gemaak vir 0 nie en die jaar 1 n.C. is voorafgegaan deur die jaar 1 v.C. As jy dit wil toets kan jy die program gebruik waarvan ek die skakel in die bydrae hier bo gegee het. Bereken dan die aantal dae tussen sê maar 1 Maart 1 v.C. en 1 Maart 1 n.C.  Indien daar ’n jaar 0 was, sou jou antwoord 730 dae wees (2 jr.) en indien daar nie ’n jaar 0 was nie, sal jou antwoord 365 (1 jr.) wees. Die antwoord is JD 1721482 – JD 1721117 = 365 dae. Die verskil tussen die die jaar 1 v.C. en die jaar 1 n.C. is dus 1 jaar. Dus geen jaar 0 nie.
Panda
Delete Comment
avatar
Brianvds
2012-11-09 @18:35
Panda: 'n Ander interessante gevolg van die feit dat daar geen jaar nul was nie, is dat mense meer as tweeduisend jaar later steeds stry en baklei oor of die nuwe millennium begin op 1 Januarie 2000, of 1 Januarie 2001. Dit is natuurlik bietjie soos om te stry oor hoeveel kleure die reënboog het. :-)
 
Wat jaartellings betref, sien mens wel soms so 'n soort van 'n jaartelling in ou gekrifte, wanneer hulle bv. verwys na "in die vyfde jaar van die bewind van Koning Darius" of "sewe jaar voor die geboorte van prins Kaspian" of "tien jaar ná die aarbewing wat Konstantinopel in puin gelê het." Sulke verwysings stel geskiedkundiges in staat om gebeure se datums te "vertaal" na ons moderne kalender. 
 
 
Delete Comment
avatar
Panda
2012-11-11 @09:21
Brianvds —
Eintlik woed die dispuut, oor wanneer eeue wissel, al honderde jare. Ene Camile Flammarion, wat hieroor navorsing gedoen het, het in ʼn artikel in Sky and Telescope, (ek het ongelukkig nie meer die tydskrif nie en kan nie die datum daarvan verskaf nie) aangedui dat dit teruggevoer kan word tot so ver as 1599. Maar kom ons gaan nou maar nie so ver terug nie.

Die redakteur van ‘Times of Londen — 26 Desember 1799, het ’n hewige polemiek in sy koerant oor die aangeleentheid  as volg beëindig:
  • "We uniformly rejected all letters and declined all discussion upon the question of when the present century ends, as it is one of the most absurd that can engage the public attention, and we are astonished to find it has been the subject of so much dispute, since it appears to be perfectly plain.  The present century will not terminate till January 1, 1801, unless it can be made out that 99 are 100.  It is a silly, childish discussion, and only exposes the want of brains of  those who maintain a contrary opinion to that we have stated.”
Maar soos te te wagte was, het die dispuut ’n honderd jaar, later, d.w.s. aan die einde van die 19 de  eeu, weer opgevlam en het ene Baron Hobhouse toe al voorspel dat dit teen die einde van die 20 ste eeu nogeens herhaal gaan word, 'omdat daar steeds mense sal wees wat sal probeer bewys dat 1999 jaar gelyk is aan twintig eeue.'   Sy voorspelling is dan ook bewaarheid en so vroeg reeds as Januarie ’96 skop die Sterrekunde tydskrif  Sky and Telescope af met ʼn artikel ‘The Battle of the Centuries’.  Daarin het Ruth Freitag, Senior Wetenskaplike verbonde aan die Biblioteek van die V S A se Kongres en LeRoy Doggett, Hoof van die Seevaart Kalender Kantoor van die V S A se Vloot Sterrewag, verduidelik waarom die eerste jaar van die nuwe eeu en millennium, die jaar 2001 sal wees.
Nadat ’n polemiek so vroeg reeds as 1997 oor dié aangeleentheid in die plaaslike media ontstaan het, ondersteun ene IMV Jacobson In Rapport van 8 Junie 1997 die standpunt dat die nuwe millennium eers op 1 Januarie 2001 begin.  Die heftige reaksie daarop deur N. Wessels, Waterkloof, wat reken die groot datum is 31 Desember 2000, het Rapport blykbaar oortuig en en in die uitgawe van 6 Julie ’97 word voorbarig aangekondig:  ‘Eeuwending is in 2000’.
Dit is opgevolg deur ’n artikel deur Joe Venter in Rapport van 25 Januarie ‘98 waarin hy ook tot die bevinding kom dat die eeuwending om middernag 31 Desember 1999 sal plaasvind en dat die nuwe millennium derhalwe op 1 Januarie 2000 afskop.  Dié artikel  bevat terloops ook die flater - nogal met ʼn verduideliking daarby -  dat die jaar 2000 nie ʼn skrikkeljaar sal wees nie.

