Ook my groete aan Salomé: of sommer koebaai Meraai!

  • 0

Titel: Stuur my groete aan Salomé
Skrywer:
Jackie Grobler
Uitgewer:
Protea Boekhuis
ISBN:
9781869197506


Klik hier om Stuur my groete aan Salomé te koop by Kalahari.com.


Ware kuns het die vermoë om jou senuweeagtig te maak, aldus die literêre ikoon Susan Sontag. Wat sal dan die omgekeerde wees? Maak swak kuns jou vaak? Seker soms, maar vir my maak dit eerder geïrriteerd. Om ’n boek te resenseer is ’n gewigtige taak, want dis ’n verpligting wat swaar op jou druk, en veral as jy deur honderde bladsye ploeg op soek na positiewes.

Om dán die produk van soveel intense arbeid, derduisende uitgewroegde woorde summier te verwoes deur ’n paar honderd skynbaar nydige woorde neer te pen, skyn tog onregverdig en wreed te wees. Dis hoe mens gewoonlik voel.

Dit is dus met allesbehalwe gevoelens van nydigheid of gevoelloosheid dat ek Jackie Grobler se roman aangepak het. Mens respekteer tog ander se arbeid en die boek maak reeds so ’n goeie oog – ek hou van die omslag- en bladontwerp; geluk aan die span wat daarvoor verantwoordelik was.

Maar laat ek oorgaan tot die daad; ek kan dit nie langer uitstel nie.

Die skrywer het my wel tot bladsy 373 laat wag totdat ek die eerste maal gewonder het wat volgende gaan gebeur, maar daarna het die einde genadiglik heel vinnig gekom, naamlik op bladsy 382. Teen daai tyd het ek die spioen (Hans), Kakie (Bruce) en “joiner” (Albert) – almal hoofkarakters – wat binne die bestek van enkele bladsye dood is, begin beny. Regtig; dit was net eenvoudig verskriklik lank, en dit was nie dat die spanning te lank was nie, eerder die verveling.

Met respek: ek glo dat Grobler die tema, naamlik die oorsake, verloop en gevolge van dié oorlog (1899-1902), goed ken. Daarom het ek die menings oor die oorlog wat hy via sy (ongelukkig eendimensionele) karakters uitgespreek het, met erns bejeën – soos hoekom sekere bittereinders nie wou ophou veg nie, die selfvernietigende houdings van sommige Afrikaners in die konsentrasiekampe, die onkunde oor sóveel dinge ... ook dat wat in die eerste oorlog (1880-1881) teen die Britte gebeur het, nie weer sou gebeur nie al bid mens ook daarvoor, al offer jy al jou besittings en familie daarvoor op. En dat diegene wat ophou veg het – soos genoemde “joiner” – nie dáároor verkeerd was nie.

Natuurlik is dit nou maklik vir ons om dit te sê, maar mens moet die tydgees van destyds in ag neem – wat het die mense tóé geweet? Mens verwag ook dat ’n historikus soos Grobler tydgees – ’n baie moeilike konsep – beter as ’n leek sal kan uitlê. Hy behóórt.

Dus, die skrywer se kennis van die vele aspekte van die oorlog is duidelik genoeg, en diegene wat hierdie boek lees, sal heel waarskynlik meer oor die oorlog weet wanneer hulle dit uiteindelik neersit. Maar dalk sou hulle dieselfde kennis kon verwerf indien hulle in Grobler se klasse was? Ek het nie alte oortuig gevoel oor byvoorbeeld die tydgees, die atmosfeer, die milieu-uitbeelding en bowenal die karakters nie. Teleurstelling dus – ek het méér verwag.

Nietemin, daar is wel dele in die boek wat wil-wil belowe dat die intrige nog gaan opstyg en vlieg, maar dan plons dit weer dieper as ’n volstruis in ’n molshoop. Genadiglik vir so ’n denkbeeldige volstruis (ek wil nie van dieremishandeling beskuldig word nie) is dit nie uit vreeslike hoogtes dat hy neerduiwel nie.