Ek het vir Venter ’n persoonlike  brief geskryf om hom reg te gehelp en uittreksels uit The Times of London en Sky and Telescope verskaf. Ek het aangedui dat die brief nie vir publikasie is nie.  Alhoewel ontvangs van die brief nooit erken is nie, het Pollux byna 2 maande later in sy rubriek van 5 April ’98 die aangeleentheid weer te berde gebring en rapporteer hy dat hy navraag gedoen het by The Times of London  wat hom verwys het na ʼn statutêre organisasie met die naam van The Millennium Commission waar hy deur die persbeampte, Ben Ruse,  meegedeel is dat The Millennium Commission reeds ʼn bedrag van 400 miljoen pond  sterling (destyds ongeveer 4 miljard rand ) beskikbaar gestel het vir die millennium-ervaring by tentoonstellings dwarsoor Brittanje en met die klimaks op 1 Januarie 2001 te Greenwich ( nou waar en wanneer dan anders?).  Pollux verklaar voorts:  
  • Met sulke swaargewigte as bron kan Pollux nou vir seker sê die nuwe millennium begin nie op 1 Januarie 2000 nie maar eers op 1 Januarie 2001.”
Maar kyk nou net hoe maklik die media die publiek aan die neus kan rondlei! ·        
  • In sy rubriek “Van alle kante” in die Burger van 23 Januarie 1999 skryf Pieter Spaarwater: “Dan is daar nog ʼn ou feitjie  wat al ʼn cliché geword het, maar ont-cliché is deur ʼn plegstatige verklaring van die Greenwich sterrewag:  die volgende millennium begin eers op 1 Januarie 2001.  Maar wie gaan hulle nou daaraan steur?”
  • Op Vrydag 2 Julie het Chris Louw oor RSG tydens 'n program van Monitor, toe die aangeleentheid ter sprake gekom het,  dit ligtelik afgemaak met ’n opmerking dat ʼn mens nie moet toelaat dat die feite ʼn goeie storie bederf nie.
Eintlik is die saak heeltemal eenvoudig en die verbasing en ongeduld van die Redakteur van The Times of London 200 jaar gelede ook heeltemal begryplik.

In Suid-Afrika en die meeste lande van die wêreld is die nuwe millennium 'n jaar te vroeg uitspattig en met groot fanfare gevier. Gelukkig het dit darem nie eers die biesies laat bewe nie.

Panda
Delete Comment
avatar
Jan Rap
2012-11-12 @00:45
Brianvds, daar KON nie 'n jaar nul gewees het nie - in jou eie lewe het jy nooit 'n jaar nul beleef nie, jou lengte het nie 'n cm 0 nie, die afstand tusse A en B het nie 'n kilometer 0 nie, 'n tenk water het nie 'n liter 0 nie ens ens.  Niks wat jy tel het 'n 0 nie behalwe die merker vir die beginpunt, daarna is dit deel van liter 1, cm 1, kilometer 1, jaar 1 ens.
Delete Comment
avatar
Brianvds
2012-11-12 @13:34

Jan Rap: Daar is niks wat mens verhoed om ’n jaar nul te hê as jy wil nie. Jou eie jaar nul is die jaar wat duur vanaf jou geboorte tot met jou eerste verjaardag. Maar toe die moderne jaartelling ingestel is, was Europeërs nog nie bewus van die getal nul, of hoe nuttige getal dit kan wees nie.

Panda: Die gestryery oor wanneer die millennium begin is eintlik ’n goeie ding, want dit gee mens ’n verskoning vir ’n moerse paartie op 1 Januarie 2000 EN op 1 Januarie 2001. :-)

Delete Comment
avatar
Panda
2012-11-12 @17:09
Brianvds – Dis mos so – en NetSo was dit ook

   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address