Hoekom hierdie kras metafoor? Ek het dan beweer ek wil nie nydig wees nie. Wel, ek is ten minste nie gevoelloos nie – ek moet immers die onskuldige leser ook in ag neem. Boonop, teen R200 wil mens nie wens jy het eerder vier tweedehandse romanses gekoop nie. Al sou die dialoog daarin dalk óók onoortuigend gewees het en die plotlyn so reguit soos die pad tussen Beaufort-Wes en Laingsburg. Nie reguit in tyd nie, want daar is ’n binne- en buitestorie (wel nie ’n slegte idee nie) en daar word wel rondbeweeg in tyd, maar mens voel geen verdieping nie. Nie dat die verhaal daarsonder werklik slegter daaraan toe sou gewees het nie.

En nou gaan ek my kop uitsteek: as mens nie in amper 400 bladsye spanning skep nie, kon die uitgewerspan dan nie meer gehelp het nie? Dis immers die man se eerste roman en mens kan bietjie kleitrappery verwag. En ja, die taalversorging lyk vlekkeloos, maar die dialoog pla erg: dis net selde oortuigend. Ek voel nie dat Boerevrouens so sou gepraat het nie. Óf sou opgetree het nie – Salomé, die heldin, haat die Britte vir amper die hele boek lank (en dís lank) – en dan het sy die Britse offisier “nodig” en dis summier wham bang, thanks Ma’am ... of thanks Bruce, for being an officer and a gentleman.

Nee, ek byt nie hieraan nie. Glad nie. Ja, Boerevrouens was en is ook mense, maar dis hierdie kladklag van “kán dit dan wees?” wat my later alles laat bevraagteken. Seks is nie ’n sonde nie, ook nie in ’n boek nie, maar dan moet daar eintlik rede wees vir so ’n toneel, en dan moet mens kan vra: As dié toneel uitgehaal word, neuk dit die storie op? Dáárom kan dit nie daar wees net om aan die einde ’n biegsessie te skep nie.

Wat my die meeste gepla het oor Salomé se optrede in dié verband, word omvat aan die einde wanneer sy “met ’n verleë glimlaggie” teenoor haar kleindogter bieg. Genugtig! En dan: “Hy was dus ook nie jou oupa nie.” Die kleindogter is skynbaar nie stomgeskrik nie en vra dadelik: “Nou Ouma, wie was dan my Oupa?” En Ouma antwoord: “Weet jy, Mariet [nie “Magriet” nie, wel “Mariet”], ek kan nie vir jou met sekerheid sê nie.” Al wat ek hieroor kan sê is: Grote griet, arme Mariet, jou ouma was darem ’n warmbloedige Boerevrou! And that’s putting it mildly. Ook deur Ouma self; baie kalm hieroor, let wel. En dié einste vrou trou toe nooit weer nie, so mens wonder hoe sy haar drange onderdruk het. Na my mening sou skuldgevoelens ook net so ver strek as brandpaadjies.

Ook spanningsvolle tonele, of wat spanningsvol behóórt te wees, soos wanneer Salomé se man Albert voor ’n krygsraad gedaag word, is sommer net te maklik verby – een oomblik lyk die Boere net lus om hom te fusilleer, en dan is hy so vry soos Willy die walvis. Wanneer Hans, wat eintlik ’n hengse tweestryd behoort te ondervind het oor die hele kwessie (hy is lief vir Salomé en hier moet hy vir haar man se lewe pleit), ironies genoeg self heelwat later voor ’n vuurpeloton staan, is dit heel toevallig Albert en sommer ook Salomé se afvallige broer Piet (en mens hoor nie genoeg van sy kant van die storie nie) wat moet help fusilleer. Darem skielik, sommer so almal byeen; die “perfekte storm”.

Die skrywer het wel duidelik genoeg probeer om verskeie kante van die oorlog te vertel, maar sy “tolke” skiet tekort. Daar kon veel meer aan Albert se sielswroeging gewy gewees het – Albert wat deur Salomé verwerp word en uiteindelik met sy dapper dood deur sy heethoofdige vrou begryp is. As mens so kyk na al die konflik wat hier gegenereer kon word, lyk die boek net al meer na ’n verspeelde kans. Dalk nie ’n nuwe Bart Nel nie, maar tog ...

Daar is talle tonele wat my laat kop skud het, byvoorbeeld Hans wat besluit hy trek ’n Australiese offisier se uniform aan. Hy het skynbaar geglo dat Britse soldate minder van die kenmerkende Australiese aksent weet as hy, die Boer, wat darem in Kimberley Engels geleer het. As die skrywer beweer het dat Hans lank saam met ’n Australiër gewerk het, kon ek dit nog aanvaar het. In die Britse weermag was egter talle verskillende aksente en die soldate sou hulle gou kon uitken, en ’n vals nabootsing ook. Dalk moes Hans hom eerder as ’n joiner voorgedoen het.

In 2013 is daar vir beginnerskrywers darem goeie nuus: hulle kan beslis baat vind daarby om beide die handleidings Om te skryf en Die Afrikaanse Skryfgids aan te skaf. Dan sal hulle etlike beginnerfoute uitskakel, soos om te veel te vertel en te min te wys, en nie amper ’n hele bladsy te vermors aan ’n beskrywing van Salomé se worsteling om aan die slaap te raak nie – eers op die linkersy, dán draai sy op haar regtersy, dán op haar maag, dán op haar rug – teen daai tyd lê die leser self al in die fetale posisie! Kon hy nie net geskryf het: “Nádat Salome baie ure wakker gelê het, begin sy tob oor haar man se veragtelike gedrag” nie? Weer eens: Waar is die redaksionele leiding hier? Het niemand voorgestel dat onnodige besonderhede gesny word om die tempo te versnel nie? Dan sou die boek ook baie korter kon gewees het. En dít sou sekerlik niemand ontstel het nie.

Soms is dit net woordkeuse wat pla – soos vroue wat “bulder” (183). Regtig? Dit klink meer na sammajore as vroue. Op bladsy 12 “snou” Salomé haar man iets “wanhopig” toe. Pas snou en wanhopig saam in hierdie sin? Effens later word sy “witwarm van woede” en tog steeds “koud om die hart”. En, as ek nooit weer die woord onwillekeurig in ’n boek sien nie, sal dit te gou wees.

In sekere gevalle is die beredenering vir my ook onoortuigend – soos op bladsy 26: “Pretoria het hoogstens ’n paar duisend Republikeinse inwoners. Die kans dat sy die spioene ken, is baie goed.” So, hoeveel mense ken sy? Duisende? Die hele Pretoria? En Hans die forse verkenner weer het met ’n dosyn of wat vroue in die boek direkte kontak, maar minstens vier is op hom verlief (insluitende darem sy vrou, neem mens aan). Salomé en die Brit Bruce is ook te gou op ’n vriendskaplike voet – waar is die haat en die vooroordele dan? Boonop is dit asof daar soms haastige, indien nie benoude spronge nie, is – juis waar die spanning liefs gerek kon gewees het.

Miskien is die mees ondeurdagte deel van die boek is waar Salomé skielik in ’n spioen verander: sy steel ’n dokument uit die Britse hoofkwartier. Nie lank daarna nie ontdek Bruce die dokument is weg, en hoewel hy goed weet Salomé was alleen in sy kantoor, verdink hy haar glad nie. Hy neem sommer aan ’n ander offisier, die mamparra Smith, het dit vasgelê. Kort daarna besoek hy Salomé en sien hoe sy skrik toe sy hom sien. Stééds verdink hy haar nie. Ook nadat ’n sabotasiedaad gepleeg is, met behulp van die inligting in die dokument vervat, ontstaan geen agterdog jeens die suster van ’n man wat van spioenasie verdink word nie! Weer eens kon die skrywer darem meer met dié potensieel plofbare situasie gedoen het.

Ek kan dus nie saamstem met die uitgewer dat dit ’n “opwindende” verhaal is nie, hoewel ek sal toegee dat dit heel waarskynlik wel “goed nagevors” is. Maar dis nie ’n geskiedenishandboek nie. Dis ’n roman.

Aan die skrywer wens ek sterkte toe indien hy nog ’n roman gaan skryf. Ek het dié keer my bes gedoen om nie op loop te gaan met my irritasies nie. Veral omdat baie daarvan maklik voorkom kon gewees het.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top